LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 27

`n Woord aan `n rasionalis—1

(ontvang 22 September 1870)

Jou broeder M-ch het jou gevra om `n antwoord vir een van sy vriende wat, slegs voorsien van die lantern van sy verstand, die hele skepping, die `waarom' en `wat' daarvan sou wil verlig, aangesien hy die lewe van die gevoel, oftewel van die hart, oftewel dit van die innerlikste gees, verwerp het en dus ondanks al sy ondersoeke en tob nie tot iets bevredigend kan kom nie.

Wel nou, Ek wil probeer om `n siel, wat weliswaar hongerig en dorstig is, maar nog nie weet welke spys of welke drank haar honger en dors eintlik sou kan stil nie, die geskikte voedings - en versagtende middele aan te reik; of sy siel dit aanneem en hoe hy dit geestelik sal verteer, dit sal die toekoms uitwys. Jou broeder M. voel baie goed aan dat menslike leerstellinge nie voldoende is om sy vriend die eintlike vrede en troos te verskaf nie, omdat dit altyd slegs `n uit verstandelike gronde in mekaar geflanste stelsel sou wees, waarin die een teenoor die ander geplaas word; en dat ten slotte, vanuit My gesigspunt bekyk, die een net so weinig houvas en stewigheid het as die ander. Daarom wend hy hom tot My met die innige bede dat ook aan sy vriend die rus en vrede gegee mag word, wat hy deur die lees en nalewe van My (nuwe) Woord so ryklik geniet.

Ek wil dan ook probeer om ook aan hom - `n dwalende, maar nie van die goeie afgewende siel - die eerste geestelike voedings­middele aan te reik, soos `n moeder `n pasgebore kind die moederbors bied. Ons sal nou sien hoe jou vriend die nuwe kos, en nog wel uit vir hom geheel onbekende hande, sal proe!

Dat `n God, `n Skepper en Vader van alle skepsels, hom aan `n menslike wese kenbaar maak deur middel van `n ander mens, hom wil onderrig, geestelik opvoed en verbeter, dit sal in die begin wel nie so pas in die denktrant wat die vriend van jou broeder tot nou toe gewoond was nie. Want hy sal waarskynlik antwoord: "Dit is nie moontlik nie! Hoe kan of wil `n God, vooropgestel dat daar een bestaan, Hom in Sy oneindige grootsheid met ons, wurms, afgee? Waarom sou aan Hom, die Almagtige, iets daaraan geleë wees hoe die een of ander mens dink, geestelik voortleef of ooit geheel en al verlore gaan? Die hele skepping en al die sigbare bewys tog elke oomblik wat Hom aan die vernietiging van slegs één lewe, ja van duisende lewens, niks geleë is nie!

En hierdie deur julle dwase en liggelowige mense vereerde God sou neerdaal op die klein aardse sandkorrel, om `n nog duisend male kleiner wurmpie wat daar vegeteer te wil onderrig! Nee, dit grens aan sotterny of afskuwelike ‘nonsens’".

So, liefste kind, dink jou vriend beslis, en sien, vanuit die standpunt waar hy nou staan het hy gelyk; hy kan en moet so dink, in ooreenstemming met dit wat hy opgesuig het, deels uit die totaal aan sy eie ervaringe en sy beskouing van die totale skepping, en deels uit die boeke wat hy toevallig in die hande kry en waaraan hy slegs die volle geloof skenk (o.a. Darwin).

Voordat Ek dus op ook maar een van sy vertwyfelinge kan ingaan, moet Ek probeer om hom eers te laat begryp dat soortgelyke buitengewone mededelinge moontlik is en reeds sedert die oudste tyd voorgekom het en nog steeds kan plaasvind, en dat dit die mense nou meer as ooit toestroom.

Hierdie vriend van jou broeder deel sy lewe in `n gevoelslewe en `n verstandslewe; hy maak `n groot onderskeid tussen beide. Nou wil Ek hom slegs vra: Het hy ooit net `n helder begrip gevorm van wat gevoelslewe en verstandslewe eintlik is, waar die een en waar die ander vandaan kom? By noukeurige beskouing sal hy eintlik geen bevredigende antwoord kan gee nie, wat elke bedenking sou kan weerlê. Wel nou, dan wil Ek dus eers self vrae formuleer en vervolgens die vrae ook self beantwoord, omdat Ek dit belangrik vind om hom My opvattinge nader te verklaar en nie syne te aanvaar nie, wat Ek al lankal ken.

"Wat hou die `gevoel' in feite in, en wat `gevoelslewe'? Waar kom dit vandaan, waarna lei dit, en welke verskil bestaan daar in vergelyking met die verstandslewe?".

Suiwer vrae wat, ryk genoeg aan inhoud, nader toegelig moet word, as mens tenminste op sulke vrae en hul respektiewelike antwoorde `n geestelike bouwerk, ja die inrigting van die hele oneindigheid wil oprig, en wel stewig en duursaam, sodat nie een windstoot van nuwe opgedokterde idees van `n sogenaamde geleerde dit weer kan omver werp nie. Dus nou ter sake!

Wat wil ‘gevoel’ sê? Dit was die eerste vraag, en Ek antwoord daarop: "Gevoel is iets wat mens voel". Wat hou ‘voel’ egter in? Hieroor gaan dit, want dink en voel is baie verskillend van mekaar.

Met sy uiterlike sintuie voel die mens alle indrukke van die natuur wat om hom heen is; met die innerlike gevoelsvermoë neem hy die invloede van `n geestelike natuur waar - hy mag dit ontken soveel hy wil - maar egter tog bestaan!

Daar hoort die stem van die gewete by wat, soos julle taal dit sê, `n soort ‘sekere wete’ is, en dit ondanks alle filosofiese en weten­skaplike stryd van geleerdes en nie geleerdes tog een en ander met haar eie redenering op die voet volg - welke redenering dikwels nie pas by dit wat die geleerdes ander sou wil opdring, terwyl hy tog met homself nie in die reine is nie.

Die gevoel en gevoelslewe is dus nie van materiële, maar van geestelike oorsprong, dit wil sê: Dit lei ons tot die aanname dat daar buite alle sigbare en onsigbare elemente van die natuur nog `n hoër vlak bestaan van geestelike dinge, wat ons nie kan weeg, nie kan sien en nie chemies kan ontleed nie; dinge wat in die groot geheel bestaan, wat wel te voel is, maar nie sigbaar of hoorbaar is nie, ja hom selfs nie laat dink - soos byvoorbeeld die gevoel wat iedereen aangryp by die luister na verhewe musiek. Wat kan julle mense dan; kan julle ook een akkoord dink, of veeleer slegs die indruk daarvan op julle siel voel?

Aangesien ons nou vasgestel het dat daar `n gevoel en `n gevoelswêreld bestaan, moet ons natuurlik ook op die volgende gedagte kom: "Waar kom die stroom van die saligste innerlike gevoelens waartoe `n menslike hart in staat is, vandaan? Waar is die begin, en waar die einddoel of hoogtepunt daarvan?". Die nou aangetoonde geestelike ryk, wat hoër is as alle elementêre materie, moet natuurlik in alle materie min of meer aanwesig wees om die bestaan daarvan te bewerkstellig.

Wanneer die mense `n boom omkap, `n plant uittrek, weet hulle dan wel of die boom of die plant by die geweldsdaad iets voel? Hulle weet dit nie! Met die nie weet is egter nog nie aangetoon of die boom of plant geen materiële pyn en geestelike dood voel nie! Want wat julle sintuie op `n bepaalde oomblik nie waarneem nie, is nog geen bewys van die nie-bestaan daarvan; die gevoelslewe is dus waarskynlik in al die geskapenes meer of minder aanwesig, na gelang van die individualiteit.

Nou lê tog wel die vraag voor die hand: Wanneer die gevoel volgens bepaalde wette bestaan, wie het dan die wette vasgestel, wie het hulle hul korrekte grense aangewys waar hulle nie uit kan beweeg nie?

Waar wette bestaan, moet ook `n wetgewer wees; want elemente en natuurkragte manifesteer hulle nie vanself nie. Wanneer dus `n wetgewer deur die wette uit die aard van die saak veronderstel word, dan spreek dit vanself dat daar by baie wyse wette ook `n baie wyse Wetgewer moet wees, wat die toppunt van alle wysheid is.

Vir sover julle mense tot op hede die natuur kon ondersoek het, het julle sowel in die grootte as in die kleine oral dieselfde volmaaktheid kon waarneem. Nêrens het julle `n stiefmoederlike behandeling gesien nie; `n sentraalson is net so perfek as `n grasmyt.

Wat volg daar uit die ontdekking? Daar volg die groot grondwet uit, wat vir die Wetgewer en Instandhouer van die universum, van die verste verwyderde sterrebeeld tot die kleinste infusiediertjie op julle aarde, die een nie belangriker is as die ander, maar dat alles op sy vlak ingerig, in stand gehou en vir sy doel om voort te skry verder ontwikkel word.

Wanneer julle dit nou slegs uit julle ondersoeke al moet aanneem, dan volg daar natuurlik uit dat, wanneer vir die Skepper `n myt van belang is, die menslike gees met al sy eienskappe dit tog ook moet wees, en dat, wanneer die Skepper geen atoom laat vergaan of verlore laat gaan nie, Hy nog minder `n menslike siel of hele volkere as verlore wil beskou.

Wel nou, as die mense met hul goeie, maar ook slegte eienskappe en hul volledige vrye wil so ver afgedwaal het van die eintlike doel waarvoor die Skepper hulle geskape het - sou dit dan nie moontlik wees dat die God of Skepper dan na besondere middele gryp en deur Sy invloei in die hart van `n enkele deur Hom uitgekose profeet of medium (soos julle hulle teenswoordig noem) die ander verlore geeste en siele weer op die korrekte weg sou wil terugbring nie?! Hier het ons dus eintlik aangekom op die punt, waarop ons vriend daarvan oortuig sou kan word dat (al is dit ook in uitsonderlike gevalle) `n soortgelyke invloei moontlik is.

Die invloei kan ewenwel slegs gebeur in die orgaan, wat ooreenstem met die geestelike Gewer, en die orgaan is die gemoed, die hart of die gevoel, die vernaamste, hoogste orgaan wat as enigsins geskik is vir die mees verhewe vlug omhoog, die op God lykende vlug van die gees.

Die verstand behoort by die wêreld, haar behoeftes en haar materiële belange.

Die gevoel is die orgaan van die geestelike lewe, wat hier op die wêreld slegs vlugtig geniet kan word, wat hier nie blywend is en hoogstens `n lig vermoed van `n geestelik hoër wêreld agterlaat.

Ek moes so uitvoerig wees, om die vriend tenminste `n klein wenk te gee, deels egter ook om hom daar `n vermoede van te gee wat vir `n genade dit is wanneer iemand, soos hy nou, deur My, die Meester van al die geskapenes, onderrig word.

Ek hou van hom, soos van al My kinders, van al die geskapenes. Niemand wil Ek verloor nie, en hom dus ook nie, wat nie een van die mees onedel siele is wat op die aarde vir `n kort beproewingstyd geplaas was.

Jou vriend bekla hom in sy brief aan jou broeder oor die verskillende wanklanke wat hy in die skepping, in die menslike lewe, ja oral sien waar hy ook maar kyk; hy voer uitsprake aan van geleerdes, wat My veroordeel en oor My inrigting spreek soos `n blinde oor kleur.

My liewe vriend! Hierbo het Ek al gesê: Die verstand is nodig vir die beoordeling van wêreldse dinge, die uitvind van masjiene en die maak van ontdekkings om julle lewe aangenamer in te rig of om die een of ander meer mag om te heers toe te ken, ens. Maar wat julle met die verstand ook maar mag uitbroei, My skepping, haar `waarom so en nie anders nie' kan julle daarmee nie deurgrond nie. Met die gevoel kan julle dit wel vermoed, maar ook nie begryp nie. Eers dan wanneer Ek as bemiddelaar optree en julle `n blik in My werk laat werp, slegs dan sal dit vir julle enigsins lig word en dan sal julle ook meer die liefhebbende Vader as die onverbiddelike God in My vind, wat nooit wil vernietig nie, maar voortdurend wil opbou en versamel! Jou vriend sê verder in sy brief dat daar baie aandag bestee word aan die ontwikkeling van die gemoed, ja meer as aan die vorming van die verstand.

Hierby moet Ek opmerk dat Ek juis die teenoorgestelde mening toegedaan is: In byna alle inrigtings vir opvoeding en onderwys word die gemoed, die hart met sy edele eienskappe byna geheel verontagsaam en slegs die wêreldse verstand ontwikkel. Juis daarom heers daar soveel slegtigheid onder die mense, omdat hulle slegs `n hoof en geen hart het nie; daarom ook laat Ek ellende en ongeluk toe in die menslike maatskappy, om die in die jeug verontagsaamde of misleide gevoel op te wek, om die innerlike stem weer gehoor te verskaf, om die mens te leer oor die wêreldse en die geestelike welsyn, en die voordeel om die laaste te verkies bokant die eerste.

Deur ellende en teenspoed wek Ek die sluimerende harte op; in die ellende soek hulle dan My – Vir My, wat hulle tydens hul goeie lewetjie heeltemal vergeet het, ja dikwels ook heeltemal verloën het.

Vanuit die standpunt dat die aarde slegs as `n oorgangsperiode beskou dien te word moet jou vriend al die lyding aansien, wat dikwels sugtend medelye uit hom pers; dan sal hy (net soos My engele en suiwer geeste) daar seën, waar hy nou sou wil vervloek.

Wat sou die mens wees, as hy uiteindelik nie, as laaste toevlugsoord teen alle teenspoed, sy eie hart, sy innerlike lewe het?

Die verstand met al sy kennis is koud; en waar koue is, daar is geen lewe nie!

Die gevoel verwarm; daar waar geestelike sonstrale, sinnebeelde van die ewige liefde, deur die gefolterde hart flits, daar wakker die vlam van die besieling aan. Daar geniet die mens nou die hoër inwyding in die aanvoel van `n ver bokant die aardse lewe slegs af en toe deur die deksel van die doodskis heen skemerende lig van `n hoër en mooier wêreld.

Wie het nie soortgelyke oomblikke ervaar nie, wat die beskouing van die natuur of die produkte van ware digters en musici hom gegee het?!

En al die mooi ervarings, waar lei dit dan eintlik na toe? - Seker nie na `n vernietigende, streng rigtende God nie, nee, maar na `n liefhebbende Vader en Instandhouer van al Sy geskape wesens.

Ook in die natuur bedrieg die skyn, wanneer die menslike oog slegs met menslike verstand die vernietiging van die een dier deur die ander, die wurg en moor met die opvattinge van die wêreldse verstand beoordeel.

Julle mense beoordeel hier of daar met medelydende harte die vernietiging in die natuur, wat julle sien en deur My om wyse redes so en nie anders vasgestel is nie. Maar wanneer dit gaan om julle vermaak of die dood van die tyd, wat julle met niks beter kan (of meen te kan) deurkom, dan slaan julle daar geen ag op hoe julle uit verveling onskuldige diere tydens die jag van die lewe beroof, om julle moordlus op hul af te koel.

Julle veroordeel die voël, wat onbarmhartig insekte eet, wat hy slegs doen om sy eie lewe in stand te hou; daarin sien julle `n onregverdige God. By julle vraatsug egter, waarby alles slegs vir julle maag leef - waarby julle nog baie meer wurg en moor as baie diere, en dit nie uit noodsaak nie, maar uit hoogmoed en verveling, daarby vind julle swak skepsels julle handelwyse korrek, ja selfs lofwaardig, terwyl julle aan die ander kant `n liefdevolle Skepper dit voor die voete werp, wat wel vir julle bestaan juis meer noodsaaklik is as wat julle jul ooit kan voorstel!

Daarom, My liewe vriend: Leer allereers Die Een liefhê en eer, wat jou met elke hartslag duisende genadegawes skenk; leer die taal van die natuur verstaan, dan sal jy daarin nie soveel dissonante meer vind as tot op hede nie!

Wees daarvan verseker dat die wêreld steeds dieselfde is; `n liefhebbende gemoed sien slegs liefde, waar `n verbitterde gemoed haat en tweedrag vind.

Nie die wêreld self, maar slegs die weerspieëling daarvan sien jy in jou hart; reinig die spieël, en die getroue afbeelding van My natuur, wat steeds dieselfde bly, sal hom spoedig ook suiwerder aan jou toon!

Lees My ou en nuwe woorde; daarin lê die vrede en die rus, wat jy tevergeefs in die boeke van geleerdes soek.

Die geleerdes skrywe die meeste van hul boeke om hulle die rus te verskaf waaraan hulle self tekort het; of hulle wil ander die vrede en die helder mening oor die wêreld gee, wat hul self in alle opsigte ontbreek het.

Gebruik jou verstand vir jou wêreldse lewensloop, maar laat ook hierin die verstand deur liefde begelei word; dan sal dit al rustiger in jou word, dan sal jy God, die Skepper en die Vader nader leer ken en liefhê, en sal jy nie meer ander hoef te betreur of te beny nie.

Volg My raad op, en al gou sal jy die stem, wat nou via `n ander mens tot jou spreek, in jouself verneem, wat jou dan vrede, troos en die ware insig in die wêreld en haar lewensprosesse gee!

Dit is jou gesê tot troos: Ek waardeer jou, omdat Ek jou hart ken. Hy het slegs die korrekte begeleier nodig om hom op die ware weg te bring. Die leier wil Ek voorlopig self wees; volg dus My raad op en jy sal dit beslis nie betreur nie. Dit sê Ek jou, jou mees genadige Vader! Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205