|
Saturnus JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 13
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53. |
|
|
Hoofstuk 12
Die binnelandse mere op Saturnus.
Die manjifieke platteland en die groot bevolking by die strande
Skakels tussen riviere, strome en mere
Groepe klipkegels as plekke van vermaak
Swaanritte
1. Die binnelandse mere wat in die vorige hoofstuk genoem is, is heelwat anders as die binnelandse mere op aarde, wat vergaderplekke van staande water is met onreëlmatige dieptes. Op Saturnus vergader die fonteinwater ook in die groot holtes van die vlaktes wat van allerhande kante van die berge af kom. Hierdie mere het `n heelwat vlakker bodem as die riviere. Dit is raar dat `n meervloer dieper as 36 voet is, wat baie vlak is, gemeet teen Saturnus standaarde. Enige Saturniet kan maklik deur so `n meer stap, omdat dit so vlak is. Die water sal skaars tot bokant sy knieë kom. Dit is nietemin diep genoeg om hulle skepe te dra.
2. Die vraag kan gevra word: Wat se doel dien hierdie mere? Inderwaarheid dien hulle dieselfde doel as die mensgemaakte kanale op aarde. Hierdie binnelandse mere het dikwels tot `n honderd uitvloeiende strome of selfs breë aflope wat vloei na verskillende ander riviere en word so sytakke. Hierdie binne¬landse mere maak dit moontlik vir die Saturniete om die vier hoofstrome deur middel van hierdie waterweë te bereik, wat maklik uitvoerbaar is op die volgende wyse: As voorbeeld: Indien daar so `n landmeer is tussen die Môrestroom (oos) en die Middagstroom (suid), sal dit ten minste een, indien nie meer van hierdie sytakke hê wat lei na die Môrestroom, asook na die Middagstroom. Julle sal ook `n landmeer vind tussen die Middag¬stroom en die Aandstroom (wes) en ook tussen die Aandstroom en die Middernagstroom (noord) en tussen die Middernagstroom en die Môrestroom. Op hierdie wyse word die verbinding op water nie net eenkeer gevestig nie, maar honderde kere. Op hierdie manier word die verbindings tussen die binnelandse mere en die hoofstrome gewaarborg. Daar is ook `n verbinding tussen al die kleiner riviere en strome, sodat daar geen rivier en byna geen meer in hierdie groot land is wat nie maklik deur water bereik kan word nie.
3. Hierdie binnelandse mere beslaan groot areas, die kleinste wat so groot is soos die Kaspiese see (424,300 km²) in Asië, die grootste meer op aarde! Daar is verskeie mere wat groter is; sommiges beslaan `n area wat gelykstaande is aan die Middel¬landse see (2496,000 km²). Maar daar is nie so baie mere van hierdie grootte nie. Die areas waar hierdie mere voorkom, is gewoonlik in die streke wat naby die oseaan lê. Daar is egter `n redelike aantal van hierdie kleiner binnelandse mere nader aan die middelpunt van hierdie land, omdat, waar jy ookal `n vlakte in hierdie groot land vind, sal jy ook in sy omgewing `n landmeer van betekenis vind. Indien jy op `n sekere verhewe punt sal staan, word hierdie uitsig so pragtig, of, soos wat julle sê, “prentjie perfek”, sodat julle vir julself op aarde beswaarlik so `n pragtige uitsig sal kan indink.
4. Alhoewel julle op aarde gebiede het met binnelandse mere, is hulle vorm nie uniform nie, maar meer lukraak en so is die omgewing ook. Daar kan verweerde rotse, of ’n beboste gebied, of vuil vlaktes en baie ander dinge wees wat nie veel sê nie en wat ongevorm die gebiede van die water of mere omring. Dit kom nie op Saturnus voor nie, want op Saturnus is die mere altyd min of meer ellipsvormig. Hierdie mere het redelike groot uitlate wat gelykmatig in alle rigtings uitvloei in ander binnelandse mere, strome of riviere in. Verbeel jou nou so `n kalm wateroppervlak, waarvan die kleinste `n oppervlak het van 10 tot 100 vierkante geologiese myl, dan vanaf 100 tot `n 1,000 en van 1,000 tot ongeveer 30,000 vierkante geologiese myl, ooreenkomstig julle vierkante meting en dit sal julle `n idee gee van die afmetings van hierdie mere. Dan, as toevoeging, kyk na die talle wye uitlope wat ontspring vanuit hierdie binnelandse mere, meeste van hulle in `n reguit lyn en julle sal waarlikwaar die prag van so `n landmeer waardeer, veral as julle weet dat hierdie uitlope enigiets tussen 2 tot 40 geografiese myl wyd is.
5. Dit is nie alleen die groot afmetings wat die prag van hierdie meer areas aanvul nie, maar dit is eintlik die oewers wat dig bewoon word rondom hierdie binnelandse mere. Nêrens ontwikkel die prag van die plantegroei in sulke grootse ontplooiing as hier by die strandoewers van hierdie mere nie. Hierdie is die omgewing vir die Piramidebome, wat, vanuit julle oogpunt, tot ongelooflike hoogtes groei en hulle toppe is dikwels hoër as sommige van die hoogste berge op Saturnus.
6. Die Saturniete plant ook die Skipplant om die oewers te versier. Agter hierdie lande, waar die Skipplant groei en floreer, word die Muurbome geplant en verbou wat baie dikwels die hoogte in die vorige hoofstuk aansienlik oortref. Op sommige oewers groei die goue walle van hierdie bome tot `n hoogte van 3,000 voet. Die Saturniete het so `n bekwaamheid ontwikkel in die kuns van inenting, sodat wanneer `n muurboom `n paar voet gegroei het, dan sny hulle dit en ent dit oor in `n klowing wat hulle in `n ander muurboom gemaak het en hulle maak die enting toe met grond. Hierdeur, as die boom aanhou groei, is die stam van hierdie boom al met een helfte hoër. Hierdie prosedure word so lank as moontlik volgehou en dit word `n lieflike versiering vir hierdie oewers, want hierdie boomstamme groei tot asem¬rowende hoogtes, vêr bo hulle natuurlike hoogte. Agter hierdie walle kweek die Saturniete gewoonlik die kolomagtige Mengel¬moesboom wat julle alreeds ken en wat, op grond van sy uitstaande veelsoortigheid, `n groot deel bydra tot die verfraaiing van die geleidelike dalende oewerstreke.
7. Toe ons die Môrestroom, die inwoners en hulle verblyf bespreek het, was dit genoem dat julle nêrens `n stad, `n skans of enige ander woning op enige plek op hierdie planeet sal kry nie, behalwe vir hierdie boom. Dit is ook van toepassing op die strande van die binnelandse mere. Daar is geen ander wonings buiten hierdie eerste hoofboom* wat ons bespreek het. Daar is egter nog een ding wat genoem moet word; wanneer hierdie boom groei in die streke van die strande van hierdie binnelandse mere, oortref hulle in omtrek en hoogte dieselfde boomspesie wat naby riviere, strome en berge groei aansienlik en daarom voorsien hulle vir meer familielede permanente woonplek.
Die sonboom, gliuba, hoofstuk 3
8. Al die ander bome, kruie, plante en grasse word ook versigtig in `n goeie toestand gehou. Daarom lyk hierdie strande soos `n perfekte paradys in die ware sin van die woord. Aangesien die sonboom die enigste tipe woning is, moet daar nie gedink word dat die bome op hierdie strandstreke reg langs mekaar groei nie, inteendeel, dit neem `n geruime tydjie om van een boom na die volgende te reis. Die kortste afstand tussen hierdie Sonbome is ongeveer 10 tot 20 geografiese myle, maar meer waarskynlik enigiets tussen 50 tot 100 geografiese myle, aangesien hierdie eiendomme dikwels die grootte beslaan van `n hele land (in Europa) en so `n eiendom het dikwels nie meer as een van hierdie bome op en op die meeste miskien 5 tot 10. Slegs wanneer al die gesinslede nie meer genoeg spasie onder so `n sonboom het nie, sal `n ander een daar naby geplant word.
9. Wanneer dit sou gebeur dat sommige lede van die familie moet trek as gevolg van oorbewoning, kan dit gebeur dat hulle na die berge sal trek, selfs al hou hulle nie daarvan nie. Maar voordat iemand sy woonhuis boom op ’n berg sal plant, sal hy alles in sy vermoë doen om `n plek langs `n rivieroewer of strand te vind. Slegs wanneer dit onmoontlik is om iewers in sy onmiddellike omgewing `n plek te vind, sal hy na die berge trek. Natuurlik sal hy na areas in die berge soek waar daar een of meer fonteine ontspring en waar die Reënboom (briura) en die vloeiende vaatjie sal kan floreer, wat `n ander manier is om water te voorsien. Ook sal die inwoners van Saturnus nie langer meer hulle groot koeie op die berge kan hou wat aan hulle warm melk verskaf nie. Daarom moet hulle tevrede wees met die melk van die makgemaakte bergbokke wat nie so soet is nie.
10. Indien hulle begeer om die melk van die groot koei te geniet, het hulle geen ander keuse as om na die vlaktes te gaan om hulle familielede te besoek om hierdie kosbare melk te bekom nie, in ruil vir bergkruie of andersins vir arbeid. Dan plaas hulle dit in bogenoemde houers en stap of ry huis toe. Julle sal die waens onthou wat hulle het wat ons vroeër in hierdie boek bespreek het, die waens wat so maklik gemaak word van die vloeiende vaatjie wat die inwoners van die vlaktes die “bergskip” noem.
11. Hoewel hierdie bewoonbare bome volgens jul aardse waardes `n redelike afstand van mekaar is, is hulle naby genoeg vir ’n Saturniet, omdat hy sy buurman se bewoonbare boom kan sien, ongeag die groot afstand as gevolg van sy uitstekende sigvermoë. Daarbenewens sal sy lang bene hom minstens 10 geografiese myl in net 15 minute kan dra en dit met die grootste gemak. En as sy buurman verder van hom af bly, sal hy per skip reis. Die snelheid van hierdie skepe was voorheen al genoem.*
*Hoofstuk 10, para 8
12. Die enigste ding wat oorbly om te verduidelik is of die water van sulke binnelandse mere stagnant of vloeiend is, maar dit is alreeds gesê dat dit vloeiend is. Die water het so `n sterk stroming dat dit in elke moontlike rigting vloei. Die beweging van die water in die mere is egter ’n bietjie minder as dié in die riviere en strome. As julle begeer om julle te verbeel hoe die water in hierdie mere vloei, verbeel dan dat dit vloei vanaf die middel van die meer op `n straalvormige wyse na soveel kanale as wat dit voed, waardeur dit aansluit met die ander binnelandse mere, riviere en strome. Maar hier het ons te doene met `n ander eienaardigheid of verskil in vergelyking met die kanale op aarde. Die water van hierdie kanale, wat aansluit by ander binnelandse mere, vloei op die volgende manier: As voorbeeld, in die kanale wat die binnelandse mere verbind, sal die stroom in Meer A deur die kanaal vloei aan die linkerkant tot in Meer B in `n lang draaikolkagtige beweging en keer terug vanaf Meer B na meer A aan die regterkant terug na meer A. Daarom kan `n bootsman aan die linkerkant vanaf meer A roei na die oggend (oos), waar `n ander bootsman aan die anderkant op die regteroewer van meer B kan vaar vanaf meer B tot meer A in `n stroom wat in die teenoorgestelde rigting spoel. Ek dink dat julle hidro-meganikusse baie groot probleme sal hê om dieselfde soort van waterbeweging te produseer. Maar wat die uitvloei betref wat invloei in `n rivier of stroom, is daar geen teenstromende beweging nie, maar in plaas daarvan vloei dit, óf van `n binnel¬andse meer na `n rivier, óf van ’n rivier na `n binnelandse meer. Dit benadeel geensins die navigasie van die bote nie, omdat alle waterbeweging op Saturnus baie kalm is en die vinnigste stroom beweeg op geen plek vinniger as 60 voet per minuut nie, waar ’n normale vloei tussen 6 en 30 voet per minuut is. Ook het hierdie beweging niks te doen met navigasie nie, maar het meer te doen met die aanhoudende beweging daarvan, sodat die water nie stagnant en vuil raak nie; en deur hierdie aanhoudende beweging gee hierdie water `n voordelige lewensadem af.
13. Die prag van hierdie binnelandse mere word geweldig verbeter deur die baie wit klipkegels wat merendeels in die middel van die mere gevind kan word. Die rede daarvoor is dat die water van die mere in die middel die kalmste is en dit kan baie maklik stagnant raak en verrot. Daar word nou so gesorg dat die water deur hierdie klipkegels opwaarts kan beweeg om daardeur `n wrywing op te wek om sodoende die inherente elektrisiteit te verlewendig. Hierdie kegels word baie dikwels oorgroei met `n helende krui wat aan ons bekendstaan as hellatharianga, die duisend-blaar-goue-struik. Deur sy buitengewone verhewe geurige eteriese uitstraling van lewe, maak hierdie struik die oppervlak van die mere oneindig versterkend. Dit is waarom die Saturniete dikwels `n besoek aan hierdie kegels bring.
14. Soms is daar groepe van duisende van hierdie kegels in die mere, wat uitermatig manjifiek in voorkoms is. As julle dit kon sien, sou julle geglo het dat julle na een van die grootste stede op water kyk; selfs Venesië sal maar net `n speelding wees vergeleke hiermee, want die meeste van hierdie kegels het `n omtrek van 2 tot 3 geografiese myl en `n hoogte van 12,000 tot 24,000 voet. Daar is genoeg spasie op `n afgeknotte kegel om `n stad te bou! Verbeel nou vir julle `n paar duisend van hierdie kegels en dit sal julle `n idee gee van so `n kegelstad in die meer.
15. Die inwoners van Saturnus werk ywerig met hul beitels om een of meer van hierdie kegels bewoonbaar te maak deur trappe tot reg boaan die top te kap. Hier geniet hulle hulleself dae lank op die kegels wat hulle op hierdie wyse voorberei het. Baie groot kegels word so uitgekerf sodat hulle uiteindelik verskeie bewoonbare vlakke het. Toegang na die boonste vlakke word verkry deur uitgekerfte spiraal trappe aan die buitekant van die kegel, waardeur hulle die boonste vlakke kan bereik. Maar slegs daardie kegels word uitgekies wat hoegenaamd geen plantegroei op het nie. Die kegels wat plantegroei op het, word gereken as `n heiligdom en die Saturniete reken dat dit `n sonde is om `n beitel op hulle te plaas. Af en toe word hulle deur die engelgeeste ingelig dat dit nie `n sonde is om so `n beitel op die kegel te lê nie, maar dat dit inteendeel onverstandig is om so `n edel plant met `n beitel te vernietig. Daarom spaar die Saturniete die kegels waarop plante voorkom vanuit omsigtige nederigheid. Die toppe en die kante van kegels wat vir bewoning voorberei word, word smaakvol versier met allerhande soorte blare en die vlae van die chajaba plant. En dit is waarom so `n groep klipkegels in die middel van ’n stil wateroppervlak inderdaad `n pragtige gesig is, selfs vir die Saturniete. As die mense van die aarde so `n panorama kon aanskou, sou hulle vir `n geruime tyd sprakeloos gewees het.
16. Die skoonheid van so `n wateroewer, of liewer waterkegel¬stad, word verhoog deur die baie skepe wat teenwoordig is en daarvoor is daar redelik baie familie vergaderings. Ook die groot verskeidenheid watervoëls, wat soortgelyk is as swane op aarde, net met `n groot verskeidenheid van kleure, verlewendig die wateroppervlak tussen hierdie kegels met hulle pragtige verskil¬lende liedere. Maar moet nie dink dat hierdie voëls dieselfde grootte is as die swane op aarde nie – so `n swaan is so groot soos `n kleinerige skip. Dit is waarom die mense van Saturnus op die rue van hierdie watervoëls ry as `n tipe vermaak; en hulle word redelik vinnig deur die voëls vir `n hele rukkie oor die water vervoer. Die Saturniete rig hierdie voëls af as trekdiere en span hulle voor hulle skepe in. Indien julle so `n reis sou sien, sou julle dit beskryf het as `n feëverhaal skouspel, wanneer daar voor so `n skip `n paar honderd van hierdie voëls voor die skip swem en trek. So `n reis is slegs vir die genot daarvan en die Saturniete sal nie toelaat dat dit ontaard in `n uitbuiting van hierdie diere nie, want die Saturniete is barmhartig teenoor alle skepsels. Daarom sal hulle hul nie vir harde arbeid gebruik nie, want die krag van hulle wil en hulle geloof is genoegsaam vir alle dinge.
17. Dit dek nou alles rakende die binnelandse mere. Ons sal nou met die diereryk begin, naamlik met die wonderbaarlik gevormde waterdiere. Ook hier moet julle verbeelding die vrye loop neem en julle sal getuies wees van baie wonderwerke. Vir vandag sê Ek Amen.
|
|
|
|
|