Hoofstuk 18
Die lewe (in die lig van die liefde)
(ontvang 19 Maart 1873)
Ek het julle al verskeie woorde oor die tema gegee, en van verskillende kante word julle getoon wat lewe is en wat lewe inhou; en tog is daar nog baie kante van waaruit bekyk kan word dat die lewe `n opmerksame beskouing verdien, om ten slotte verder voort te gaan en `n stap voorwaarts te doen in die kennis van wat lewe inhou, hoe die lewe sigbaar of onsigbaar slegs My eie geestelike `Ek' voorstel en hoe dit ook met verskillende middele en langs verskillende weë, alles weer na My terug moet voer!
In ‘Lewe in die geestelike en in die wêreldse’ het Ek julle laat sien dat elke gebonde lewe hom stap vir stap vrymaak en voortdurend na hoër vlakke dring; Ek het julle die oorsprong en begin van die geestesryk en die wêreldse ryk aangetoon en laat begryp, net soos die noodsaaklike einde van die laaste.
In dié woord het Ek julle `n diep blik in die geheime van My skepping laat werp, en tog ontbreek daar nog `n ander faktor wat hom miskien by die beskouing van die verskillende teenstrydighede in My skepping in ooreenstemming laat bring met My woorde wat Ek vroeër gegee het en julle ook hede nog laat toekom naamlik die verklaring hoe die sin ‘God is liefde’ te rym is met die verskillende daarteen sprekende teenstrydighede in die sigbare natuur!
Om dit nou vir julle nader toe te lig en begryplik te maak moet die doel van die woord wees, sodat julle nog duideliker mag insien dat My woorde werklik woorde van `n God, `n hoogste Skepper en ewige liefhebbende Vader is!
Kyk, in die vorige woord het Ek vir julle gesê dat in die materie oral slegs gebonde geeste, telge van My eie goddelike `Ek', die hele sigbare skepping vorm en dat slegs die geesdeeltjies die belangrikste bestanddeel en die hoofsaak is in wat daar bestaan. Die materiële is slegs bysaak oftewel `n noodsaaklike bekleding om individuele geesdele in die hele universum tot as die ware op homself bestaande, afgeslote wesens te maak!
Dit was die vernaamste redes gewees waarom alles geskape was. Die tweede rede was egter om die geskapenes ondergeskik te maak aan `n algemene doel, `n geestelike `waarom' te bepaal waarom alles só in materie geklee word, en derhalwe ook die ewige drang van elke bestaande ding om hom te verander om hom uit die gevangenskap te bevry en op te styg na hoër vlakke waar meer vryheid, meer geestelike genot moontlik en ook toegestaan is!
Vandaar ook die drang en die bedrywigheid in al die geskapenes om sy vorm te verbreek en onbewus `n beter bestaan tegemoet te gaan!
Dit strewe en aandrang is nou dit wat hom manifesteer as lewe wat, waar dit hom voordoen, om die redes die drie skeppingsfases in hom dra, dit wil sê: ontstaan, bestaan en vergaan. Deur die drie eenheid - wie ook deur My eintlike, wesenlike drie eenheid op ooreenstemmende wyse uitgedruk word in liefde, wysheid en goddelikheid en dit ook in elke geskape wese vervat is, naamlik in die vorm van gees, siel en liggaam - druk die lewe hom uit en manifesteer dit hom as `n sigbare werksaamheid, wat bewys, deur eers op My skepping die sigbare stempel te druk, dat daar `n hoër Wese as al die geskapenes moet wees wat Homself slegs op die wyse aan Sy skepsels begryplik kan maak. Die hoër Wese wil slegs deur middel van die sigbare lewe die onsigbare geestelike begryplik en bevatlik maak vir alle wesens aan wie rede, verstand en hart gegee is om te begryp waar hulle vandaan gekom het, waarom hulle daar is en wat die bedoeling van hul bestaan en die doel van hul lewe, materieel of geestelik, is! Wel nou, aangesien die lewe, soos Ek julle dit laat sien, van My uitgegaan het en weer na My terug moet lei, moet tog ook alle sigbare verskyningsvorme daarvan `n geregverdigde bedoeling, `n geestelike `waarom' hê, `waarom nou juis só en nie anders nie', `n `waarom' wat die opmerksame waarnemer in My skepping tot menige verkeerde konklusies kan lei, en dikwels ook al gelei het!
Om hierdie verkeerde konklusies nou te ontrafel en die skynbaar disharmoniese weer tot die harmoniese op te los, is die redes waarom die woord weer die titel ‘lewe’ dra, want die woord is deur julle nóg in sy diepte nóg in sy omvang en betekenis begryp. En daaraan is My baie geleë, omdat die tydstip nader dat Ek in My skepping geen ‘duisterlinge’, maar ligte geestelike siende wesens wil hê wat My en My skepping sal begryp; mag daarom ook die sluier wegval van wat skynbaar nie te ontraaisel is nie en mag daar weer `n doek verdwyn wat tot nou toe oor julle geestelike oë gehang het.
Kyk, My kinders, toe Ek die wêreld, oftewel die hele universum geskep het, was My bedoeling met die bind van geesdeeltjies nie slegs dat hulle deur die in hul gelegde drang die materie slegs sou verander om `n beter bestaan te verkry nie, nee! Maar terwyl die gebonde geeste `n bydrae moet lewer aan die vergeesteliking van die materie, moes hulle hulle ook self deur `n ander geestelike leerskool voorberei op die volgende vlak. Hulle moes deur lyding, ontbering en allerlei stryd geskool word om nie slegs die materie voor te berei op `n beter vlak nie, maar om allereers hulself geestelik sterker te maak en so nader aan Hom te kom wat - as simbool van alle hoogste geestes-eienskappe, as liefde, deemoed en genade - hul in alles voorgegaan het en dit bowendien, deur as onbeduidende mens af te daal na die klein aarde en Hom te onderwerp aan die mees nederige omstandighede, tog in die nederigste en onder die grootste smaad die hoogste geestelike karakter van `n God bewys het en dit selfs met Sy aardse dood en wederopstanding beseël het!
Alles wat met My in My aardse lewe gebeur het, van My geboorte tot by die kruis: My leer, My lyding en My stryd, My liefde en My deemoed, My genade, My vergifnis en My afsien en vergete van al My mag, My onnoemlike geduld met die verdwaalde mense - dit was alles op ooreenstemmende wyse in elke kleinste geesdeeltjie gelê. En wat Ek as voorbeeld op aarde deurleef, gely en bevogtig het, dit was in elke skepsel en in alle materie, waarin steeds `n vonk van My verborge lê, lankal vasgelê, sodat ook die kleinste geesatoom in voortdurende ooreenstemming met sy groot Skepper dieselfde lewensweg sou deurmaak wat die gees eenmaal bokant die materie moet verhef. En sodat so `n geesatoom, triomferend opstygend van vlak na vlak, metterdaad sou bewys dat, net soos daar slegs wette vir die materie, wette van afstoot en aantrekking, bestaan, daar ook morele, hoë, geestelike wette bestaan wat, gegrondves in My ‘Ek’, My eie wese en die bestaan van al die geskapenes bepaal.
So sien julle hoe `n gees, gebonde in gesteente, van wie ‘rus’ die vernaamste beginsel sou wees, deur die invloed van die elemente en die invloed van die diere en mensewêreld uit sy rus verdrywe word. En as julle dit sou kan begryp sou julle ook sy lyding sien en sy verset teen alles wat vreemd is, steeds teenspartelend tot hy tog aan die druk gevolg moet gee, terwyl onder invloed van lig, warmte en vog sy bekleding in voortdurende vibrerende toestand die bestaande vorm verander, dit verbreek en aan die gees - al is dit ook dikwels teen sy wil - verskaf wat slegs nodig is vir hom en wat hom as lewensbeginsel opgedra is.
Net soos in die klip of die vaste materie is dit in die planteryk, waar die plantaardige lewe van die gees wat in die plant woon ook deur allerlei omstandighede daartoe genoodsaak word om sy eie bestaan as gees deur lyding en stryd te verstewig.
Want wanneer julle `n plant wreed uit moeder aarde ruk of `n boom omkap, of `n plant die mooiste sieraad - haar verlowing, die blom - ontneem, dan weet julle nie of die plantegees, gesteurd in sy hoogste geluksalige lewe, miskien ook pyn voel, net soos wanneer julle iets onaangenaam oorkom.
As julle die geestelike wêreld met geestelike oë sou kan aanskou, sou julle vir baie dinge huiwerend terugskrik by die aanskoue hoeveel wreedhede julle mense, wat verstandig wil wees, dikwels begaan; en `n laer geplaaste bestaansvorm moet dit stilswyend verdra omdat hy geen taal gekry het om deur middel van klanke aan vreugde en leed uitdrukking te gee nie.
Kyk na die ewige stryd van die elemente met die harde gesteentes, die lewe van die plante en diere, wat ook geestelike vonke in hulle dra; almal moet hulle stryd en lyding - en nie slegs die oppervlakkige mens het die reg om hom te bekla dat die aardse lewe `n lewe vol bedrog en teleurstelling is en dat dit dikwels nie die moeite werd skyn te wees om te lewe nie, maar slegs om te ly!
Die dierewêreld, wat deur julle so met die voete vertrap word, ly dikwels baie male meer as julle en hulle ly dikwels nie slegs deur die toedoen van die wette van die natuur, wat ten behoewe van haar vooruitgang ook ly en stryd in haar kort lewe ingeweef het, maar meestal ly sy onskuldig deur wat die mens haar aandoen, en wat deur julle slawerny en ander vorms van tirannie, wat julle oral wil afskaf, verreweg in harteloosheid oortref word!
Aan die dier is behalwe sy eie vyande, waarvoor hul tot voedsel dien en so op `n hoër vlak gebring word, bowendien ook eienskappe gegee wat nodig is vir die voortplanting en instandhouding van `n soort. Dit is die moedergevoel, die liefde vir haar jonges, die liefde vir haar natuurlike en kunstig gemaakte woning - `n liefde wat by diere deur die natuur gebied is en dit by julle mense deur julle sedelike posisie ewe-eens vereis sou moet wees, maar nou egter tot byna niks weggesak het, waardeur menige dom dier die mens, wat homself so verstandig waan, die mens sou kan beskaam!
En kyk: Die liefde, liefde wat as goddelike vonk van My uitgegaan het, maak die dier sagmoediger ten opsigte van sy naaste omgewing, laat `n ligstraal van vreugde, van welbehae in die klein dieresiel val, sodat ook hy nie slegs die drif na voedsel en instandhouding volg nie, maar nog `n hoër geestelike genoeë ken wat nie aan die materie, maar gees aan gees bind.
Kyk net na die angs van `n dier, sy pyn, sy onrustige ronddwaal wanneer sy broedsel of sy woning verniel word; kyk daarna en skaam julle dat julself so dikwels met groot onbarmhartigheid so `n daad van wreedheid begaan, omdat julle `here van die wêreld' dink te wees!
As Ek sulke dinge toelaat en nie straf nie, soos julle sou verdien, dan is dit omdat die lyding, wrang en bitter soos dit is vir die stomme skepsel, tog tot die sterker word van sy siel en geesteslewe moet bydra.
Ook die lewe van `n dier gaan nie oor rose nie!
Dit moet julle ewenwel nie die reg gee om die dier daarom te kwel nie, maar julle moet as sterkeres die swakkeres beskerm en nie misbruik maak van hul swakheid nie, en dikwels die tyd verdryf met sinlose moorde by die jag en martelend voer en vetmes ens. ter wille van die wellus van julle verhemelte - die lewe van `n onskuldige wese vergal, wat julle hom nie gegee het nie en waarvan julle dus ook nie die reg het om dit van hom af te neem nie!
Julle mense sou jul moet herinner dat Ek die wêreld nie só geskape het soos sy vir julle nou voor oë staan nie, nee! In die vroegste tye het die mens in harmonie met die dierewêreld geleef; die dier het in die mens nie sy vyand gesien nie, en die mens hoef ewe-eens nie die dier te gevrees het nie. Maar noudat die mens ook teenoor die dier die vertroue in wantroue laat verander het, nou dra hulle ook die gevolge daarvan!
Die vroeëre paradys het bestaan aan die eenkant van die hele geskape wêreld, as `n voortdurende dankgebed tot My; en die wanklank van eiebelang, haat en wraak het slegs die mens self daarin geplant, om welke redes hy ook nie meer heer oor die wêreld, maar die wêreld sy heer geword het!
Vir die diereryk was die gevare wat die bedreiging en die opgawe om die eie lewe en die lewe van die gesin te beskerm, as leerskool voldoende om uit die gelatenheid van die rus gewek te word. Dit was nie nodig dat julle naas My lewenswette nog ander wreedhede toegevoeg het om die skynbaar ver onder julle geplaaste dier nog meer in sy eie lewe te verwond en te kwel nie.
Maar hoewel die stomme verdraagsaamheid en lyding die dierewêreld met betrekking tot haar geestelike vooruitgang tot voordeel strek, is aan die ander kant juis die handelswyse van julle, julle wreedheid en vraatsug, daar die grootste en vernaamste oorsaak van dat julle mense, wat ‘here van die wêreld’ wil wees, in baie opsigte ver by die dierewêreld agter staan. Ook deur die tot julle neem van `n veelheid van, nie in julle organisme tuishorende elemente, verkort julle jul lewe en roep siektes en lyding op, waarvan die so veragte dier geen vermoede het nie. En, as triomf van julle heerskappy oor die wêreld, is dit julle eie skuld, sodat ook julle, deur die aan julself te wyte foute, weer moet boet vir dit wat julle so moedswillig aan wreedhede begaan het teenoor alles wat onder julle staan!
Neem maar net al die diere wat vir julle tot nut is, wat vir julle werk of vir julle as noodsaaklike voedsel vir julle eie bestaan dien; wat `n hartelose manier van doen kenmerk die `heer van die aarde' nie!
Hoe beloon hy die vrywillige diensbaarheid van die diere wat hy binne sy leefomgewing gebring het omdat hy sonder hul kragte niks of baie weinig sou kan uitrig?!
Kyk na die perd, die os, die skaap, ens.; wat `n treurige lot het die eerste, hoe dikwels ondergaan dit nie mishandeling onder `n meedoënlose hand, as vergoeding vir die verlening van die bestaande kragte wat hom ter beskikking gestel was!
Waar is die sedelike besef van die mens? Waar is daar `n soortgelyke wreedheid in die menslike lewe? Onder diere self bestaan dit nie!
Die os wat julle ploeg trek, julle aan brood en voedsel help en gewillig julle laste dra, wat is sy beloning? Karige voer, om ten slotte nog deur julle opgeëet te word!
Julle noem menseters ‘kannibale’, maar wat is julle eintlik méér, julle ‘beskaafde’ stads- en dorpsbewoners?
Hoe gaan julle om met ander diere wat julle vir jul voeding uitgekies het, en wel nie vir die noodsaaklike voeding nie, maar veeleer vir die gekunstelde streel van die verhemelte!
Hoe harteloos gaan julle te werk by die voeding van die diere, en hoe harteloos gaan julle by die verkoop daarvan met hulle om!
Julle hou julle doof as luid die angskreet van `n gekwelde dier in julle ore klink; en julle, wat slegs julle vraatsug en winsbejag voor oë het, vergeet dat ook die dier pyn ervaar, dat dit deur My geskape was vir `n ander doel as slegs maar dit waarvoor julle hulle gebruik!
Kyk, so is die groot leerskool van die lyding, wat Ekself vroeër as voorbeeld op julle wêreld geduldig verdra het, simbolies ingeweef in die lewe van geskape wesens, na gelang van die vlak van die soort. En as Ek geduldig toekyk hoe dit alles gebeur, hoe duisende diere reeds uit die lewe op die wêreld verwyder word, nog ver van hul bestemming soos My wetmatige duur dit vir hul bepaal het, dan het dit as rede dat Ek uit alle dwalinge van die menslike geslag tog weer `n geestelike nut vir My minder begaafde wesens kan haal. Die straf of vergelding val slegs op julleself terug, waarby julle as mense dan ook dit belewe wat julle die onskuldige diere aangedoen het. En so berei julle vir julself `n wêreld vol lyding en stryd, vol van begeertes en ontberinge, wat natuurlik die omgekeerde of teenoorgestelde is van wat julle gehoop en getrag het om te bereik!
So loop deur My hele skepping die draad deur alle geskape wesens, deur middel van lyding, stryd, ontbering en verwerwing, die geestelike weg te toon waarlangs slegs en slegs geestelike lewe en geestelike vooruitgang bereik kan word!
Die in die vas geworde materie gebonde gees soek rus as geluksaligheid; die diereryk soek rus en `n rustige volg van sy drifte tot instandhouding, en die mens, die heer van die aarde, soek rus en `n behaaglike tevredenheid in sy dierlik liggaamlike bevrediginge!
Maar `n verhewe, groot wet van die geesteswêreld, wat rus slegs met dood en nie bestaan sou vergelyk, versteur hierdie rus voortdurend en spoor voortdurend aan tot stryd en die optrek teen vreemde indringers; en hierdie teenwerking is die geestelike lewe, wat die deur My in die hele skepping geplaaste geesdeeltjies van My `Ek' weer tot ommekeer, tot verbetering van hul bestaan en tot vervolmaking dwing!
Soos Ek ook vir Adam gesê: "In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien" (Gen. 3:19), wat soveel sê wil as: "Die rus wat Ek jou gegee het wou jy en het jy nie begryp nie; jy het dit in plaas van vir die lewe, vir die dood van jou geestelike ‘ek’ benut. Hierdie rus moet van jou afgeneem word, sodat jou geestelike ‘ek’ nie verdor onder die woesteny van dierlike hartstogte nie; en strydend en lydend moet jy eers verwerwe wat jou vry uit My hand gegee was, maar wat jy versmaad en verkeerd begryp het!" En soos die wêreld, soos hy nou is, slegs deur die leerskool van lyding ook vir julle mense tot iets beters kan lei en dit dus noodsaaklik was, so was en is daar ook by die diereryk `n eie lewensperiode, wat na gelang van die omstandighede die een of die ander dier meer te verdra en te ly gee, namate dit meer in staat sou moet wees om `n hoër vlak te bereik.
Wat die bedryf van gewelddadighede en wreedhede van die menslike ras ten opsigte van die onder hom staande dier betref, dit het stap vir stap gelyk opgegaan met die verval van sy eie waardigheid en dit het die mense geestelik en liggaamlik in `n posisie gebring wat nou ook spoedig sy einde tegemoet sal gaan. Die menslike geestelike waardigheid moet weldra weer haar plek inneem wat hy, die mens, nie slegs teenoor sy naaste, maar ook teenoor alles wat onder hom staan, daadwerklik sal uitoefen. Daardeur sal die aarde met geestelike mense bevolk word en sal ook die diereryk minder vyandig teenoor hulle staan; en so sal die mens die vroeëre verlore paradys in die vereniging van alles wat leef as groot geestelike lewenskool aanvaar! Alles streef nou daarna! Die geestelike wind tot regenerasie breek uit alle hoeke tevoorskyn. Die mense, tenminste die meeste van hul, weet nie hoe om dit te verklaar nie; enkeles onder hul weet ewenwel, en in die besonder julle wat Ek onder My eie hoede geneem het, julle sal almal gewaar word wat die ‘geestelik lewe’ wil sê - sodat julle die tekens mag herken waarin alles daarop gerig is om die menslike samelewing saam met die diere en plantewêreld wat haar omgewe, weer om te vorm tot dit wat hulle vroeër was, naamlik tot `n tuin vir My kinders, tot `n woonplek vir My skepsels. Julle is almal volgens één liefdeswet geskape en ook na die beeld van dieselfde Een opgevoed en gevorm en sal aan My eenmaal alles wat Ek uitgestuur het, ryklik met rente terugbring, sodat Ek, My geestesryk vanuit die materie volledig makend, die materie self vergeestelik weer ontvang. So sal `n wêreld van geeste My dan omgewe wat - My waardig en in ooreenstemming met hul eie lewensopgawe - die doel voor oë sal hê waardeur die kleinste in vaste materie gebonde gees, net soos die engele wat die naaste aan My staan, hulle almal van hul eie bestemming bewus sal wees, My leer ken en liefhê, en dit in alles, ook al is dit materieel, slegs `n kleuterskool en oefenskool mag sien waardeur wesens, geskape deur één God, Sy kinders kan word!
Span ook julle jul daarom in om julle te realiseer en geestelik te verstaan wat die geestelike lewe is, dat sowel die kleinste wurm as ook julle as menslike en goddelike ewebeelde tot doel gestel word. Leer julle menslike waardigheid insien, hoe julle jul sou moet gedra teenoor die skynbaar lewelose maar tog ook lewende wese onder julle, sodat julle, gedagtig aan julle afstamming, steeds as geestelike wesens mag handel. Want die adel van die siel word nie sterker deur slegs regverdig te handel wanneer politieke of familiewette edel handelinge vereis nie, nee, maar slegs dan, wanneer geen bestaande wet, behalwe sy eie gewete, die mens bestraf wanneer hy wreed is; slegs dan, wanneer die mens geen ander regter het as sy vrye wil, en hy slegs daarmee voor sy God en Skepper sal staan, uit vrye aandrang, gedring vanuit `n edele liefde, barmhartigheid te beoefen, ook teenoor die minste dier of wese waarin lewe vermoed word en ook edelmoedig daarvolgens te handel, dit te verhef en dit te beloon. Nie dat julle geen wurm vertrap het nie, nee, maar dat julle, gehoorsaam aan hoër lewenswette julle hartstogte meester geword het, dit is die bewussyn wat julle bokant die massa verhef, jul liefde en barmhartigheid beoefen en julle so tot `n tweede natuur sal word; dan sal julle julle medemens nie weerhou wat julle `n swak en onmondige dier ten deel laat val nie!
Wat maak My nou eintlik tot die groot God, tot die groot Skepper?
My mag miskien? My almag? Nee! Ek is slegs waaragtig groot, omdat Ek liefhebbend as `n Vader ook die kleinste infusiediertjie met dieselfde liefde en dieselfde geduld langs sy kort weg lei as wat Ek die hoogste engelegees sy weg uitgestippel het, en aan alles wat deur My geskape word nooit My mag, maar steeds My liefde, My genade en My geduld laat voel.
Dit maak My groot vir julle, denkende wesens; dit maak My tot die liefhebbende Vader, tot Wie julle innig kan bid; maar nie My almag, vir wie se streng regtersblik julle jul as sondaars sou moet verberg nie!
Word soos Ek: vergewe, wanneer julle wil vergeld; verontskuldig, wanneer julle wil bestraf; en vergeet, wanneer julle uit liefde nie aan onreg herinner wil word nie!
Verhef julle so as vrye wesens bokant die druk gewoel van die massa; kyk na die wêreld met geestelike oë en stapel by onskuldige wesens geen lyding bo-op hul noodsaaklike stryd, wat Ek in die lewe van die dier gelê het sodat ook die kleinste, maar gebonde gees daar ook in sy geestelike kragte geoefen, gesterk en stewig gemaak word om op `n hoër vlak maklik sy weg te kan vind.
So moet julle eie lewensloop `n ketting van ongesiene weldade word wat julle om’t ewe aan wie, mens of dier, ten deel laat val, omdat julle gedagtig aan My eie voorbeeld allereers die adel van jou eie hart bewaar en as kinders van God ook dienooreenkomstig goddelik wil handel waar die geleentheid dit toelaat.
So bevorder dit julle geestelike lewe in die algemeen en in die besonder, in ander mense en in jul eie gemoed. Die bewussyn van sulke dade, waaraan barmhartige liefde en geduld ten grondslag lê, gee die rus wat Ek ook nog self as mens aan die kruis gehad het en waardeur Ek ook daar kan uitroep: "Vergeef hul, o Meester, want hulle weet nie wat hulle doen nie!"
Die hoogheid van die goddelike selfbewussyn wat My toe tot die uitroep gebring het, mag julle in sy hele diepte volkome duidelik maak hoe hoog `n mens moreel kan staan, wanneer hy ondanks beproewinge en lyding, nog in plaas van om vergelding, om vergewing kan smeek!
Leer om die geestelike lewe te begryp! Oefen in die kleine, en dit sal julle verhef en gelukkig stem. Want wat Ek as mens met My goddelike mag teenoor My medemens was, dit moet julle wees teenoor julle omgewing, ja teenoor die minste lewende wese, dit wil sê: ywerige beskermers van die swakke en verdedigers van die lydende!
Só moet julle My lewensverhaal opvat! Dan sal strale van lig hom oor julle uitsprei, wat julle, My voorbeeld navolgend, ewe-eens tot hoogste saligheid kan aanwend, deurdat julle slegs goed, slegs weldade om jou heen versprei, jou eie ek verhef en My nader aan jou bring. Want dan doen julle, in My voetspore volgend, dieselfde as wat Ek gedoen het en steeds doen, dit wil sê dat julle jul waardigheid as mens en as gees handhaaf en julself verhef tot dit wat Ek van julle sou wil maak, naamlik kinders van `n ewige God en steeds liefhebbende Vader. Amen!