Hoofstuk 6
Meisie, jong vrou, moeder en vrou
(ontvang 4 Augustus 1870 deur Gottfried Mayenhofer)
Aangesien jou geselskap byna oorwegend van die vroulike geslag is, en juis die geslag so `n wesenlike invloed het op die geestelike opvoeding van My kinders, wil Ek dus ter wille van die susters van jou ook slegs woorde vir hulle gee, sodat sommiges mag insien wat hulle eintlik moet doen en die ander in oënskou moet neem wat hul nog te doen staan om enersyds die naam ‘My kinders’ te verdien, andersyds om daarnatoe te werk, dat alle siele wat Ek hul sal toevertrou, ooreenkomstig My hoër bestemming ook op My weë gelei mag word. Dus nou ter sake:
Ons wil begin, net soos by die vorige viervoudige diktaat, dit wil sê met die jeug, oftewel met die eerste stadium as kind, oftewel na geslag uitgedruk met: Die meisie.
Pas na die geboorte, wanneer daar nog geen geslagtelike onderskeid is nie, wat betref aandrifte en hartstogte, en enkel en alleen die vegetatiewe lewe oorheers, is daar by die jongeling of die meisie geen ander verskil te sien as slegs in die liggaamlike gesteldheid nie: By die meisie oorheers die swakkere organisme, die rustiger, lydsame en passiewe, terwyl by die seun, die onstuimige en beweeglike temperament al meer deurskemer, wat hom later sy karakter gee, vergeleke met die sagter en swakker meisie.
Hierdie periode is dus dieselfde by beide geslagte; alle hartstogte en deugde slaap rustig die slaap van die regverdige, totdat ander toestande hulle opwek tot skeiding en stryd; daarby is die eerste bose eienskappe wat hom by die meisie vertoon, dan ook eiesinnigheid en woede, net soos ons dit by die seun gesien het. (Verwys na vorige hoofstuk in die boek "Lewensgeheime" deur dieselfde skrywer)
Wat Ek daar oor beide die aandrifte gesê het, geld nou ook by die meisie. Die eiesinnigheid is hier by die meisie net nog `n gevaarliker eienskap as by die seun, omdat die seun op `n later leeftyd tog meer wilskrag besit om hom vooraf in te toom, terwyl die meisie, swakker as wat hulle is, die bekoring nie kan weerstaan nie en ook in al haar doen en late nog makliker versterk word, omdat sy, as die swakkere geslag, oral toegeeflikheid ontmoet. Hierdie toegeeflikheid ten opsigte van haar koppigheid, sal die jong vrou en moeder later egter `n moeilike tyd besorg, deurdat sy dan met die ander geslag in aanraking kom, wat deur My bestem is om te heers en nie om oorheers te word nie. Tot sover oor beide se eienskappe.
Die van jou susters wat kinders het om op te voed, moet beide giftige onkruid goed dophou wat, hoeseer die vrou ook geskape is om oral waar hulle maar kom, die vrede en seën tussen verhitte gemoedere te herstel, hulle inteendeel eweseer die mooiste hemel in `n hel kan verander, wanneer die vrou nie die krag het om die bose eienskappe te bedwing nie. Daaruit kom as die ergste gevolge voort; nie slegs in die eiesinnige en driftige vrou self nie, maar ook plant hulle dit as `n kankeragtige aandoening voort by hul kinders en kleinkinders.
Wat by die seun met die voortskryding van die jare die veglus, wat sterker as `n ander is en wat oor sy kamerade wil heers `n voorkeurneiging is, is dit daarenteen by die meisie die ydelheid. Die seun sou graag as die sterkste, behendigste (en slimste) van sy speelkamerade gesien en as sodanig gevrees word - die meisie sou daarenteen graag die mooiste en bes geklede (en bekoorlikste) van haar vriendinne wil wees. Die eerste eienskap by die seun is weliswaar ook gevaarlik, egter by verre na nie so gevaarlik as die by die meisie, waar haar eienskap as jaloesie `n des te groter draagwydte het.
Jaloesie is die ergste en verskriklikste eienskap wat alle ander beter eienskappe uit die vroulike gemoed verdring en hom verbind met haat, woede en wraak. En dit is soos Ek eens in een van My woorde gesê het: "As jy Satan in eie persoon wil sien, kyk maar na `n ydel opgetofde meisie, of `n jaloerse vrou!"
Ja, `n vrou wat haarself slegs deur hartstogte laat beheers, is `n furie (helleveeg) in eie persoon; want by die man oorheers, ondanks gevoelens van wraak en woede, tog byna voortdurend die verstand. By die vrou is daar dan geen dink met die hoof meer nie, maar is dit slegs die hart, die setel van al die edelste of al die slegste, wat die leier en draer is van al haar voornemens en handelinge.
`n Vrou, in die besonder wanneer sy in `n posisie verkeer wat gunstig is om die nadruk op haar hartstogte te lê, is geskik om die hele aarde te verwoes as dit vir haar moontlik sou wees, en sy is in staat om met `n koel blik strome bloed te sien vloei en oral ellende te versprei; vir haar is dit voldoende as slegs haar wraak bevredig word, as slegs haar vermeende eersug die soet bewussyn in haar Sataniese siel agterlaat: Jy is gewreek!
Kyk maar na die geskiedenis van die mensdom op julle aarde: sedert die vroulike geslag opgehou het om ondergeskik te wees en sedert sy begin het om uit die huislike lewe, haar eintlike sfeer, na buite te tree, hoeveel ongeluk het die geslag nie versprei onder die mensdom nie, hetsy in die gesinslewe of in die van die staat! Terwyl Ek juis die geslag deur die passiewe mag van sagmoedigheid die segepalm oor die onstuimige hartstogte van die manlike geslag toegedig het, triomfeer dit nou deur die kunste van Satan. Die vrou verlei die man en lei hom, in plaas van na die oorwinning deur die liefde, na ondergang en die totale verval deur haar heerssug, sodat Ek weer tussenbeide moet kom om die man te bevry uit sy met dorings omwonde kettings van rose, wat vanuit My sou moet wees, en om uit die vroulike hart die slegte en bose hartstogte te verdrywe deur ellende, armoede en siekte, sodat My skepping weer op die regte spoor kan kom. Daarin moet die vrou die steun (die helpster) van die man wees; die kalmerende, maar nie die bevelende en slegs kommanderende deel op die aarde nie.
Dit alles het Ek julle vantevore gegee om julle te laat sien waartoe dit met soveel edel eienskappe vanuit My aangelegde vroulike geslag gekom het, en dat in nog maar weinig harte beter gevoelens as eersug en pronksug `n plek het.
Ek het julle laat sien dat `n vonk, waar in die jeug weinig op gelet word, eenmaal tot `n brandende aangewakkerde heillose ongeluk om hom heen kan versprei, sodat julle kan sien waarvoor julle self moet oppas en waarteen julle jul kinders moet beskerm.
Nou wil ons die beeld van `n ander kant bekyk, naamlik van die kant soos Ek die vrou eintlik geskep het en hoe Ek alles in haar geplaas het om My doel nie te belemmer nie.
Ek wil julle nou die vrou in haar vier periodes voor oë stel, soos dit moes gewees het, soos wat sy maar slegs langs hierdie weg tot My kindskap kan kom en so geheel aan haar opgawe op die aarde kan beantwoord.
Wat by die opvoeding noodsaaklik is, het Ek julle in die begin aangegee. Probeer die hart van `n meisie sag te hou; wek betyds die liefde op, die alleskalmerende liefde tot My en die naaste; wek die meelewing in haar op, want wanneer `n hart die lyding van `n ander mens leer voel, dan soek sy ook hulp daarteen, soveel as wat moontlik is. Meelewing hou die hart sag en bereid om te help waar dit kan, en verwyder baie ander bose luste en gedagtes, wat andersins in `n trotse hart alle plek vir haarself sou ingeneem het.
Meelewing lei tot respek en gelykheid teenoor die naaste en is juis die teenoorgestelde van trots, wat beheers word deur die illusie om iets beter as ander te wees.
Meelewing, dit blom uit die kroon van die naasteliefde, veraangenaam die lewe, versag alle verdriet en troos in elke omstandigheid en aan wie het Ek nou juis meer middele gegee om die meelewing die mees doeltreffendste aan te wend?!
Het Ek julle, My lieflike vroulike kinders, nie die mooiste, sagste vorms, sagte gelaatstrekke en gevoelvolle oë gegee, waarvan niemand van die sterker geslag die blik, deur meelewing tot trane geroer, kan weerstaan nie?!
Het Ek julle geen sagte stem gegee, waarvan die innemende klank soos balsem op die wonde van ander sou moet werk nie?
En hoe word dit alles deur die meeste van julle gebruik! Ek moet My oë afwend van die tafereel wat Ek nou vir julle blikke sou kan ontrol, as Ek sou wil uitbeeld hoe daar nou met My goddelike geskenke omgegaan word, en werklik nie tot My eer nie! Maar genoeg daaroor; laat ons terugkeer na ons vrou, soos Ek haar geskep het.
Waak dus oor die gevaarlike eienskappe in die jeugdige hart van `n meisie; het sy eenmaal `n jong vrou geword, dan is dit te laat om selfs maar daaraan te dink om verkeerd geleide aandrifte uit te roei. Want in haar bloeityd stuur die vroulike hart met vol seile haar hartstogte in die rigting van die vir die hart nog nie duidelike burgerlike staat, waarin sy moeder en lewensgesel van `n man is. As sodanig sien sy ófwel al haar mooi idees oor `n huislike lewe gerealiseer en kan sy dus in die hawe van die gesinslewe aan ander vreugdes dink, ófwel moet sy, in alles teleurgesteld, die naakte waarheid wat sy vroeër miskien nooit gehoor het nie, nou hoor uit die mond van diegene van wie sy voorheen geglo het dat daar van hom aan haar slegs maar melk en heuning tegemoet sal stroom. En as dit inderdaad so foutief gesteld is, dan is dit `n korrekte betaling vir die verkeerde opvoeding wat die meisie en die jong vrou ontvang het, waarvan die nadeel op die ouers en minder op die hoof van die kind sou moet val.
Maar juis deur die las van `n ander man se skuld word mens verstandig, en so versag die harde werklikheid miskien die hartstogte van `n pasgetroude vrou; en as moeder sal sy, juis deur ervaring wyser word, en haar kinders nie so opvoed as wat sy self opgevoed was nie.
Ek lei dus steeds weer die verdwaalde gemoedere deur eie onaangename ervaringe daarheen, waar hulle vroeër nie die weg gegaan het nie.
Die moeder by die siekbed van haar kind sien dan op na My, wend haar hart af van die ydele dinge van die wêreld, keer na binne in haar innerlike en sien daar dikwels met huiwering hoe verwoes en leeg dit daar lyk. Dit is dan haar dae van beproewing en van berusting. En terwyl die jong vrou dink dat sy in die huwelik eers goed `n lewetjie van plesier in wêreldse genoegdoening sou hê, vind sy daar, in plaas van met plesier en dans deurgebringde nagte, vreugdelose dae en sorglike nagte, en sorge van `n nooit vermoede draagwydte.
Die oog wat, vogtig van vreugdetrane, haar lewensgesel die eerste blik van liefde toegestuur het, is nou wel ook weer vol trane, maar by die siekbed of sterfbed van `n geliefde; die vreugdetrane van toe het van My en My woorde weggelei, die trane van verdriet is egter die eerste wegwysers terug na My. Daar staan Ek dan dikwels met geopende arms in `n eensame kamer naas `n treurende moeder; Ek sien die moederhart bloei, Ek sien haar hoop soos `n kaartehuis ineenstort, en o Vaderlike vreugde! Uit die ruïnes van die ingestorte hoop bloei `n hemelse blom op: Dit is die blom van die geloof en die stille oorgawe aan My wil.
Wat nie deur plesier en wêreldse vermaak ooit moontlik sou gewees het nie, wat by die meisie en die jong vrou vrugteloos van hul dowe ore afgekets is, dit bloei hier by die siekbed van `n kind op. Wat selfs die liefde nie kan bereik, het die angs volbring; dit het My `n hart teruggegee wat onder ander omstandighede verlore sou gewees het!
My liewe kinders, herken julle nou My bedoelinge, en hoe Ek ook weet om My kinders wat nie saamstap nie, te lei!
Ek laat dikwels baie van julle geslag in die groot harwar van die lewe, van die een vermaak na die ander en van die een genot na die ander fladder. Wees slegs daarvan verseker dat Ek, as dit vir My daarom gaan om `n siel te red, weet om die oomblik te vind, en daar sit die voëltjie dan, wat voorheen so vry en vrolik in die lug van vermaaklikhede rondgevlieg het; sy laat die vlerke hang en vergeet heeltemal dat sy vlerke het om van die aardbodem weg te kan vlieg, omdat juis diegene aan die aardbodem vasgeheg is wat vir hom die liefste was.
So gaan die moeder voort op haar doringrige pad. Sy word selde beloon vir dit wat sy vir haar kinders uitgestaan het, sien egter juis daardeur die beste die onbeduidendheid van die wêreld en haar verkeerde opvattinge en gewoontes in en wend haar dan tot My. En as alle geslagtelike verpligtinge eenmaal tot rus gekom het, dan begin ook die vrou, ófwel in haar lewensgesel, waar sy vroeër nie so aandag aan geskenk het nie, `n beter steun te vind, ófwel die steun slegs by My te soek, waar sy ook genoeg troos en hulp sal vind.
Daarom, My liewe kinders, die wat merendeels reeds die weg van trane en lyding gegaan het, oor wie Ek My ontferm het en aan wie Ek My woord ten deel laat val het, verloor nie moed nie! Julle verlede sal by My nie so swaar aangereken word soos baie wel glo nie, en julle toekoms wil Ek veraangenaam soveel as wat dit vir My moontlik is, sodat julle My en My leer nie mag vergeet nie!
Dit word julle tot troos gesê deur Hom wat julle immers eweseer as al Sy kinders liefhet en seën!
Amen!