Geheime van die Natuur
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

12. Die vlieg as simbool van die deemoed,

Gedurende die verloop van hierdie en ander mededelings is reeds uiteengesit, hoe `n mens net selfstandig kan bestaan, as `n mens homself in sy hart heel innig met sy Skepper verenig. Desondanks het die geloof nog `n harde dobber en die siel begryp moeilik, hoe die mens geestelik `n volkome vry, selfstandig lewe sou kan hê, wat tog so met die oerlewe van die Skepper verbind is, dat dit daarmee saam slegs een lewe vorm.

Ja, waarlik, om so iets in die aardse beperktheid te kan vat, is wel buitengewoon moeilik. Ek sê vir u: Wie dit nie leer van die beskeie vlieg, wie dit nie leer uit die ware, innige deemoed op die weg van die kruis, ja nog duideliker gespreek: Wie dit nie leer van My, die Vader, waar Ek die grootste en innerlikeste deemoed Self is, - die sal nooit begryp, hoe Vader en kinders in die gees volkome een kan wees nie.

Om nog `n beter voorstelling daarvan te kan maak, sal ons ons blik nog op twee groot dinge rig: Naamlik op `n groot mens, wat 'Wêreld' heet, en op `n ander groot mens, wat 'Hemel' heet.

Met betrekking tot hierdie eerste mens, formeel-materieel gesien, kan sy hele heelalsfeer vol sonne en wêrelde amper as senu-knobbeltjies van sy wese genoem word. En as hierdie mens hom ook in sy omvang geheel as `n lewe beskou, net soos u uself as `n lewe beskou, bestaan hy daarom werklik net uit één lewe?

Om in te sien, dat hierdie groot wêreldmens `n baie veelvoudige lewe in homself dra, hoef `n mens maar na `n swerm vlieë te kyk. Hulle sal deur hulle gezoem bekendmaak, dat selfs hulle reeds as eerste diertjies elk `n afsonderlik lewe het. Hoeveel te meer kan `n mens dit dan vir homself insien, en meer nog by `n aarde vol volkere en ander lewende wesens. En nog baie meer by `n son met haar volmaakte wesens en by `n sentraalson met haar baie magtige geeste en ten slotte nog meer by `n heelalsfeer as sodanig, wat tog `n nagenoeg onvoorstelbaar aantal hemelliggame bevat, om nie te praat van al die wesens wat hulleself daarop bevind nie.

En tog is alle heelalsfere, alle sentraalsonne, middelsonne, alle planetêre sonne en ander newesonne met hulle planete en alle skepsels daarop, eintlik niks anders as liggaamsdele van hierdie groot wêreldmens nie, wat net soos elke mens op aarde, ook `n afgeronde lewe het. Kyk, dit is nou die beskouing van die materiële kant af gesien.

Nou wend ons ons blik na die hemelmens, teenoor wie se grootte die groot wêreldmens net so vergelykbaar is as `n triljoenste deel van `n atoom tot die grootte van die genoemde wêreldmens. Die hemel is in sy menslike aansien so groot, dat die tallose miljarde heelalsfere waaruit die groot wêreldmens bestaan, maklik in die buis van `n haartjie op sy liggaam sou kan plaasneem en daarby nog al sy beweginge daarin sou kan maak, sonder om ooit die wande van hierdie haartjie te raak! Hoeveel lewe het hierdie hemelmens nie reeds in `n haarbuisie of in `n ooreenkomstige ander liggaamsdeel nie?!

Hoeveel lewe moet hy dan nie in een van sy ledemate hê, hoeveel in sy hart en hoeveel in sy hele liggaam! En tog dink hierdie hele hemelmens self net soos `n gewone op homself staande mens, terwyl in hom tallose miljarde van die mees volmaakte engele en geeste is wat almal vir hulleself ewe selfstandig dink en lewe, as die groot hemelmens self.

In hierdie hemelmens is nog ander verhoudinge, waardeur wesens wat op gelyke wyse dink en liefhet, `n gemeenskap vorm. So `n gemeenskap op sigself stel op ooreenkomstige wyse as `n aardse hemelliggaam, `n mens voor, wat heeltemal selfstandig kan dink en voel, asof hy `n afsonderlik op sigself bestaande mens is!

Ja, Ek voeg nog daaraan toe: Daar bestaan in My oneindigheid selfs nog verskeie sulke hemele, en elkeen is op sigself weer `n volmaakte mens. Al hierdie hemele saam vorm weer `n oneindige mens. Dit kan deur niemand bedink en ervaar word nie as maar net deur My, waar hy eintlik My liggaam Self is. Of God in Sy oneindigheid, wat Sy Selfheid en Alleenheid op die helderste wyse kan dink en voel. En tog: Wat `n veelheid van lewe is daar nie in Hom nie!

Wanneer `n mens hierdie beelde vergelyk sal dit begryplik wees, dat in `n ewige en oneindige lewe daar tallose ander lewens hulleself vry beweeg en die hoogste saligheid daar kan geniet, terwyl hulle tog slegs dele van die een hooflewe in God is. 

Sien, dit verkondig die vlieg in haar deemoed: En die deemoed is welbeskou die ware 'hoofvlieg' van die mens self! Want soos die vlieg begin om in haarself die oorwinning oor die lewe te behaal, so begin ook die deemoed in die mens die volkome vrye lewe uit God op te neem, dit in homself in te sluit en dan deur volharding en moed hierdie ewige heiligdom groot en kragtig laat word. En dit is die lewende christus in elke opregte mens. Wanneer sy lewe oorgegaan het in alle dele van die gees en die siel, en daardeur in die vleeslike liggaam, dan is dit waarlik die allergrootste oorwinning wat `n mens ooit sou kan behaal!

Want deur hierdie oorwinning het hy die hoogste lewe van God in homself gevange opgeneem, het hy dit sy eie gemaak deur die liefde en word hy nou een met die ewige God, die Vader van alle liefde.

Soos die liefde `n vrug van die deemoed is, so is die ewige waarheid of die lig van alle lig `n vrug van die liefde. En wanneer die liefde groei uit die deemoed en die waarheid uit die liefde, dan is dit `n egte groei en `n ware boom van die lewe en alle heilige kennis van die lewe, tydelik en ewig.

Wie egter die geheime van die lewe slegs deur sy wêreldse verstand wil leer ken, sal dit nooit êrens vind nie, maar hy sal ook dit nog verloor, wat hy in sy kinderjare verwerf het.

Voorwaar, Ek sê vir u: Wie so `n innerlike woord hoor deur die vermanende gewete of as `n hoorbare woord uit die mond van `n gewekte mens, en dit met kinderlike eenvoudige gesindheid glo, en dan nie maar net `n hoorder van die Woord bly nie, maar ook daarvolgens handel: Aan die sê Ek: Hoor en sien sal niemand in die hemel bring nie, maar slegs die daad!

Die lewe kan nie terugkeer alvorens dit nie geoordeel is nie. En in die evangelie staan: “Nie Ek nie, maar die woord, wat Ek tot u gespreek het, sal u oordeel".

Niemand kan tot die sekerheid van die waarheid kom, behalwe via die daadwerklike weg van die kruis, volgens die woord wat niks as anders deemoed en liefde predik nie. Wie egter alles maar net hoor en nie handel volgens die lewende woord nie, sal hom ook nie kan verenig met sy positiewe-lewende krag nie, maar sal in sy negatiewe polariteit van die dood bly, waaruit hy moeilik weer `n positief-polêre geesteslewe sal kan ontwikkel. Maar wie gedurende hierdie lewe nie oorgaan in die ware positiewe polariteit van die ewige lewe nie, die sal homself veroordeel tot die negatiewe polariteit, waaruit hy nooit meer sal kan opstaan nie. Beide hierdie polariteite is bekend as die geestelike en die materiële, of soos die lewende vrug binne in tot die dooie buitenste skil. Wie in die vrug sal oorgaan, sal oorgaan tot die lewe; maar wie in die skil sal oorgaan, sal oorgaan in die dood. In elke ding, en dus des te meer in God, is twee pole. En soos wat die Goddelike Sy ewige is, moet hierdie twee pole dus ook ewig wees.

Wie deur die woord geoordeel word of veeleer homself oordeel volgens die woord, die neem die lewe in hom op en kom ooreen met die Goddelike polariteit, wat die vrye, onbeperkte lewe is. Maar wie die woord nie werklik in hom opneem nie, maar dit deur sy negatiewe verstand verwerp, die sal deur die woord geoordeel word tot die negatiewe polariteit, wat die grondbeginsel van al die materiële en dus van alle dood en alle beperking is.

Hieruit volg dat die natuurlike wêreld ewemin ooit tot `n einde sal kom as die geestelike, maar `n ewige negatief-polêre basis sal bly vir al die geestelike en vrye.

Welke lot sal dus die mees gelukkige wees, - om ewig ingelyf te word in die negatiewe of in die positiewe polariteit van God, dit wil sê om `n ewige geluksalige, vrye engelgees te wees, of `n verbanne Satan in `n dooie klip - dit mag elkeen nou self beslis.

Waarheid is daar weliswaar oral vir die lewende, maar vir die dooie is daar nêrens in die hele ewigheid lig nie. Wie dit sal vat, sal ook begryp dat die klank afhanklik is van die fluit, die lig van die lewe, die loon van die arbeid, en die selfbewussyn van die ewige lewe is afhanklik van die daad volgens die woord.

Hoe die lewe is, so is ook die aard van die pool. En soos die hart is, so is ook die stem daarvan, of soos die deemoed in die hart is, so is ook die lewende woord daarin.

Wie God baie ernstig neem, sal saam met Dawid uitroep: “Heer, my God en my Vader! Sien, my hart is oorvol van liefde vir U! Uit die diepte van my deemoed smeek ek U om my te help en my die ware lig van die lewe te gee, sodat ek `n volmaakte lewe met U kan uitmaak! Verhoor my daarom, my God!"

Sien, dit is `n regverdige versoek van hom, wat in die gees en in alle waarheid sê: “Ek neem God baie ernstig op".

Want wie God ernstig neem, sal hom ook heeltemal tot God wend en nie met die een oog terugkyk op die wêreld en slegs met die ander opkyk na God nie. Hy sal nie net sy oë nie, maar sy hele wese tot God ophef.

Maar soos die sake nou staan, word God nie baie ernstig geneem nie, want die mensdom het baie lou geword. Die laaste krag wat hy nog besit, verspil hy aan wêreldse dinge!

Hoeveel lewe dit sal oplewer wat tot My terugkeer, sal julle sonder moeite kan bereken. Nietemin volg almal tog die weg wat My rigtinggewende woord voorskryf, hetsy opwaarts of afwaarts. Hoewel die aarde vir `n hoë losgeld gekoop was, en in die sentrum tussen My twee oneindige pole gestel was, is daar nogtans in die wye oneindigheid nog baie aardes, waarop getroue kinders wandel netsoos op hierdie mees ondankbare aarde. En tog het Ek vir geeneen van hulle almal soveel gedoen as vir hierdie aarde nie!

Maar die ewigheid is nog nie ten einde nie; dit duur eindeloos voort! Wee hierdie aarde, as Ek My hart van haar sou afwend en na `n ander sou moet wend!

Gee dus goed ag op alles wat u deur hierdie “vlieg” ontvang het en handel daarvolgens! Hou u verstand ver weg, maar u hart soveel nader!

Dan sal `n mens die ware oorwinning van die lewe in homself herken, en dan kan opwerk tot die sewevoudige lig en tot die drievoudige lig bo die sewevoudige lig.

Wie dit lees en dit as `n wegwyser tot die lewe beskou en daarvolgens handel, waarlik, hy het ook al die oorwinning in hom.

Dit alles is die alleen heilige liefdeswil van u ewige Vader.

Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205