LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 15

Oor die verskillende soorte diere en hul vorms

(ontvang 9 Augustus 1872)

 Baie van julle en ook baie ander het hulle hoof al gebreek oor waarom daar soveel verskillende diere bestaan waarvan julle as mense die nut nie kan insien, en waarom hulle bowendien volgens estetiese beginsels nie in die minste aan die oog `n welgevallige vorm het en na julle mening lelik is, terwyl mens tog van My as Skepper sou kan verwag dat Ek alles wat Ek skep, My waardig moet wees, dit wil sê met die mooiste vorms beklee sou moet skep.

So oordeel julle, so oordeel baie mense en natuurondersoekers, wat oral die dinge só sou wil aantref as wat hulle dit vir hulleself voorstel, maar nie soos Ek dit volgens My wysheid gewil het nie.

Wel nou, soos julle spreekwoord sê: ‘Iedere voël sing soos hy gebek is’, so moet mens die geleerde here en menige piekeraar en kritikus maar verontskuldig, wanneer hulle in hul blindheid spreek oor dinge wat hulle nie begryp en nooit sal begryp nie.

Om julle egter tog `n bewys te gee dat Ek hul welwillend - soos Ek dit altyd teenoor My onmondige kinders gewees het - ook die belaglike en onhandige beoordeling vergewe, maar daarnaas ook wil dat daar tenminste onder `n klein aantal van My volgelinge `n beter mening heers, wil Ek julle - net soos reeds by ander geleenthede - ook hier weer agter die sluier van Isis laat kyk. Ek wil My volgelinge en vereerders bewys dat alles wat hom op die wêreld aan julle oë vertoon tog nie so onhandig gemaak is nie, en dat ‘die ou God’ tog wel reeds lank voorheen geweet het wat Hy doen, voordat selfs maar die idee bestaan of `n mensehart sou moet klop of nie! Wel nou dan, ter sake.

Julle sien soveel diere, waarvan jul die redes van bestaan nie kan begryp nie, terwyl julle daarby tog moet aanneem - omdat Ek hulle geskape het - dat daar tog `n ‘waarom’ daaraan ten grondslag moet lê.

Kyk, as julle die rekenkuns werklik sou verstaan, soos dit waar Ek in tuis is, en nie slegs `n vae vermoede sou hê van die diep sin van julle wiskunde, dan sou julle baie dinge makliker begryp.

Dit is waar dat die wiskunde of rekenkuns julle gevolgtrekkings leer maak vanuit die bekende na die onbekende; dit leer julle om volgens die reëls te dink, volgens die reëls konklusies te maak van die een na die ander. Maar tog lê daar tussen die dink en konkludeer altyd weer die afstand van `n eindige menslike geskape wese en `n God wat, ook al volg Hy dieselfde manier van gevolg­trekkings maak wat julle in die wiskunde ontdek het, tog nog op `n geheel ander manier reken, konklusies trek en dink soos julle, nog swak en onmondige kinders van `n magtige Meester en God.

Hieruit volg dus dat, wanneer julle My woorde met julle maatstaf van dink en gevolgtrekking afmeet, daar steeds leemtes ontstaan as die menslike denke tekort skiet omdat daar `n goddelike gedagte tussenin lê.

Julle ken byvoorbeeld `n groot aantal insekte waarvan julle die nut nie begryp nie, maar waarvan julle daagliks las het as julle jul nie met alle middele daarteen beskerm nie. Julle ken `n groot aantal ander diere wat slegs lewe om weer ander diere wat laer staan op te eet, wat dus slegs vir die roof lewe.

Julle ken `n groot aantal ander diere wat eers deur die mikroskoop vir julle sigbaar geword het, wat voorsien is van `n voortplantings­vermoë en `n lewensduur, ten opsigte waarvan die hoër geplaaste diere en selfs die mens ver moet agterbly.

Julle sien dus in die diereryk `n groot aantal teenstrydighede wat julle nie kan verklaar nie. En tog, wanneer jul `n afsonderlike eksemplaar van die diere noukeurig bekyk, dan blyk dit dat dit met `n pragtige bou geskape is en dat dit met `n groot sorgvuldigheid in stand gehou word, sodat die diersoort nie verdwyn nie. As julle die bou van so `n dier, sy lewe en sy geweldige voortplanting bekyk, moet daaruit natuurlik die konklusie getrek word dat daar tog `n belangrike rede voor moet wees dat Ek so `n nietige dier eienskappe gegee het, wat Ek self van julle, intelligente mense, My kinders, weerhou het!

So staan julle daar soos in dubio,(aarsel) sonder om te weet wat julle van die geskapenes of van die Skepper moet dink.

Kyk, om julle die anomalie (uitsondering op die reël) ietwat nader toe te lig, moet Ek julle na `n heel ander gebied as die materiële voer; want ons moet begin met die geestelike, waarvoor die materie slegs as bekleding dien!

Slegs met geestelike oë is dan waar te neem wat vir die materiële oog en ook die verstandsoog ewig toegesluit sal bly.

Die idee van `n God, as geestelike Wese, bepaal immers al van meet af aan dat Sy skeppinge geestelike produkte moet wees!

Wanneer `n God egter `n wêreld of `n sigbare uitdrukking van Sy goddelikheid wil skep, dan moet ook Hy `n bepaalde trapsgewyse volgorde in die geskapenes aanbring, welke trapsgewyse volgorde beantwoord aan die wetmatige denke en as grondslag vir die bestaan en die in stand hou van die geskape wêreld moet bestaan. Want slegs so is daar dan lewe, strewe en voorwaarts dringing van die laagste na die hoogste moontlik, waarvan die passende doel in die woorde of begrippe ‘ontstaan’, ‘bestaan’ en ‘vervolmaking’ uitge­druk word.

Al die geskapenes het dus in meerdere of mindere mate `n geestelike beginsel as basis; in al die bestaande sit iets van My goddelike beginsel!

Soos die goddelike hom nou kan en moet uitbrei na verdere vlakke, so is daarvoor ook `n analoë liggaam, `n analoë inwendige inrigting en `n analoë lewensduur bepaal.

Daar bestaan in die natuur geen spronge nie, maar steeds gelei­delike oorgange van die een dier na die ander. En dit is die oorgange wat vervolgens baie skeppinge noodsaaklik maak, wat as verbindingskakels nou juis die oorgang van die een vlak na die ander voorberei; en die middelklasse, geestelik bekyk, is nou juis die diere wat julle dikwels soveel te doen gee, omdat julle nie weet waarom hulle eintlik bestaan nie.

By julle gevolgtrekkings vergeet julle naamlik heeltemal dat daar vir `n vooruitgang in geestelik opsig - soos die Skepper van `n heelal moet dink - nog baie ander grade van logika nodig moet wees as die van julle.

By baie van die diere was daar egter nog iets anders die redes gewees vir hul vorm en lewe, naamlik om nie slegs as verbindingskakels en oorgangswesens te dien nie, maar ook om `n ander wisselwerking te vorm vir die stimulering van die geestelike vooruitgang van aan hul ver superieure wesens.

Kyk, die stinkvlieg, luise, vlooie en alle ander insekte wat julle erg kwel is vir julle geestelike stimulanse om jul liggaam en huis so te versorg, dat dit eerste die intelligente gees waardig is en die tweede, deur die beginsel van sindelikheid in ag te neem, julle gesondheid bevorder, sodat julle nie soos varke in vuil en vieslik­heid eerder afdaal as omhoog styg nie.

Hierdie diere en nog ander kwelgeeste van die mens het baie hoër take in hul lewensdoel as wat julle dink. In hul word die bemid­delende trap verwesenlik waardeur `n klein intelligensie uitgroei tot `n iets hoër geplaaste intelligensie, in `n liggaam ingeklee, wat vir julle inderdaad nie te begryp is nie. Met `n produksie aan krag en uithoudingsvermoë wat ver bo die van julle uitgaan sou hulle julle goed kan laat sien (as julle met geestelike oë die geestelike vlakke bekyk) hoeveel daarvoor nodig is om `n laagstaande godsvonk ontvanklik te maak vir ook maar `n miljoenste deel van hoër intelligensie.

Vir duisende en duisende van die laagste diere is dit immers gladnie moontlik hom hoër te ontwikkel nie, en hulle moet die trapsgewyse gang omhoog gaan slegs deurdat hulle as voedsel vir hoër geplaaste diere eers met duisende bymekaar geskik word om een afsonderlike hoër geplaaste dier te vorm.

En die kleinste infusiediertjies en monades, soos julle hulle noem, net soos die koraaldiertjies en ander soos skaaldiere bestaan slegs om julle aardkors met hul liggame te help opbou en daardeur die stewigheid van die aardkors en tewens die passende hoeveelheid minerale, stene en klippe te lewer, wat hulle vanuit die vloeibare seewater omsit in die vaster materiaal van hul eie liggaam en hierdeur omvorm tot hard geworde gebergtes en gesteentes.

Wanneer daar nou dikwels miljoene van sulke diere in één enkele waterdruppel kan lewe, dan begryp julle self tog wel dat die produksievermoë daar buitengewoon moet wees om in die deur My vasgestelde tyd `n aardkors met haar gebergtes tot stand te bring, wat alles wat daarop is met gemak dra en die uitsettingskrag van die in damp veranderde elemente in die inwendige daarvan kan weerstaan.

Kyk, by julle moet `n soldaat sy kleding, sy lewensonderhoud, ja alles wat hy nodig het van sy toebedeelde soldy betaal. Daar bestaan geen ryweg in julle land, waar die gebruikers daarvan nie die weg en die onderhoud daarvan deur middel van `n self opgelegde tol moet betaal nie.*22 Ja, die hele statekompleks van julle ryk leef en bestaan slegs maar deurdat almal wat binne die grense daarvan lewe die benodigde vir die hele staat met sy amptenare en konings moet betaal, en wel so dat die staat, wat self geen geld het nie, slegs die rentmeester oor die toevertroude geld is.

Soos julle dit binne `n staat doen, so doen Ek dit met die kosmos: Elke wêreld moet homself opbou, homself in stand hou en homself vervolmaak, om eenmaal vir die oorgang na ander omstandighede die vorms wat daar dan nodig is in homself voorberei te hê!

Die kleinste, deur julle met die ongewapende oog nouliks op te merkte diere, bou julle aardkors, dra by aan die lewe van miljoene ander diere en help saam die oppervlak van die aarde mooi en stewig te maak. Die iets hoër staande diere, waarin My goddelike vonk al nagenoeg tot bewussyn gevorm is en hom ook al meer eie kan maak, moet die draers en voedselleweransiers wees van weer hoër geplaaste diere, en so trapsgewys verder tot by die mens. Waar `n groot voortplantingsvermoë aanwesig is, daar is ook die verbruikers van die kragte in die omgewing, wat aan die vermeerdering die korrekte grense stel, sodat dit nie bo die vasgestelde maat uitgaan nie!

So bestaan die harmonie van die geheel. Vanaf die in vaste klip gebonde gees tot by die vrye mens loop `n fyn band van assimilasie*23, waardeur die een deur die ander kan bestaan, die een hom deur die ander kan vervolmaak en so via die mens weer kan terugkeer na die geestesryk waaruit hulle gekom het.

Jare sou nie toereikend wees om julle van die kleinste infusie­diertjies tot by die olifant die redes en die `waarom' te verklaar nie; om julle slegs een klas van die laagste weekdiere te beskrywe, waarom hulle so gevorm is, waarom die klein intelligensiedeeltjies van vegeterende lewe in die vorm, in die element - hetsy water, aarde of lug - bestaan, en waarom daar sulke gedaanteveran­deringe noodsaaklik is dat `n soortgelyke, skynbaar verwaarloosde dier so en nie anders gevorm moet wees om aan sy doel te beantwoord.

Julle sou dus eers die konstruksies en die ‘waarom’ daarvan moet ken, voordat julle op die vraag sou kom: Waarom bestaan die hele dier nou, vir welke doel en in welke hiërargie?

Waar is julle wetenskap, wat so-iets sou kan verklaar!

Kyk maar net in `n lewende liggaam na `n klein senuwee stringetjie: Wat is dit? Is dit die geleier, is dit die voortplanter van organiese en dierlike lewe? Leef dit, of bring dit die lewe slegs maar oor?

 Die soort vrae sou eers suiwer opgehelder moet word as julle die hele dier sou wil begryp; waar is die boeke wat toereikend sou wees om julle die draad deur die labirint (doolhof) van `waaroms' te gee?

Hier staan die mens as `n eindige ding aan die grens van sy kennis, aan die grens van sy begripsvermoë. Hier begin die God, die Skepper, wat slegs aan die mens kan sê: "Onmondige kind, wat wil jy met jou beperkte begrip omvat van wat `n God, `n oneindige Wese, geskape het? `n Senuweefsel is en bly vir jou `n ewige raaisel; hoe wil jy as `n geskape wese kleingeestig bekritiseer en beoordeel wat uit miljoene dele bestaan, wat in verskillende vorms tog slegs één ding uitdruk, naamlik die vlak van `n geesdeeltjie, `n minuskule (mikroskopies klein) deeltjie van die groot Skepper, wat ewenwel al die voorsiening as noodsaaklik beskou om ook vir so `n klein vonkie die vermoë om verder te kom nie vir altyd af te sny nie? Waar is jou, en waar is My wysheid? Slegs één ding staan Ek jou toe, naamlik dat jy met geestelik gewekte oë deur My skepping speur en so die groot Skepper, as jou geestelike Vader, kan vermoed en kan leer om Hom lief te hê! Maar om Hom te begryp, dit lê selfs verby die grense van die hele geestesryk; want slegs Ek is volkome oneindig, nooit geskape, en julle is, hoe naby ook aan My, tog as geskape wesens ewig eindig en onvolmaak!’ -

Begryp dit, My kinders! Besef dit, en dan sal julle ook maklik kan begryp dat by die langsame voorwaarts skry (stap) van geesdeeltjies, in afsonderlike wesens en klasse, ook die uiterlike vorm van die diere afgestem moet wees op die behoefte van die gees en die behoefte van die aan hom gegewe liggaam!

Soos by julle mense die geestelike binnekant hom vir `n deel uitdruk in die gesig en in die hele liggaamsvorm, en mens aan die trekke van die mens gedeeltelik kan sien of daar `n edele of wel `n laaghartige mensesiel in hom woon, so is ook die vorm van selfs die laagste diere, tot by die naaste aan die mens, tot by die aap, steeds die uitdrukking van die daarin gelegde vonk. By nog onontwikkelde sintuie en talente kan daarom die vorms dan ook nie gelykstaan met die estetiese voorstellinge van `n menslike hoogste geesvorm nie, omdat die gees in sy onmondigheid nog ander behoeftes en ander voorsieninge nodig het om aan sy doel te kan beantwoord. Die gees self is daar, in sy geestelike vorm, nog `n embrio op die laagste trap van ontwikkeling; derhalwe kan, eenvoudig soos hy is, ook die omhulsel wat hom omgewe slegs maar eenvoudig wees!

Die enigste maatgewende by die vorm van diere is die streek waarin hulle moet lewe, hulle vermeerder en voortplant. Dit is by die een dier aanleiding tot duisend pote en by die ander dier geen pote nie, by die een dier één oog en by die ander baie oë, by die een dier één tasorgaan en by die ander baie; oral is egter die uiterlike vorm die materiële uitdrukking van die vlak waarop die daarin opgeslote geestesvonk staan.

Daarom kom julle dikwels diere teen wat julle lelik vind, omdat julle van bo-af oordeel. Sou julle egter van benede na bo geestelik die klasse en trappe kan sien wat so `n gees moet deurloop voordat hy tot `n groter bewussyn van homself kom, dan sou julle dit aan sy geïsoleerdheid aangepaste vorm die mees geskikte vind, wat slegs so en nie anders kan beantwoord aan sy geestelike en wêreldse behoefte nie.

Julle opvattinge oor die estetiese vorm het julle almal afgelei uit die menslike vorm; julle het die menslike vorm as grondslag geneem, as oerbeeld, omdat Ek julle ook eenmaal volgens My ewebeeld gevorm het. Maar die vorms van diere kan nie na die menslike vorm beoordeel word nie, omdat by diere die innerlike geestelike vorm nie voltooi, en nie heeltemal helder uitgedruk is en nog baie toevoegings nodig het voor hulle geestelik en materieel die van die mens kan benader. En selfs daar waar hul vorm die van die mens die meeste benader, soos by die ape, ontbreek die enigste en tewens hoogste wat die mens tot mens maak, naamlik die vry word van die leiband van die natuur (instink) en die deur My aan hom as sluitsteen van die skepping gegee, die hoogste geestesgawe van die vrye wil - om onafhanklik van die instink, as vry wese ook vry van alle kettings en bande van sy aan hom ondergeskikte natuur, heer oor homself en geestelike heer van die skepping te wees!

Die vorm van `n spinnekop, `n kewer of `n ander insek, van `n voël of `n viervoetige dier is net so goed gegee volgens estetiese grondslae, wat Ek My slegs bewus is; dit is die afsonderlike oerbeginsels van die skone, waarvan die uiteindelike resultaat hom laat vermoed in die menslike vorm, wat egter nog te veel verborge is onder die invloed die woonomgewing, voeding en doel van sy bestaan op hom moes uitoefen.

Daarby is die verborge geestesvorm onvolmaak mooi, en ook die bekleding daarvan moet onvolmaak mooi wees. Maar hier mag julle verseker van wees: Daar loop `n ketting van denkbeelde deur die hele organiese wêreld, wat langsaam die een vorm uit die ander voorberei en die een die ander binnevoer, altyd toevoegend, altyd vervolmakend - tot in die menslike liggaam die sluitsteen van al die strewe bereik is, wat vanaf die hardste gesteente tot by hom, die mens, die logiese of wiskundige denkbeeld van `n hoogste Wese, `n God ontwikkel het. Hy wou in die mens `n aan Hom gelyke ewebeeld skep, geestelik (en na uiterlike vorm), waar al die ander gediertes vol ontsag na sou opsien en daarin sy heer, maar ook sy vriend en sy hoogste doel so nie herken, dan tog vermoed!

Neem egter nie die mens soos hy nou geword het nie, maar stel jou die mens voor soos Ek hom geskape het; soos hy suiwer en onbevlek uit My hand gekom het, `n getroue kopie van My en `n hoogste produk van geestelike begaafdheid en mooiste materiële vorm!

So was die menslike vorm eens die ware uitdrukking van My afstammende gees; so moet hy ook weer word!

En as hy hom so veredel het, dan sal ook die dierewêreld wat hom omgewe aan die veredeling deelneem; hulle sal nie agterbly, sodat die mens, al is hy ook meer veredeld, tog in die posisie bly wat hy ten opsigte van die hom omgewende dierewêreld moet inneem en soos Ek hom eenmaal geskape het.

Voorheen het die mens die dierewêreld beter begryp as nou, voorheen het hy die mens meer gehoorsaam en het nie vyandig­gesind teen hom opgetree nie. Maar die mens het hom van sy oorspronklike vorm verwyder, ‘hy het anders geword, terwyl die dierewêreld dieselfde gebly het’. En so kyk die dierewêreld meer met skuheid en angs na die huidige mens, omdat die meeste diere die mens deur sy vyandige bedoelinge leer ken het; die sagte verhouding wat vanaf die oerbegin tussen beide geheers het, is verbreek, en in plaas van die vriend, het daar die verhouding met die onverbiddelike egoïstiese heerser gekom.

Nou is die mens dikwels genoodsaak om sy eie lewe te beskerm teen die vyandigheid van diere wat in die vroegste tyd rustig aan sy voete gelê en slegs sy bevele gehoorsaam het.

So het die mens sy vryheid misbruik en die vreedsame wêreld gemaak tot `n moordkuil, waar natuurlik slegs angs en haat, maar geen liefde, geen vertroue meer kan heers nie.

Aan julle, die weiniges wat nog aan My en aan My leer glo, aan julle gee Ek die reëls, sodat julle daarin `n nuwe bewys mag sien hoeveel moeite Ek My gee om sonder die deur My aan julle gegewe vryheid aan te tas, julle weer te maak tot `n sodanige mens soos dit eens uit My hand voortgekom het en soos hy weer sou moet word, as die aardbol weer `n paradys, `n Eden vir sy bewoners wil word!

Aan julle gee Ek die reëls, sodat julle hierin die oneindige liefde en goedheid mag lees wat Ek vir en ten opsigte van julle het, sodat daar geen siele of geesdeeltjie verlore gaan wat Ek ooit uitgestuur het in die wye ruimtes van My skepping, maar sodat dit in die eerste plek na behore gewaardeer word en alle eenvoudige en gekompliseerde, infusiediertjies, monade, diere en mense soveel moontlik `n bydrae lewer aan hul vervolmaking en eenmaal langs die lang weg van vervolmaking weer gesuiwer en ryp in die geestesryk mag binnegaan; die geestesryk van waaruit Ek hulle stuur om hul beproewingslewe langs alle trappe van My geeste en materiële ryk deur te maak en, verenig met die hoogste en intelligentste gees in die skepping van heelal en aarde, in die mens My `n welgevallige beeld te kan vorm!

Wat is nou in kort die betekenis van die baie woorde? Dat slegs liefde die belangrikste faktor is wat, ook al skei hy in die eerste instansie die geeste, tog slegs maar tot doel het om hulle ten slotte des te inniger (want meer vervolmaak) verenig te sien!

 

Om die vereniging egter op waarde te skat soos die geeste, afstammelinge van My betaam, moet dit verwerf, en verdien word. Want slegs `aan die verdienstelikes kom die kroon toe'!

Die bewussyn wat iets verwerf het gee die saligheid van die besit. -

Strewe ook julle dus daarna om te verwerwe wat Ek julle voorgestel het, sodat julle as My ewebeelde die naam ‘My kinders’ ook waardig en werd sal wees!

Om dit te bereik dien al die genadeligte, wat Ek julle van tyd tot tyd stuur, sodat julle steeds maar meer mag insien dat sowel in die kleinste monadediertjie asook in julle naaste dieselfde God julle steeds dieselfde verkondig wat ook die natuur julle op elke wandeling en gedurende elke hartslag toeroep:

"Vergeet nooit waartoe julle geskape is nie! Benut elke tydjie en elke woord van My om die doel te vervul". Want spoedig sal die tyd kom dat die kaf van die koring geskei word, en heil diegene wat tyd en woord so gebruik het dat hulle, opgevoed tot koring as vrugbare lewebringende brood vir die hemele, die weg van vervolmaking getroos verder kan gaan, wanneer Ek as enigste Herder sal kom om My skape onder My hoede te versamel, wat ook binnekort sal gebeur! Amen!

 

*22 Beide voorbeelde speel ten tye van Mayerhofer af.

*23 Die opneem van stowwe uit die omgewing en die omvorming daarvan tot liggaamseie substansie.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205