DIE WEDERGEBOORTE
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50.

Hoofstuk 5

9 Maart 2008  08:13

 

Luister na MY, MY kinders, julle wat na die wedergeboorte smag. EK ken julle almal by die naam en weet wie die eerste is wat daar sal ingaan en wie die eerste is wat in die GEES met MY sal verenig. Julle almal wil dit hê, maar daar is sekere vereistes voor julle dit kan bereik. MY GEES is rein en niks wat onrein is, kan voor MY aangesig bly bestaan nie, so, as MY GEES in jou binneste kom met sy onreinheid sal jy heeltemal doodgaan omdat MY GEES al die onreinheid  sal verbrand. Dit sal dan die fisiese dood vir die betrokke  persoon beteken. Daarom reinig EK julle en vat julle deur die dal van doodskaduwee sodat julle al julle ou slegte gewoontes kan aflê en eerlik en ernstig voor MY kan staan. MY kinders, julle wat na die wedergeboorte smag, sal deur MY deur diep waters gestuur word sodat julle al die vuil kan aflê en dit is dan die rede dat dit met elkeen van julle op ‘n manier sleg gaan. Dit is MY genade en nie uit ongenade en ongenaakbaarheid nie. Julle sal nooit deur MY verlaat word nie omdat EK julle baie liefhet en ook daarna verlang om Een met julle te wees. Maar die onreinheid in baie van julle keer MY werking en daarom moet EK julle met baie dinge reinig. Party moet EK met ‘n siekte en baie pyn reinig. Ander moet EK met seerkry reinig en ander weer op ‘n ander manier. Julle sal bly wees die dag wanneer julle deur alles gegaan het en MY kan sien en heeltemal Een met MY kan wees, want groter vreugde as dit kan niemand kry nie. Daar is tans ‘n hele paar mense wat die eenwording met MY heeltemal ernstig opneem en alles in die stryd werp om met MY te kan verenig en EK is hulle genadig en sien hulle aan. Hulle sien egter MY genade as iets om te vrees want MY genade bring oor hulle dinge wat hulle reinig, en dit maak seer. Maar EK wil julle almal gerus stel dat julle niks te vrese het nie. Gaan en doen wat EK julle gee om te doen en julle sal juig en jubel. Wees net gerus, die eenwording met MY is ‘n stadige en ‘n langdurige proses, maar as jy eers oor die drumpel gestap het, sal dit baie vinniger gaan as wat jy dink. Jy sal dan in ‘n rekordtyd deur MY gereinig word  en die Eenwording met MY sal baie vinnig geskied. Voor jy mooi weet wat aangaan is jy Een met MY omdat EK dit ook begeer. Die diamant in elkeen se hart moet eers geslyp word voordat dit perfek is en eers dan, sal EK MY intrede kan maak. Gaan nou en kom vra MY vir die reiniging al is dit vir julle seer omdat dit die eenwording, of die volle wedergeboorte tot gevolg sal hê. Dit is ‘n swaar pad wat vir julle voorlê en julle sal vir MY deur die hel moet stap, maar die voorstes is al klaar deur, en daardeur het hulle vir julle almal die pad baie makliker gemaak. Glo MY woorde, die eerstes wat deur die hel vir MY gestap het, het ongedeerd aan die anderkant uitgekom, al het hulle baie pyn verduur. Maar EK het elke tree saam met hulle gegaan en hulle is nou veilig aan die anderkant. MY kinders, julle sal nooit weet wat julle vir MY beteken nie en as iemand bereid is om vir MY in die hel in te gaan, sal EK daardie persoon in alle opsigte bystaan en lei. Daarom wil EK ook hê dat julle ook bereid sal wees om vir MY deur die hel te gaan, aangesien EK vir julle deur die hel gegaan het. Die wat te bang is daarvoor, sal nie deur MY veroordeel word nie, maar hulle loon sal net kleiner wees as die wat bereid is om deur dit alles te gaan ter wille van MY. Die hel waardeur MY kinders gaan sal baie dinge van hulle af wegbrand en hulle sal skoner en reiner aan die anderkant uitkom. Dit is ‘n belofte van MY om julle nooit in die steek te laat nie, al is julle in die hel vir MY. Wat behels die staptog deur die hel? Dit sal iets wees wat vir elkeen baie swaar sal wees om te dra en net EK weet wat om oor iemand te bring sodat dit vir hom voel asof hy in die hel is. Maar as EK MY ander kinders daaruit kon gaan haal en hulle ongedeerd aan die anderkant kon uitkom, kan EK dit vir julle ook doen, is dit nie waar nie? Hulle is nou geskik om MY GEES te ontvang en sal dit binne die volgende paar dae dan ook ontvang en alle hartseer en pyn sal iets van die verlede wees. EK wil elkeen ten volle hê en as julle bereid is om alles vir MY te gee, sal julle ook alles van MY ontvang. Dit is MY genade en liefde vir julle almal wat na die Eenwording met MY smag. MY kinders, weet dat EK die sagmoedigste van almal op aarde was en nog steeds sagmoedig is, al vra EK julle om deur die hel te gaan vir MY. EK vra dit vir julle omdat EK die beste beloning aan julle wil gee daarvoor. Wees bereid om daardeur te gaan vir MY en jy sal met die grootste Geskenk denkbaar beloon word.

Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205