Saturnus
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53.

Hoofstuk 34 Die huishoudelike grondwet van die Saturniete Die planting van `n tempel Die belangrikste wet van emigrasie Wees lief vir die naaste en liefdadigheid 1. Wie is die hoof of prinsipaal van so `n groot familie of kommune in die Hooglande? 2. As dit gebeur dat die voorvader nog lewe, bly hy steeds die hoof en hoëpriester van die familie solank as wat hy lewe. Wanneer hy te sterwe kom en daar is twee of meer seuns, word die oudste seun gekies as hoof van die huishoudelike, sowel as die geestelike sake. Wanneer die oudste seun sterf en een of meer broers is nog in die lewe, dan sal die oudste oorblywende broer altyd die hoof word. Wanneer die laaste van die broers sterf, dan sal die eersgebore seun van die oudste van die broers die hoof word; met ander woorde, die broer wat die hoofskap van die familie oorgeneem het van die voorvader. Onder hierdie voorwaardes bly die oudste in die familie altyd die hoof van die familie. 3. Wanneer `n familie nie so talryk is nie, dan word die oordrag van die verpligtinge as hoof van die familie van een lid na die ander somtyds opgevolg tot in die sewende geslag, in sommige gevalle selfs tot in die tiende geslag. Wat gebeur wanneer `n familie te talryk word wanneer dit die vyfde generasie bereik? Op hierdie stadium vind daar `n skeiding plaas wat op die volgende wyse plaasvind: Die oudste broer neem die familie se verant¬woordelikhede oor, waar die twee jonger broers, nadat hulle `n bruidskat gegee is deur die broer wat oorbly as hoof van die groter familie, hulle familielede neem en die blyplek met hul besittings verlaat op soek na `n ander onbewoonde boomwoning (Gliuba). Nadat hulle so `n boom gevind het, doen hulle hul dankseggingsgebede en onder die leierskap van die oudste, versoek hulle die Groot Gees om hulle lewende woning, asook hul ander woonplekke, te seën. 4. Nadat hierdie gebed gedoen is, neem die oudste verskeie treë na die kant toe en bid alleen. Hy vra dan die groot Gees om hom met `n Gees van Lig te voorsien, dieselfde wat die Groot Gees vir sy vader en voorvaders gedoen het en dat hierdie Gees te alle tye die wil van die Groot Gees aan hom sal voorhou! Gedurende hierdie gebed, lê al die familielede op die grond met hulle gesigte na onder. Die oudste hou nie op met hierdie smeekbede alvorens die Groot Gees nie die verlangde Gees van Lig gestuur het nie. 5. Wanneer die Gees van Lig verskyn, vra die oudste die Gees om die nuwe onbewoonde boom te seën in die Naam van die Groot Gees en om hom eerste in die boom in te neem en aan hom die plek te wys wat hy sal beset as die hoof van die familie. Wanneer dit klaar afgehandel is, bedank die oudste die Groot Gees in die teenwoordigheid van die Gees van Lig vir hierdie groot seëning. Dan word die oudste deur die Gees van Lig na onder gelei na die plek waar die Gees van Lig die eerste keer aan hom verskyn het. Hier verlaat die Gees van Lig hom, maar nie alvorens hy sy wil versterk het nie. 6. Versterk in sy Innerlike op hierdie manier, keer die oudste terug na sy familie, wat nog steeds met hulle gesigte na onder lê en spreek met `n sterk stem tot hulle, waardeur hulle opstaan en die Groot Gees prys vir so `n groot seën wat oor hulle uitgestort is, deurdat hy aan hulle hul eie verligte patriarg gegee het. 7. Wanneer dit alles afgehandel is, ken die oudste die die takke toe aan die vaders van die families en hulle neem dit met groot dankbaarheid in besit. Die takke word skoongemaak en gereed¬gemaak vir besetting. 8. Tydens so `n geleentheid, wat nie so baie op Saturnus plaasvind nie, is almal baie gelukkig en opgewonde. Hulle het `n leefbare boom, maar het nog nie hulle lewende huise om in te leef en hulle stoorkamers nie. Dit is waarom daar op die eerste dag nie baie bereik word nie, want alles word behoorlik in berekening gebring, beplan en bespreek, maar altyd onder die leierskap van die oudste, want niemand sal iets doen sonder sy goedkeuring nie. 9. Met dagbreek die volgende oggend, begin hulle onmiddellik die areas vir die huise opmeet wat nog gegroei moet word. Die oudste seën dan die erwe en die sade van daardie bome wat geskik is om sulke lewendige huise te groei en dit word op die korrekte wyse in die grond geplaas. 10. Sodra hierdie werk voltooi is, wat nie meer as een dag in beslag neem nie, gaan hulle die volgende dag na die woud om die regte hout te kap vir die bou van die voorraadkamers. Die huisdiere help ook met hierdie werk. Horud, die Saturnus leeu, wat halfmak en halfwild is, sny die grootste boomtakke van die piramideboom met sy sterk snawel en die welbekende huis¬bediende, Fur, tel hierdie takke op en dra dit na die plek wat deur die mense aangedui word. 11. Sodra al die benodigde hout op die bouperseel is, word dit behoorlik skoongemaak en die stoorkamers word gebou. 12. Wanneer dit gedoen is, word die diere se stalle en die tuine aangeplant. Ook word `n redelike wye dam rondom `n reënboom gebou sodat water opgevang kan word sodat `n dammetjie kan ontstaan. 13. Sou daar enige berg fonteine naby wees, bou hulle eenvoudige waterleidings waardeur die water na die hoofwoning gelei word. Hierdie waterleidings word gebou met die Stokslakke wat alreeds hierbo genoem is. As hierdie skulpe nie beskikbaar is nie, word die vrugte van die tregterboom gebruik. 14. Nadat dit afgehandel is, word ander eiendomme opgemeet en hulle bruikbaarheid word bepaal. En wanneer al hierdie toekennings afgehandel is en sou daar gedeeltes van die woud of tregterbome te naby hierdie eiendomme wees, word hierdie bome afgekap en die woud word skoongemaak tot so `n mate dat hulle die regte grootte vir die eiendom het. Wanneer dit ’n aanvang geneem het, word aan die bogenoemde diere hul take toegewys. Die hout word aan die endpunte van die eiendom opmekaar gepak om droog te word om later as vuurmaakhout te dien. 15. Wanneer hierdie werk voltooi is, word die eiendomme deur die patriarg geseën en allerhande vrugtesoorte word gesaai. Hierdie saaiery vind gewoonlik elke tien jaar plaas op hierdie planeet. Een saaiery is egter heeltemal voldoende vir alle toekomstige oeste waar die grond vrugbaarder is, want die wortels van die plante op Saturnus vrek nie so maklik nie, maar bly lewendig in die grond, soos die wortels van so baie struike en bolplante op aarde. 16. Wanneer hierdie werk voltooi is, naamlik die laaste stukkie werk om die grond voor te berei vir die oes, kom die familie byeen om `n gebed van danksegging te bring aan die Groot Gees en aan die einde van hierdie gebed smeek hulle hom om oor al hierdie vrugte en oor al hulle arbeid voorspoed uit te giet wat Sy seën dra. 17. Sodra hulle hierdie gebede van danksegging en smekinge afgehandel het, begin hulle met die belangrikste werk, naamlik die aanplanting van die tempel, waarin hulle aan die Groot Gees `n offerande bring wat vir Hom welgevallig sal wees. Dit word uitgevoer deur die patriarg en twee van die oudstes en niemand anders word toegelaat om sy hande aan hierdie heilige werk te slaan nie. 18. Waar begin hulle met hierdie werk? By hierdie geleentheid gaan die patriarg na die plek waar die boodskapper van die anderkant die eerste keer verskyn het en hy smeek die Groot Gees om barmhartiglik aan hom te toon, deur die Gees van Lig, waar Hy, die Groot Gees, die tempel opgerig wil hê. Wanneer die patriarg die Groot Gees lank genoeg versoek het en niemand verskyn nie, bou hulle die tempel op die plek waar die Gees vir die eerste keer verskyn het. Indien die Gees egter verskyn, lei hy die patriarg na die plek waar die tempel gebou moet word, of die patriarg sien die Gees alreeds op die plek waar die tempel gebou moet word. Die patriarg gaan dan na die plek waar die Gees wag om die buitelyne van die tempel aan hom te toon. 19. Op die plek waar die Gees wag, word `n merker op die grond geplaas. Dit is waar die verhoog gebou moet word waarvandaan die patriarg sy familie sal onderrig. Terselfdertyd word hy deur die hemelse boodskapper `n plek aangewys in die rigting na die agterste uitgang, waar die patriarg, nadat hy op die korrekte wyse die Groot Gees genader het, die wil van die Groot Gees sal leer deur middel van die hemelse boodskapper. 20. Nadat dit alles afgehandel is, word die Gees onsigbaar. Die patriarg gee `n teken, om dit so uit te druk, van man tot man deur `n aantal boodskappers wat op `n sekere afstand van mekaar wag reg tot teenaan die woonhuis boom, met die boodskap dat hy toestemming het van die Groot Gees om `n tempel te bou op daardie spesifieke plek. Hy vra hulle om die Groot Gees saam met hom te bedank vir so `n groot seën en hulle smeek Hom dat die sade wat die tempel sal laat groei, geseënd sal wees en binnekort sal floreer en dat Hy almal waardig sal vind om aan hulle Sy heilige Wil bekend te maak. 21. Hierdie gebed is baie plegtig en sodra dit voltooi is, roep die patriarg twee of drie van die oudstes nader en gee saad aan hulle waarop die Gees geblaas het. Hierdie sade word in die grond geplant om die tempel te laat groei. Die oudstes begin onmid¬dellik met hul werk en plant die sade van die manjifiekste en pragtigste boomspesies met die grootste toewyding en vertroue. 22. Die twee of drie oudstes plant die voorste deel van die tempel wat geoormerk is vir die mense of familielede, waar die patriarg die heiligdom van die tempel beplant, wat merendeels bestaan uit Straalbome (Bruda), terwyl die ander dele van die tempel gewoonlik bestaan uit Spieëlbome (Ubra). 23. Buiten die eliptiese eiervormige bou van die tempel, word `n sirkel van die edelste soort van die Muurboom (Brak) geplant, op die korrekte afstande van mekaar, in stede van ’n ringmuur. Hierdie tipe edele boomsoort word deur sy bas onderskei van die gewone tipe. Die bas van die gewone soort lyk soos goud, waar die bas van die edele soort soos vele reënboë lyk, een bo-op die ander. Die kleure het `n baie lewendige metaalagtige glinstering. Die blare aan die bokant het byna die vorm van aalwynblare, behalwe dat hulle grootte in verhouding is met alles anders op hierdie planeet. Hulle kleur is skitterend wit. Die bloeisel is dieselfde as die gewone Muurboom s’n, maar meer delikaat met `n uiters lieflike geur. 24. Wanneer hierdie tempelbouers hulle werk voltooi het, bedank hulle weereens die Groot Gees vir die energie en die insig wat hulle in staat gestel het om hierdie tempel te bou en hulle vra Hom om die sade te seën, sodat die tempel perfek van die geplante saad sal groei. 25. Na afloop van hierdie danksegging en smeekgebed, verlaat hulle die bouperseel met groot eerbied en stap agteruit meer as halfpad vanaf die muurboom. Hulle buig en keer dan terug na hul woning. 26. Wanneer hulle hul woonplek bereik, versoek hulle die ander om van die grond af op te staan en om op te klim na hul toegewysde takke van die boom waarin hulle gaan woon. Dan eet en drink hulle nadat die oudste in die familie hulle voedsel geseën het, omdat, terwyl die tempel geplant was, wat vir die Saturniete een van die grootste geestelike rituele is, word geen voedsel of drank ingeneem nie. 27. Na die ete, wat onder hierdie omstandighede, sowel as op spesifieke geestelike dae, in die aand gevier word, herinner die oudste alle familielede dat hulle ernstig hulle wil moet verenig met die Wil van die Groot Gees en dat hulle nou geen ander wil behoort te hê as dat die sade van die tempel binnekort op `n wonderbaarlike manier sal floreer nie. 28. Deur so `n vermaning sal elke Saturniniese inwoner sy wil aanbied en die grond waar die tempel se saad geplant is, verkwik. En julle kan dit maar glo: Die omstandighede rakende so `n gebeurtenis is absoluut wonderbaarlik, want die besaaide tempel staan baie dikwels die volgende môre daar in al sy glorie, heeltemal volledig, wat vir julle onverklaarbaar sal wees. 29. Wanneer die familie hierdie tempel sien, vind daar aan hulle toegewyde vreugde en lofprysinge geen einde nie. Hierdie vreugde, lofprysinge en verheerliking duur somtyds vir etlike dae en nagte aaneen. 30. Waarom is hierdie mense so bly wanneer hul tempel so goed en so vinnig gegroei het? Daar is meer as een rede vir hul vreugde. Die hoofrede is dat hulle nou oortuig is dat die Groot Gees met hulle is in hulle nuwe woonplek, soos wat Hy was in hulle ou woonplek. `n Tweede rede is dat hulle hierdeur weer¬eens `n plek het waar hulle kan en toegelaat word om die Groot Gees te nader deur hul patriarg. En die derde rede is dat hierdie familie, wat nou afgeskei is van die hoof familie, deur middel van hierdie tempel natuurlik verblydend is vir die Groot Gees. 31. Daar is ook nog `n ander rede, maar een wat nou verbonde is aan die derde rede en dit is dat die hele gemeenskap nou die gevolgtrekking kan maak dat hierdie nuwe eiendom wat hulle beset regtens hulle eiendom is en daarom `n plek van bly¬wendheid. Maar wanneer `n tempel nie so vinnig groei nie, dan is die eiendom, vanaf hulle standpunt gesien, nie regtens hulle eiendom nie omdat indien iemand anders kom en sê dat hierdie eiendom voorheen sy besitting was, moet hulle te alle tye voorbereid wees om onmiddellik daarvan afstand te doen sonder enige teenkanting en moet dan weer iewers na `n ander eiendom gaan soek. 32. Maar wanneer daar eers `n tempel is, verloor enige vorige eienaar alle regte op hierdie eiendom. Hy sal nie, by die aanskouing van so ’n nuwe tempel, die geringste aanspraak maak vir die restitusie van hierdie eiendom nie. Op Saturnus is die grootste wet wat bestaan as volg: 33. Wat die Groot Gees ookal aan iemand gegee het, behoort onvoorwaardelik aan hulle wie dit van Hom ontvang het. En geen wese in die hemele, geen Gees van Lig en geen wêreldse skepsel het die reg om hierdie hoogste van alle geskenke te betwis nie. Wie dit ookal sal doen, sal uitgeban word na daardie streke van die planeet waar niks anders op hom sal wag as ewige koue, ewige ys en ewige sneeu nie. 34. Elke persoon op Saturnus ken hierdie wet. En daar is feitlik geen wet wat meer gerespekteer word as juis hierdie een nie. Om hierdie rede is daar nooit ooit enige eienaarskap dispute hieroor nie, veral onder die bergbewoners, want onder mekaar handhaaf hulle altyd die beste orde. 35. Aangaande die verhoudinge tussen bure, is daar geen werklike grense nie; instede, waar iemand homself ookal vestig, is dit sy eiendom, want elke mens dra die getuienis van die Groot Gees in homself en dit is voldoende vir hom sodat hy na enige plek op hierdie totale hemelliggaam kan reis. 36. Indien dit sou gebeur dat `n kontinent soms oorbevolk raak, sal verskeie families saamgroepeer en hulle tuisland verlaat op skepe wat ons al in ’n ander hoofstuk bespreek het en hulle sal beweeg na `n ander land op Saturnus. Sodra hulle hierdie land bereik, sal hulle na ’n geskikte woonplek soek. Wanneer hulle so `n plek gevind het, het hulle die reg om vir `n hele jaar daar te woon en te gebruik wat die aarde ookal aan hulle bied. 37. Sou die saailinge van die tempel floreer soos voorheen beskrywe, of sou die tempel geleidelik groei op die natuurlike manier en indien die familie wat emigreer het, die bouperseel van die tempel kan toon aan die afgesant van daardie land se inwoners, wat vir hierdie doel na hulle gestuur is en as hulle kan bewys dat al die bome van die tempel baie goed groei, dan word hulle onder hierdie omstandighede die eienaars van die eiendom wat hulle beset. En die vorige eienaar het nie meer enige regte op die eiendom wat die nuwelinge in besit geneem het nie, behalwe die reg van vriendskap. 38. `n Mens op Saturnus sal nooit die reg tot vriendskap aan iemand anders ontneem nie. Hy vestig onmiddellik `n vriendskap, waarop die patriarg van die nuwelinge tot die afgesant van die land se inwoners spreek: 39. “Broeder in die Groot Gees, neem waar hoe jou oë my ondersoek, maar niks vind wat hul die toegang tot my persoon kan weier nie en met dieselfde teken sal jou hart niks in my hart vind wat jou enigiets sal weier wat jy benodig nie. Dit is waarom jy `n broeder vir my is in die Groot Gees.” 40. Nadat hierdie woorde gespreek is, omhels hulle mekaar. Hierdie omhelsing is `n permanente dokument van volledige gemeenskaplike eiendom van twee sulke families, waarop die afgesant die hele nuut aangekome familie uitnooi om gebruik te maak van sy woning, totdat die nuwe eiendom in alle aspekte volgroeid is. Kort daarna volg die nuwelinge die gesant, wat gewoonlik self `n oudste is, na sy woning. 41. So `n gebeurtenis is te alle tye ’n groot gedenkwaardigheid. Want vir die Saturniete is daar byna niks groter of meer verhewe as om `n broer in die Groot Gees te vind op `n ander kontinent of in die land waarheen hulle geëmigreer het. Dit is hoe die Saturniete mekaar aanspreek. 42. Sou dit gebeur dat die nuweling, by sy aankoms by die woning van die ander oudste, vind dat sy gasheer onder baie armoedige omstandighede lewe, sal hy sy dienste vir sy gasheer aanbied om sy lande te bewerk en uit te brei. Hierdie dienste word altyd met groot dankbaarheid aanvaar deur die gasheer en op sy beurt bied die gasheer weer sy dienste aan vir sy buurman. 43. As die pas aangekome patriarg aan sy nuwe buurman sê: “Broeder in die Groot Gees! Ek is nou oortuig dat julle baie behoeftig is, daarom het ek besluit om julle voormalige eiendom aan julle terug te gee en sal op `n ander plek gaan soek vir ’n woning,” sal die antwoord van die boorling gasheer as volg wees: “Broeder in die groot Gees! Ek sal eerder ophou lewe en wens om nie te bestaan nie, as dat ek sal sien dat julle hierdie plek verlaat wat julle met die toestemming van die Groot Gees ingeneem het. Julle weet baie goed dat dit nie die aarde is nie, maar slegs die Groot Gees wat aan ons alle vermoë gee om van te lewe. Daarom is die grond waarop ons lewe groot genoeg om ons heeltemal te voed en ten minste nog tien of meer families soos ons s’n”. 44. Wanneer die nuwelinge besluit om te bly, is daar nuwe feesvieringe en die oorspronklike inwoner doen alles in sy vermoë om sy nuwe broeder vir alle tye naby aan sy broederlike hart te hou. 45. Dit is al vir vandag. In die volgende hoofstuk sal ons voortgaan om te kyk na die grondwet van die bergbewoners.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205