DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 51

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 51
4 Jan.2008 22.45
Jahshua het ‘n klont in SY regterhand en HY maak SY hand toe. Toe HY SY hand oopmaak is daar niks in SY hand nie, maar ek weet HY het die klont fyn gemaak. HY sê ek moet om my kyk en ek sien ek staan in ‘n land. Die grond is ook vol klonte. Terwyl ek nog kyk, word die grond gelyk en die saadbed is perfek om in geplant te word. Ek sien daar kom voortjies en die land is beplant. Terwyl ek so kyk, kom daar sprietjies van koring tevoorskyn en die koring groei baie mooi. Toe hulle hoog was en vol are, vra Jahshua vir my of hulle gereed is om geoes te word. Ek sê nee, omdat dit nog grasgroen is. Jahshua vra my wat hulle nodig het om ryp te word. Ek antwoord HOM – droogte of koue – ek ken nie koring so goed nie, maar weet dat dit die regte weersomstandighede nodig het. Die koring word skielik ryp en daar is rooi stropers in die land besig om die oes af te haal. Jahshua sê dat in die verlede, dit ‘n baie tydsame proses was om die koring af te haal - maaiers wat sny en gerwe bind. Dan moes dit na die skuur gedra word. Daarna kon die koring en die kaf eers geskei word. Maar nou gaan Vader dit alles met een slag doen soos ‘n stroper alles gelyk doen. Ek sien die koring in sakke. Ek vra vir Jahshua of die rooi kleur van die stropers iets beteken en HY sê dit beteken dat daar baie bloedvergieting gaan plaasvind. Jahshua vra my wat ‘n mens doen met koring wat nie vrug dra nie en ek sê dat mens dit weer terugploeg in die aarde. Jahshua sê dat dit is wat HY met die goddeloses, wat nie vir HOM vrug dra nie, gaan doen. HY gaan hulle almal weer terugploeg in die aarde. HY sê dat HY weer die lande gaan bewerk en beplant en dat HY nie weer die lande gaan oes nie. HY gaan die koring net so op die land los om saad te maak en die saad sal dan weer opkom. Die koring sal dan veelvuldig vrug dra. HY sê ook dat HY nie nodig het om die koring in te samel nie, omdat daar nie voëls of iets sal wees om SY koring te vernietig nie. Dit is die mense van die nuwe aarde en hulle sal vrug dra en daar sal niks wees wat hulle sal bedreig of bedorwe maak nie. Daar sal vrede op die nuwe aarde wees. Jahshua sê HY is die landbouer.
 
Vader dikteer:
EK is die ware Landbouer wat weet wanneer om te plant en wanneer om te oes. Die oes is al amper gereed om ingebring te word en EK sal MY stropers instuur om onder MY koring te maai. MY stropers sal EK instuur en hulle sal net die suiwer koring na MY bring waar EK hulle sal weeg en in sakke sit. Die kaf sal agter uitwaai en deur die wind verstrooi word en daarna sal EK kom met MY implemente en weer die land omploeg. Al die kaf en die wat nie vrug gedra het nie, sal dan weer in die aarde in teruggeploeg word. Is dit wreed? Is dit onregverdig van ‘n boer om die kaf weer terug te ploeg in die aarde in? Wat moet hy daarmee maak, as hy dit in sakke gegooi het? Is dit goed vir enige iets anders as om verbrand of terug geploeg te word? Nee, MY kinders dit is onbruikbaar en kan net gebruik word om die grond weer vrugbaar te maak. EK sal nie ophou om MY lande te bewerk nie en sal daarna weer MY lande beplant en hierdie keer sal al die voëls gebind wees en in hokke gegooi word, sodat hulle nie MY koring kan opvreet en beskadig nie. Daar sal ook geen slegte weersomstandighede wees wat dit tot niet kan maak nie. Dink na oor hierdie beeldspraak van MY en weet dat dit die einde van tye is. Die tye gaan buitengewoon fel wees en net die egte koring gaan in die stroperbak agterbly. Sorg daarom dat jy begin vrug dra, omdat die oestyd baie naby is.
Amen.
 
Dit is die einde van die boek van “Die bevryding” en EK sal julle nog steeds voed met ander geskrifte. Dink nie dat dit die einde van MY Woorde aan julle is nie, omdat EK oneindig is en alles aan julle bekend wil maak wat julle nodig het om vir MY vrug te dra. Niemand kan sê dat hy nie geweet het nie en niemand kan sê dat EK nie genadig is nie, omdat EK MY weer oor julle ontferm en julle sál gered word. MY kinders, wees net getrou en eet MY Brood wat EK aan julle gee, want dit gaan vir julle die lewe gee.
Amen.
DIE EINDE

 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205