Gottfried Mayerhofer (1807 1877)

In die sewende jaar na die oorlye van Jakob Lorber ontvang Gottfried Mayerhofer in Maart 1870 in Triëst, as voortsetting van die Nuwe Openbaring die eerste diktaat van die Meester.

Gebore in München as seun van `n offisier, begin Gottfried Mayerhofer ewe-eens aan `n militêre loopbaan. Hy hou egter ook voordragte oor wiskunde, hy maak musiek en komponeer, en ontwikkel hom in die landskap skilderkuns.

Toe die Beierse prins Otto koning van Griekeland word, meld Mayerhofer hom as majoor vrywillig aan by sy persoonlike gevolg, en kom so na Griekeland. Daar trou hy met die dogter van `n Atheense groothandelaar, Aspasia van Isay.

Enkele jare later verplaas sy skoonvader sy handelsonderneming na Triëst. Op aandrang van Aspasia, wat sterk aan haar vader hang, neem Mayerhofer ontslag uit sy militêre diens aan die Griekse koningshof en die hele familie verhuis na Triëst. Maar omdat Griekeland geen pensioene betaal na die buiteland nie, het Mayerhofer nou geen vaste inkomste meer nie. Om finansieel egter nie geheel van sy vrou afhanklik te wees nie, wy hy hom aan die hand van sy talryke uit Griekeland saamgebringde sketse nou eg intensief aan die landskap skilderkuns.

Deurdat hy die, na Triëst oorgeplaaste militêre arts, dr. Waidele ken, wat in Graz tot die nouer kring rondom Jakob Lorber behoort het en daarna ook in Triëst ywerig voortgaan om die Lorber tekste oor te skrywe, raak Gottfried Mayerhofer bekend met die Nuwe Openbaring. En om saam te help aan die verdere verbreiding van die `nuwe lig' wat hom entoesiasties maak, begin hy ook Lorber se tekste (meestal vanuit die handskrif van Waidele) oor te skrywe. So word Mayerhofer ook geestelik gewek en voorberei tot `n werktuig van die Meester.

Deur dr. Waidele word ook die al jare ernstig siek marine arts uit Triëst, dr. Medeotti, na Lorber gebring, en hy word, na `n suksesvolle toepassing van die sonkuur van Lorber, ewe-eens `n vurige aanhanger en apostel van die Nuwe Openbaring.

In die tyd werk egter ook die latere uitgewer van die Nuwe Openbaring en grondlegger van die ‘Lorber Verlag’ te Bietigheim, Christoph Friedrich Landbeck, wat hom steeds besig gehou het met die mistieke kant van die lewe in Triëst. Hy werk daar in sy beroep as reklameskilder in dieselfde werkplek waar Gottfried Mayerhofer die spierams vir sy olieverfskilderye laat vervaardig het. So kom dit in die voorjaar van 1870 tot `n persoonlike kennismaking van die destydse dertigjarige Landbeck met die ‘ou majoor’. Hy skenk hom die klein Lorber geskrif ‘Die vlieg’ en wen die jong vriend, wat toe nog ‘na die sluitsteen van sy wêreldbeskouing’ soek, ewe-eens vir die ‘nuwe lig’.

Nou was daar dus `n stewige band geknoop tussen Lorber en die voorlopig nog klein gemeenskap in Triëst.

In die tyd het Gottfried Mayerhofer deur die skryfwerk in die aand en dikwels ook nog snags, want die daglig behoort aan die skildery toe, `n oogkwaal opgedoen en moes geopereer word. Daarop besluit Landbeck om sy werk as reklameskilder op te gee en hom geheel in diens te stel van die Lorber gemeenskap in Triëst. Hy skryf nou op wat Mayerhofer hom dikteer en magnetiseer ook in opdrag van die Meester sy oë, sodat dit nie slegter sou word nie. Tussendeur besoek en `bedien' Landbeck ook die pasiënt van dr. Medeotti.

In Maart 1870 ontvang Gottfried Mayerhofer vir die eerste keer `n mededeling van die Meester. In die volgende sewe jaar tot by sy oorlye op Goede Vrydag 1877 ontstaan vervolgens, naas talryke geleentheidswoorde, beide die groot sikliese `Lewensgeheime' en `Geheime van die skepping, en ook die unieke versameling van 53 `Predikings van die Meester' vir alle Sondae van die kerklike jaar.

Oor die toedrag van die inspirasie en die skrywe berig Landbeck in sy lewensherinneringe, dat Mayerhofer die te beskrewe materiaal gewoonlik by die wakker word aanvanklik asof in `n lewende beeld of as panorama in `n heerlike helderheid geestelik mag aanskou. Gedurende die latere opskrywe in `n ononderbroke pennestroom verbleek die visioene. Dikwels was dit Gottfried Mayerhofer ook gegee om die geestelike mense agter die natuurlike omhulsel te sien. Bowendien getuig Landbeck ook van Mayerhofer se gawe om te genees, tot heil van baie’.

Toe die eerste uitgewer van die Lorber geskrifte, Johannes Busch in Dresden, in die jaar 1877 (destyds al `n grysaard van vier-en-tagtig jaar) na `n arbeid van sewe jaar die druk van die hele Johannes werk voltooi het en daarby in `n erge geldnood geraak het, spring Mayerhofer helpend en reddend in; ondanks sy siek oë het hy tog weer begin om te skilder om middele vir Dresden te verskaf. As getuie van sy liefdesdiens vir die werk van die Nuwe Openbaring bevind hom nog tot vandag toe drie olieverfskilderye van sy hand in die besit van die `Lorber Verlag' te Bietigheim.

Die tekste van beide die natuur en tegelykertyd geestes­wetenskaplike siklus van Gottfried Mayerhofer se ‘Lewensgeheime’ en ‘Geheime van die skepping’ (waarvan etlike diktate ontstaan na aanleiding van mondelinge of skriftelike vrae), besit reeds in hul tyd die hoogste aktualiteit waaraan dit tot op hede nie ingeboet het nie!

Dit was die tydperk van die reëlregte eksplosiewe ontplooiing van alle natuurwetenskaplike dissiplines. Die wetenskap waan hom op `n onvergelyklike oorwinningstog, die een uitvinding volg op die ander, die verstand en daarmee die materialisme vier hoogty. Alles wat vir die vyf sintuie van die mens nie direk of tenminste via eksperimente toeganklik was nie, word genegeer en was nie in tel nie.

Uit die geestelike situasie van die laat negentiende eeu wat hom in ons teenwoordige tyd weliswaar langsamerhand begin te wysig, maar hom nog altyd oorwegend na die suiwer materialistiese wêreldbeeld oriënteer begryp ons die onvermoeibare indringendheid, waarmee die Meester ons via Gottfried Mayerhofer die geestelike dimensies van al die lewende in steeds weer nuwe aspekte en diepgaande uiteensettinge onthul het, en waarmee Hy ons daar bewyse voor aanvoer hoeseer die materie tog ‘niks’ is nie; die materie waarin die mens hom in minagting vir die goddelike ordening ingegrawe het en hom selfs, in geestelike sin, teenswoordig reeds begrawe het.

Mag die woord van die Meester wat ons via Gottfried Mayerhofer in sy pakkende en deels selfs asemrowende tekste geskenk het, as `n ware genadegawe vir ons tyd begryp word; mag dit nou eintlik wyd en syd gehoor en ter harte geneem word, sodat die ou, reeds lank vergete en ondermynde bousel van die geestelike menselewe weer opgebou word!’.

H.E. Sponder