DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 37

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 37
 30 Des. 2007 06:00
Ek is saam met Jahshua op ‘n pragtige grasvlakte en HY wys my die son en vra of ek in die son kan kyk sonder dat my oë seer word. Ek kyk en my oë word nie seer nie. HY wys my hoe die son die blomme om ons verlig en die mooi kleure van die blomme uitbring. HY sê dat Ons na ‘n nabygeleë watervalletjie moet gaan en ek hardloop vooruit, net soos ’n klein dogtertjie wat baie bly is. Ek het baie lief geword vir hierdie watervalletjie. Ek draai om, om te kyk waar Jahshua is en voel sleg omdat ek sommer net gehardloop het. HY is nie agter my nie en toe ek by die watervalletjie kyk, sien ek HY is reeds daar met ‘n glimlag op SY gesig. HY sê ek moet oor die water na HOM kom, en ek is skielik in SY arms. HY vra my wat ek in die poeletjie sien en ek kyk, maar kan eers nie mooi sien nie. Dit is dieselfde stad wat ek nou al ‘n paar keer gesien het. Jahshua gee my geen verduideliking nie en sê dat ek moet kom tik wat ek gesien het.
 
Vader dikteer:
Deur julle liefde vir MY laat ek die son oor julle skyn. EK is die son wat oor julle skyn en die wat MY nie liefhet nie, wil graag in die grootste duisternis lewe. MY kinders, kom staan in die Son sodat EK julle ware kleure kan uitbring en julle harte soos diamante kan skyn en alles om julle kan verlig met julle helder kleure. EK het julle baie lief en nooi julle uit om na MY te kom sodat EK julle almal se harte kan verander in die mooiste diamant. EK wil julle laat skitter in die Son en julle so mooi maak dat julle ander na julle aantrek met julle mooi kleure. Die kleure wat julle sal uitstraal sal die volgende wees. Rooi - dit staan vir liefde en niemand kan liefde weerstaan nie. Oranje - dit staan vir vrolikheid van hart. Wie hou nie van ‘n vrolike persoon nie? Geel - dit beteken die uithouvermoë en lydsaamheid. Dit sal julle self baie nodig hê in die tyd wat kom en wanneer ander julle lydsaamheid sien sonder om te kla, sal dit hulle aanspoor om ook alles te kan verdra wat EK op hulle pad bring. Groen - dit is die geloof. Glo alles wat EK julle leer en julle sal ander ook aanspoor om in die geloof te volhard.Blou - Dit is die vrede wat in jou hart heers oor alles wat nog gaan kom en wat reeds besig is om te gebeur. As ander die vrede in jou en in jou huis sien sal dit hulle ook rustiger stem, al is hulle nog bang vir die toekoms. Indigo - dit is die vriendelikheid wat sag uitgestraal moet word na ander wat ook ly en wat jou kom vra vir iets wat hy nodig het. Gee, MY kinders, gee aan almal wat iets nodig het, al is dit jou laaste stukkie kos. EK sal mildelik voorsien. EK het net gister vir MY skryfkneg wat iets nodig gehad het, gesê dat sy nie altyd geld nodig het vir dit wat sy nodig het nie. Voor die dag om was het sy dít gehad waarvoor sy MY vroeër die dag gevra het. EK hou alles in MY hande en dit sluit enige voedsel ook in. Violet - Dit is die wonderlike eienskap van geduld. EK is geduldig en sal nooit MY geduld verloor met iemand wat MY probeer kwaad maak of selfs uittart nie. EK sal nie op so ‘n persoon skree en hom beledig nie. Selfs nie eers die satan het die vermoë om MY uit te lok om MY geduld te verloor nie. Wat wel gebeur is dat EK net daardie persoon van sy eie medisyne teruggee met die grootste liefde in MY hart omdat EK hom wil leer. Hy leer dan gou om MY nie aan te sien as sy speelmaat nie en kry vinnig respek wat dan ook later kan omsit in liefde vir MY. Dit hang van daardie persoon self af. Maar dit is nooit uit humeurigheid dat EK iets doen nie. Humeurigheid is iets wat glad nie by enige iemand hoort nie. EK is julle voorbeeld van hoe julle moet leef en as julle geen slegte humeur by MY bespeur nie, moet julle self ook nie ‘n slegte humeur hê nie. Dit geld vir enige ander eienskap ook. As julle vind dat julle nie hierdie sewe pragtige eienskappe besit nie, kom dan na MY sodat EK jou onder MY waterval van liefde kan reinig, en jy sonder smet en met al die pragtige eienskappe wat EK hier genoem het, voort kan gaan. Die aarde sal ook so deur MY in die reinigende water skoon gemaak word, sodat sy weer ‘n geskikte, gereinigde plek sal wees vir die uitverkorenes van die nuwe aarde. Julle weet nie wat vir julle voorlê op die nuwe aarde nie en sal stom van verbasing wees as julle dit kan aanskou. Gee alles vir MY sodat Ek dit vir julle nuut kan maak, en julle dit in die beste orde kan terugkry. Vertrou MY met alles en wees net geduldig, EK maak alles nuut.
Amen.
 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205