LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 18

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 17

Lewe in die geestelike en in die wêreldse

(ontvang 24 Februarie 1873)

Al voorheen het Ek julle in slegs woorde, soos in ‘die gedagtewêreld’ en in ‘lewe’ laat sien hoe veelsydig die lewe van die gees is, en hoe dit opgevat moet word om `n vae voorstelling van My wêreld en My mag te kry. In die ‘woord vir kortsigtiges’*24 het Ek julle aangespoor om My natuur in sy grootsheid te bestudeer; want `n groot almagtige Skepper kan julle makliker verstaan en begryp in Sy groot werke, terwyl Ek vir `n baie sorgvuldige ondersoeker by sy rondgang in My onopvallende werke ook as groot en onbereikbaar in die kleinste infusiediertjie verskyn.

Ek het julle dit alles van tevore gesê, sodat julle jul geestelike oë en ore steeds oop mag hou om die stroom geestelike lig en die klank of die stem van My geestelike kosmiese taal te hoor, wanneer dit julle in en uit al die geskapenes die groot lied van ewige liefde en by elke hartslag die liefde van die Vader en Sy genade bekend maak.

In die woord ‘tyd’*25 het Ek julle meegedeel wat tyd is en hoe julle dit moet benut. En in `die waardigheid van die mens' het Ek julle gesê wat julle moet doen en uitlaat om My kinders te word, beklee met My ewebeeld, en hoe julle in waardige ooreenstemming met die beeld sou moet handel. In `die gedagtewêreld' het Ek julle uitgelê hoe alles wat materieel geskape is en alles wat gedoen is eenmaal slegs na die oorsprong daarvan, die idee wat daaraan ten grondslag lê, geweeg en beoordeel sal word. En nou stuur Ek julle weer `n woord, vol van die verhewe skeppingsgees, om julle in `n nuwe sienswyse My skepping en My bedoeling daarmee duideliker voor oë te stel. Sodat julle eenmaal leer sien en te midde van die drukte van die wêreld en die aktiwiteite van die wêreld se menslike hartstogte sal insien dat ver bokant al die liggaamlike materiële uit die gees, My wil, die groot draer van al die geskapenes is, wat dit laat ontstaan, wat `n bepaalde tyd in stand hou en wat dan weer deur die vorm te verander na `n hoër doel lei.

In ‘die gedagtewêreld’ het Ek julle gesê dat die gedagte, die sturende idee, hoër staan as al die materiële, ja dat dit die grondslag van al die bestaande is. En nou wil Ek julle aantoon dat die druk aktiwiteite van die gedagtewêreld, beskou as `n geestesryk, juis ook die wesenlike faktor is van al die gemanifesterende lewe, van alles wat bestaan en vergaan, en dat julle, om My skepping wat slegs `n geestelike produk is te begryp en te verstaan, soos geeste moet dink, soos geeste na My skeppingswerk moet kyk en soos geeste die verloop van die hele geestelik materiële lewe moet bekyk, as julle `n korrekte voorstelling van My, van My skepping, van die bestaansduur daarvan en van julself wil kry. Want anders is julle temidde van die stralende lig van My wondere slegs blindes, en temidde van die groot harmoniese konsert van My sfere en kosmiese musiek met dowes te vergelyk.

Ek wil julle nou dus met My saamneem op `n geestelike vlug deur die van alle materie ontdane geesteswêreld, sodat julle mag insien en begryp wie Die Een is wat die wêreld skep wat julle omring, waarom Hy dit geskep het, en waarom Hy julle net soos alle geestelike lewende intellektuele wesens elkeen volgens sy bevat­tingsvermoë toegerus het met middele om Hom, die almagtige Meester en Skepper, en ook Hom, die ewige slegs maar liefheb­bende Vader, te leer begryp en te verstaan.

Kyk, die wêreld - sowel die groot geesteswêreld as die materiële wêreld, wat slegs `n bekleding is van die eerste - word geskape om sigbaar dit uit te druk wat vir materiële wesens onsigbaar in die geestesryk is, as die oerewige draer van al die mooie, ware en goeie vanuit My as uitdrukking van My ‘Ek’ en My eienskappe, wat al sedert lankal bestaan en ewig sal bestaan!

Hierdie sigbare materiële wêreld, wat die geestelike dus slegs omhul en tot geleier en vervolmaker daarvoor moet dien, die materiële groot wêreld, vanaf die sentraalsonne tot by die kleinste infusiediertjie, het dus geen ander doel as om die geestelike wat daarin gelê is deur die materie na `n hoër vlak te voer. Egter slegs maar wat daar in die materie geestelik beslote lê is daarvoor bestem om in die eerste plek voortdurend die materie aan te spoor tot die vervolmakingsproses, om ten slotte van alle gelouterde en vergees­telikte materie slegs oor te bly as die blywende, nooit te vernietigde ewige, om so getuienis af te lê van Hom wat dit skep en wat, as ewige God, slegs iets ewigs maar nooit iets tydelik kan skep nie!

Kyk nou, My kinders! Verhef jul bokant die materie en beskou al die geskapenes as `n geestelike produk, dan sal dit vir julle geestelike oog duidelik word wat `n geestelike lewe en wat `n materiële lewe is. Want `n geestelike lewe is die ewige na vore dringing van die in die materie gebonde geestelike, en `n materiële lewe is: Die verande­ring in ontstaan, bestaan en vergaan wat hom deur die voortdringing in die sigbare materiële wêreld manifesteer.

Wel nou, die hele oneindigheid is vol van geestelike wesens, omdat die oneindigheid My `Ek' vorm, soos julle liggaam ewe-eens sigbaar die `ek' van julle siel voorstel.

Al die geestelikes in die oneindigheid het sy doelmatige vooruit­gang; alles het sy doel en sy redes waarom dit hom moet bind en hom moet losmaak; en as dit in materie gebonde is, weer hiervan bevry wanneer die geestelike slegs op homself kan bestaan!

So het die huidige wêreld ontstaan, so sal steeds nuwe wêrelde voortkom uit die in die verlede opgeloste, en daarop berus die oneindigheid as `n begrip wat ook vir eindige wesens te begryp is.

Soos die kleinste in vaste gesteente gebonde geestelike deeltjie sy lewe via die materie uitdruk en die klip voortdurend tot verandering, tot oplossing aandryf, om op hoër vlakke iets anders te word, so is dit ook by hele kosmiese stelsels, by hele heelalle en uiteindelik selfs die hele sigbare wêreld. Die geestelik materiële strewe, `lewe' genoem omdat dit hom manifesteer as iets bewegend, iets werk­saam, dit is dit wat oral op gelyke wyse volgens dieselfde beginsel die kleinste wurm net soos die grootste sonneliggaam of die nog in `n materieel omhulsel geklede engelgees voorwaarts dryf na hoër vlakke, na hoër salighede en groter genietinge!

Soos julle eie liggaam daar slegs voor sou moet dien om die siel te vergeestelik, deurdat dit hom deur `n korrekte lewenswyse en as passende instrument slegs sou moet laat gebruik vir menswaardige handelinge, om daardeur die vergeestelikingsproses van die in julle wonende siel te bewerkstellig en te bespoedig, so is dit ook gesteld met die grootste sentraalson en die hele groot kosmiese mens met sy taak wat nie in tydsduur te bereken is nie, sodat die geestelike, steeds meer vrygemaak en op hoër vlakke gebring, aan sy doel kan beantwoord!*26

Soos Ek julle in die woord ‘die gedagtewêreld’ die hele geestelike sfeer onthul het wat eintlik die draer van al die sigbare is, so wil Ek julle hier ook die grondgedagte van die geestelike lewe laat begryp en verstaan, wat die materie daartoe aanspoor om hom te vergeestelik, waardeur hy as materiële lewe vir julle aanskoulik word.

Onophoudelik gaan die aandrang en voortstuwing deur, net soos die stroom van die tyd, net soos die lewe van die gedagtewêreld: ontstaan, vir enige tyd bly en weer vergaan, dit is die sigbare bewyse van die nooit rustende geesteswêreld; ewig dring dit voorwaarts en opwaarts! Vanaf die kleinste eteratoom streef alles daarna om iets te onderneem, na bestaan en vergaan oftewel binnegaan in `n hoër ordening.

Kyk maar net met geestelike oë na julle eie wêreld, hoe veelvuldig is daar die wisseling van die stof, hoeveel geestelikheid kom daar elke oomblik vry, vrywillig of gedwonge, om vervolgens ander verbindinge aan te gaan.

Kyk by alle soorte lewende wesens en diere: Wat mekaar verslind, wat mekaar vermoor!

Ja, selfs julle mense: Hoeveel geestelike lewens vernietig julle self daagliks om aan julle maag voedsel of uitgelese lekker happies te besorg!

Hoeveel diere stuur julle nie na die ander wêreld omdat julle jul tyd nie met geestelike gesprekke vul nie maar, soos by die jag sonder noodsaak, slegs die lus om tot moor vir julle `n tydverdryf is!

Miljoene en miljoene vrygemaakte siele uit die dierewêreld loop deur die nie altyd te regverdig handelwyse hul eintlike bestemming mis om langs `n langsame weg hul doel te bereik, en die grootste deel van die geestelike deeltjies moet eers in en deur diegene wat hulle opeet die verdere proses van vooruitgang deurmaak.

Maar ook al gebeur dit, en wel so dikwels teen My wil en My wette in, dan hou dit tog nie in die minste die algemene ontwikkelingsgang teen waaraan Ek die wêreld onderwerp het nie, maar die ontwikkelingsgang word deur `n soortgelyke handelswyse, al is dit ook wederregtelik, slegs maar versnel en bevorder. En as daar misverstande ontstaan deur te sondig teen My wette, dan word slegs die daders en aanstigters van sulke ellende self bestraf, en wel deur hul eie manier van doen. Ek word egter in die geheel nie gehinder in die planne wat Ek My voorgeneem het om My wêrelde tot rypheid te bring en die geestelike wat Ek daarin gelê het, vergeestelik weer terug te kry nie!

Die hele sigbare wêreld en julle sigbare lewe is dus slegs maar die skynbare waaraan die geestelike, diepere ten grondslag lê; en so is net soos by die kleinste diertjie of die vaste gesteente, dus ook by groot hemelliggame die bestaansduur van elkeen daarvan bepaal deur die vry word van die geestelike wat in sy omhulsel gebonde is.

Soos by julle mense volgens die natuurlike verloop van julle lewe die dood eers sou moet volg wanneer julle siel ryp is vir die oorgang na die ander kant, so is dit ook by planete en sentraalsonne. Wanneer alles in hul vergeestelik is, dan vergaan hulle of los hulle trapsgewys op; hulle word steeds geesteliker en kry steeds ligter materie, tot by die lug of gasvormige toe, waarby hulle dan ook slegs bestem sal wees vir wesens wat, beklee met die ligste materiële liggame, daar kan bestaan!

Net soos julle eie liggaam eenmaal op die hoogste geestelike trap ook nie meer die swaar materie as bekleding sal hê wat julle teenswoordig met julle saamsleep nie, so sal ook julle aarde eenmaal vergeestelik wees en in plaas van swaar materie slegs eteriese stowwe en eteriese bewoners hê, wat dan, gelyke tred hou met hul aardbol en hulle steeds meer en meer vergeestelikend, ewe-eens saam met hul woonplek - nie deur groot natuurrampe - oorgaan in ander omstandighede wat afgestem sal wees op die geestelike posisie.

So sien julle hoe die geestelike lewe hom trapsgewys en stap vir stap uit die materiële ontwikkel. Julle sien dat die een slegs die uitdrukking van die ander is, begryp makliker hoe Ek die heelal geskape het en vermoed hoe lank die periode moet wees wat nodig is om sulke prosesse van vergeesteliking te bewerkstellig. En tog het julle nog geen geestelike oog waarmee julle kan sien met wat vir `n gedagtesnelheid die ontwikkelingsproses plaasvind; ook het julle daar geen idee van wat één sekonde tyd tot stand bring met betrekking tot die proses van loutering en verfyning, en nog altyd sien julle nie, selfs in die wêreldpolitieke aktiwiteite van julle klein aardbol, die geestelike wind wat die groot snare van die geestelike wêreldinstrument laat tril. Die harmonieë klink deur die hele oneindigheid; maar julle hou jul daarby stom en doof, julle besef nie, sien nie en hoor nie hoe alles met stormaghtige snelheid, met die snelheid van die gedagtewêreld aangesit word om aan die proses van bevryding van die gebonde materiële te begin nie!

Julle lees koerantartikels, maar kan nie tussen die reëls deur lees en kan nie agter die woorde, as materiële draers van `n geestelike gedagtewêreld, vermoed wat `n groot geesteslewe daaragter verborge is nie, wat ver verhewe bokant alle kleingeestige bereke­ninge en menslike spitsvondighede ongestoord sy ontwik­kelingsgang volg. Om die redes wil Ek julle weer `n vingerwysing gee, sodat julle sal wakker word uit julle wêreldse drome en duidelik sien hoe ver bokant alle wêreldse gebergtes en trone uit, daar bo in die geesteswêreld ander wette heers as wat in die menslike ‘kodeks (wetboek)’ geskrywe staan. Die wette gee sowel aan `n sentraalson as aan die kleinste atoom sy lewe om deur middel van die lewe sy doel te vervul, dit wil sê: Hom te vergeestelik en weer nader by die bron te kom van al die lig, vanwaar dit eens uitgestuur was om individueel, as groot hemelliggaam of as wurm, sy lewens- en ontwik­kelingsproses deur te maak.

Nog altyd word julle meer deur nuuskierigheid as deur verlange om te weet, daartoe gedrewe om My woorde te lees, nog altyd het julle nie één woord opgevat soos `n geestelike mens, as afstammeling van My, wat sou kan opvat; nog steeds is julle lewe veels te materieel, nog steeds behoort julle steeds meer aan die wêreld en nie aan julself of selfs aan My toe nie. Daarom moet Ek julle van tyd tot tyd vermaan en woorde stuur om julle wakker te maak, sodat julle tenminste gedurende julle geestelike konsentrasie in staat mag wees om bokant die alledaagse lewe uit te styg en julle oog en oor te open vir dit wat julle steeds en voortdurend uit alle hoeke van die skepping tegemoet straal en tegemoet klink, naamlik dat julle geeste is wat, slegs vir `n kort tydjie met materie beklee, spoedig weer in omstandighede sal kom waar nou juis julle geestelike lewe, en nie julle materiële lewe, enige gewig in die skaal sal lê!

Laat Ek julle daarom nie vergeefs vermaan nie. Die skale/bekers van die toorn van die God van Johannes sal geledig word en enkeles is alreeds geledig; die seëls van die groot boek van die skepping sal ontsluit word, en daar sal tye kom dat julle al jul geestelike besit nodig sal hê om aan die wêreldse weerstand te bied en krag en moed te behou!

Trag daarom om My woorde te begryp, hulle op te neem soos wat Ek hulle aan julle gee, sodat julle nêrens deur verras word wanneer die geestelike lewe die materiële moontlik aanspoor tot die vernietiging van vanouds aangewende omstandighede, en keer op keer sal aan julle hart aangeklop word, soos Ek eens met My leerlinge gedoen het vóór My gevangeneming, toe Ek hul meermale toegeroep het: "Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie!"

Dit roep Ek ook julle toe: Wees julle bewus van die lewe in die gees! Word wakker uit julle wêreldse slaap! Wees julle bewus van die tyd, hoe dit heendring na bevryding; begryp uit die huidige verval van al die edele in die wêreld dat die tyd nie ver is nie, dat die mense sal oes wat hulle gesaai het. Let op die stroom van lig wat hom oor julle wêreld begin uit te stort, hoor die stemme van die geesteswêreld wat met sterk geluidsgolwe in julle ore klink; dit is die vermanende woorde van `n liefhebbende Vader, wat Sy kinders onder die druk van die gebeurtenisse nie wil verloor of daarop agteruit laat gaan nie, maar hulle in stand wil hou, ja indien moontlik nog in aantal wil laat toeneem sodat die lewe van die gees deur hul passend en in die ware betekenis gewaardeer sal word en hulle almal mag begryp, al val die hele wêreld ook in stukke: ‘Die liefde van `n hemelse Vader kan nie wankel nie, kan nie straf nie, maar slegs getrou aan Sy liefdeswette alles binne `n vasgestelde tyd tot voltooiing bring, sodat alles weer daarheen terugkeer vanwaar dit uitgegaan het en sodat die Vader en kind tog eindelik mekaar leer verstaan en die kind begryp wat dit wil sê om deur Hom gestuur en gelei te word; deur Hom, wat hemelliggame om mekaar heen laat sirkel en by alle wondere en alle glorie van `n oneindige skepping tog ook die kleinste wurm nie vergeet nie!'.

So moet julle verhouding tot My skepping, en ook julle sienswyse ten aansien van die geestelike en materiële lewe word. Want slegs so kom daar rus in julle hart, slegs so leer julle My woorde te bevat, en begryp hoe en waarom Ek hulle julle gee!

Solank julle die gesigspunt nie bereik het nie, is julle nog steeds leerlinge, maar geen kinders van My nie!

My kinders moet met `n geestelike, oop blik na My natuur kan kyk; hulle moet daarin, deur die geestelike van die materiële te ontdoen, die ware leer ken. Hulle moet die stem van My geesteswêreld verstaan en hul geestelike ore open vir die sagte melodieë van My hemelse musiek, sodat hulle almal leer begryp en insien dat, hoewel die materie die middel is om die geheel te beklee, dit tog slegs op die manier moontlik was om `n lewende skepsel wat in die materie verborge is, geestelik te laat begryp en dit daardeur nader aan die Skepper van al die geestelike en materiële te bring.

Wanneer julle oog en oor, geestelik geskool, eenmaal so die hele vervolmakingsproses van alles wat leef en bestaan sal begryp, dan het julle self die vlak bereik wat julle geestelik toekom en waar elke mens na sou moet strewe. Dan het die tyd vir hom geen afmeting en die materie geen bestaansduur meer nie; hy sien so duidelik in dat hoog verhewe bokant al die bestaande en liggaamlike die geesteswêreld troon, en dat die materie en die materiële lewe, verganklikheid genoem, tog slegs maar bemiddelende faktore is, wat as middel tot die doel weliswaar moet bestaan, maar nie die hoofsaak is nie.

Dit is die ‘sluier van Isis’, wat die ou Egiptenare vereer as godin van die waarheid en waarvan hulle beweer dat geen sterfling die sluier kan oplig nie.

Hulle het gelyk, want wie die sluier oplig en die goddelike waarheid in die gelaat kan en mag kyk, die weet ook dat hy ten eerste die onsterflike aanskou het en ten tweede dat hy iets soortgelyks slegs kan begryp en bevat omdat hy self ook onsterflik is. Vir hom het die liggaamlike materie opgehou om `n las te wees; dit is slegs `n omhulsel wat na gelang die insig in die waarheid steeds ligter en ligter, en meer eteries sal word. En ook al word die materie deur die liggaamlike dood van die geestelike geskei, dan sal dit geen gewelddadige skeiding maar slegs `n ligte, sagte oorgang van die een na die ander toestand wees. Die oorgang sal juis daarom pynloos wees omdat die bande tussen gees en liggaam vergeestelik is, en daar geen losskeuring maar slegs `n sagte oplossing voor nodig is om vir die sielsmens, wat reeds hier in die aardse liggaam tot `n suiwerder gees geword het, die laaste hindernisse uit die weg te ruim van waaruit hy as getroos kan opstyg na hoër, geestelike omstandighede.

My kinders, om dit vir julle te verhelder is die doel van al My woorde; want aan die ander kant wag vir julle `n geesteswêreld met ander toestande en ander omstandighede. En om julle bekwaam te maak vir die toekomstige nuwe roeping, ontsien Ek geen moeite om julle deur woorde van troos, die onderrig en vermaning te laat begryp dat daar maar één God bestaan, wat slegs maar liefde is en julle ook slegs maar tot liefde wil opvoed. Want liefde is My eie Ek, liefde is die uitdrukking van al die geskapenes, liefde is die einddoel van alles wat bestaan en ontstaan; slegs met en deur liefde is My skepping te begryp en liefde is die enigste wat die stempel van geestelike adel op My skepsels druk waardeur hulle ‘My kinders’ genoem kan word!

`n Liefhebbende gemoed verstaan die taal van My natuur, verstaan die taal van My geesteswêreld en weet hoe om die materie, haar lewe en vorm volgens die wet van die liefde te verklaar!

Leer daarom eers lief te hê! Ban alle ander eienskappe uit julle hart, dan sal julle vir jul geestelike oë en ore die toegang tot My geestelike lewe in liefde oophou. Leer eers om die inhoud van My woorde geestelik op te neem, en eers dan sal julle begryp waarom Ek soveel geduld met julle gehad het om julle tot liefhebbende kinders van `n ewige liefhebbende Vader te maak!

Só vergeestelik julle, en kom dan nader aan My en Ek maak julle ryp om met rus en vrede ook aan ander mee te deel wat in julle self in oorvloed leef!

Onthou dit goed, en neem die woord aan as `n nuwe bewys van My genade en nooit wankelende geduld om die verdwaalde kinders na die bron van die lig terug te bring, nadat hulle lank genoeg in duisternis gewandel het!

So moet die woord oor ‘lewe in die geestelike en in die wêreldse julle weer laat blyk dat by julle nog lank nie die korrekte begrip van My woorde aanwesig is nie en Ek dit nog steeds nodig vind om aan al die baie wat daar reeds gesê is iets nuuts toe te voeg, sodat alle geheime van My skepping julle helder voor die gees staan en julle daardeur My, as Skepper daarvan en as julle Vader, eers regtig mag ken. Want hoe meer julle My en My woorde geestelik opvat, des te meer vergeestelik julle jul eie ek en berei julle jul op die manier voor op die oorgang na hoër vlakke, wat sonder die kennis nie maklik bereikbaar sou wees nie; want die lewe is kort, en die ewigheid is lank!

Vandaar My sorg vir die verblyf in die laaste, waarvoor die tyd van beproewing in die eerste slegs as oefenskool of beproewingstyd moet geld!

Benut dus die aardse oefenskool om julle na behore toe te rus met dit wat julle daar eenmaal as grondslag nodig sal hê. Gebruik die tyd en My steeds in oorvloed aan julle gegewe woorde, sodat die oes die saaier tot eer strek en julle, nog voordat julle die lewe van die geestesryk binnetree, weet wat lewe, wat lewe as gees, wat kosmiese lewe en wat materiële lewe eintlik is!

Slegs so, gewapen met geestelike insig, sal julle vooruitgang maklik gaan en sal julle groei in insig en wysheid, namate julle aan die voorwaardes sal voldoen.

`n Gees moet weet wat die lewe as gees is; hy moet weet hoeveel dit werd is en waaruit dit bestaan.

`n Gees moet weet hoe groot die verskil is tussen `n skynbare en `n werklike, reële lewe om te kan beoordeel in hoeverre die belem­meringe wat hom teëhou geskik is om hom in plaas van agteruit, juis vooruit te bring.

Slegs toegerus met die helderste insig kan `n vergeestelike mens die toekoms rustig tegemoet sien, want hy verwag die hemel nie van buite nie, maar dra dit in homself. Daarom is wêreldse versteuringe vir hom ook geen versteuring nie, maar slegs stimulanse om hom op sy weg stewig en sterk in sy geloof te maak.

So moet julle gehard word deur wat innerlik bevogtig is, sodat julle jul opdrag wat julself en ander betref kan vervul!

Solank daar by julself slegs `n halwe geloof, halwe vertroue en weinig geduld is, is julle jul nog lank nie bewus van die groot dryfrad van die lewe van die gees wat, deurdat dit alles in beweging bring, ook julle in die beweging saamneem en na die algemene doel wil bring.

Volg dus My raad, oorweeg My woorde goed en bedink van Wie dit kom en aan wie dit gerig is!

As Vader van al My geskape wesens laat Ek niks onbeproef om elkeen te help en die weg vir hom makliker te maak; wanneer hy hom egter nie wil laat help nie, dan sal die misverstande wat daaruit voortkom nie vir My, maar slegs vir hom self tot `n las wees!

"Ondersoek dus alles, en behou die goeie".

So het Ek dit eens gesê en so het Ek julle ook toegeroep, sodat julle nie sal val wanneer die tyd van die versoeking sou kom waarin julle, aan julself oorgelaat, die gevolge aan julself sal moet toeskryf!

Die geestelike lewe is nou eenmaal die grondslag van alles wat bestaan, en die materiële lewe slegs die sigbare element daarvan. Wie die twee dinge verwissel of die eerste selfs ontken, sal uiteindelik tog ontdek dat die saak met ontkenning nie afgehandel is nie, maar dat die geestelike oog daardeur geheel verblind word en die siel doof word vir alle stemme van die omgewende natuur wat haar omring.

As die proses van die geestelike lewe nie so vinnig gaan nie, dan sou mens kan sê, soos julle dit dikwels as spreekwoord gebruik: "Kom tyd, kom raad!" Maar die berekenende oorweging is hier sleg op sy plek; want verlore tyd gee niks meer terug nie en nuwe tyd bring voortdurend iets nuuts wat nie ooreenkom met dit wat verby is nie. En so is dit die vernaamste plig om die tyd te benut, sodat nie berou oor die verspilde tyd die resultaat van die toekomstige insig sal wees nie! Neem alles daarom ernstiger, My kinders, neem My woorde ernstiger, gaan ernstiger om met julle tyd, sodat My woorde nie vir dowemansore gespreek sal wees nie!

Dit wens julle Vader, tot julle onderrig en tot julle geestelike vooruitgang! Amen!

 

*24 In die boek `Schöpfungsgeheimnisse' van Mayerhofer.

*25 In die stuk `Weihnachten' (Mayerhofer), opgeneem in die bundel `Festgarten'; Lorber Verlag, Bietigheim.

*26 Sien `Die Zwölf Stunden' van J. Lorber.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205