LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 24

Oneindigheid

(ontvang 28 Maart 1876)

Hier staan `n woord wat dikwels gedagteloos uitgespreek word maar waarvan nog nooit `n lewende wese die betekenis in sy diepte begryp het nie, en dus wil Ek julle weer `n blik laat werp in My universum, in My groot skepping, `n blik in My eie Ek. Dan kan julle daardeur sien wat al julle wetenskappe, al julle diep denkers en alle filosowe nooit ontdek het nie, maar wat `n onmondige kind wat gelei word deur die liefde maklik kan begryp, naamlik dat liefde die belangrikste faktor was van al die geskapenes en dat liefde steeds die instandhouer en vervolmaker van al die bestaande sal bly!

As Ek julle die woord ‘oneindig’ moet verklaar, dan moet julle van `n groot hoeveelheid aangeleerde opvattinge afstand doen. Julle moet ver bokant al die wetenskaplike uit die betekenis van die woord nie op menslike wyse, volgens die wette van die verstand wil agterhaal nie, maar ooreenkomstig julle goddelike vonk wat Ek in julle gelê het, dus as geeste; maar nie volgens `n eindige sienswyse nie. Want anders kan `n skynbaar eindige wese, soos julle is, nooit die oneindige God en sy oneindige skepping begryp nie.

Ons wil dus begin met die woord en die definisie daarvan en dan, soos gewoonlik, stap vir stap verder gaan, waarby ons kan uitgaan van `n voorstelbare begrip tot by `n aanvoelende bewussyn van die ewige oneindige.

Wat noem julle ‘oneindig’? ‘Oneindig’ beteken heel eenvoudig `n ding of toestand sonder einde.

Goed, op die begrip kan julle in jul fantasie voortborduur so lank en so ver as julle maar wil, en as begrip bly dit vir julle te bevat en voorstelbaar. Maar wanneer dit toegepas word op My skepping of op My eie `Ek', dan volstaan dit nie, omdat julle dan `n ander faktor teenkom wat in julle menslike harsings geen houvas vind en vir julle nie voorstelbaar is nie, omdat julle slegs bewus is van `n begin en jul ook by alles slegs maar iets dergeliks kan voorstel. Op My en My skepping kan dit egter nie toegepas word nie, want Ek en My skepping het, behalwe die oneindige van die bestaansduur, ook geen begin nie.

Hier kry die woord ‘oneindig’ dus `n ander betekenis, omdat dit verwys na twee kante: Geen begin en geen einde; vir julle is die oneindigheid aan die een kant wel, maar aan die ander kant nie voorstelbaar of te begryp nie.

Wel nou, hierby wil Ek julle help, as julle My in My gedagtegang volg en jul kan verhef bokant al die aards geskapenes; as julle My as gees wil beoordeel en van die skepping `n by die Skepper passende voorstelling wil kry. Want vir mense, soos julle nou opgevoed en geskool is, bestaan daar geen moontlikheid om `n begrip te vorm van iets wat nooit `n begin het nie.

Hier moet ons dus as goddelike gees, ver bokant julle verstand uit, alles geestelik bekyk, en selfs julle eie bestaan moet vanuit `n ander oogpunt beoordeel word.

Wat beroem die mens hom tog op sy wetenskaplike kennis, asof hy iets sou weet, en wat is hy as hy in die grond van die saak tog weinig gewaar geword van wat hom omring, hoe dit voortbestaan en wat die einddoel daarvan is.

Ondanks alle ondersoeke is immers vir die mens sy eie ‘lewe’ of die ‘lewenskrag’, waarmee hy voel, dink en handel, `n raaisel; hoeveel temeer moet vir hom dan alles vreemd voorkom wat buite die sfeer lê terwyl hy, die nietige skepsel, die skeppingsgedagte volgens sy eie, deur homself gekonstrueerde opvattinge in sy klein harsings sou wil pers!

Wat `n nuttelose afmat en afsloof! Slegs `n gees, `n afstammeling van My, begryp My en My skepping; die gees dra elkeen van julle weliswaar in die hart, maar hy weet nie om hom te ontwikkel en neem hom meestal in al sy eenvoud net so saam na die geestesryk soos hy hom by sy geboorte van My gekry het. (1 Kor. 2:10-16)

Vergeet dus vóór alles julle menslike omhulsel, julle menslike bestaan, julle menslike kennis! Vergeet julle klein aarde, vergeet die son wat julle daagliks warmte en lig skenk, vergeet alle materie, alle wêrelde, waarvan julle die totale aantal nooit kan voorstel nie! Verhef jul in die oneindige ruimte, waar al die wêrelde om mekaar heen sirkel en ewig en ewig hul doel van vervolmaking stilswyend nastrewe!

Verhef jul met My in gedagte omhoog, na waar die lig en die tydperke geen grense meer het en waar, as jul dit so sou kan noem, die onbegrensde ruimte steeds maar net in onbegrensde mate voorstelbaar is; verhef jul met My na waar geen lig en geen warmte, maar slegs duisternis, ewige duisternis heers, na waar die groot elemente vir al die geskapenes opgeslaan lê.

Verhef jul met My na die middel van die ‘ruimte’, wat dit vir julle sou blyk te wees, en as julle gees of julle verbeeldingskrag dit kan bevat, dan staan julle voor die oneindigheid en haar Skepper en Meester, wat daaruit alles voortbring wat sigbaar en onsigbaar in die ruimte beweeg en leef.

En daar in die oneindigheid word vir julle dan begryplik hoe God die onbegrensde ruimte as Sy geestelike atmosfeer ewe-eens ‘oneindig’ om hom heen het, in sekere sin net soos elke ander ding of wese. En te midde van die atmosfeer troon Hy, en het Hy die simbool van die Liefde uit die atmosfeer die materiële wêreld, en uit Sy Ek die geestelike wêreld geskape of in die lewe geroep.

Julle moet aan My leer dink as sonder begin. Want anders sou Ek deur `n ander God geskape moet wees, en die God weer deur `n ander een, ens. En daar sou julle ook volgens julle skeppingsteorie nooit uitkom nie.

In `n ander woord het Ek julle eens gesê dat die atmosfeer, wat elke voorwerp of elke wese omgewe, aan die voorwerp of die wese afgee wat die atmosfeer self van buite-af opsuig, en weer in hom opneem wat deur die voorwerpe en wesens verbruik is en weer aan die atmosfeer teruggegee word.

Wel nou, hier het julle die sleutel tot die ‘oneindigheid’.

Die oneindige ruimte met alles wat daarin bestaan is My atmosfeer, oneindig soos Ek self, waarin alles uitstroom vanuit My, uitgaande in die oneindige om die groot reinigingsproses te ondergaan, omdat dit deur die atmosfeer al vir `n deel materieel geword het. En die oneindige ruimte gee My al die geestelike weer terug wat daarin gevorm en verbruik is en opgehou het om materieel te wees, en vul so My geestelike wese weer aan, deurdat dit My in ander wesens van allerlei soorte My liefde en My gees op alle vlakke geestelik teruggee. So vorm hulle die geestesryk wat My omring, waar die liefde as grondgedagte, gerealiseer in gestaltes en vorms, voor My staan, wat almal geestelik tot uitdrukking bring wat hul deur My eens geskenk is en nou as vergeestelikte geesmens of geestelike wesens voltooi is.

Kyk, soos alle atmosfere wat julle omgewe en ook die invloedsfeer van elke ding of wese wat enige ketting is waardeur die een met die ander in aanraking kom en die een aan die ander kan afgee wat dit self nie meer nodig het nie, so is dit ook in die oneindige ruimte waarin alle materie, opgelos in die fynste atome, voortdurend die vermoë tot assimileer het om die gelyke met die gelyke te verbind.

Toe die materiële wêreld ooreenkomstig die groot wet vanuit die oneindige ruimte vorm aangeneem het, het die kiem reeds in elke afsonderlike ding gelê en die aandrang om hom altyd weer te vernuwe.

Eens word die wet in alles neergelê, en so volg dit nou nog die daardeur voorgeskrewe weg.

My groot skeppingsgedagtes roep slegs één keer die ‘Daar word’ die oneindige ruimte in. Toe begin alles hom te beweeg, My gees dring binne in die chaos oftewel die konglomeraat van alle materiële stowwe; daar ontstaan lewe, afstoot en aantrekking, vorm en verandering neem `n aanvang, en so sal dit ewig deurgaan, omdat `n atoom wat nouliks aan die eter teruggegee is, nuwe verbindinge moet soek.

Kyk na die groot hemelliggame, waarvoor miljoene en miljoene van julle jare as tydsbepaling te weinig sou wees om hul proses van vorming te wil vasstel. Kyk na die ontelbare wêrelde: Hoe hulle hul vorm vanaf die eerste atoom, hoe deur wedersydse aantrekking die atome tot molekules, die molekules tot mikroskopiese liggame, tot selle word en hoe hy hom met die sfere wat hul omgewe weer tot newelagtige vorms verdig en later langsamerhand vaster word. Sien hoe hulle ten slotte oor hul ligwarm kern, `n duursame kors vorm as oppervlak vir sulke hemelliggame, waarop dit in hul binnenste opgeslote krag en lewe `n eie lewe skep, waar hom dan uit die dampe - wat deur die warmteverbruik ontstaan en so tot neerslag word - water, uiterlike atmosfere, vegetasie en lewende wesens vorm!

Kyk na al die wêrelde en stel jul hul ontelbare aantalle en grootte voor; dink jul in dat van die kleinste sandkorrel tot die daar as laaste skakel op lewende mens, die kiem van voortplanting oral werksaam is! Stel jul die aantal van julle klein en kort jare voor wat nodig is vir so `n ontwikkelingsproses! Dink jul eens die uitgeskeide materiële en geestelike elemente in van slegs één soortgelyke hemelliggaam, wat dan weer aanleiding gee tot die vorming van komete, wat hom volgens dieselfde wette moet vorm en ontwikkel, totdat ook hulle `n vaste massa geword het en binne die sfeer van `n sonnestelsel hul verdere loop en ontwikkeling as rondsirkelende planete vervolg!

Stel jou eens die groot menigte sigbare sterre voor, wat julle met die ongewapende oog of met behulp van julle kunsmatige teleskope waarneem. Stel jou die wêrelde voor, die tydsduur van hul vorming, hul noodsaaklike bestaan en hul wetmatige verandering; stel jou voor hoe alles volgens die wet van aantrekking en afstoting voortdurend deurgaan - en dan staan die hele oneindigheid in haar nooit te begrypte omvang voor julle geestelike oë, waarin dieselfde wet `n bepalende rol speel, net soos in die saadkorrel van `n klein plant of die voortplanting van `n infusiediertjie, naamlik dat hy ewig en ewig uit die verbruikte iets nuuts moet vorm, wat van trap tot trap die fynste atome eers materie word, welke as in haar miljoen­voudige verskillende trapsgewyse geledinge as materie die een vorm nuttig vir die ander moet wees en by die verandering van vorm steeds hoër en hoër styg en ten slotte homself vergeestelik, voorwaarts gaan van die lewenslose na die lewende en van die lewende na die geestelike lewe. Daar sal dan alles, wat van My uit deur die groot eterruimte uitgegaan het, weer na My terugkeer in die geestelike tuiste, om daar die prys en die beloning te ontvang vir alles wat daar geduldig verdra moes word. Dan sal `n geestelike denkende wese, deur die liefde uitgestuur en deur die liefde weer teruggebring, My almag, My liefde en My skepping heeltemal deursien en begryp. As kind van `n liefhebbende Vader kan en sal hy dan geniet van die salighede, wat voorbehou is aan almal wat trou volhard en daar steeds aan dink vanwaar hulle eens uitgegaan het en waarheen hulle as einddoel moet kom!

Soos julle materiële geestelike sfeer by julle die een geestelik met die ander verbind en hom onwillekeurig wil aantrek en gelukkig maak, so werk ook die groot aantrekkingskrag van die liefde vanuit My vir die wesens wat soos Ek wil lyk.

Só moet julle die ‘oneindigheid’ of die woord ‘oneindig’ opvat.

Oneindig is die krag wat vanuit My in al die lewende binnestroom, oneindig is My liefde wat nooit uitgeput sal raak nie, en ook oneindig is die voortplanting wat van die kleinste tot die grootste volgens dieselfde wet voortgang vind.

Só kan julle die oneindigheid van die hemelliggame en van die ruimte begryp, só kan julle ook die groot kosmiese mens of die hele materiële kosmiese stelsel opvat. Hy het ewe-eens `n atmosfeer om hom heen, sirkel in `n wye kring rondom sy geestelike sentraalson, gee aan die groot eterruimte van die oneindigheid alles af wat hy verbruik het en neem by elke stap weer nuwe lewewekkende materiaal op.

En dan sien julle die oneindigheid - oftewel die onmoontlikheid om iets te vernietig, al is dit maar die kleinste atoom - ook nog sinnebeeldig in die geestelike lewe. Daar roep die een geestelike gedagte steeds `n ander een op; en die gedagte bring die idee, die idee die woord en die woord ten slotte ook die werk of die daad voort, en toon daarmee die geestelike Skepper en wat Hy aan geestelik in die materiële wil uitdruk.

Alles is oneindig, en ook julle is oneindig! Dit is nie so dat julle eers by julle geboorte ontstaan het nie, nee, ook julle bestaan of ontstaan al sedert `n baie lang tyd gelede, ja, sedert die ewigheid; slegs nie as mense nie, as afsonderlike individue, maar as materie, met ewe onverganklike stowwe as alle materie. Die geestelike in julle is `n vonk vanuit My, uit My goddelike ‘Ek’, welke hom eers van sy bestaan bewus geword toe die ander twee faktore, siel en liggaam, saam met die gees die drie eenheid gevorm het, soos dit ook by My die geval is. Want ook My `Ek' bestaan in die eerste plek uit alles wat daar as materie geskape is en bestaan, in die tweede plek uit die hele ryk van die siel wat alles voortdryf na één doel, en in die derde plek uit die goddelike ewige beginsel wat aan die voorheen genoemde die oneindige bestaansduur en sy goddelike waarde gee.

So is ons dus gevorm uit dieselfde beginsels: Ek in die groot liggaam, siel en gees en julle en alles wat daar leef en beweeg ewe-eens in die kleine. En om die redes strewe die liggaamlike dan ook daarna om hom te ontwikkel tot die vlak van die siel en die siel tot die geestelike vlak wat die trapsgewyse ontwikkelingsgang van al die oneindige is, moet wees en sal wees.

Die woord ‘vernietiging’ bestaan nie in My skepping nie; daar is slegs verandering, al doen hy hom ook dikwels voor as skynbare vernietiging!

‘Oneindig’ is die kiem van die goddelike, ‘oneindig’ is immers die Skepper self, hoe sou dinge wat uit Hom voortkom nie dieselfde stempel dra nie?! Slegs volgens beperkte menslike begrippe; volgens die wette van die menslike verstand is die gedagte nie te verstaan nie. Daarom het Ek julle die groot eterruimte binnegevoer en het julle daar dieselfde omstandighede as God laat sien wat julle as mense ook het, maar dit slegs geestelik opgevat, in dieselfde betekenis voorgestel kan word.

Slegs in die sin is Ek vir julle te bevat en is Ek julle naby, en kan julle My liefde, My opoffering en My geduld met julle begryp.

As Ek geen groter bedoelinge met die wêreld sou hê nie, as die hele universum nie voor My uitgesprei gelê het soos `n ope boek, waarin Ek alles sien, alles weet, maar ook alles na die groot doel van die vereniging met My lei, dan sou Ek volgens julle menslike oordeel en opvattinge julle hele aardbol lankal uit die bestaande moes laat verdwyn. Maar soos Ek eens aan die kruis gesê het: "Vergeef hul, want hulle weet nie wat hulle doen nie!", so is dit ook nou nog. Verdwaalde kinders is julle, en baie miljoene met julle!

Die groot gedagtes, wat julle bokant die aardse uit sou moet verhef, die kan julle nie bevat nie; julle het geen krag, geen energie om jul te verhef tot waar alle menslike-wêreldse sorge tot niks ineensak, terwyl julle ondanks alle direk van My afkomstige woorde nog nie begryp het wat dit wil sê om `mens' of selfs `kind van God' te wees nie!

Vandaar My woorde tot julle, vandaar die verskeidenheid daarvan, vandaar My uitleg oor alles wat daar geskape is, om julle jul geestelike oë te open!

Salighede bo salighede het Ek geskape, maar nie vir blindes nie, nee, vir sienendes, wat geestelik dien te sien en geestelik begryp Wie hul lei en waar Hy hul heen wil lei.

Sienendes wil Ek in My skepping hê, sienendes wat My werk moet bewonder, daarin die Skepper daarvan herken en Hom leer liefhê!

Sienendes wil Ek hê, wat helder dien te begryp dat hulle nie geskape was vir die periode wat by julle lewe genoem word nie, maar hulle moet insien dat hulle, juis omdat hulle onsterflik is, die kiem van die goddelike in hul dra, maar hul ook tot hul reg moet laat kom om My wêreld en My heeltemal te begryp!

Ek wil My kinders sienende hê, sodat hulle in die bewussyn van ‘oneindig’ of ‘onsterflik’ sal begryp waarvan hulle burgers is, naamlik dat hulle burgers was en weer moet word van `n geestesryk waar die geestelike son nooit ondergaan nie, maar waar alles lig is wat van My uitstroom en sowel aan die kleinste atoom asook aan die menslike gees sy lig gee, as hy dit wil gebruik vir die insig wat hy self as `n oneindige wese deur `n oneindige God geskape is!

So mag dié woord weer `n geestelike prikkel teen julle byna ingeslape harte wees, sodat julle uit die wêreldse droom wakker kan word en helder kan sien dat julle, wanneer jul lewensdroom verby is, as onsterflike wesens in die nounet beskrewe wêreld sal binnetree.

Só word dit julle gegee tot troos en as raad! Mag julle dit nie tevergeefs gekry het nie; want julle sal daarvoor moet boet dat julle, nie gedagtig aan die goddelike wette, ‘eindig’ verder wil lewe, terwyl die ‘oneindigheid’ tog julle einddoel is! Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205