12. Die berge as plekke van goddelike openbaring.
Wat predik die berge nog meer? Dit sal ons uit `n eenvoudige en kort stukkie geskiedenis leer: `n Vroom man loop met die gedagte rond of dit nie moontlik sou wees dat hy My - al was dit maar vir `n oomblik - sou kon sien nie. En hy bedink wat hy alles sou doen om hierdie genade deelagtig te word. Ons ou vroom man weet baie goed, dat die mens in sy lewe op aarde nie waardig is om sulke genade te ontvang nie. Maar aan die ander kant was sy verlange weer te sterk om aan hierdie oorweging gehoor te gee. Daarom besluit hy om op `n taamlike hoë berg, in die nabyheid, `n plek uit te soek om daar, so dikwels as die tyd en die omstandighede dit toelaat, aanhoudend te bid. Sodat hy egter die plek elke keer sou kon kry, maak hy `n kruis en hy plaas dit daar neer. Daarna beloof hy My plegtig dat hy op hierdie plek nie met bid sou ophou, alvorens Ek nie sy gebed sou verhoor nie.
Hy doen soos wat hy besluit het. Drie jaar lank gaan ons man na hierdie plek toe om daar, dikwels ure lank, innig tot My te bid, sodat Ek sy gebed sou verhoor.
As hy daar was, was hy ook altyd onsigbaar omring deur duisende vroom geeste. Volgens My wil versterk hulle hom so veel, dat hy na verloop van anderhalf jaar, al volkome die innerlike gesig van die gees besit het. Daardeur was dit vir hom maklik om met baie verwante geeste te spreek oor dit wat hom so na aan die hart gelê het.
Die goeie geeste leer hom, dat sy begeerte wel ietwat onbeskeie was. Hy voeg daarby dat dit tog al `n groot genade vir hom was, dat Ek die oog van die gees vir hom geopen het, sodat hy sy geestelike broers kon sien en met hulle kon spreek. Maar hierdie onderrig het weinig resultaat gehad, want hy sê daarop: “Liewe broeders en vriende van my en u Heer! Ek kan u vir eens en altyd niks anders sê nie as: As ek Hom maar net mag sien, kan die hele wêreld en die hele hemel my niks meer skeel nie. Julle mag praat soveel as wat julle wil, julle kan my nooit van my voornemens afbring nie. Want Die Een wat ek bo alles liefhet, wil en moet ek sien!"
Toe hierdie goeie geeste hierdie uitspraak hoor, prys hulle hom vanweë sy groot liefde vir My. Maar tog bly hulle `n tydlank uit sy nabyheid, sodat hy niks anders gesien het as wat hy met sy liggaamlike oë kon sien nie. Hy kom daardeur tot die mening, dat sy verlange tog miskien sondig was, omdat die geeste hom verlaat het.
Op `n dag dink hy steeds weer daaraan wat hy nou moes doen: Of om die raad van die geeste te volg, of trou te bly aan dit, waartoe sy gevoel hom so sterk dryf. Eindelik wen die gevoel van die geeste tog en hy sê vir homself: Dit is so. Ek is `n sondaar, solank ek hierdie liggaam besit. Maar wat kan `n sondaar doen as sy gees in hewige verlange ontvlam om Die Een te sien wat hom geskep het om ewig te lewe? En daarom wil ek trou bly aan my eerste voorneme. My liefde vir God sal nie minder word nie. Ek kan nie buite hierdie liefde leef nie!
Ons ou man gaan steeds weer na die plek en bid nog vuriger daar. Toe drie jaar byna verstryk het, kom `n ander goed lykende, maar tog armoedige mens en spreek ons biddende man as volg toe: “Beste man, wat doen jy hier so hoog op hierdie berg? Weet jy dan nie dat jy net in `n bedehuis (kerk) goed tot die Heer kan bid nie? Jy bid maar net op hierdie berg".
Ons biddende man antwoord: “Goeie vriend, ek beken openlik aan jou dat ek nog nooit in `n bedehuis (kerk) kon bid nie, maar wel op hierdie berg wat vir my heilig voorkom. As ek hier om my heen kyk, die gras, die bosse en bo my, die wye, vrye hemel, sê my gevoel vir my dat hierdie prag van die groot, natuurlike Godstempel, sekerlik meer welgevallig voor God is, as al die houtsneewerk waarmee `n bedehuis versier is!"
Hierop sê die vreemdeling: “Beste vriend, daarin is ek volkome met jou eens. Maar ek sou nog graag van jou wil weet, wat die diepste rede is, waarom jy hier bid".
Oor hierdie vraag was ons biddende man nie min verbaas nie, maar vinnig bedink hy hom en sê: “Kyk, baie mense bid vir hulle gesondheid, baie ook oor `n vermoë of iets anders. Aan my is daar maar net een ding geleë en dit is die Heer, my God. En Die Een wil ek graag, ten minste een keer, in my aardse lewe sien. Dan het ek meer as wat aarde en hemel kan bied. Daarom sal ek ook eerder sterf, as om van my voorneme af te sien!"
Daarop vra die vreemdeling hom weer: “Hoe stel jy God vir jou voor? Dit sou kon gebeur, dat Hy Homself aan jou vertoon en dat jy met Hom sou praat. Maar as jy Hom nie herken nie, dan sou die vervulling van jou gebed tevergeefs wees!"
Na hierdie vraag was ons man nog meer verbaas en sê uiteindelik vir die vreemdeling: “My liewe vriend, ek moet aan jou beken, dat ek eintlik geen bepaalde voorstelling daarvan vir my kan maak nie! My mening oor die beeld waarin God sal verskyn is so onduidelik, dat ek nie weet of God ongeveer so lyk soos `n mens nie, of dat God uit drie mense bestaan, wat dan ongeveer net so sal moet lyk asof hulle maar net een liggaam saam het. Of is die wesenlike beeld van God `n oneindige Lig, waarin hierdie drie Goddelike persone sweef en werk?"
Hier antwoord die vreemdeling ons bidder: “Het jy dan nooit gelees wat Christus eens oor Homself vir Sy apostels gesê het, toe hulle Hom gevra het om die Vader aan hulle te toon nie? Staan daar nie geskryf "Wie My gesien het, sien ook die Vader; want die Vader is in My en Ek is in die Vader!"
Toe begin ons gebedsman na te dink. Hy herinner hom aan die twee dissipels wat na Emmaus gewandel het en vra daarom ietwat angstig aan die vreemdeling: “Liewe vriend! Sê vir my of jy `n kluisenaar of `n vroom en in die Heilige Skrif goed ingeligte mens is; want `n gewone mens spreek nie sulke woorde nie". Op hierdie vraag antwoord die vreemdeling nie meer nie, maar gryp hom aan die hand en hef hom van die grond af op na die hoogste top van die berg. Hier open Hy eers weer Sy mond en spreek: “Broeder, sien, Die Een oor wie jy drie jaar lank gesmeek het, Hy staan nou voor jou. Ek alleen is die God van hemel en aarde en buite My is daar geeneen nie! Bly My egter in jou hart trou, hoewel jy My nie meer voortaan in jou lewe sal sien nie! Soos wat jy nou egter My Vaderstem hoor, sal jy hom steeds hoor, sowel op hierdie berg, as oral waar jy jou in My Naam sal bevind. Jy het die lewe gevind en dit sal jou nooit meer ontneem word nie. Waarlik, Ek sê vir jou: Jou siel sal die dood nooit smaak nie! Amen!"
Na hierdie woorde verdwyn die hoë vreemdeling en ons ou man ween, loof en prys die Heer die hele nag deur en besoek hierdie berg nou nog meer as vroeër, Kyk, ook sulke gebeurtenisse vertel die berge jou!
Gaan daarom dikwels die berge op, of bid tenminste in die gees tot My op die berge - wat `n suiwer gemoed beteken - dan sou jy dit ook kan oorkom wat ons getroue, biddende man ervaar het.