DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 34
29 Des. 2007 06:07
Ek staan saam met Jahshua op ‘n grasveld en HY wys my weer ‘n dam. Maar dit is ‘n aaklige dam. Die water is pikgitswart en daar dryf dooie mense op en daar is verskriklike vuilis in die dam. Daar is mense in die dam wat nog lewe en hulle hou aan roep om hulp. Ek moes invlieg (as arend) om hulle te gaan uithaal en bring hulle toe uit. Hulle staan daar eenkant en bibber. Hulle is vreeslik vuil en daar kleef sulke swart goed wat amper soos paddaslyk lyk aan hulle. Hulle wag op Jahshua en toe HY naderkom, val hulle almal op hulle knieë neer en bid en huil deurmekaar. Jahshua gooi ‘n kommetjie vol bloed oor hulle en hulle is skielik spierwit aangetrek. Hulle staan ook sommer regop en loof en prys HOM. Hulle word toe weggevat na ‘n plek wat spesiaal vir hulle reggemaak is. Die dam begin opdroog en daar word ‘n baie groot hoop sand op die dam gegooi sodat daar nie eers meer sprake van ‘n dam is nie.
 
Vader dikteer:
Die wat nog in die wêreldse vuil sit en graag daar uit wil kom, sal deur MY daar uitgehaal word, sodat hulle nie saam met die ander in die vuil water verdrink nie. EK sal die wat na MY roep nooit vergeet nie, al is dit die sagste geroep. Julle sal almal deur MY begenadig word, al word julle op die laaste oomblik gered. Daar is baie mense wat tot op die laaste in die vuil water van die wêreldse dam sal staan en dan sal EK MY arende instuur om hulle daar uit te gaan haal. EK sal hulle reinig en hulle vat na die ryk wat EK spesiaal vir hulle berei het, waar hulle gelukkig sal wees. EK sal elkeen reinig wat na MY kom en nie een sal deur MY verwerp word nie, omdat Ek genadig is. Gaan die wêreld in en help die wat gehelp wil word, maar los die wat nie julle hulp wil hê nie. EK sal aan julle uitwys wie dit is wat gehelp wil word en die res van die mense moet julle los. Daar is ‘n rede daarvoor. Die tyd is min en as jy die tyd verkwis deur mense wat nie gehelp wil word nie, te probeer help, sal daar ander verlore gaan wat wel gehelp wil word. Gee net aandag aan MY stem en Ek sal julle die regte weg aanwys. MY bloed is vir almal wat MY verlossing wil aanvaar gestort, maar vir die wat dit verwerp, sal dit ook nie gebruik word nie. Hulle sal dan nie deur MY bloed verlos en gereinig word nie, omdat dit vir hulle geen nut het nie. Kom MY kinders, gaan in opdrag van MY net na die wat EK julle aanwys, of op julle pad bring en los die ander wat MY verwerp. Julle kan nie sien wat in iemand anders se hart aangaan nie, maar EK kan en sal daarom nie tyd aan hulle spandeer nie. Daar is baie kere al uitnodigings van MY kant na hulle gestuur, maar hulle weier halsstarrig om na MY te kom. Daarom sal EK nou net na die gaan wat na MY roep. Al is die roep ‘n fluister, sal EK kom en red, want EK is Verlossing vir selfs die grootste sondaar wat MY kom soek. Moenie sleg voel oor die wat in die dam agterbly nie, want hulle is reeds dood en wil nie tot lewe gewek word nie. Dit is hulle keuse. Red liewer die wat nog ‘n laaste bietjie asem oor het om na MY te roep. Dit sê EK nie uit ongenadigheid nie maar weens liefde vir elke sondaar wat na MY wil kom.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205