DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 2

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 2
12 Des. 2007 05:52
Tussen julle mense heers daar baie misverstande wat deur MY oopgekrap en verwyder moet word, omdat dit baie van julle weerhou om direk na MY te kan kom. Julle dink byvoorbeeld dat EK nie ‘n Ewige God kan wees nie, omdat EK deur die mensdom gekruisig en gedood is. Baie van julle wat nou hier lees kan nou nog nie verstaan waarom EK MYSELF laat doodmaak het deur klein nietige mensies nie. EK het dit verduidelik in die boek “Op Golgotha”, maar EK sal dit nou weer ‘n keer duidelik maak. EK het as mens na hierdie aarde gekom om die mense van daardie tyd te bevry van hulle nood en angs wat geheers het, as gevolg van die misbruik van die tempel. Dit was een rede vir MY koms op daardie tydstip. Daar is nog baie ander redes ook. Die mense van daardie tyd het My gesien as ‘n wraaksugtige God wat alles wat leef en beef oordeel met die ewige dood. Nêrens was daar iemand wat geglo het dat EK Liefde is nie. Hulle het ‘n heilige vrees vir My gekoester, omdat die tempel dit ook so aan hulle weergegee het, om sodoende die mense oor te haal om hulle offergawes gereeld aan die tempeldienaars te oorhandig. Gereeld is daar vertel dat EK woedend is oor ‘n daad deur iemand en dat hy dan baie moet offer om My weer gelukkig te maak. Dit was dan waarom die mense MY so gevrees het. EK moes dit kom regstel en MY Naam weer onder die mense in liefde kom vestig. EK wil nie hê dat mense My uit vrees moet aanbid nie. EK wil geheel en al oorgawe uit liefde uit hê. Dit is dan waarom EK as mens tussen hulle geloop het. EK het siekes gesond gemaak en die mense van hulle blinde vrees vir God genees, sodat die wat MY leer ken het, MY lief gekry het met hulle hele harte. Hulle liefde vir My was so groot, dat hulle later ook self hulle lewens vir MY gegee het, tydens die groot moord op My kinders in daardie tyd. Gewillig en sonder dwang het hulle vir MY gely en ook gesterwe. Dit is hoe EK almal wil hê - sonder dwang en sonder vrees. Met MY menswording op hierdie aarde het baie MY leer ken as ‘n baie sagmoedige mens wat alles vergewe wat gedoen word teen My. Hulle was altyd onder die verkeerde indruk van MY en daarom moes EK hulle kom reghelp. Nou moet EK julle weer kom reghelp, maar kom nie in die vlees nie, maar in die Gees, deur middel van My skryfknegte wat MY Woorde aan julle neerpen. Ek wil julle van al die misverstande bevry en deel julle hierdie brokkie mee. Tydens MY verblyf op aarde was daar ‘n man wat baie diep onder die verkeerde indruk van God Elohim was. Hy was onder die indruk dat hy oombliklik met vuur verbrand sou word wanneer hy eendag voor HOM sou staan, omdat hy eendag ‘n tyd, voordat EK by hom gekom het, sy verlowing met ‘n meisie verbreek het, omdat hy gevoel het dat hy haar nie lief genoeg gehad het nie. Die meisie se ouers was gesiene mense onder die volk en het met behulp van die tempel aan hom vertel dat hy met haar sou moes trou, omdat die vuur van My wraak oor hom sou wees indien hy dit nie doen nie. Hy moes elke maand ontsaglike bedrae aan die tempel gee sodat “My vuur” net nog so ‘n rukkie weg sou bly. Hy kon egter nie oorreed word om wel met haar te trou nie en hulle was diep gekrenk daaroor. Sonder dat die man My geken het, het Ek eenmaal na hom gestap en met hom begin gesels oor die “vuur” van God. Dit was vir hom ‘n baie stekelrige sakie en hy was baie bang in sy binneste. EK het aan hom vertel dat die vuur van God maar net die reinste liefde was en dat dit nie ‘n felle vuurvlam was wat uit die hemel op hom sou neerreën soos wat aan hom vertel is nie. Hy was aan die begin maar taamlik skepties en wou My glo, maar sy vrees was een teveel vir hom en hy het na maande se teistering in trane uitgebars en voor My voete neergeval. Hy was ‘n baie gelowige man en het absoluut geglo dat Die God van Israel hom sou straf. EK het hom opgetel en sag met hom gepraat, omdat hy vertroosting nodig gehad het. Hy is in My arms na ‘n sagte kol groen gras gedra waar Ek hom neergelê het. Nadat EK hom met koel water gelawe het, het hy bygekom en was verheug om te sien dat hy nie meer in die stofstraat gelê het nie. Hy het in My vriendelike gesig vasgekyk en EK het aan hom bekend gemaak dat EK die Verlosser van Israel was. Dit was alles aan hom bekendgemaak, net deur die gees en hy kon dit in My oë sien. Hy is vervul met ‘n groot liefde vir MY en het daar opgestaan sonder ‘n sweempie van vrees meer. Hy het na My gekom en My omhels wat My liefde aan hom nog meer bevestig het en hy is deur My van al sy misverstande bevry. Daar het geen vrees meer hoegenaamd in hom agtergebly nadat EK met hom klaar was nie en met nuwe lewe kon hy voortgaan sonder enige twyfel. EK het My Naam in ere herstel by hom. Hy het besef dat My Naam net Liefde was en het verder daarop gebou, sodat hy later een van MY kosbare dissipels geword het. Daarom wil Ek ook MY Naam in ere by julle kom herstel, sodat julle MY ook nie meer uit vrees dien nie, maar uit liefde. EK is sagte tere Liefde wat nooit ophou nie en sal julle almal so aan My bors vashou soos daardie man uit MY tyd op aarde. Geeneen van julle sal deur My verwerp word, omdat daar misverstande oor My in jou is nie en daarom kom EK dit nou alles aan julle verduidelik. My kruisiging was dan ook so ‘n daad van liefde, omdat My kruisigers en pynigers dan ook deur My dood tot ander insigte gebring is. EK het hulle almal so liefgehad dat EK Myself in hulle hande oorgegee het om gemartel te word. Hulle het toe ook later besef dat EK liefde was en is. Hulle is almal deur My ook gedra, al was hulle verantwoordelik vir My liggaamlike dood. Baie van hulle het dan ook heeltemal omgeswaai en hulle harte aan My gegee. EK was sagmoedig, selfs tydens My marteling, en het niemand kwaai aangekyk nie en dit het al beroeringe in sekeres van hulle teweeggebring. Hulle is eers na My dood gered en oortuig van My Goddelikheid. Met ‘n nuwe uitkyk op die lewe en ‘n ander opinie oor My is hulle ook na My gebring, waar hulle voor My voete neergeval het en na My geroep het om vergifnis. EK het hulle almal vergewe en met My opstanding was hulle ook teenwoordig waar hulle My weereens om vergifnis gesmeek het. EK vergewe almal wat in ware berou na MY kom en so is hulle ook vergewe en gered deur My kruisiging. Dit was een van die redes vir My kruisiging. EK is deur hulle gemartel en gekruisig en het hulle daardeur ook gered, omdat hulle My sagmoedigheid raakgesien het. As julle getrou op My wag, sal EK alle misverstande vir julle opklaar en julle sodoende daarvan bevry.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205