LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 20

Die kosmiese lewe

(ontvang 14 Julie 1876)

Al baie het Ek julle gesê met betrekking tot die lewe, wat julle in verskillende fases gesien het hoe dit hom uiter en wat dit eintlik is, en tog kan daar nog steeds iets gesê word oor hoe die lewe, as skynbare uitstroming van `n geestelike potensialiteit, in wese niks anders is as die wilskrag uit My, wat hom in miljoene verskillende uitingsvorme manifesteer!

Om julle nou ook met die geestelike lewe vertroud te maak en julle nog duideliker die verskil tussen gees en materie aan te toon, sal die woord met die titel ‘kosmiese lewe’ julle die geestelike lewe in die algemeen en ook in die besonder nader toelig. Want dit is altyd dieselfde beginsel, dieselfde motief, dat van die kleinste eteratoom tot by die hoogste engelegees slegs My goddelike wese is, wat hom op verskillende vlakke en in verskillende vorms uitdruk; wat na ontwikkeling en vervolmaking strewe, wat geestelike vooruitgang verwek en teweegbring, en in alles sigbaar as lewe optree.

As Ek ‘kosmiese lewe’ sê, dan neem Ek die begrip op in die sin van die uit die Oudgrieks afgeleide woord, en dit beteken: `algemene lewe wat die hele universum omvat'.

Want alles wat bestaan moes `n grondgedagte gehad het waarom dit geskape word, waartoe dit bestem was en waartoe dit uiteindelik ook moes lei!

Aan die hand van julle wetenskaplike ondersoek en die daarby behorende ondersoeke, span ook julle geleerdes hulle in om alles te herlei tot die laasgenoemde grondslag, tot die kleinste en eenvou­digste basiskragte wat alles in beweging sit en tot `n einde bring. En so wil Ek julle ook die laaste dryfkrag onthul, wat die grondslag oftewel die basis van al die bestaande is en alles geleidelik vir verdere ontwikkeling voorberei.

As julle met geestelike oë na die hele universum kyk en met die krag van die gedagte deur die gebied van die oneindige eterruimte vlieg, dan sal julle daarin niks anders kan ontdek as `eteratome', oftewel die allerfynste bestanddele van materiële stowwe; maar julle instrumente soos mikroskope, elektrometers ens. sou nooit in staat wees om die bestanddele vir julle sintuiglike oog sigbaar te maak nie.

Hierdie fynste eterdeeltjies het almal in hul sentrum `n vonk van geestelike inhoud wat voortkom uit My, uit My wese, wat daardeur die ewige voortbestaan en die voortdurende aandrang tot ontwikkeling, instandhouding en vooruitgang in hul grif. In elke atoom is daar `n geestelike deeltjie van My `Ek' aanwesig, net soos daar, om dit vir julle duideliker te maak, iets in julle organisme bestaan, inwendig en uitwendig tot in die laaste en fynste uitlopers van julle senuweestelsel as gevoel in die huid, wat as grondslag van die siel geen ander doel het as om die liggaam te ontwikkel, dit in stand te hou en dit te vergeestelik nie.

Soos julle siel nou binne die gebied van julle liggaam alwetend is vanweë die fyn senuweefluïdum wat deur julle liggaam stroom en julle selfs nog soos `n newelagtige omhulsel (atmosfeer, uiterlike lewenseter) aan die buitekant omgewe, so is daar ook in elke eter­atoom iets van My aanwesig. En soos Ek in `n ander woord na vore bring, bestaan daardeur geen punt in die sigbare en onsigbare ryk van My geestelike en wêreldse skepping waar Ek nie aanwesig sou wees nie, waardeur Ek alles sien en voel wat hom voordoen.

Hierop stoel die sogenoemde alwetendheid en alomteenwoor­digheid, soos julle dit ewe-eens in julle liggaam het, slegs met die verskil dat die geestelike lewe in julle die siel en die gees - die fisieke en psigiese opbou, terwyl by My die fisieke wegval omdat Ek geen materie maar slegs die geestelike sien, ook daar waar julle elementêre stowwe meen te bespeur.

Wel nou, om weer tot die eteratome terug te keer moet Ek julle eers uitlê van welke aard die atoom is, wat vir `n missie dit het en wat die doel van sy bestaan is! Luister dan nou:

`n Eteratoom is volgens julle opvattings `n onstoflike of, met `n geleerde uitdrukking aangedui, `n imponderabele (onweegbare) ding; maar tog is dit as sodanig iets wat afgeslote en begrens is, omdat dit sonder grense tog weer in iets anders sou moet oplos.

So `n atoom het dus ondanks sy kleinheid tog afmetings na breedte, diepte en lengte, net soos elke liggaam.

In die atoom lê `n vonk van My beslote; want Ek het dit geskape, en dus moet dit iets van My en juis daarom slegs My eienskappe besit.

In die atoom lê die drang om hom verder te ontwikkel. En omdat elke atoom in kwantitatiewe en kwalitatiewe opsig verskillend moet wees van ander atome om alle elementêre stowwe te vorm wat vir die skepping van die universum nodig is, ontwikkel hom tussen die atome deur middel van die hul omgewende newelagtige omhulsels die assimilasie en die assosiasie, waarby dan die respektiewelike newelagtige omhulsels die homogene of gelyksoortige aantrek en die heterogene of vreemdsoortige afstoot. Op die manier vorm atoommolekules, en hieruit selle en kristalle; daar ontwikkel warmte, lig en lewe, en dit versnel die ontwikkeling van groter liggame.

Na die vorming van hemelliggame begin vervolgens die organiese lewe, daaruit die geestelike lewe en uit die geestelike die strewe om aan die goddelike gelyk te word, waardeur ten slotte die godsvonk wat in die kleinste atoom gelê is, uiteindelik stap vir stap weer daarheen moet terugkeer vanwaar hy uitgegaan het.

Dit spreek vanself dat Ek daar, waar Ek lewende wesens wil skep, hul natuurlik eers `n woonplek en `n aandrang moes gee, wat hul in staat stel om as individuele wesens temidde van die hele oneindigheid hul geestelik uitgestippelde lewensweg te gaan.

Aangesien Ek egter, behalwe My hoedanigheid as Skepper, soos julle uit baie van My woorde weet, ook slegs die liefde in persoon is en liefde slegs daarin bestaan om ander gelukkig te maak en in die geluk van ander, in hul saligheid haar eie geluk terug te vind, moes Ek as God van liefde vir julle `n woonplek van saligheid skep. Ek moes die wesens self, as ewebeelde van My ‘Ek’, toerus met vorms wat die liefde as die goddelike in hul sou uitdruk. En so ontstaan uit die klein eterdeeltjies die hemelliggame en na hul materiële ontwik­keling eers die lewende wesens, wat almal bepaalde eienskappe van My ‘Ek’ vertoon. En vervolgens moet, soos byvoorbeeld by julle op aarde, die mens as sluitsteen van die materiële skepping in sy missie as mens van die aarde die weg berei vir die daaropvolgende geestelike vlak as toekomstige bewoner van `n geestesryk, omdat in My ryk geen spring, maar slegs `n sagte oorgang van die een vlak na die ander, `n geleidelike vooruitgang nodig is!

So vorm en ontwikkel ook die hemelliggame uit die enorme voorrade in die eterruimte, en juis vanweë hul rondsirkel, waarby deur die wrywing by hul beweging warmte en lig ontstaan, word die kleinste atome uit hul rus opgejaag en gedwing tot `n innige samesmelting. En in hul lang omlooptye word hulle deur vlakke gevoer waar hulle steeds weer iets nuuts vind om die verbruikte aan te vul, en wel die meeste van dit wat op die voorafgaande plek nie aanwesig was nie.

Die omsirkeling van die een hemelliggaam om die ander en die ronddraaiing om hul eie as het geen ander doel nie as deur die beide beweginge lewe op te wek en lewe te versprei!

Kyk, oral is die drang om die rus te versteur aktief; want alles wat gewig het soek `n ruspunt en sou daar ook bly, as daar nie oftewel in die inwendige die drang tot ontbinding oftewel die invloede van die buitewêreld voortdurend aan sy bestaan sou skud nie.

Beweging is lewe. En al die beweging, of dit nou die groot sirkel­vormige beweging van die wêreld is of die vibrerende beweging van die lig en die warmte, moet daartoe bydra om die voorwerp of die wese uit sy slaapsug te ruk en dit te dwing tot verdere ontwikkeling en vernuwing van die vorm; want niks wat geskape is, is blywend nie, maar dit moet verder gaan deur homself voortdurend te verander.

So ontwikkel die baie miljoene sonne en planete in die groot en wye eterruimte, so ontwikkel nou nog die komete as eerste beginpunte van hele sonnestelsels en sirkel hulle in lang elliptiese bane rondom hul groot sentrale hemelliggame waaruit hulle voortgekom het. En so dra die skynbaar materiële ryk die kiem tot verdere ontwikkeling in homself, totdat ook die hemelliggame - en dit maak nie saak hoe groot hulle is nie - hul siklus voltooi het, alles in hulleself vergeestelik en verfyn het en ander verbindinge aangaan, om vervolgens dan hoër staande hemelliggame vanselfsprekend ook vir hoër geestelike wesens woonplekke te vorm.

Soos die materie van vlak tot vlak vorm gee aan die lewe wat in haar woon, totdat ook hulle van die growwe sigbare kan oorgaan na die fynere eteriese, so ontwikkel hulle ook die wesens van allerlei soorte wat hulle trapsgewys moet vervolmaak, omdat vir hul die woonplekke ooreen moet stem met hul geestelike toestand.

Soos Ek vroeër gesê het: ‘In die huis van My Vader is daar baie woninge’, so herhaal Ek dit nou: "Ja, daar bestaan baie, baie woninge of geestelike verblyfplekke, waar die ooreenkomstige geestelike wesens van die salighede sal geniet wat aan hul eie geestesgesteldheid beantwoord en daar van so `n geaardheid is en sodanig ingerig dat hulle naas die voortdurende genot ook die voorgevoel kan hê van groter salighede en suiwerder geestelike woonplekke. Want by My is geen stilstand moontlik nie, maar word deur `n steeds groter toenadering tot My die gesigsveld steeds wyer, omdat Ek oneindig is en My wêreld dieselfde karakter moet dra".

En daar sien julle dan die kosmiese lewe, vanaf die kleinste eteratoom wat hom omhoog worstel vanuit die onbewuste materiële tot by die van homself bewuste engelgees wat, met één blik die materiële wêreld oorsien, My idees kan bevat en ook die mag besit om dit uit te voer.

So bestaan die wêrelde-eilande as ‘hulsgloben’, (heelalsfere) waarvan daar ontelbare is, wat almal steeds weer as `n afgeslote geheel binne die groot geheel hul ontwikkelingsproses moet deurmaak.

Hierdie groot wêrelde bestaan dus saam met hul ooreenkomstige skepsels, waarby julle verbeeldingskrag nie toereikend is om nóg hul afstand nóg hul grootte te begryp nie; en hoewel hulle deur groot afstande van mekaar geskei is, het hulle almal in die groot eterruimte `n beweging vanuit hulleself om die wesens en bewoners wat daarop lewe vir verdere doeleindes te ontwikkel en te vervolmaak sodat, wanneer die materiële ryk eenmaal sy einde nader, uit die aanwesige materie slegs maar die heerlikste grootsheid van die geestelike tevoorskyn kan kom.

Daarom sê die Skrif: ‘By My is duisend jaar soos een dag!’. Ek sê julle egter: "By My is miljoene jare slegs een oomblik!", want daar sirkel ontelbare materiële wêrelde rond in die groot skepping, waarby die miljoene jare nie te tel is wat verbygegaan het tot hulle die vorm van wêrelde aanneem, tot hulle hul planete en komete vorm en tot hulle hul ver genoeg vervolmaak het om woonplekke vir voelende wesens te word.

Julle lewensduur, die omloop van julle aarde rondom die son, die hele omlooptyd van julle sonnestelsel rondom sy sentrale punt, dit alles is nog minder as een sekonde op die groot klok van die tyd waarmee die duur of die bestaan van My kosmiese skepping geskrywe word.

Vandaar julle verbasing en julle bewondering by die beskouing van My skepping, omdat julle `n te klein maatstaf aanlê om die skepping van `n God, `n oneindige Wese te beoordeel of te meet.

Daar bestaan sonnestelsels en hele hulsglobes, (sfere) vanwaar die lig baie miljoene jare nodig het om julle te bereik. Wat weet julle van dié wêrelde; hoe groot moet hulle wees, dat hulle slegs as die kleinste sterre vir julle sigbaar is! Waar is julle rekenkunde, wat die afstand in getalle kan uitdruk of uitspreek; waar is julle voorstellingsvermoë, wat dit waag om hom die grootte van sulke wêrelde voor te stel of te verbeel!

En tog, My kinders, ook dié wêrelde merk nog nie die uiterste grense van My skepping nie. Ver agter die ver verwyderde wêrelde staan nog kosmiese stelsels, waarvan die lig nog lank nie tot julle deurgedring het nie, en julle son en aarde sal wel nie meer bestaan voor daar van daar af `n ligstraal deur die plek vlieg waar eens julle sonnestelsel rondgesirkel het nie.

Verhef julle en bevat die uitgestrektheid, ook al is dit slegs die van die materiële wêreld; verdiep julle in die voorstellingsvermoë van die Almag wat dit skep, en wel met weinige middele, met aantrekking en afstoting, met lig en warmte; vorm julle `n begrip van die Meester en Skepper, vir wie se oog julle son met al haar planete en komete slegs as `n punt verskyn! Hy wat, as Hy nie sou wees wat Hy werklik is, naamlik `n Vader vir Sy kinders, lankal `n geslag soos die van julle tot verval moes laat kom het - `n geslag wat na alles wat Hy al daarvoor gedoen het - hom so weerspannig en ontrou teenoor Hom gedra. Begryp die liefde wat, soos Hy eens gesê het, `die son elke dag oor die goeies en die slegtes laat opgaan' en wat die mense ondanks alle dwalinge en ontkennings van die goddelike tog elke sekonde met miljoene genadegawes oorstelp!

Begryp die God, wat eenmaal in menslike gedaante na julle, swak skepsels, afgedaal het; wat julle lesse in liefde, verdraagsaamheid en vergewing nagelaat het. Verdiep julle in jul gedagtes, in Sy grootheid, Sy mag en Sy oneindige skepping, en stel daarby ook vas wat dit wil sê dat Hy, die oneindige Skepper en Meester, julle niks wil laat voel van die vir julle verpletterende eienskappe, maar dat Hy slegs julle Vader, julle liefhebbende Leier wil wees - `n Vader wat nou selfs al geruime tyd direkte omgang met julle het en probeer om julle na Hom toe te trek, om julle alle geheime van Sy ‘Ek’ en Sy skepping uit te lê en te onthul. En dit slegs maar sodat julle kan leer om Hom lief te hê, sodat julle makliker jul geestelike weg sal vind, wat uitgestippel is vir almal wat vanuit Hom en deur Hom geskape was!

Dink oor dit alles na, en wanneer julle in rustige ure jul hart tot Hom wil verhef, probeer dan om Hom op `n waardige manier te nader, want slegs so kan julle verhoring van julle verlange van Hom verwag. Want ‘Hy is `n gees, en wie Hom wil aanbid, moet Hom in gees en in waarheid aanbid!’.

Meer as duisend jaar gelede het Ek dit uitgespreek, en nog begryp julle dit nie; julle verloor jul in wêreldse sorge, vra My om onbeduidende dinge en vergeet daarby heeltemal dat julle van My afstam en eenmaal deel sal hê aan geestelike salighede, en ander, hoër missies en doeleindes het as om juis in die aardse lewe aan verbygaande dinge te hang en daarin julle hele heil te soek!

Vandaar die teleurstellings, vandaar die nie vervulde verwagtinge, want julle het nooit My nóg My wêreld begryp nie. Julle het nooit begryp dat Ek ander bedoelinge met julle het, wat dikwels teen julle verlange moet indruis omdat julle dikwels bysake as hoofsake beskou!

Ondanks alle woorde wat Ek julle tot op hede ten deel laat val het weet julle nog nie wat die ‘geestelike lewe’ wil sê, en wat ‘kosmiese lewe’ is nie!

Die algemene lewe, wat die grondwet van die hele skepping is en waarin elke ‘waarom’ sy oplossing vind - julle ken dit nie!

As julle die groot wette heeltemal sou kan deurgrond, sou julle baie makliker begryp dat geen wese hom aan die wette kan onttrek nie, en dat op elke oortreding daarvan onmiddellik die straf moet volg.

Solank julle nie by magte is om jul met groot, diepgaande denkbeelde besig te hou nie, bly julle aan die kors van die klein aarde hang en het slegs `n klein blikveld te oorsien, wat nie bokant julle huislike lewe uitreik nie.

Vandaar My woorde, My vermanings en My uitleg; vandaar My veelvuldige onthullings hoe slegs deur middel van die kleine die groote bereik kan word. Sodat julle My sal volg en ook in julle aardse lewe klein word, om vervolgens geestelik groot te word, jul te verhef en omhoog te styg na die hoogte van die menslike begripsvermoë waar julle duidelik en rustig die ontwikkelingsverloop van die materiële wêreld in die kosmiese wette leer sien, maar ook duidelik leer insien dat selfs die wette, geestelik en oneindig vir die materiële uitgangspunt, eers in die geestelike voltooiing hul hoogtepunt bereik. En op die hoogte sal julle, van vlak na vlak voorwaarts gaan en My steeds naderend, eers insien wat Ek as Skepper is!

En so word dan vanself die moontlikhede vir die liefde geskape, wanneer dit op agting gegrondves is en slegs maar die vanself­sprekende gevolg daarvan is, omdat, wanneer mens die Meester uit Sy werk leer ken het, eers goed begryp kan word welke eienskappe Hom moet versier en waarom by so `n mag nog soveel goedheid en liefde die oorhand het!

Aanvaar die woord dus weer uit My hand; dit is die Vaderhand wat julle na My wil optrek. Versmaad Hom nie, want anders sal die nadeel slegs aan julle kant wees! Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205