LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 12

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 11

Die waardigheid van die mens

(ontvang 22 Oktober 1872)

Oor die onderwerp, naamlik wat ‘die waardigheid van die mens’ eintlik wil sê of moet beteken, bestaan daar eweveel opvattinge as wat daar ontwikkelde en volwasse mense is; want wilde volkere en ruwe verwaarloosde mense het daar immers geen idee van wat die naam ‘mens’ te beteken het nie, en hoe hulle hul waardig sou kan betoon.

Slegs waar die mens sedelik en moreel opgevoed en ontwikkel is, daar kan mens aanneem dat daar `n idee oor die eintlike waardigheid van die mens te vind is, wat ewenwel na gelang van opvoeding en lewingsroeping weer verskillend moet wees.

Al die gangbare en heersende idees oor die begrip `waardigheid van die mens' is egter nie die redes waarom Ek julle die woord wil verklaar en waarom Ek julle wil sê waarin eintlik die waardigheid van die mens bestaan nie; maar Ek wil julle slegs maar help om My leer met die praktiese lewe te verbind en so op die manier waardig te word om as `n wese wat tussen twee wêrelde geplaas is, sowel geestelik as met betrekking tot die siel te beantwoord aan die groot skeppingsgedagte van julle hemelse Vader. Want hoewel julle al baie van My ontvang het, het julle tog nog ook nie die korrekte voorstelling van wat `waardigheid van die mens' eintlik wil sê nie; julle sien naamlik by ander maar al te goed hoe hulle vir hulself wel op die titel aanspraak maak, maar hul ook na gelang van hul begeertes en hartstogte probeer te verdraai en verklaar om, elkeen op sy manier, `n waardige mens volgens sy begeertes te wees!

Om nou die waardigheid van die mens beter te begryp en die volgende makliker te begryp, wil ons weer met die begrip van die woord begin, dit herlei vanuit die wortel van sy ontstaan en dan die eintlike betekenis en waarde daarvan vasstel wat by julle gebruiklik sou moet wees, en soos Ek My dit voorstel.

Kyk, die woord ‘waardigheid’ kom van ‘word’, en die woord ‘word’ is eintlik `n woord uit die skeppingsgedagte wat as grondslag van My wese aan die hele sigbare wêreld gegee word. Want sonder `word' sou daar geen son wees, geen planeet, geen groot heelal en geen geestesryk, omdat Ek slegs deur die uitspraak `Daar word!' die hele oneindigheid tot lewe bring, tot saligheid van die geskape wesens en tot saligheid van My eie Ek, wat die gepersonifieerde liefde is en die uitdrukking `liefde' wil slegs maar sê: Alles vir ander doen en maak, en in die begryp en vervolmaking van ander se eie saligheid, sy eie vreugde vind.

Met die uitspraak ‘Daar word!’ was egter ook die wet en die weg gegee vir wat elke geestes- of sielsproduk moet wees of tot welke graad van vervolmaking dit bestem was, waarby natuurlik die in die materiële wêreld gebonde, vas geworde geeste `n ander weg sou gaan as die vry gelate, van homself bewuste geesteskares van My oneindige geesteswêreld.

En met ‘daar word’ ontstaan natuurlik ook die vraag of in die besonder die vry gelates, aan hulself oorgelate geeste ook dit geword het wat hulle sou moet word, dit wil sê: of hulle sal word wat Ek met hul beoog.

Deur die woord ‘daar word’ ontstaan `n toestand wat, wanneer dit ooreenkom met My bedoelings, beantwoord aan die titel ‘waardigheid’ of ‘waardig’; net soos by julle op die wêreld aan diegene `n ‘waardigheid’ verleen of hom ‘waardig’ noem, wat die posisie verdien het of deur sy eienskappe as geestelike mens die predikaat ‘waardig’ verdien het.

Wat julle dus as waardigheid aandui druk eintlik uit dat die mens, wat `n hoogwaardigheidsposisie beklee of dit verdien om waardig genoem te word, die eienskappe besit wat die mens as geestelike wese veredel en hom tot iets beters sou moet bestempel as wat die res van sy medebroeders sou kan bereik!

Hierdie opvatting van waardigheid, wat julle oor die algemeen het, die idee, - slegs op `n ander skaal - het Ek ook met betrekking tot die deur My geskape skepsels.

Toe Ek op julle aarde die eerste mens skep, stel Ek hom aan net soos julle `n hoër geplaaste funksionaris met `n waardigheid beklee, deurdat Ek hom die mag verleen om oor baie te gebied en meer verhewe te wees as alle ander geskape skepsels op aarde. Kragtens sy geestelike eienskappe as afstammeling van My, verleen Ek hom volmag om dit te wees waartoe Ek hom immers wil maak, dit wil sê: ‘heer oor die aarde te word!’. So moes hy gebruik maak van sy kapasiteite, vir sy eie beswil en tot heil van die hele wêreld om hom.

Sodat hy egter ook sy eie waardigheid sou begryp in die sin soos Ek dit begryp en sou wil sien, laat Ek hom vry; Ek laat hom alle in hom gelegde aandrifte gebruik, ten goeie of ten bose, sodat hy daardeur dan sou insien dat die deur My aan hom verleende waardigheid slegs daarin bestaan dat hy nie soos `n masjien maar as `n vry en self handelende wese sy eienskappe, aandrifte en begeertes weet te reguleer, en dat hy slegs deur sy hartstogte te beheers tot die geestelike waardigheid kan kom waarvoor Ek hom alle middele gegee het om dit te bereik en om `n waardige verbindingskakel tussen die gebonde en die geheel vrye geesteswêreld te wees.

Ek roep hom die ‘daar word!’ toe, en hy was, of word. En wat word hy? Dit kan julle nou oral sien; helaas nie dit waartoe Ek hom geroep het nie, maar in plaas van `n vryheer het hy die slaaf van sy hartstogte geword en het so, geheel teenoorgesteld aan sy bestemming, homself en die omgewende natuur tot skande gemaak en misbruik. En daardeur ontstaan ook alle wantoestande wat die mens nou in geestelike en materiële opsig agtervolg met alle soorte kwale en lyding, omdat hy in teenstelling tot sy hoë bestemming, in plaas van hom vir My waardig te maak, hom van die weg van die reg verwyder het en hy `onwaardig' geword het om `mens' te heet, wat Ek ooit My geestelike asem ingeblaas het en tot `n kind van My groot geestesryk wou bestempel; die groot geestesryk wat hy nou eers langs groot omweë en strydend met alle soorte kwaad en lyding kan bereik.

Aangesien die mense nou met hul vermeende wetenskap en geleerdheid so ver gekom het om die woord ‘waardigheid van die mens’ vir homself so maklik moontlik te maak, en aangesien die egoïsme as teenpool van My liefde en die liefde in die algemeen, die belangrikste stokperdjie van die teenswoordig lewende mensdom geword het, en aangesien ook juis deur sy dwase handelswyse die maat van die dwaling aan julle kant en die maat van My geduld ewe-eens ten einde begin te loop, daarom is julle nou die woord weer gegee om vóór die algehele verval nog baie te red, sodat hy nie sy hele waardigheid - sy enigste aandeel in die geestelike wêreld - mag verloor nie!

Weliswaar is die woord, net soos alle woorde wat Ek julle tot nou toe via My skrywer laat toekom, vir nog maar weinig toeganklik. Maar die geduld, die misverstande van die menslike lewe sal spoedig nog menige mens na julle groep voer, sodat hy uiteindelik, nadat hy alles tevergeefs geprobeer het, by julle sal kom en julle sal smeek met die woorde:

"Vriende en broeders! Het julle geen troos, geen lafenis vir my gewonde gegeselde siel nie? Ek voel dit: Ek het die waardigheid van di mens verloor, ek het dit met my voete vertrap, en noudat ek troos en rus verlang van alle hersenskimme wat mens my as wysheid, as religieuse dogmas aangeprys het, nou blyk hulle almal ongenaak­baar en nie steekhoudend te wees nie. Soos `n newelbeeld vervlieg die hele droom van `n rasioneel, verstandelike skynwete; gee my die waardigheid van die geestelike mens terug, sodat ek my voel soos `n mens, as geestelike wese wat ooit suiwer uit die hand van `n liefhebbende Skepper voortgekom het en nou weer, Hom waardig, na Hom sou wil terugkeer!"

Dan, My kinders, dan is dit die woorde wat Ek julle in die huidige boodskap gee, wat die dorstende mens lafenis en troos gee en hom sal dwing om met die blik omhoog gerig, uit te roep: "Wat is ek, Meester, dat U aan my dink?".

Dit is die doel, om julle en alle soekendes die ‘waardigheid van die mens’ weer in duidelike, helder ligtende trekke voor oë te stel, sodat die soekende, die falende en die twyfelende mens mag insien hoever hy daar vandaan geraak het, en waar die middele is om haar terug te wen en die verlore paradys terug te vind.

Want weet: toe Adam teen My bevele in gehandel het, verloor hy sy paradys, dit wil sê hy verloor die bewussyn van sy geestelike waardigheid, en die verlies stort nou sy nakomelinge tot op die dag van vandag in die harwar van verkeerde idees, begrippe, lewens en wêreldbeskouings, wat almal niks anders is as die ewige strewe om die geestelike waardigheid terug te verkry, wat die mens ver bokant al die materiële en al die sintuiglike uit verhef en hom oor die puinhope van die verwoesting en teenslae heen met `n vaste vertroue na `n ander wêreld laat uitsien. In die wêreld verdwyn al die rampsalighede - wat uiteindelik tog slegs maar die liggaamlike welsyn van die mense raak - in die niks, en die toelaat daarvan word helder en eenvoudig ingesien as middel tot die doel, naamlik die in die materiële weggesinkte mens weer te verhef tot die geestelike wêreldburger waartoe Ek hom eenmaal geskape het. En dit moet hy ook weer word, al maak hy ook nog soveel syspronge; slegs die tydsduur verskil, maar die einddoel bly gelyk. Wat Ek gegee het moet weer tot My terugkeer, want dit was van My en moet dit weer word!

Wel, nadat Ek julle in slegs woorde laat sien het wat ‘waardigheid’ is, hoe dit deur My aan julle gegee is en deur julle mense misbruik word, moet Ek julle nou ook aantoon en in duidelike taal duidelik voor oë stel wat ‘waardigheid van die mens’ na My idee beteken, sodat julle ook `n helder begrip kry van dit wat Ek julle gegee het en waarvan julle ook weer terug kan verlang, en sodat julle aan My verlange mag beantwoord.

Kyk, My kinders! Die menslike waardigheid is in feite niks anders as die voortdurende handeling, denke en wil volgens My wette van die liefde nie!

Ek, die uitdrukking van die liefde, het julle uit liefde geskape en julle, wat aldus geskape is, moet nou, soveel as wat in julle mag lê, probeer gelyk te word aan die Skepper, wat die vonk van die liefde in julle gelê het.

Dit is die wesenlike grondbeginsel van die liefde, van die waardigheid van die mens, wat sy hartstogte van toorn, haat of wraak beteuel en alles slegs uit liefde, alles slegs vir ander doen, ly en voel.

So word die materiële, liggaamlike mens met sy menslike behoeftes deur die hoër gloed van `n goddelike liefde geheilig en vergeestelik, meer waardig aan sy eintlike afstamming en voorheen in staat om sy Skepper te begryp en nader by Hom te kom!

Die waardigheid van die mens bestaan dus slegs in die onderwerping van al die onedele, of dit nou in gedagtes is, in woorde of dade! - Slegs maar só is die mens verhewe bokant die dier, wat tog soveel eienskappe met die mens gemeen het. Maar die eienskappe vir edeler doeleindes gebruik en ook die laagste sinlike begeertes geestelik verfraai, wat `n edeler uiterlike gee en van hoër beweegredes voorsien, dit veredel die mens, dit gee hom sy aangebore waardigheid terug, waardeur hy burger word van `n geestesryk wat eenmaal sy voortdurende verblyf sal wees.

Nie die tradisionele vashou aan die reëls van fatsoen en die staatswette veredel die mens nie. Nee! Sy eie gewete veredel die mens, wanneer hy hom daarvan bewus is dat hy alles slegs met die edelste, mees verhewe beweegredes gedoen het en alles uit liefde gedoen het, uit liefde tot sy Skepper, uit liefde vir sy mede-skepsele.

Nie die daad bepaal die waarde, maar die ‘waarom’ so `n daad plaasgevind het! Die mens sien weliswaar die daad, maar die beweegredes ken daar egter maar twee, Ek en die handelende mens, waarby Ek by hom sy belonende of straffende gewete verteenwoordig.

Wat is ‘gewetenswroeging’ immers anders as die onrustige gevoel as hy teen sy geestelike waardigheid in gehandel het? Wees daarom waaksaam, elke keer as julle iets onderneem of gedagtes julle bekruip, sodat hulle julle nie tot skande maak nie. Want elkeen dra sy lewensboek in hom, en aan die einde van sy lewensloop sal hy in `n beeld kan sien welke gelaatsuitdrukking sy geestelike mens kry by die skei van die wêreld. Want die uitstraling van die sielsgewaad sal die afspieëling wees van die in die wêreld geleefde lewe, waarby die totaal van alle gedagtes, verlange en begeertes wat die geestelike mens so kenmerkend aan die ander geeste sal toon, as hy hom nie liggaamlik gevorm maar wel geestelik ontwikkel het.

Dit spreek vanself dat die vorm, van die waardigste mensebeeld tot by die wangedrog, natuurlik miljoene trapsgewyse oorgange moet hê. Iedereen bestempel homself met die gesig soos hy geleef het: Hoe meer in ooreenstemming met sy waardigheid, des te suiwerder sal ook die uiterlike vorms van die siel die innerlike geestelike uitdruk! Nou al is dit immers by menigeen, hoewel nie by elkeen nie, dikwels leesbaar watter siel daar in een of ander liggaam skuil, waarby daar in die menslike liggaam tog nog soveel verandering moontlik is - `n moontlikheid wat in die ander wêrelde verval.

Daarom stuur Ek julle die woorde en roep julle toe:

Leef ooreenkomstig jou waardigheid! Laat alle uiterlike skyn weg, en toon jou ook aan ander as mense soos Ek eenmaal die eerste mens geskep het, as mense wat die vonk van die onsterflike gees in hom dra, as mense wat juis deur alle vroeëre gebeurtenisse, soos selfs My menswording, vir so groot doeleindes bestem en geskape was!

Plaas julle waardigheid nie tot skande nie en wees streng teen jou gedagtewêreld; sy is die vernaamste verleidster, wat julle so maklik oor die brug van die betaamlike, oor die edele na die onedele voer.

Die waardigheid van die mens is tog julle enigste heilige besit; deur haar word julle alles. Sonder haar sak julle af tot die dierewêreld en word net soos diere materiële skepsels wat geen goddelike vonk werd is nie, word julle eintlik nog erger as `n dier. Want as `n dier handelinge doen wat in julle oë verskriklik en boosaardig is, dan is die dier nie in staat om dit te beoordeel nie - dit lê in sy aard. Maar die mens sak daarom af tot benede die dier, omdat hy die vermoë het om sy handelinge en gedagtes te beoordeel en af te weeg, en hoewel hy hom daar goed van bewus is dat hy iets heel anders sou moet doen, tog die teenoorgestelde uitvoer omdat dit sy sinlike, maar nie sy goddelike, aard streel.

Die waardigheid van die mens is die palladium oftewel die veiligheidswaarborg wat heilig gehou sou moet word, en in sy suiwerheid lê die rus en die troos by alle soorte ongelukke; want die veiligheidswaarborg lei tot vertroue in `n leidende Vaderhand wat, al lyk dit ook straffend, tog slegs uit liefde wil verbeter!

Hierdie waardigheid van die mens maak mense tot engele, net soos die verlies daarvan hul verander in duiwels in menslike gedaante.

As die so dikwels verkeerd begrypte ‘waardigheid’ nie in feite juis die grondpilaar en die grondbeginsel vir alle gedagtes en hande­linge was nie, dan sou Ek dit julle nie nader uiteengesit het nie, met die bedoeling dat julle iets strenger waaksaam op julself sal wees en elke uur en elke dag mag insien hoe dikwels julle juis ten opsigte van jou waardigheid in gedagtes, woorde en dade faal of sondig!

Onopgemerk en onbespied gaan die onsuiwer gedagtes weliswaar aan die medemens verby, maar hulle bly kleef aan julle sielemens. Daarin sal eenmaal ander met skrik lees hoe so menige hoog­waardigheidsbekleër van julle wêreld heeltemal geen vonk van menslike waardigheid meer besit, wat Ek hom as My ewebeeld op sy lewensreis saam gegee het.

Laat daarom die hooggeplaastes hul sake met hulself uitsoek; ook hulle sal in omstandighede kom - is dit nie in hierdie, dan tog seker in die ander wêreld - waar wesens met afgryse en skrik vir mekaar sal vlug, wat hier in vriendskap aan mekaar geheg was.

Die ontgogeling sal kom; en ook al is dit laat, vir die onwaardiges kom dit altyd nog te vroeg! Hou daarom julle gedagtewêreld suiwer! Laat julle menslike waardigheid daar straal soos `n vlam van liefde, lydsaamheid en verering; dan sal julle, alhoewel misken deur jul medemens, reeds op aarde geniet van die hemel wat hier slegs vlugtig, maar daar eenmaal blywend in en om julle heen sal wees!

Kyk, My kinders, as Ek nie sou weet wat julle nog te wagte staan tydens julle aardse lewe nie, dan sou Ek julle die menslike waardigheid nie so op die hart druk nie. Maar wanneer hy simptome (tekens) van siekte sien, weet `n goeie arts reeds as voorsorg­maatreëls om middele voor te skrywe, sodat `n optredende siekte voorkom kan word.

So doen Ek ook. Spoedig sal teenspoed hom op teenspoed opstapel; die proses van gisting en skeiding moet na sy einde loop. Die geestelike lug van julle aardbol is, net soos dikwels die materiële atmosfeer, oorvul van onweerswanger dampe; die ontlading moet volg, en juis daarom raai Ek julle aan:

Vlug na My! Versaak nie julle menslike waardigheid nie, want slegs so het julle vertroue in My en nie in julleself nie, slegs so kan julle alle storms trotseer. Want die geestelike waardigheid verhef julle bokant die gewone lewe en toon julle die groot kwaad in `n ander lig; dit vervul julle hart met `n onwrikbare vertroue in julle Vader in die hemel, wat slegs omdat die grootste deel van die mensdom reeds lank aan waardigheid ingeboet het, sulke middele moet toelaat, om deur ellende en nood dit te bereik wat met goedheid nie te bereik was nie!

Die waardigheid van die mens, oftewel die bewussyn - ek is nie van hierdie, maar van `n ander, beter en ewige wêreld - hef die mens, ook al moet hy ly onder die algehele wantoestande, tog bokant die aardse wêreld uit. En dit gaan met hom soos iemand wat op `n hoë berg staan; met kalmte oorsien hy die gekrioel en gejaag benede hom en verheug hom oor `n groter, wye en mooi uitsig. Dan sal dikwels wel die gedagte in hom opkom:

"O, waarom is die mense so blind en vergeet hulle die wesenlike wat hulle eintlik sou moet wees vanweë die wêreldse dinge daar benede in die modder van die laagste hartstogte! Ag, as dit hul nie aan moed sou ontbreek, as hulle dit sou waag om na My omhoog te klim, hoe belaglik, hoe dwaas sou hulle alles vind wat hul nou so belangrik, so onontkombaar noodsaaklik toeskyn. Hoe sou hulle huiwer by die gedagte dat hulle alles wat hulle meen te verwerf het, slegs gekoop het deur die verlies van hul enigste goed, deur die verlies van die geestelike menslike waardigheid!"

So sal menigeen dink, wat hom bokant die modder en vuiligheid van die laagste hartstogte uitgewerk het en sy waardigheid weer verkry het. So moet ook julle dink, wat Ek al sedert `n lang tyd oorstelp het met woorde van genade en lig, sodat julle, bewus van die menslike waardigheid, jul sal verheug oor die verhewe plek waar Ek julle gestel het en daar steeds na mag strewe, denkend aan jou eie waardigheid, om self ook dit waardig te word wat Ek julle al dikwels genoem het, naamlik: My liewe kinders! Hierdie Vaderlike benaming is slegs vir diegene wat weet om hul menslike waardigheid te handhaaf; want deurdat hulle dit bewaar, verkry hulle ook steeds meer die waardigheid om My kinders te word - dat wat Ek by die skepping van die eerste mens wil dat hy sou word, maar helaas nie geword het nie!

Wees dus baie streng! ‘Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie’, roep Ek eens My leerlinge toe. Ek weet in die tyd wel waarom, en nou sê Ek dit julle nogmaals: Waak en bid, sodat julle jul nooit tot skande maak en steeds trou bly aan dit wat julle met behulp van soveel woorde van My maklik kan begryp, naamlik dat slegs deur siele-adel die menslike waardigheid verkry, gevestig en behou kan word, sonder welke al die lees en bid slegs geen nut het nie! Die innerlike mens moet soos My eie lyk, dan sal sy uiterlike beeld eenmaal ook by sy geestelike omgewing aan die ander kant pas. Trag daarom om begiftig met `n geestelike sielegelaat in die ander wêreld te kom; dit is beter om dit hier reeds voor te berei as om dit daar eers te wil bereik! Hier is daar die `waardigheid van die mens' voor nodig; daar is die `waardigheid van die gees' `n ander vlak wat die menslike waardigheid as basis het, maar sonder dit nie te bereik is nie!

Ek berei julle daarop voor om in `n kort aardse lewensloop dit te volbring wat dáár baie male moeiliker te bereik is. Volg daarom My woorde; dit kom van julle Vader wat julle vir Hom waardig sou wil maak, wat julle egter nie kan word as julle nie eers self waardig geword het nie!

Tot sover ter aandag van julle en alle komende dorstiges en hongeriges, wat by julle opnuut wil verkry wat hulle bewustelik of onbewustelik dikwels ligsinnig verloor het, naamlik: Hul eie waardigheid, die uitsluitende en enigste houvas midde in die lewe, te midde van stryd en allerlei ontbering, as anker van vertroue, hoop en liefde! Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205