Hoofstuk 21
Suiker, sout en asyn
(ontvang Pinkster 1875)
Kyk, My kinders! Hier gee Ek julle drie woorde wat dinge aandui wat julle almal goed ken en waarvan julle tog nie weet wat vir `n rol die daarmee aangeduide stowwe in die materiële natuur eintlik speel nie, en nog baie minder wat hulle in geestelike ooreenstemming voorstel.
Omdat aan julle dus weer `n nuwe terrein in die dinge van die natuur van julle aarde verskaf of ontsluit word, en sodat julle weer, soos so dikwels, opnuut mag sien en gewaar word wat `n belangrike eienskap daar dikwels verborge lê in dinge wat vir julle niks opmerklik het nie, juis omdat julle dit elke dag voor oë het en hulle elke dag weer vir verskillende behoeftes gebruik, daarom moet met die drie dinge, suiker, sout en asyn, opnuut `n bewys gelewer word hoeseer die geestelike met die materiële verbonde is, daardeur uitgedruk en in haar vervat is. Mag julle jul daardeur sterker realiseer hoeseer die mens hom sou moet inspan om die geestelike struktuur van die hele wêreld te deursien; en die insig kan hom vervolgens baie goed lei tot die korrekte beoordeling van My self!
Kyk, suiker of suikersap kom in die planteryk oral voor, ook in die diereryk, en selfs in die menslike organisme ontbreek dit nie.
Suikersap, oftewel die soet sap wat by die gebruik daarvan `n aangename gewaarwording teweegbring, is so verbrei in die natuur dat daar byna geen lewende skepsel bestaan wat nie die genot daarvan ken nie.
Die baie plante, wat in hul struktuur die vermoë besit om die suikerstof uit die aarde te trek waarin hulle wortel is, is weer die grootste voedselleweransiers vir baie diere, wat die so bereide suikerstof in blomme of vrugte vir hul eie instandhouding versamel, opeet en verwerk.
In die vrugte, en vroeër selfs in die weinige geneesmiddele wat die mens geken het, speel die suikerhoudende voedingsstof die hoofrol, terwyl teenswoordig by die ontaarding van die menslike ras, vergiftiging daarvoor in die plek gestel is.
Suikersap of suikerhoudende substansies was die ewewig bringende stowwe by siekte, dit was die versagtende hulpmiddele wat vir die meeste lewende wesens tot en met die mens hul materiële lewe so gesê ‘soeter’ gemaak het, solank die gebruik daarvan natuurlik matig of gereël was; want om uitsluitlik van suikerhoudende stowwe te lewe, dit kan nóg mens nóg dier doen.
Aangesien julle nou sien dat die suiker, wat deur kunsmatige fabrikasie uit die plantestowwe getrek word, in gekristalliseerde vorm onder julle voedingsmiddele, daarmee vermeng, so `n buitengewone belangrike plek verwerf het, dan kom vervolgens maklik die vraag op: "Waarom veroorsaak nou juis die soet sap wat suiker genoem word, sulke aangename genietinge by die eet of drink daarvan, terwyl daar tog ook genoeg ander stowwe bestaan wat aan alle natuurryke ontleen en vir ons voeding gebruik word wat wel gemis sou kan word, terwyl daarenteen deur gebrek aan suiker baie voedselsoorte beslis oneetbaar sou wees?".
Wel nou, hierop antwoord Ek met `n ander vraag: "Wat is suiker dan, vanuit die geestelike oogpunt beskou?". En deur die antwoord op die vraag sal julle die bogenoemde vraag ewe-eens beantwoord sien. Want wanneer julle die grondslag ken waarop al die materiële belewinge, materiële verlange en materiële luste stoel, dan sal julle maklik die redes insien waarom met suiker versoete spyse en dranke vir julle so smaak.
Kyk, as geestelike analogie verteenwoordig suiker in die materiële skepping die liefde!
Soos die liefde slegs die strewe is om aangename gevoelens op te wek, dit in stand te hou en voort te plant, so is suiker, as toevoeging by ander dinge, die vernaamste tussenskakel wat daarvoor sorg dat baie stowwe genietbaar word.
Liefde, in elke vorm, kan en moet die mense se toestand veraangenaam, en op ooreenkomstige wyse doen suiker dit ook.
Die liefde versag alle bitter gevoelens, strooi balsem op oop wonde, troos, kalmeer, vereffen en maak baie draaglik wat anders ondraaglik blyk te wees.
Die liefde is en was die basisgedagte van die skepping, die grondpilaar van My eie Ek, die belangrikste faktor om die mense tot mense te maak.
Sonder liefde sou die wêreld chaos wees, `n wettelose opeenhoping van stowwe en elemente, wat mekaar voortdurend sou bestry en vernietig.
Omdat die liefde op die geestelike vlak die hoogste potensialiteit is, is sy dus ook in die materiële gebied die magtigste faktor. En soos aan die mens en selfs vir `n deel aan die dier in sy sielelewe vermoëns gegee word om die liefde te voel, te bevat en haar steeds te soek, so is ook suikerstof, of eintlik die soet aangename gevoel wat lewende wesens ondervind by die eet van die produkte van die aarde, oor die hele wêreld die vernaamste faktor om die materiële vegetatiewe lewe aangenaam en prettig te maak. En die aangename lewendige gevoel wat julle verhemelte daarby kry kom ooreen met die liefde, wat ewe-eens slegs maar versoetend en liefhebbend al die oneffe, al die bitter vereffen. So sien julle in die suiker, hetsy as natuurlike sap of kunsmatig geproduseer en gekristalliseer, die simboliese met die liefde ooreenkomende faktor; aan die invloedssfeer hiervan kan niemand ontkom nie, maar al die lewende soek inteendeel die sagte werking daarvan op, verlustig hom daarin en vergeet by die geniet daarvan maklik al die ander, net soos by die gevoel van die liefde.
En wie berei vir julle nou eintlik die smaaklike suikerstof? Wie onttrek haar aan die duister aarde? Wie stimuleer die plante en die diere om haar te soek en te versamel?
Dit is die sonstraal; dit is die lig as uitstorting van My goddelike liefde, wat Ek in die oneindige wêreld laat uitstroom tot vreugde, genot en lewe van al dit wat Ek geskape het, sodat al die lewende in die lig My skepping kan sien en in die lig vir homself die liefde as draagster daarvan realiseer, wie ver deur eons myle haar krag meedeel, alles stimuleer, skep, in stand hou en tot verandering en geestelike vooruitgang dwing!
Wat die lig as liefde geestelik voorstel, dit is suiker in oordragtelike (figuurlike) sin op die materiële vlak. Die sagte woorde van die oneindige liefde, die sag verwarmende strale van die lig of die aangename soet smaak in die vrugte, dit alles het dieselfde betekenis; liefde heet die groot woord. Liefde soos die Skepper dit wil hê toe Hy dit alles geskep het, liefde wat in die geskapenes ingegiet is, en liefde wat selfs nog in die starre aarde as suikersap deur son of liefdeslig tevoorskyn gebring word en aan diegene wat die produkte van die aarde eet dieselfde genot, die smaak besorg wat `n liefhebbende woord of `n verwarmende sonstraal in die gevoel opwek, wanneer diere en mense dit wedervaar.
My kinders, leer so van die soet suiker wat julle ten eerste self uit liefdeselemente gemaak het en die lieflike in die natuur instinktmatig opsoek, en ten tweede, wanneer julle soet vrugte eet of suiker met dranke gemeng gebruik om jul dors te les, dat dit altyd slegs die liefde is wat in duisende vorms dieselfde verlang, bewerkstellig en daarna streef om dieselfde uit te voer wat in die woord beslote lê toe Ek as grondslag van My skepping naas die ‘Daar word!’ die ‘lig’ (Genesis 1:3) benadruk; want lig beteken liefde. En nou wil Ek deur die baie woorde wat Ek julle gee dit juis ook in julle harte lig maak, sodat die hart sy eie ligwêreld herken. Sodat die hart leer begryp dat selfs in die onaansienlikste, in die mees alledaagse nog die groot Skepper gevind kan word wanneer `n hart wat tot liefde in staat is, sy Vader as die gepersonifieerde liefde wil soek, en dat hy Hom kan vind wanneer lig, `n oop blik en begrip van die hele skepping hand aan hand gaan.
Nou ken julle dus die geestelike betekenis van suiker; wat hy is en hoe julle daarna moet kyk wanneer julle My wil begryp.
En nou wil ons oorgaan na die tweede, na die sout, wat gesien die smaak presies die teenoorgestelde van die suiker is, en ook daar wil ons proe wat vir die geestelike daaragter steek en hoe sy werksaamheid, sy bestaan self in analoë sin toegepas kan word, sodat julle My ook in die mineraal weer sal sien as julle Vader en as die groot Skepper van die groot natuur.
Om dus logies met die kwessie te begin wil ons die sout eenvoudig bekyk soos dit daaruit sien, waar dit hom bevind en waarom dit eintlik noodsaaklik is.
Wel nou, daar bestaan verskillende soorte sout, en net soos daar na suiker naarstig gesoek word, so word ook in die besonder by diere en mense die sout gesoek, aangesien sonder dit baie nie bruikbaar sou wees, des te meer omdat julle juis by die bereiding van die spyse in die kombuis uit die ruwe stowwe, wat julle daar chemiese prosesse laat ondergaan, deur die kook die soute wat die substansies bevat verwyder, en dit vervolgens natuurlik weer moet vervang deur ander sout, dit wil sê deur julle kooksout.
Byna alle dele van die materie bevat sout.
Sout bestaan as mineraal, vrugte en plante het dit ook, selfs suiker bevat sout, net soos ook in die bloed en in die maag van baie lewende wesens sout `n baie belangrike element is.
Nou is die vraag dus net soos voorheen: "Vanwaar die verlange, vanwaar die onontkombare sug na sout?".
Kyk, hier is weer net soos by die suiker die geestelike verklaring die antwoord op die aanwesigheid van sout in die materie.
‘Soute’ is daar analoog aan wat ‘lewe’ in die universum is; soute is stimulators, wek op tot skepping, instandhouding en vervolmaking.
So is sout die ooreenkomstige element wat lewe baar, lewe ontwikkel en lewe trapsgewys verder lei.
Om die redes word sout as opwekkende middel deur mens en dier gesoek; daarom bevind die sout hom in die skagte van die aarde, waar die afsettinge aanwesig is as opslagplekke van wat in verhouding tot die behoefte daar oortollig is, sodat die oorskot in die inwendige van die aarde dien om die behoefte van die buitewêreld te dek.
Soos My liefde die alles vereffenende mag is, so is die lewe die alles stimulerende krag, wat die uit liefde geskapenes aanspoor tot lewe, wat tot vervolmaking dwing, om na die verandering en nog eens verandering veredel weer daarheen terug te bring vanwaar dit uitgegaan het.
Daarom oorheers teenswoordig in die see nog steeds die sout as vernaamste stimulerende middel in groot hoeveelheid, omdat die element water (as verdigte lug) die moeder van al die vaste was en steeds sal wees.
My magswoord ‘Daar word!’, wat lewe beteken, skep hierdie prikkel wat altyd voortbestaan en sowel die materie as die lewende wesens daartoe aanspoor om hul missies, hul ontwikkelingsiklus te voltooi.
Wat sout as opwekkende middel, en wat dit as middel vir die spysvertering is, dit is die sout geestelik beskou in die menslike lewe, in die stryd met die wêreld en met sy eie hartstogte: Die teenspoed en teenslae is dit die sout van die lewe wat noodsaaklik is, sonder welke die lewe geen prikkel sou hê nie, soos voedsel sonder sout geen smaak sou hê nie.
Wat in die organisme sy organe prikkel of stimuleer om hul funksies makliker te vervul, dit is die geestelike sout van die teenslae, wat geeste en siele sterker maak en hulle bekwaam maak om iets groters te presteer en die wetmatige vervolmaking makliker te vervul. En die prikkel, die stimulans is die lewe.
Liefde kan haar sonder lewe nie uitdruk nie, want die liefde wil die uitwerking van haar daadkrag sien; sy wil nie tevergeefs alle middele sonder resultaat aangewend hê nie. Liefde wil wederliefde hê, en om dit te bereik is daar beweging of werksaamheid oftewel lewenskrag nodig, sodat die aanspraak van die skeppende liefde vervul kan word.
Dit is die doel van die sout in die materie; dit bring lewe teweeg, dit is die trae materie behulpsaam by die vooruitgang en strewe na die grondbeeld van die hele skepping, waarin lewe die vernaamste doel en liefde die vernaamste grondslag daarvan is.
So sien julle, My kinders, hoe `n onbetekenende en vir julle almal bekend en daagliks gebruikte element, in sy geestelike analogie uitgelê, `n belangrike faktor in die hele elementêre skepping kan word en `n belang verkry waar julle totaal geen vermoede van gehad het nie.
Sout is, in die korrekte mate gebruik, as geneesmiddel netso heilsaam en hou die lewende beweging in die organe van menslike en dierlike liggame in stand, net soos die ‘sout van die lewe’ oftewel die wêreldse omstandighede die werksaamheid en lewenskrag van die siele verhoog.
Sodra beide faktore - liefde as suiker en lewe as sout - daar die meeste toe by dat die eens deur My geskape wêreld in haar vernaamste grondbeginsels reeds die kiem van die ewigheid het, deurdat alles homself opbou en uit homself ontstaan, bestaan en verander.
Nou ontbreek ons dus nog die laaste hierbo aangehaalde woord - asyn, die betekenis daarvan in die materiële lewe, die gebruik daarvan en sy geestelike analogie. Ons begin ook hierby, net soos by die voorgaande, om die eienskappe van ‘asyn’ vas te stel, waaruit ons dan vanself sy bestemming en verdere gebruik sal ontdek.
Wat is asyn dus of, soos die chemici dit noem, ‘oxos’? Hiervan is weer ‘oksidasie’ afgelei; want julle moet nie slegs die asyn of die suursubstansie neem wat julle in die kombuis en by dranke gebruik nie. Die woord moet uitgebrei word tot `n algemene uitdrukking vir die inwerking van suur stowwe op alle materie, waarby julle by die ‘oksidering’ en soortgelyke ook ander stowwe teenkom wat deur middel van hul verbindingsprosesse oksiderend, veranderend op materie inwerk.
Die ‘suur word’ oftewel oksidering is eintlik niks anders as wanneer `n stof of `n substansie op die keerpunt aangekom het om in ander vorms of omstandighede oor te gaan, waartoe die sout haar nou juis gestimuleer het.
So ontstaan die ontbinding in ander elemente wat dan, bevry van die vroeëre verbinding, ander wedersydse verbindinge aangaan.
Selfs julle tafelasyn is niks anders as `n uiteengevalle, vroeër anders geordende ding, en so is oksidasie die vorm waaronder `n verandering teweeggebring word, waarby alle chemiese dele ander verbindinge kan en moet aangaan.
Die proses vind in die hele natuur voortdurend plaas - aangesien die ontbinding van die een die ontstaan van die ander inhou, en omdat in die hele universum niks blywend is en selfs die vorms of ontwikkeling tot `n vorm slegs uit die ontbinding van die voorafgaande kan voortkom. So word, op analogiese wyse omskrywe, dit wat in die natuur oksidasie heet, in die geestelike vorm as vooruitgang beskou, wat dit ook werklik is.
Vooruitgang of vervolmaking is die groot woord, waarsonder My skepping nie sou kan bestaan nie. Vooruitgang dui ook op die vlieg van die tyd; ook die ure, minute en sekondes vlieg verby, en met hul vergaan miljoene afgeleefde voortbrengsels van die wêrelde. En uit hul vergaan, uit hul dood ontkiem nuwe saad, `n nuwe vrug, waarby alles opdring van die materiële na die geestelike, na die eindpunt van alles, eers na My geestesryk en vervolgens na My self.
Kyk, die liefde skep die wêreld, die lewe hou die geskapenes in stand, en die vooruitgang bring, deur die geskapenes voortdurend te louter, weer aan die liefde terug wat dit in gebonde toestand uitstuur en in bevryde vorm weer nader na hom toe sien kom.
So is dit in die anorganiese en ook in die organiese wêreld. Soet en sag is die eerste beginstadia, wat in die tweede instansie as sout oftewel `lewe' `n prikkel moet wees sodat dit sy energie nie verloor nie, en die onophoudelike oksidasie - resultaat van die stimulerende middel sout - bring die elementêre stowwe deur ontbinding trapsgewys verder tot hoër, suiwerder en belangriker verbindinge. Daarby word ten slotte die materiële steeds meer geestelik, kry uiteindelik `n meer verfynde bekleding en amalgameer (verbind hom innig) met die geestelike, totdat alle materie van die hele universum vergeestelik nuwe verbindinge aangaan. Terwyl die liefde as saligheid oftewel die soet smaak van suiker steeds sterker word, die lewe oftewel sout steeds intensiewer en die vooruitgang oftewel die oksidasie steeds makliker word, kom so die verandering tot stand wat sag, sonder enige prikkel te laat voel, die grondslag lê vir `n ewige geluksaligheid. Daarin is die ontstaan `n saligheid, die lewe `n genot en die vooruitgang `n toestand waarvan die in `n liggaamlike omhulsel lewende mens hom geen voorstelling kan maak nie. Want selfs die hoogste geeste begryp intuïtief dat daar ook bokant hul nog `n wye gebied lê, waarin van hul tot by My, ewig nog tallose skeppings sal plaasvind wat, steeds verder voortskryend, die genietinge verhoog, die vergesig van die geestelike blik verwyd en elke voelende gees maar al te duidelik sal aantoon wat eintlik oneindigheid, wat eintlik die hoogste liefde, wat eintlik die diepste lewe en wat die ewige vooruitgang is; en daar kan, net soos in die growwe materiële, uit die growwe die meer verfynde, uit die materiële die geestelike en uit die geestelike die goddelike ontstaan, wat weer dieselfde fase deurmaak en by elke stap in die oneindige ruimte die oneindige God in Sy oneindige liefde geskrywe sien!
Streef ook julle - My geliefde kinders, wat op julle klein wêreld al deur miljoene wondere omring is waarvan elke minuut en elke sekonde sou kan getuig - daar dus na om die liefde van julle Vader te begryp, en probeer die goddelike lewe te begryp wat hom van minuut tot minuut in alles wat bestaan manifesteer. Trag om die vooruitgang, die ewige oksidasieproses te neem, hoe uit die eerste liefdesproses deur van lig en warmte, deur sout en okside, selfs in die materiële dood lykende natuur die ewige loop van die wet vervul word, wat die wêrelde in die leë ruimte onophoudelik voortdryf. Daarby bring die groot proses van liefde, lewe en oksidasie deur middel van die gestadigde ronddraai en die wenteling om hul eie as dieselfde teweeg as wat in die skoot van julle aarde plaasvind by die metale, aardsoorte en al die verskillende chemiese elemente, wat daar deur die liefde in gelê is en deur die sout, as die lewe, voorberei word op hul oksidasie oftewel die vooruitgang. Hulle volg dieselfde loop van die wet as in die geestelike wat van homself as bewustelike menselewe: Die liefde as skeppende element, die lewe stimulerend, en ten slotte bewerkstellig die proses van voortskryding die skeiding oftewel die ondergeskik maak van die materiële aan die geestelike. Die proses van voortskryding bring uit die mens eenmaal `n groot gees voort, soos ook sout en oksidasie uit `n growwe, logge klip `n plant, uit die plant die dier en uit die dier die laaste skeppingsdaad van die aarde, die mens voortbring. As die laaste lid van die materiële skepping dan, as burger van twee wêrelde, die prosesse van materiële en geestelike ordening op die wêreld deurgemaak het, tree hy binne in `n geestesryk, waar weliswaar sy meer verfynde sintuie dinge sal sien waar sy hart nou geen vermoede van het nie, maar waar hy ook met ander omstandighede en eise te maak sal kry, wat van hom verwag dat hy baie ander opgawes tot `n oplossing bring as wat hy tot dan toe gewoond was.
Ook daar bestaan ‘suiker’, ‘sout’ en ‘asyn’. Maar die suiker, hoewel soeter as alle aardse suiker, moet eers verwerf word, wanneer deur die gisting van die asyn of die sure (of oksidasie) die lewe as stimulerende middel oftewel `sout' `n hoër werksaamheid gekry het, en dit vir die suiwer siel moontlik word om in die sfere te lewe wat tot meer verfynde oksidasieprosesse in staat is. Maar ook gee hy `n hoër, intenser liefde aan diegene wat, daartoe opgewek deur die sout van die geestelike lewe, sy eie `oksidasie' deurstaan het, tot liefde gelouter en edel terugkeer, en daarvoor het die liefde die passende loon bepaal, sodat dan ook aan die oorwinnaar sy kroon oorhandig kan word!
O, as julle weet wat daar dan op julle wag, as julle weet hoe dit verwerf kan word en wat vir `n saligheid, welke gevoelens van geluksaligheid daar voortdurend blywend aanwesig is, en nie soos hier slegs in verbygaande oomblikke ervaar word nie, dan sou julle al die moontlike doen om geheel en al voorberei daar te kom waar die grens tussen materie en gees is en waar dan die voortgaan maklik en sag is en slegs deur die liefde gelei word!
Kyk, dit sou vergeefse moeite wees om julle die groot skeppingsruimtes, die groot skeppingsgedagtes, die groot wette en prosesse van die skepping of die wêrelde te beskrywe, om My daardeur te begryp. Julle sou hoogstens van verwondering voor My op die knieë val, want die wêreld is te groot vir julle, klein mensies, om die afstande en grootte daarvan te kan bevat. Maar dit is baie makliker om in heel nabye en vir julle dikwels onaansienlike dinge, My grootsheid, My geduld en sagmoedigheid vir julle voelbaar te maak om daarmee die doel te bereik. Want juis wanneer julle sien dat Ek behalwe die groot planete - en sonnestelsels ook die mees onbetekenende dinge so ingerig het dat hom ook daarin dieselfde godsgedagte weerspieël as dit wat julle in die sterrehemel tot verbasing bring, slegs dan begryp julle dat God iets anders, hoërs en groters moet wees. Want vir Hom is alles ewe belangrik en is die kleinste wurm dieselfde as die grootste sonnewêreld, omdat oral Sy liefde, Sy in alles ingeplante lewe en Sy in Sy eerste skeppingsdaad geleë drang tot vooruitgang alles trapsgewys voorwaarts stu, totdat in die geestesryk die groot ryk aan die ander kant met ander wette van liefde, ander wette van lewe en ander wette van vooruitgang bewys word dat suiker, sout en asyn oftewel liefde, lewe en vooruitgang - nooit sal ophou nie, solank God met Sy liefde en Sy lig die skepping verlig, verwarm en stimuleer om nader na Hom toe te kom.
Neem die groot leer uit die drie klein woordjies aan as bewys van My liefde; `n liefde wat geheel verskil van die van julle en slegs vergeet, vergewe en vergoed ken.
Sorg dus daarvoor dat Ek julle weinig te vergeet en te vergewe, maar baie te vergoed het, en julle sal in oorvloed van salighede geniet wanneer die drie woordjies, wat as titel aangehaal is, hul proses gedurende julle lewensloop voltooi sal hê! Amen!