Hoofstuk 13
Die ‘Onse Vader’
(ontvang 11 November 1872)
Baie mense sê die gebed daagliks baie male gedagteloos op, en nouliks een van hul begryp wat hy eintlik sê of wat Ek daarmee wil sê toe Ek dit aan My leerlinge leer.
Ook julle self, wat tog al beter onderrig is as baie ander en oor die gebed selfs verskillende verklarings van Myself gekry het, ook julle weet tog nie in die diepste, suiwerste betekenis wat die inhoud van die gebed is nie, anders sou julle dit ook nie slegs dikwels met die blik na My omhoog bid nie, maar julle sou geen ander geformuleerde gebed daaraan gelyk kan ag nie.
Om nou weer `n straal van lig in julle hart te gee, wat julle die wondere van My geesteswêreld van `n ander kant sal belig, wil Ek julle die gebed en die daarin vervatte woorde nader verklaar. Sodat julle mag insien wat dit wil sê dat `n God, `n liefhebbende Skepper en Vader julle die gebed leer, sodat julle mag insien hoeveel geestelikheid daar lê in die woorde wat Ek My leerlinge en die hele mensdom nagelaat het om met My in geestelike verbinding te tree en bowendien nog sowel die wêreldse as die geestelike omstandighede van die mens geheel en al te omvat soos die gebed as bede tot My, as bede van `n kind tot sy Vader dit slegs vermag en uit te druk.
Wel nou, Ek wil julle dus die besondere gebed uit die tyd wat Ek rondgetrek het op aarde, woord vir woord en sin vir sin verklaar en die diepste betekenis daarvan onthul, en julle nou so `n des te groter skat ryker maak.
Wanneer julle die omstandighede in aanmerking wil neem van die tyd waarin Ek My leerlinge die gebed voorgehou het, sal julle maklik insien wat `n groot verskil reeds daarin lê, dat Ek My tydgenote teen alle religieuse gebruike in, al in die eerste woorde van My gebed laat sien hoe weinig hulle self hul religieuse boeke begryp het - nóg geestelik kan uitlê. Want terwyl dit vir die Jode streng verbode was om die naam van hul God somaar te noem en hulle hul God as `n God van wraak en toorn beskou het en Hom hoogstens juis daarom dikwels aangeroep het, meer uit vrees as uit vertroue, leer Ek hul in die eerste twee woorde - `Onse Vader' - om die kloof tussen hul God en Skepper en die mens te oorbrug en van die streng Regter `n liefhebbende Vader te maak.
Alleen al deur die woord word die daaropvolgende inhoud van die gebed geregverdig. Want aan `n Vader kan sy kind so vra soos Ek My leerlinge leer; maar geen mens mag destyds sy God smeek om dinge wat volgens die opvattings van die tyd baie te onbeduidend sou gewees het as dat `n God, wat mens hom ver agter die sterre in ontoeganklike ruimtes voorstel, hom daarmee sou besig gehou het!
Die woord ‘Vader’ en, nog kenmerkender, ‘ons’ was dus die groot verskil wat die ver verwyderde God na benede haal tot in die menslike lewe en die mens toestaan om as onmondige kind sy Skepper met liefde te omarm, terwyl in alle ander opvattinge oor goddelike waardigheid, selfs by die heidense volkere met hul gode, die eintlike enigste korrekte sienswyse ontbreek!
So was die eerste aanvang van die gebed ook die grootste en magtigste impuls om `n gemoed in vrome besieling op te hef. Want die sagte aanroep ‘Vader’, ‘my Vader’ of soos in die gebed die begrip van die naasteliefde in die diepste betekenis gefundeerd lê ‘ons Vader’ is die grootste, magtigste hefboom om vertroue te wek in Hom tot Wie mens bid dat die gebed ook verhoor sal word, en dat die Vader aan die mens, as Sy kind, sal laat toekom wat vir sy wêreldse en geestelike beswil is!
Die volgende sinsnede lui: ‘in die hemel’. Hierdie woorde het `n tweevoudige betekenis; ten eerste: As ek `n Vader het wat in die hemel is, die setel van suiwer geeste en voortdurende saligheid, dan spreek dit tog vanself dat ek oftewel daarvan afkomstig is, oftewel tog op sy minste, wanneer ek die Vader waardig word, eenmaal daar kan kom in die nabyheid van Hom, wat my toestaan om Hom `Vader' te noem.
Die tweede betekenis van die woorde is, dat ons Vader in die hemel `n Wese moet wees wat, ondanks dat Ek Hom in die hemel plaas, tog alomteenwoordig en almagtig moet wees; want anders is my bede tevergeefs: Hy hoor dit nie of kan nie vervul waar mens Hom om vra nie.
Verder moet daarby nog in aanmerking geneem word dat ons Vader in die hemel as gees, en om die redes ook geestelik en in diepste oorgawe aanbid moet word, as ek ook maar enigsins rekening wil hou met Sy grootsheid en my onbeduidendheid. Hiervan getuig ook die daaropvolgende sin, wat sê: ‘U naam word geheilig!’. Want slegs wie die eerste woorde in hul diepste betekenis begryp het, kan verstaan wat ‘U naam word geheilig!’ wil sê.
Dit wil sê dat, anders as by `n wêreldse vader, die Vader in die hemel as gees slegs as waardig geëer kan word, wanneer mens ook by aanroeping, besweringe en ede die naam van die allerhoogste Wese nie misbruik en omlaag haal in wêreldse aangeleenthede nie. Want die Skepper, wat julle toestaan om Hom as Vader aan te roep, is te verhewe en jy, as kind, is te hoog geplaas op die geestelike trap van alle denkende wesens as dat jy `n soortgelyke naam en met die naam self jou God en Vader sou moet aanroep asof Hy getuie sou moet wees van die deur jou uitgesproke woorde. Want slegs wanneer jy die naam ‘Vader, ons aller Vader’ en die posisie van die Vader naamlik in die hemel as ewige oord van vreugde heeltemal verstaan en begryp en daarna handel, dan kan jy na vore kom met die bede: `U ryk kom tot ons!'. Slegs dan is jy waardig dat die ryk van die hemele, die paradys van die siel ook neerdaal in jou eie hart en jou daar in die kleine laat voel wat vir jou eenmaal op `n groter skaal sal wag.
Slegs om gehoor te gee aan die eerste sinne is die mens waardig om opgeneem te word in `n ryk van die geeste wat die Skepper van die universum as hul enige God en hul enige liefhebbende Vader erken.
Sodat die ryk op aarde egter `n blywende ryk sal wees, is dit noodsaaklik dat die wil oftewel die goddelike wette van `n allerhoogste Wese, wat jy `Vader' mag noem, op aarde ook uitgevoer word. Want as bevestiging van die voorgaande sin lui die daaropvolgende: `U wil geskied op aarde soos in die hemel!' Slegs as, wanneer die mense, hul geestelike afstamming erken en op waarde skat, die wette van die liefde tot God en die naaste opvolg, slegs dan is dit moontlik dat die ryk van God neerdaal en van die lewe op aarde weer die paradys maak waaruit die eerste mense verdrywe is. Slegs dan, wanneer op aarde bereidwillig die liefdeswette net soos in die hemel steeds uitgevoer word, slegs dan is blywende vrede net soos bestendige rus moontlik.
En toe Ek destyds My leerlinge wil laat begryp hoe die lewe op aarde mooier gemaak kan word, sê Ek geestelik vir hul dat, ook al is die paradyslike lewe van vreugde oor die algemeen nie so maklik te bereik nie, dit vir slegs enkelinge tog moontlik is om in hul hart die suiwer vreugde van die ongestoorde bewussyn te bereik, en so `n voorsmaak te hê van dit wat hul in `n toekomstige tyd en hoër streke wag!
So moet die mag van die gebed `n toestand teweegbring, ook al is dit maar op bepaalde oomblikke, wat op homself troostend en rusgewend in die verdere lewensloop van die siel sterkte en krag kan gee.
Omdat die geestelike verhoging egter, waarby die siel hom verhef tot Hom, die Vader van alle lewende wesens, nie deur wêreldse wantoestande vertroebel word nie, en sodat op aarde julle lewe ook vir ander vrugbaar word en julle nie met trane van armoede en verdriet na Hom moet opsien nie, sluit by die voorafgaande geestelike bede die wêreldse bede aan, naamlik: ‘Gee ons steeds ons daaglikse brood!’. Slegs wie sy daaglikse brood het kan sy wêreldse verpligtinge nakom en ook sy naaste help waar dit nodig is.
Dat Ek, as Jesus, My leerlinge die gebed so geleer het, het as redes dat geestelike verheffing en geestelike voeding slegs dan in die volle betekenis moontlik is wanneer die liggaam, as noodsaaklike verbindingsmiddel tussen hier en daar, nie onder die druk van die omstandighede ly nie!
Weliswaar moes My leerlinge in later tye, na My heengaan, af en toe vas en ontbreek dit hul aan die mees noodsaaklike; maar Ek gee die gebed `n wending omrede dat van My ook die wêreldse behoeftes afgesmeek moet word en die mens hom nie oorgee aan die illusie as sou hy slegs om geestelike dinge tot My mag bid nie!
Die gebed, soos Ek dit gee, omvat die hele menslike pelgrimslewe, net soos al die Tien Gebooie asook My twee groot liefdeswette.
Dit moes prakties wees en pas by alle omstandighede van die lewe; en dit moes die mens, in welke toestand hy ook mag geraak het, wanneer hy dit met volle innigheid en diepste geestelike begryp, dit bid, die troos en die rus verskaf wat slegs `n God, `n hemelse liefhebbende Vader vermag te gee. -
En dan kom die volgende sin: ‘Vergeef ons ons sondes!’, wat `n ope belydenis is wat mense as mense, en nie as geestelike wesens of kinders van `n hemelse Vader wat in staat is om teen Sy wette in te handel en ten opsigte daarvan te faal of, soos dit heet, te sondig nie.
Die vraag om vergewing van sonde sluit die erkenning van swakheid in. Dit laat sien dat die vraende mens of die smekende kind sy swakheid insien, dat hy in staat is om te sondig, en wel dikwels ook teen sy sin; dan is die wil om die sonde te weerstaan weliswaar aanwesig maar is oftewel die eie hartstogte oftewel die wêreld te magtig, sodat die kind met die beste voornemens faal en hom daardeur die hemelse Vader onwaardig maak.
Gekwel deur berou moet die kind hom dan aan die voete van sy geestelike Vader werp en Hom sy skuld beken; hy moet egter ook deurdat hy verseker dat hy hom sal verbeter, dit as voorneme met hom saamneem by sy verdere voortgang in die wêreld. Dit word uitgedruk in die volgende sin, naamlik: ‘soos ook ons al ons skuldenare vergewe!’ En dit moet die voorneme wees - net soos die Vader in die hemel slegs in staat is tot vergewing en liefde, egter nie tot haat en wraak nie - dat ook julle, al is dit in geringer mate, goddelike of julle hemelse Vader waardig moet handel en diegene vergewe wat aan julle kwaad gedoen het; `n woord van groot betekenis, veral in die tyd toe daar beweer was: `n `oog om `n oog, ensovoorts', toe wraak toegestaan was, ja selfs tot die goddelike eienskappe van Jehova (JaHWeH) gereken was!
So sien julle dat die gebed alle menslike hartstogte omvat, al die hoë maar ook al die laer in oorweging gee, en so met weinige woorde in die vorm van `n gebed wat as mens geskape reisiger op die wêreld tot `n geestelike wêreldburger maak, wanneer hy die paar woorde wat eenmaal uit My mond gekom het, in ag wil neem!
Sodat die vaste voorneme egter geen skipbreuk sal ly nie, bevat die gebed in die daaropvolgende sin die eintlike oorsaak wat die mens dikwels afvallig maak en hom dwing om anders te handel as wat hy wil. Dit is sy omgewing en die sameloop van die omstandighede wat hom versoekinge besorg waar hy nie altyd as oorwinnaar uit tevoorskyn kom nie.
Hoewel die versoekinge in die wêreld noodsaaklik is - want sonder stryd geen versterking van die geloof en die vertroue in My nie - realiseer die mens hom tog die swakheid wat in sy tweevoudige organisme - naamlik die van die siel en van die gees lê, dat hy oor homself nie altyd die meester is nie. En daarom smeek hy in die gebed: ‘Lei ons nie in versoeking nie!’, wat geestelik wil sê: ‘O Vader, erbarm U oor U swak kind en help hom, sodat hy nie dikwels en ook teen sy wil beswyk onder die versoekinge wat ander hom besorg nie!'.
Slegs in die opregte erkenning van sy eie onmag lê die hele innigheid van `n gebed tot `n Almagtige, wat Hom deur mense ‘Vader’ laat noem en dat hy mense juis tot Sy kinders sou wil opvoed en opkweek!
Solank daar trots en oorskatting van sy eie kragte in `n hart heers, kan geen opregte gebed of versoek My bereik nie. Wat Ek ooit gesê het lui teenswoordig nog so, naamlik: ‘En as julle alles gedoen het wat vir mense moontlik is, dan is julle tog nog altyd nalatige knegte!’.
In welke toestande die mens hom ook mag bevind, met watter omstandighede hy ook moet stry, steeds moet hy daar rekening mee hou dat hy die minste, maar Ek die meeste gedoen het!
So groei sy vertroue in My, so beveg hy hom sy rus, sy vrede; en slegs wanneer hy berouvol voor My op die knieë val en moet uitroep: ‘Meester! Wat is ek, dat U aan my dink!’, wanneer hy beken en insien hoe weinig sy kragte slegs toereikend is om tot sy geestelike ewige doel te kom, dan eers sal hy begryp wat die hulp van sy geestelike Vader werd is en hoeseer dit verskil van wat ander mense hom kan gee!
Slegs die bekentenis, dat sonder Hom, die enige ware en steeds aan homself gelyk blywende Vader, niks moontlik is nie, kan die mens, nadat hy sy onmag ingesien het, as beweging tot die uitroep waarmee die gebed afsluit, deur te sê:
Omdat ek nou begryp het dat ek sonder my Vader in die hemel niks voorstel nie, vra ek Hom dat Hy my ver van al die kwaad sal hou of, soos dit in die gebed lui: ‘van al die kwaad mag verlos!’. Die verlossing oftewel die vryspreek van alles wat hy gedoen het, met of sonder sy wil, moet natuurlik plaasvind; anders is vooruitgang nie moontlik nie en is dit nie uitvoerbaar om `n kind van die Vader in die hemel te word nie.
Daarom sluit die gebed ook met die versoek: ‘Verwyder al die gevaarlike van my’, wat my op my weg agteruit in plaas van vooruit sou kan bring. Vergewe wat ek begaan het en verhinder die kwaad wat nog kom.
Slegs so kan die mens ook `n rus, `n troos in `n gebed vind, wat hom in weinig woorde sy hele posisie as mens en kind van God aantoon, naamlik dat hy `n wese tussen twee wêrelde, tussen die materiële en die geestelike is, en dat hy aan die laaste gevolg moet gee as hy die naam waardig wil wees waarmee hy die Skepper van al die bestaande aanroep.
Daarom begin die gebed met die aanroep van die Vader en eindig dit met die bede aan hierdie God wat, as Hy geen Vader was nie, die mens nie sou kan verlos van sy kwaad, hom nie sou kan vergewe en hom geen vertroue sou kan inboesem nie!
Bid daarom die gebed tot My, My kinders; dink by die eerste aanroep nie aan julle alleen nie, nee, omvat met die aanroep ‘Onse Vader!’ die hele mensdom, wat nou meer as ooit `n menigte verdwaalde kinders is, wat almal willoos en sonder doel of bestemming op hul ondergang afstuur, omdat die meeste die Vader nou juis vergeet of heeltemal verloën het, nie wetende en nie wil weet dat Hy in die hemel is, dat Hy hul verlangend tegemoet sien om hul almal eenmaal met liefhebbende arms te wil omsluit.
Bid tot Hom, die Vader van alle skepsele, dat Hy dit mag vergewe wanneer Sy naam misbruik en deur die slyk gesmeer word, in plaas van geheilig te word. Bid dat die ryk van vrede, van voortdurende saligheid die setel in die hemel wat Sy woonplek is, ook tot julle mag afdaal; dat nie mens teen mens in ewige haat en twis leef nie, maar dat broeder teenoor broeder in woord en daad die naasteliefde in die hoogste betekenis mag beoefen, omdat die wêreld slegs dan `n paradys kan word wanneer die wil van die Vader in die hemel ook op aarde uitgevoer word!
Bid dat dit alle mense op aarde nie aan daaglikse lewensonderhoud ontbreek nie, sodat almal hom ook mag verheug oor die opgaande son en nie een dag verwens wat hoogstens op slegs maar ellende moet skyn nie.
Bid so in My gebed die ‘Onse Vader’, dan sal julle sondes vergewe word na die mate waarin julle self toegewend is teenoor ander. Die versoekinge sal dan minder word omdat julle sterker geword het in geloof, dit makliker kan bestry en so sal julle van alle kwaad verlos word omdat julle rein geword het en ‘die reines is almal rein’; dan, al word daar aanvanklik miskien ook gewankel of gefaal, wandel julle, gesterk deur die vertroue in My, verby die gevare wat vir julle lankal die angel van die verleiding verloor het!
Bid só My gebed, wat Ek meer as duisend jaar gelede aan My toenmalige kinders en leerlinge gegee het en nou weer aan julle, My huidige uitverkorenes gee!
Besef in die woord hoeveel verhewenheid en skoonheid daar in My woorde lê, en begryp daarmee ook dat, wanneer `n God julle leer bid, Hy julle woorde in die mond gelê het waaruit `n onbegrensde diepte van waarheid en `n oneindige saligheid voortvloei vir diegene wat My, soos Ek eens gesê het, in gees en in waarheid aanbid. Want in die gebed is aan die begin die hoogste geestelikheid dadelik verbonde met wêreldse waarheid; daar waar julle in die begin wel, jy bewus van jou goddelike afstamming, die Vader in die hemel aanbid maar vervolgens die swakhede en gebreke van die menslike natuur nie vergeet nie, en terwyl julle by die eerste woorde baie ingetoë voor die groot Skepper as julle Vader neerkniel, later julle swakhede erkennend, Hom om hulp smeek sodat Hy julle nie in die slyk van sinlike hartstogte jou geestelike afkoms sal laat vergeet nie!
So moet julle die ‘Onse Vader’ bid, en julle Vader sal julle as kinders Sy Vaderliefde in die ruimste mate laat voel wanneer julle ook, net soos Hy, in plaas van straf, wraak en woede in julle lewe slegs liefde en vergewing prakties wil toepas. Dan is Hy vir julle die Vader, wat julle in die gebed met `n bewoë hart aan Sy genade, Sy mag en Sy nooit aflatende liefde herinner het deurdat julle naas Sy groot almag julle onmag berouvol wil beken! Amen!