|
Saturnus JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 10
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53. |
|
|
Hoofstuk 9
Bykomende inligting aangaande die Skipplant
Die strome van Saturnus en hul eweredige afdaling
Die sferiese dopvormige struktuur van Saturnus en al die ander hemelliggame.
Die rykdom van Skeppingsvorme
Die vier hoofstrome van Saturnus.
1. Noudat ons geleer het van hierdie besondere plant in die laaste hoofstuk, is die enigste ding wat oorbly om te sê hoe volop dit is en hoe baie van hierdie skipvrugte so `n plant kan produseer.
2. Die plant groei oorvloedig op die rivieroewers en strande van die mere, asook op die groot strande van die oseane. In een Saturnusjaar produseer hierdie plant twee keer vrugte en elke plant produseer 400 tot 500 vrugte met elke oes. Maar niemand op hierdie planeet, of liewer in Herrifam, het eiendomsreg op hierdie vrugte nie. Op Saturnus, net soos op aarde, geld `n antieke klousule van die wet, naamlik “Primo accupantijus*”! Wie ookal een of meer plante benodig, oes die vrugte en wat hy ookal oes, is sy eiendom. Niemand sal dit bestry nie en dit word gedoen om die hoogste morele rede, want elkeen op Saturnus beskou homself as die minste en die onbeduidendste. Dit sal later in meer detail bespreek word wanneer ons die menslike wesens op Saturnus beskrywe.
*Die een wat eerste besit, het die regte.
3. Nou sal ons kyk na die waters van Saturnus, veral in Herrifa.
4. In Herrifa is daar etlike duisende groot en wye strome wat, byna sonder uitsondering, hulle oorsprong in die middel van hierdie land het, naamlik vanaf Girp, die hoogste berg in Herrifa. Om die moontlikheid van so-iets te verstaan, moet julle nie dink dat die voet van hierdie berg so klein is soos die berge op aarde nie. Inteendeel, die voet van Girp bedek, in alle rigtings, `n area byna groter as die hele Europa kontinent. Nou kan julle begryp hoe so `n enorme berg soveel waterbronne kan bevat.
5. Ten spyte van sy hoogte en uitgebreidheid, is hierdie berg gevorm soos `n byna perfekte kegel. Hierdie vorm word slegs verander by die rotsformasies wat hier en daar gevind kan word en ook deur die skeure wat gevorm word deur die talle fonteine. Dit is dus logies af te lei dat die fonteine wat uit so ’n berg ontspring, in alle rigtings sal vloei en wanneer hulle `n sekere vlak van hulle neerstroming bereik het, word hulle vergroot deur ander belangrike strome van ander berge, waarop hulle dan hul koers kry na die oseaan. Die verskil tussen die riviere of strome op aarde in vergelyking met dié op Saturnus, is dat die strome op Saturnus almal dieselfde watervloei of val van water het, want op Saturnus is daar nêrens `n hoogland te vinde nie; - daar is slegs berge, kleiner en wyer valleie en baie enorme grasvlaktes wat geleidelik, sonder uitsondering, opstyg vanaf seevlak. En aange¬sien die landstyging vanaf die oseaan tot halfpad teen die berg op, oral dieselfde is, naamlik 6000 voet bokant seevlak, sal alle strome, as gevolg van hierdie matige styging, veroorsaak dat die val van die water, wat spoed en vloei betref, dieselfde sal wees.
6. Van die baie riviere en strome sal ons slegs vier beskryf, want hulle is die grootste en hulle rigting na die oseaan is so reguit soos wanneer julle `n reguit lyn sou trek op `n tekenbord.
7. Wanneer hierdie riviere of strome ontspring, is hulle alreeds groter en wyer as die Donau waar hy in die oseaan invloei. En hierdie strome neem toe in wydte soos wat hulle verder vloei. Teen die tyd dat hierdie strome die oseaan bereik, is elkeen van hulle ongeveer 200 geografiese myl breed. Hierdie strome of riviere is anders as die op die aarde, omdat hulle `n rivierbedding het wat deurlopend dieselfde diepte het. Daarom is `n stroom op Saturnus nêrens dieper of vlakker nie, want hulle is dieselfde bo-op die berg as by die voet. Alhoewel die rivier op sy roete na die oseaan die water van baie ander strome inneem, sal dit wyer word, maar nie dieper nie.
8. Julle sal wonder nou hoe dit moontlik kan wees. Ek sal julle vertel: Daar is geen makliker verklaring hiervoor nie, as die feit dat die fondament oral en regdeur `n egalige kontinue rotsbodem is, waarop `n grondlaag van dieselfde dikte lê en wat die water bietjie vir bietjie wegneem. Onder hierdie omstandighede, hoe kan daar `n verskil in diepte wees van die rivierbedding.
9. Omdat hierdie omstandighede (rakende die riviere se konstante diepte) nog steeds ’n bietjie onverstaanbaar kan wees, is dit nodig om `n kort verduideliking te gee, sodat julle dit beter kan verstaan en meer aandag daaraan sal gee. Gedurende die verwoesting van die planete gedurende Adam se val*, wat Ek aan julle verduidelik het en waarvan julle geleer het, het Saturnus ongedeerd in haar primêre struktuur gebly, alhoewel sy verskeie kere groter was voor dit.
*Sien die Huishouding van God Boek 1, Jakob Lorber.
10. Die aanvanklike grootte van Saturnus word verteenwoordig deur haar huidige Ring. Die oppervlak van die buitenste Ring was voorheen die oppervlak van Saturnus. In daardie dae was Saturnus regs en links gelyk gesny, op so `n manier dat die noordelike dop en die suidelike dop in die oneindige ruimte ingeslinger was, soos twee leë doppe, want die bose slang het `n uiters bose gebroedsel losgelaat op beide hierdie hemisfere. Slegs die warm binneste deel het suiwer gebly; daarom het dit behoue gebly as `n permanente herinnering dat die Groot Argitek van die Heelal `n hemelliggaam kan behou, alhoewel dit nie meer in sy primêre planetêre vorm bestaan nie.
11. Nou sal julle natuurlik wil weet van waar die huidige, heelwat kleiner planeet vandaan kom binne so `n Ring? Ek sal julle vertel, maar maak julle oë en ore sovêr moontlik oop en julle sal `n innerlike kykie kry, nie net wat Saturnus betref nie, maar betref¬fende alle hemelliggame. Die huidige hemelliggaam, want nou binne hierdie Ring is, het bestaan voordat die suidelike en noordelike doppe weggeslinger was, net soos wat dit op die aarde kan gebeur en die doppe weggeneem word; sodat dit al sal wees wat oorbly. Met ander woorde; selfs binne julle aarde is daar `n kleiner aarde en in hierdie aarde, weer `n nog kleiner aarde, almal aanmekaar verbind slegs deur lug, water en vuur. Die huidige planeet Saturnus is egter alreeds die derde sfeer, omdat die Ring alreeds die twee sfere verteenwoordig, want dit is heeltemal in twee dele gedeel wat nie aanmekaar raak nie.
12. En huidig, wanneer julle na Saturnus kyk, het julle die geleentheid om `n hemelliggaam te bekyk, soos `n appel wat julle deur die middel in twee stukke gesny het. Die dele wat in die gesigsveld kom, toon aan julle die interne meganiese struktuur van ’n hemelliggaam. Maar sovêr as wat dit Saturnus in haar huidige vorm aanbetref, kan julle haar nie sien tot in haar senter nie. Die verhouding bly egter een en dieselfde. Wat ookal nou van Saturnus sigbaar is en vêrder aan tot in die binneste van hierdie planeet, is in dieselfde verhouding gevorm, soos wat gesien kan word vanaf die oppervlak van die heel buitenste Ring regdeur tot by die planeet self in haar huidige vorm. As die planeet weer ‘gesny’ gaan word, dan sal `n ander kleiner Ring tevoorskyn kom onder die groter Ring en daarbinne sal `n perfekte ronde hemelliggaam vry swewe, soos met die huidige een, binne die groter Ring.
13. As julle julle redenasie- en waarnemingsvermoë bietjie inspan, sal julle dit meer en beter verstaan. Deurdink dit en julle sal besef hoe maklik dit vir My is, omdat dit binne My kragte lê, om indien nodig, so `n hemelliggaam óf te verklein óf te vergroot.
14. Indien julle al die hemelliggame sou kon sien in die oneindige lugruim van die Skepping, - waarlikwaar, julle sal op skeppings afkom met vorms wat julle gees nie in staat sal wees om te begryp nie, selfs in die helderste lig! As julle menslike wesens, met julle beperkte intellektuele kragte, die vermoë het om julle eie moeisame skeppings `n betekenisvolle variasie van toepassings te gee, dan sal Ek tog in staat wees om dieselfde te doen in My uitgestrekte Skeppingsryke. In hierdie geval sal My groot fantasie sekerlik nie nodig hê om by julle skool te gaan, om daar `n estetiese instruksie kursus te loop, soos wat sommige van julle geleerdes dink nie!
15. Die plante, diere en minerale op die aarde bewys die rykdom van julle Skepper se verbeelding op klein, onbeduidende en skamele wyse. Op Saturnus sal julle alreeds sommige van hierdie verskeidenheid ontdek en Ek kan julle sê dat dit baie groter op die Son is. As dit waarmee julle op Saturnus kennismaak, vir julle uiters wonderlik is, wat sal julle dan sê as Ek julle toelaat om `n kykie op die Son te kry? Ons is egter nou besig met Saturnus en daar is nog baie om te sien.
16. Hou in gedagte dat wat Saturnus betref, ons by nommer een sal begin. Julle weet dat Ek die beste wyn laaste bedien, nie soos slegte herbergiers op aarde wat die verbeelding van hulle dorstige gaste bedwelm met die eerste glas en, in plaas van om die beter wyn laaste te bedien, bedien hulle `n hoogs verdunde asyn. Verstaan daarom die betekenis van wat Ek sê: Ons begin met nommer een! Wanneer ons klaar is met hierdie hemel¬liggaam, dan sal daar `n aanduiding in julle verbeelding wees en julle sal ook `n beter konsep hê om selfs `n hoër vlak te bereik. Want by My het die hoër en altyd die hoogste tot in die oneindigheid nooit `n einde nie. En nêrens bestaan daar `n derde vergelykende vlak nie. Maar oral is daar altyd net `n tweede; dit is, daar is altyd een bo die ander en die een is manjifieker as die ander. En nêrens kan daar iets gevind word wat die manjifiekste is nie, wat nie verbygesteek kan word met iets wat selfs meer manjifiek is nie, omdat Ek Self die onbereikbare hoogste van alles is. Eers wanneer julle baie van die prag van die hemelliggame aanskou het, eers dan sal julle `n vae kykie in die hemele gegee word. En selfs hierdie glimpie, ongeag die snelheid daarvan, sal die gevolg hê dat julle al die heerlikhede wat tot nou toe aan julle op die hemelliggame gewys is, heeltemal sal vergeet. Omdat, selfs al is My werke oneindig verhewe, is hierdie hemelliggame in die dooie, vaste materie. Maar hoeveel te meer sal hulle nie in die gees wees nie, waar alles vol lig en lewe is?
17. Maar laat ons nou terugkeer na ons hemelliggaam, die planeet Saturnus en laat ons die diepte van die riviere en mere meet, asook die van die oseane. En `n maatband met een en dieselfde lengte sal voldoende wees, met `n lengte van 3000 voet. Die oseane op Saturnus het bykans oral `n diepte van 3000 voet en slegs na die land se kant toe word hulle geleidelik vlakker. Die riviere het orals `n diepte van 60 voet in die middel van die rivierbedding en natuurlik word dit vlakker na die rivier¬oewers toe. Slegs by die riviermondings val die rivierbeddings geleidelik totdat hulle uiteindelik dieselfde diepte as die oseaanvloer bereik.
18. Wat nou plaasvind, as `n gevolg van die eenvormigheid en diepte van die rivierbeddings, is dat elke rivier of stroom aan die verbaasde oog `n volkome gelyke oppervlakte bied, waarin die omliggende areas in al hul heerlikheid op die oppervlak reflekteer, net soos `n baie stil meer op die aarde. En dit bied, veral in die nag, `n uiters pragtige uitsig wanneer die naglig reflekteer in `n byna onaangetaste glinstering van die riviere.
19. Die vier hoofriviere verdeel hierdie groot land vanaf die sentrale berg in vier dele, sodat wanneer iemand op die top van die berg is, kan hy die grense van hierdie land sien deur net die vloei van hierdie hoofriviere te volg. Natuurlik sal `n persoon vanaf die aarde nie so vêr in die vêrte kan sien nie. Die Satur¬niete is egter in staat om dit te doen, want hul sig is beter as sommige van die beste teleskope op aarde. En op Saturnus is dit ietwat van ’n noodsaaklikheid, want indien `n persoon sy hele eiendom wil oorsien, moet hy goeie sig hê. Op `n helder dag het die oë van `n Saturniet die vermoë om die totale land te deursien vanaf `n hoog genoeg geleë berg en dit met die grootste gemak. Die Saturnus wese se sterkste sintuig is sy sig. Dit kan vergelyk word met die sig van `n arend op aarde, wat vanaf `n aansienlike hoogte, die kleiner diertjies met die grootste gemak kan sien!
20. Enige ander eienskappe van wat hierdie riviere, mere en oseane mag hê, sal in `n volgende hoofstuk beskryf word. Vir vandag, Amen!
|
|
|
|
|