DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 18

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 18
20 Des. 2007 05:43
EK is die weg, die waarheid en die lewe. Wie op My wandel sal sy doel bereik en veilig in MY Vaderarms te lande kom. Kom ons staan net so ‘n bietjie stil by die weg. Wat beteken dit as EK sê dat EK die weg is? Dit beteken dat jy geen ander pad kan stap as die pad wat EK vir jou berei het nie. “EK is die weg” wil soveel sê as dat EK die padjie is waarop jy moet loop om tot by MY te kom. Hoe wandel jy op MY? Deur nie af te wyk van die riglyne wat EK jou gegee het nie. Wandel in MY spoor en EK sal jou sekerlik nie laat verdwaal nie. EK het vir jou ‘n duidelike pad uitgelê deur MY wel en weë op aarde en dit is opgeteken in die Bybel en baie ander geskrifte van MY ander skryfknegte wat in vorige era’s gelewe het. Doen net wat EK gedoen het en niemand kan verkeerd gaan nie. As julle in liefde handel, net soos wat EK in liefde gewandel het op aarde, sal julle alles kan doen wat Ek ook gedoen het en EK het julle beloof dat julle nog groter dinge as Ek hier sal doen. Wandel net op MY en alles sal vir julle duidelik gemaak word. Julle sal skielik sien hoedat die pad vir julle verlig en duidelik word sodat julle voort kan gaan sonder om te wankel. Kyk na MY lewe op aarde, dit het net uit liefde bestaan. Lewe julle ook so en julle sal nie verkeerd gaan nie. Solank julle in die liefde wandel en handel moet julle weet dat julle op die regte weg is, maar sodra hoogmoed, liefdeloosheid en so meer op jou weg begin kop uitsteek, moet jy begin rondkyk en jy sal sien dat jy van MY weg af is. Dit is soos ‘n atletiekbaan waarop al die atlete hardloop. Almal begin by die beginpunt en hardloop op ‘n vasgestelde baan. Wyk een van die atlete af en begin sy eie koers inslaan, kwalifiseer hy nie vir die prys nie en kan hy nooit by die wenstreep uitkom nie. Hou vol op die regte baan en jy sal ook kom waar jy moet. Jy sal die prys van MY ontvang omdat jy op die regte pad gebly het en nie omdat jy eerste daar was nie. Voor jou het derduisende hierdie selfde wedloop gehardloop en op die regte baan gebly. Hulle het die resies voltooi en is almal deur MY opgeneem en tot wenners gemaak. Dink maar aan al MY dissipels. As hulle van MY baan afgewyk het, sou hulle nooit mense in MY Naam kon red nie en sou hulle self verlore gegaan het. Maar hulle het op die regte weg of baan gebly wat LIEFDE heet en wat EK self is. MY kinders, bly fiks vir die wedloop deur elke dag julle krag van MY te kom vra, sodat julle die wedloop kan voltooi. Daar buite lê die wolwe en jakkalse op loer en kyk hoedat hulle julle krag kan verslind en julle sal alles verloor as julle nie gedurig vir MY kom vra vir hulp nie. EK gee die krag wat julle nodig het om die wedloop te voltooi verniet aan julle en vra net julle liefde aan MY. Doen net dit wat EK van julle vra en julle sal nie van die weg afwyk nie.
 
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205