Hoofstuk 25
Die skadukant van die natuur
(ontvang 5 Februarie 1877)
In baie woorde het Ek julle al My natuur van haar mooiste geestelike en materiële kant laat sien, en julle daarop gewys dat alles slegs uit liefde en slegs tot vreugde van die lewende wesens geskape was. En tog bevind hom in die sigbare natuur, in die lewe van die diere en selfs van die mens heelwat baie, wat in teenspraak skyn te wees met alles wat tevore hieroor gesê is. Daaroor sou menigeen kan sê: "Wanneer ek die wêreld en die lewe op die aarde noukeurig bekyk, dan is alles nie so rooskleurig as wat volgens die gesketste woorde sou moet wees nie. Ek sien hier natuurrampe wat die lewe van die mense en hul seer verdiende besittings vernietig; in byna die hele diereryk sien ek slegs maar roof en moord, ek sien allerlei vergiftigings, ek sien ongediertes as `n plaag vir mense en diere. Ek sien hoe selfs mense en diere op hul beurt die woonplek is van afskuwelike wurms, wat nie kan wag tot die liggaam dood is nie, maar dat mense en diere die ongenooide gaste nog in hul lewende liggaam met hul saamdra en hulle moet voed. Naas welriekende blommme, olies en kruie sien ek `n groot aantal dinge wat `n verpestende stank versprei, en naas die oorvloedige lewe sien ek die alles vernietigende ontbinding, wat mense en diere deur die bose geur van hom afstoot.
Dit alles is tog nie tot vreugde en `n aangename verblyf op die aarde geskape nie, en dit is tog nie daarom ons lewe te veraangenaam of selfs ook nog as `n teken van die alomgeprese groot Vaderliefde van ons Skepper nie!"
Hierdie en nog ander teenwerpinge kan teen My ingebring word, en wel natuurlik slegs deur mense wat die skynbare vir die werklikheid hou, wat geen besef van My wysheid het en hom nie kan verplaas in die posisie van waaruit Ek My skepping en die lewe self bekyk en daadwerklik moet beskou nie.
So roep eens - soos Ek julle al eens voorheen in `n ander woord gesê het - `n geleerde onder julle, aardse mense, misnoeg uit: "As daar `n God bestaan en ek in sy plek sou wees, dan sou ek my skaam dat ek `n wêreld, soos dit in werklikheid bestaan, so erbarmlik ingerig het!"
Om nou al die verwyte te weerlê, en omdat ook by die een of ander onder julle soortgelyke vertwyfeling teen My wyse verordeninge opgekom het, wil Ek nou Myself, My skepping en die skynbaar teenstrydige soveel moontlik vir julle verduidelik, en ook die sogenaamde skadukant van My natuur in `n ligkant verander.
Eers moet Ek egter al die uiteensettinge vooraf laat gaan deur `n uitleg oor My groot huishouding en `n helder sienswyse van die manier waarop Ek die lewe bekyk!
Dit moet gebeur, sodat ons mekaar begryp, want anders is al die woorde slegs soos die dors van leë strooi, omdat dit anders nie moontlik sal wees om die wêreld vanuit My standpunt te beskou nie - die wêreld wat Ek tog geskape het en waarvan dus slegs Ek kan weet waarom Ek haar so en nie anders gebou en ingerig het nie.
Dit is net soos (by wyse van vergelyking) wanneer twee mense, waarvan die een hom op `n berg en die ander hom in die vlakte bevind, tot ooreenstemming wil kom oor `n bepaalde vergesig. Dit is natuurlik slegs maar moontlik wanneer beide hulle op dieselfde plek bevind, omdat die een op die vlakte nooit kan sien wat vir die ander op die berg oorduidelik sigbaar is nie.
As julle My wil begryp, My kinders, dan moet julle dus na My omhoog klim; want by My is ewige lig, en by julle en baie ander ewige duisternis of in die gunstigste geval `n ligte skemering.
Om dus die skadukant van die natuur op waarde te skat, moet julle allereers bedink dat Ek as Skepper van die hele universum en as ewige Meester van die oral manifesterende lewe `n totaal ander voorstelling daarvan het as julle, swak mensekinders; want op julle kom die dood in duisend verskillende vorms af, terwyl daar vir My en by My geen dood bestaan nie, maar hoogstens `n verandering van vorm of `n wisseling van vlak.
Die verskriklike wat julle in en op julle aarde met ‘dood’ aandui, is slegs julle mening, waarop julle dan die meeste bewyse daarvoor baseer, maar nie die van Myne nie!
Verder moet julle bedink dat julle aarde nie die belangrikste van die hele skepping is nie, maar dat baie honderde planete soos die van julle en miljoene sonne My kosmiese ryk uitmaak, en dat My sorg dus die instandhouding van die geheel geld, terwyl julle slegs belangstelling het vir die bestaan van julle klein aarde, wat by My soos `n doudruppel opgaan in die groot kosmiese see.
Want julle moet My wêreld so opvat, dat My hele skepping baie goed sonder julle aarde, ja, sonder julle hele sonnestelsel sou kan bestaan, maar julle aarde nie sonder haar son, sonder die verbinding met ander wêrelde, omdat alles soos `n ketting saamhang en soos `n baie ingewikkelde ratwerk in mekaar gryp.
Julle verwyt My die natuurrampe, wat die mens dikwels sy hawe en goed en selfs sy lewe kos. Daarop antwoord Ek julle dat daar in die hele kosmiese ryk `n ewige beweging, `n ewige verandering, verbruik en vernuwing in die mees ruimste sin bestaan.
Die eter, die onmeetlike ruimte, is nooit rustig nie; die kleinste atome daarvan ondergaan voortdurende prosesse waarby alles tril, alles in beweging kom. Julle lug, wat ook `n beweeglike element is soos die eter, slegs van `n ietwat groter digtheid, kan hom nie onttrek aan die beweging nie en word saam in beweging gebring en saam gestimuleer om aan die groot proses van instandhouding deel te neem, en dit des te meer deurdat die invloed van die son deur haar warmtestraling die uitsetting en inkrimping van die luglae teweegbring, wat vervolgens voortdurende versteurings in die atmosfeer veroorsaak sodat die koue lug hom steeds met die warmer lug in balans wil en moet bring.
Die nivellering (gelykmaking) bepaal en vorm die vogtigheid of die droogte van die luglae, en hy weer die aandryf van die wolke, wat natuurverskynsels en natuurrampe, wat die mense in sommige gevalle skade toebring, maar oor die geheel gesien slegs maar seën versprei.
Hierby moet egter nog in aanmerking geneem word, dat die mense in baie streke deur hul winsbejag en hebsug self dikwels die meeste daartoe bydra dat sulke natuurrampe hom meer as eenkeer voordoen, deurdat mens daarvoor die deure wyd oop maak. So maak mens byvoorbeeld deur die vernietiging van bosse die optrede van storms en onweersbuie makliker, waardeur selfs die klimatologiese omstandighede van sommige landstreke totaal verander word.
In My groot huishouding is alles goed bereken, en die ingryping deur menslike hande kan hom slegs weer aan homself wreek, omdat hulle hul berekeninge hoër aanslaan as die van Myne.
Ek moet in die groot geheel vir die nodige ewewig sorg en het My wette so ingestel dat hulle, wanneer hulle versteur word, hulle vanself weer herstel, hoe dan ook, ook al ly enkeles skade terwille van die groot geheel.
Julle begin tog ook dikwels `n oorlog en verniel onbarmhartig die hele besit en huise van onskuldige landliede, verwoes hul velde, hul gesaaides, hul kuddes, versprei oral ongeluk en ellende en wat se verskoning kan julle daarvoor van julle maghebbers te hore kry? Hulle sê: "Hoër doeleindes maak dit noodsaaklik om vir die vaderland, vir die groot geheel, in die strydperk te tree, en daarby kan die geluk of ongeluk van die enkeling nie in aanmerking geneem word nie!"
Julle in jul klein landjie (Oostenryk) vind so `n verklaring volkome op sy plek. Wanneer Ek dan in My groot huishouding ewe-eens menige natuurramp as noodsaaklik beskou uit hoofde van algemene beginsels van instandhouding, dan het Ek volgens julle beperkte oordeel onreg begaan, dan het Ek aangaande My eienskappe as Vader en Verspreider van liefde gefaal!
Sien hoe maklik julle My daarvoor ernstig sou wil berispe, terwyl julle self tog dikwels onnodig baie groter ellende versprei, waarvan julle die draagwydte nie ken nie en waarvan julle die bose gevolge nie kan goedmaak nie! (sien Gr. Joh. Ev. VII / 17-19)
Wat die moord en roof in die hele diereryk betref - terwyl julle mense tog self die grootste rowers en moordenaars is, en wel meestal ter wille van julle buik of as `n moedswillige tydverdryf van half verwilderde mense - moet Ek julle wys op wat Ek julle al voorheen gesê het, naamlik dat daar vir My geen dood bestaan nie, maar slegs `n trapsgewyse vooruitgang!
Wel nou, hoe kan die vooruitgang dan plaasvind, wanneer nie deels materiële, deels geestelike deeltjies van die sterwende diere in die hoër diere ingelyf word, wat nou juis al die elemente en stowwe vir hul bestaan nodig het. Wat doen julle self dan? Neem julle nie ook uit alle natuurryke voedingsmiddele tot julle, waarin steeds deeltjies aanwesig is, geestelik sowel as die materieel, wat julle vir `n deel nodig dink te hê vir die opbou van julle liggaam nie?!
Waarin verskil julle jagpartye eintlik van die jaginstink van diere? Die groot verskil is slegs, dat julle die diere die dood injaag as tydverdryf en nie uit noodsaak, soos die leeu of tier sy prooi moet soek nie. En terwyl die dier op grond van sy instink so te werk gaan, is dit by julle, sogenaamde verstandige skepsels, `n wellus van die siel om `n dier te sien ly, iets wat in die diereryk nie voorkom nie.
Julle wil My wreedhede toeskryf, en begaan dit baie meer as Ek!
Kyk eerstens na julle drifjagters en skaam julle vir julself, want op die punt staan julle ver benede die laagste dier!
Kyk, julle natuurondersoekers en geleerdes het julle in die formasies van die aardkors aangetoon dat die voortplantingsvermoë van diere des te groter is namate hulle kleiner is. En as dit inderdaad die geval is, immers `n groot deel van die aardkors en gebergtes bestaan uit die skale en skelette van sulke diere, dan kan julle daaruit aflei dat Ek met die skepping van sulke voorsiening totaal ander bedoelinge gehad het as om slegs lewe te versprei.
Kyk, aangesien ‘die aarde’ vanaf haar eerste begin tot by die laaste omwenteling so ryk met sy diere geseënd was - terwyl daarnaas ook diere bestaan het wat lankal uitgestorwe is en die lewende diere nou by julle, wat grootte betref, ver in die skadu sou stel - sien julle behalwe die baie produsente ook die verbruikers, wat weer na elke nuwe ingrypende verandering as materie vir `n nuwe laag van die aardkors moes dien.
Die lewe het destyds die algemene belang gedien, en met enkelinge kan geen rekening gehou word nie; alles moes daartoe bydra om die aarde so vinnig moontlik klaar te maak as blywende woonplek van die laaste geskapenes, die mens. Daarna hou die grootskaalse veranderinge op, en die nou hier en daar optredende natuurfenomene en -gebeurtenisse is slegs swak nawerkinge van die groot skeppingsprosesse.
In die tyd waarin julle aarde voortgeskry het van `n newelagtige vorm na `n vaste massa, en haar ontwikkelingsproses gedurende miljoene jare voortgesit het, was sy immers nie die enigste wat haar aan al die veranderinge moes onderwerp nie, maar alle planete van julle sonnestelsel het hulle in dieselfde vormingsproses bevind; oral was daar beweging. Die eter het die elemente van die atmosfeer gelewer, en die neerslag hieruit het die eerste beginstadia van die aardkors gevorm.
Julle het tog ook julle jeugjare, waarin alles in julle gis, die bloed wat met vinniger slae deur die liggaam stroom en die ontwikkelingsproses aanjaag en vinniger stu na die jongelingsjare en later die volwasse leeftyd bereik.
Sulke fases is dit, wat julle aarde, ja selfs die hele sonnestelsel deurmaak.
Moses het julle in die skeppingsverhaal vertel wanneer daar lig ontstaan het op aarde, wanneer die vaste hom afgeskei het van die vloeibare.
En in julle lewe - wanneer word dit lig, wanneer kry julle geestelike bestaan `n vaster vorm? Immers ook eers op `n latere leeftyd!
So was dit ook by die groot plantegroei en by die groot diere.
Die oor die algemeen gelyke warmte van die aardkors, haar ontsaglike krag om allerlei soorte diere voort te bring, wat by elke omwenteling vir ander skeppinge plek moes maak; dit alles was die jeugjare van die aarde, haar bloeityd, wat slegs vir My en My groot skeppingsgedagtes van waarde was. Teenwoordig kan geleerdes en natuurondersoekers in die lae van die aardkors dit lees wat Ek voorheen met My wyse hand georden het, en ook dat Ek die mens eers van My skepping getuie laat wees, toe die gistingsproses in breë trekke voltooi was en die aarde in `n rustiger stadium gekom het om die mens tot blywende woonplek te dien.
Wat die vergiftiging betref en die walglike geure, wat julle op julle aarde naas balsemagtige geure aantref, dit is `n relatiewe kwessie. Vergiftiging is nie vir alle wesens vergiftiging nie, en `n vieslike geur is nie vir alle lewende skepsels dieselfde nie.
Want wat wil vergiftiging eintlik sê? Kyk, iedereen neem die woord in die mond, maar niemand wil dit tot sy grondslag herlei nie; dan wil Ek dit dus doen, sodat ons mekaar beter begryp.
Vergif – of vergiftiging – of gif; is slegs maar die teenoorgestelde van dit wat die een of die ander wesensaard beval! Vergif is byvoorbeeld byna elke geneesmiddel wat julle inneem, wat julle kan vasstel aan die groot spoed waarmee die siel die ingeneemde geneesmiddel weer uit die liggaam wil verwyder. Redelik baie is dus vir mense vergif, wat aan diere geen skade doen nie, maar hul selfs dikwels tot geneesmiddel dien.
As die slange giftande het, dan is dit vir hul in die eerste plek `n wapen, en in die tweede plek `n middel om die te verslinde dier die laaste oomblik van sterwe te vermaklik.
Gif in plante en in minerale, deur middel van chemiese prosesse daaruit gewen, is baie seker stowwe wat die mens - aangesien hulle oftewel verlammend werk op sy senuweestelsel of vernietigend op ander organe - die dood kan besorg. Daarvoor het die mens egter ook sy verstand, en met behulp daarvan sou hy moet weet om hom teen sulke vergiftiging te beskerm.
Waarom die vergiftiging in My huishouding bestaan, sal vir julle enigsins swaar val om na te gaan, omdat julle die leer waarlangs alles hom na bo dring, nie ken nie, en nooit sal begryp hoe daar vanaf die kleinste eteratoom `n geordende trapsgewyse opklimming geleidelik van die een na die ander, hoër moes lei.
Dieselfde geld vir die verwyt aangaande die aanwesigheid van die ongediertes, waarvan baie `n plaag is vir diere en mense, en waarby die mens geen oorsaak en geen redes vind, omdat hy altyd maar homself as die vernaamste beskou.
Ook die ongedierte het in sy posisie `n bepaalde funksie te vervul, aangesien daar geen sprong van die een dier na die ander gemaak kan word nie, en waaraan naas die materiële en geestelike ontwikkeling van die skepsels ook nog `n hoër doel verbonde was. Dit bestaan daarin dat die mens nie laer as die dier sal sink nie; die beginsel van higiëne sou hom naamlik, met betrekking tot sy eie liggaam, daartoe dwing om self op sy liggaam die geestelike adel te bewaar waarvoor hy op die wêreld is, en welke geestelike rang hy teenoor die dierewêreld steeds sou moet waarmaak.
Die volkere, wat die beginsel verontagsaam, staan ver benede die dier, waaraan dit dan as `n instink gegee is om sy liggaam skoon te hou, waarby daar egter toevallige uitsonderinge bestaan.
Wat die verrotting en die meestal daarmee verbonde geur betref, is daar in die skepping self voor gesorg dat die skadelike uitwaseming en bose gevolge daarvan deur middel van diere, soos vlieë, wurms en ander insekte, wat vir hul voeding daarop aangewese is, verhinder word deurdat die diere soortgelyke vir julle skadelike stowwe in hul eie ek omsit en so hul liggaam weer toeberei as voedsel vir hoër staande diere.
Die geur is weer `n aanduiding dat die beginsel van higiëne aan julle mense gegee is om as geeste slegs waardige dinge in julle nabyheid toe te laat, terwyl al die orige, wat aan die growwe materiële ryk behoort, ver van julle verwyder sou moet bly. In julle sintuie het Ek die impuls gelê dat julle jul steeds as mense, as My afstammelinge sou gedra, sodat julle nooit benede die dier te staan kom nie!
Elke bose geur, elke onestetiese vorm, elke platvloerse woord sou julle daaraan moet herinner dat julle burgers van `n geestelike wêreld moet word, en nie tree vir tree moet afdaal in die materiële nie, waar slegs enkele diermense soos varke hul genoegdoening en hul vreugde in die modder vind.
Wat julle My verwyt, naamlik dat selfs julle liggaam reeds gedurende julle lewe al `n woonplek is vir `n groot hoeveelheid infusiediertjies, daar is julle self in die eerste plek skuldig aan, aangesien die meeste van julle voedingsmiddele uit sodanige stowwe bestaan dat die eiers van hierdie diertjies in julle liggaam kom en deur die natuurlike liggaamswarmte tot ontkieming raak. Hierdie klein diertjies voel maar net daar tuis, waar verrotting en ontbinding hul voeding oplewer.
Hoe meer maklik vrot (en half verrotende) voedsel julle in jul maag opneem, des te meer bring julle soortgelyke elemente in jul bloed teweeg, en des te meer begunstig julle die ontwikkeling en voortplanting van soortgelyke diere, wat vervolgens tot in die kleinste haarvaatjies van julle bloedsomloop dring.
As julle uit jul voeding die voedingsmiddele sou verwyder wat `n soortgelyke oneindige toevoeging moontlik maak, dan sou dit ook met julle gesondheid en lewensduur beter gesteld wees!
Julle is nou eenmaal gewoond om so (verkeerd) te lewe, en Ek moet dit daarby laat, tot `n siekte julle dwing om uit die voedingsmiddele `n meer beperkte keuse te maak.
So sien julle uit alles wat daar gesê is dat nie alles so wreed en verskriklik is as wat menige mens, wat homself graag as verlig beskou, julle sou wil voorskilder nie, en ook kan julle uit al die voorafgaande aflei dat Ek My steeds deur `n hoër bedoeling laat lei het!
Wanneer Ek egter in al die geskapenes die beginsels van selfhandhawing as vernaamste geplaas het, dan moet julle daarby ook bedink dat behalwe dat wat ingesuig word, daar ook verbruikte materiaal moet wees en, wanneer die eerste die lewende en die laasgenoemde die onbruikbare, oënskynlik dooie is, dat dit lewewekkende aangename geure moet bevat en die laasgenoemde die teendeel daarvan. Wanneer dus dit wat nuwe lewe wek in sy vorm as voedingsmiddel vir plante, diere en mense aangewese is, dan moet die verbruikte nie weer dieselfde vorm, maar `n ander vorm kry. En wanneer die oerstowwe vir die eersgenoemde doel in mooi vorms geklee is, sal hulle in die laasgenoemde toestand, waarin hulle weer ander doeleindes moet dien, ook in alles die teendeel moet wees van dit wat hulle voorheen was.
Daarom is die verotting of ontbinding self `n verbrandingsproses, sodat die oorgang, wat noodsaaklik is van die een vormsamestelling na die ander, bespoedig word.
Die meeste van julle, wat My die skadukant van die natuur as verwyt voor die voete gewerp het, het slegs die beeld van die skynbare voor oë; hulle wil My as ‘estetiese God’ nie vergewe dat Ek iets geskape het, wat hul oë en neus aanstoot sou gee nie.
Ek het die mens egter sy gevoels- en gesigsorgane gegee, sodat hy as mens nooit sy geestelike waardigheid sou aflê nie.
Daarom staan sy organe voortdurend as vermaners op wag, om die mense te verhinder om `n dier te word.
My opvattinge en My skeppingsgedagtes is te groot en te diep, om deur `n mens beoordeel of deurgrond te kan word.
Dit sou ewenwel voldoende wees om op grond van die baie wat tot op hede op wetenskaplike wyse gevind is, tot die gevolgtrekking te kom dat dit onverklaarbaar is, waarby die resultaat nie anders as gunstig vir My sou kan uitval nie. Want nêrens het die oplettende soekers `n fout bespeur of êrens iets ontdek waaruit blyk dat Ek die een of ander stiefmoederlik behandel het nie. Oral sal hulle gevind het hoe goed alles bedink was, ja vir die ewigheid vasgestel. En wanneer hulle in duisende gevalle die ordening moet erken, dan glo Ek tog dat hulle My wel in soverre sou kan vertrou dat daar ook in die onverklaarbare, nie maklik te ontraaisel dinge ewe-eens `n geestelike hoër grondslag beslote lê, wat die rede is dat Ek juis die skynbare teenstellinge of die duister kant nie deur geleerdes laat verklaar nie.
Hierdie toegeeflikheid sou Ek by die mens mag veronderstel, maar sy trots op die bietjie verstand wat hy het, laat dit nie toe nie. Hy dink dat daar afbreuk gedoen word aan sy mening dat hy `n verstandige mens is, wanneer hy nie direk alles weet nie! En tog, wanneer mens dit op die keper beskou, is daar so weinig positief in sy kennis, dat dit nie die moeite werd is om hom daarop te beroem nie.
Duisende en duisende wondere is daar nog vir die oë van die mense verborge en baie daarvan, ja die meeste, sal hy in liggaamlike toestand nooit aanskou nie; en al ontdek hy hoe baie, hy sal tog altyd by die begin moet bly staan.
Dit is die duidelikste bewys dat Ek nie vereer is met die lof van mense nie, anders sou Ek alles helder voor hul uitgesprei het; dan sou Ek hul die hele mikro en makro kosmos getoon het en hul tot verering dwing, sodat hulle voor My almag in die stof sou gaan lê.
Kyk, dit sou Ek kan doen, en tog doen Ek dit nie. En waarom?
Ten eerste omdat julle mense nie alles kan verstaan en begryp, en ten tweede omdat nie die groot hoeveelheid aan wonderbaarlike inrigtings van die wêreld julle van My bestaan moet oortuig nie, maar omdat julle as geeste My geestelik moet erken en skik by die erkenning om My in gees en in waarheid te moet aanbid (dit wil sê: Liefhê)!
So word dan die verhouding tot stand gebring, wat tussen My en elke geskape wese moet bestaan.
Allereers sou die mens My almag, My alwysheid moet erken, en dan leer begryp dat by al die skeppings die liefde die belangrikste faktor was.
Net so min as wat Ek julle met My woorde aangenaam wil besighou, wil Ek ewemin met My weldeurdagte inrigtinge van My universum julle nuuskierigheid bevredig.
Wat het julle daaraan om te weet waar die grens is, van waaruit die verste verwyderde son sy lig stuur; wat baat dit julle om die inrigting van al die miljoene wêrelde te ken, en wat het dit voor nut vir julle om in die kleinste die grens te weet waar die eerste begin van die lewe is, wanneer julle nie al by die eerste stap in die labirint (doolhof) van wondere die liefhebbende Vader, die goedbedoelende Skepper sien, wat niks vir homself geskape het nie, maar alles vir Sy geestelike wesens, wat Sy goedheid en Sy almag ook reeds moet voel in die kleinste sonstoffie wat vrolik in die eter dans! Die kennis as resultaat van die verstand is nie voldoende nie; die hart moet daarby betrokke wees, wat bokant die grense van die bevatlike uit aanvoel dat daar in die wêreld van die geeste nog baie meer indrukwekkend is as wat die materie julle kan bied.
Op aarde vind julle al baie onverklaarbaar, maar nog meer wag vir julle aan die ander kant, waar die grens tussen voel en begryp skerp getrek is.
Julle sou graag Myself in die wêreld aan ander kant wil sien en spreek, en tog sê Ek julle: Ek as Skepper, as Meester van die oneindigheid: Om My in My hele almag van aangesig tot bygesig te sien is nooit moontlik nie. Want die geskapenes kan die Ongeskapene (in Sy Oerwese) nooit begryp, en hom nooit heeltemal met Hom verenig nie! Dit is `n ewige toenadering, maar `n bereiking is nie denkbaar nie.
Ook al dink julle met skroom en ontsag aan die begrip ‘oneindigheid’, kan julle jul wel `n oneindige voortduur indink; maar nooit `n begin gehad te hê nie, dit is vir julle `n uitspraak waaraan geen gevoel ooit die korrekte inhoud kan gee nie.
Neem daarom genoeë met dit wat Ek julle van tyd tot tyd laat toekom, wees tevrede met die klein ontdekkings en uitvindinge wat Ek, uit liefde vir julle, toelaat om julle materiële lewe nog aangenamer, nog vryer te maak, sodat julle die geestelike, diepere lewe meer kan naspeur.
Trag om geen geheime te ontsluier wat julle geestelik tog nie baie verder bring nie; doen daarmee soos met julle astronome; ook glo julle hul wanneer hulle son- en maansverduisteringe eeue vooruit bereken, waarby dit steeds werklik op minute en sekondes noukeurig uitkom.
Ook by hul twyfel julle nie, wanneer hulle julle dinge vertel oor ander wêrelde op onvoorstelbare groot afstande en oor die vorming van planete en komete, waarby berekeninge nodig is wat julle, as nie deskundiges, nie kan verstaan of begryp nie.
Die astronome vertel julle wat julle verstand kan bevat en kan verdra. So doen Ek dit ook. Ek gee julle wat nuttig vir julle is en werp `n sluier oor die raaisels waardeur julle, as julle hulle kan lees, tog nie wyser sou word nie.
Wees daarvan oortuig dat die wêreld volmaak en sonder gebreke geskape was; alles staan op sy korrekte plek en alles hang saam, sodat die een nie sonder die ander kan bestaan nie!
Die hoe en die waarom is egter dinge wat meer vereis as `n menslike verstand, wat al geheel oorbluf stil bly staan by die aanblik van `n infusiediertjie, omdat dit ondanks sy ondersoek nog geen einde sien en dit ook nie kan vermoed nie
Die wêreld is nou eenmaal so, en Ek is ewe-eens so, soos Ek julle al dikwels gesê het, naamlik: Die wêreld is oneindig, dit het geen grense nie en daar bestaan geen getal om haar lewensduur vas te te stel nie, net soos Ek as Skepper ook oneindig is.
Al die teenstribbelinge help niks: so is dit, so was dit, en so sal dit wees!
Probeer julle nou maar met die gedagte vertroud te raak, dan sal dit, met die vaste vertroue op My, ook aan die skadukant van die natuur spoedig lig word; in die lig sal alles julle bewys dat `n alwyse Skepper, net soos `n vader, vir sy kinders geheime het wat Hy hul nie kan onthul nie, nie omdat Hy nie wil nie, maar omdat hulle dit nie sou kan bevat nie.
Vertrou dus op My! Glo maar dat Ek, toe Ek die groot wêrelde by miljoene skep, ook in die kleinste weet waarom Ek die een of die ander so inrig.
Glo en vertrou My liefde, en bekritiseer nie dit wat julle nie sal begryp en wat julle in `n verstandelike gevolgtrekking van `n vermoedende aanvoeling hoogstens sou kan sê:
"Hy wat die sigbare wêreld in alle dinge so ingerig het soos ons dit sien, sal ook wel Sy redes hê om, as dit vir die algemene doel dienstig is, die onsigbare net so perfek tot stand bring". En met die geloof sal die skadukant van die natuur opgehou het om duister te wees, want duisternis kan wel twyfelaars, maar geen gelowige harte besighou, wat baie goed weet dat `n Skepper as Vader, as Liefde, alles slegs maar so kan orden soos dit vir die beswil van alle lewende wesens noodsaaklik is! Amen!