DIE WEDERGEBOORTE
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50.

Hoofstuk 3

05.03.2008 07:27

 

EK kyk met liefde op julle neer en wandel saam met julle waar julle ook al gaan. EK sien julle elke daad, en elke woord word deur MY gehoor wat julle spreek. EK sien die een wat MY met sy hele hart soek en EK begenadig hom of haar. MY seuns en My dogters, julle is kosbaar in MY oë en Ek kyk na julle met oë vol van die teerste sagste liefde. MY liefde sal julle almal omring en van julle wedergebore kinders maak wat op MY skoot kom sit en MY liefhet. EK sal ter wille van die liefde niemand wegwys nie en elkeen wat na MY soek sal deur MY opgeneem word sonder dat Ek ooit weer aan sy sondes dink. Julle sal mekaar weer sien as nuwe mense en al die onmin wat tussen julle heers sal deur MY liefde weggewaai word. Daar sal niks daarvan oorbly nie omdat MY liefde in elkeen se hart sal oorheers. Luister net na MY woorde van liefde vir julle elkeen en julle sal besef dat alles wat julle is en alles wat julle het, is net MY genade en liefde. Gaan na julle broers en susters, omhels hulle in MY liefde en julle sal sien hoedat alles verander vir julle. In die omgewing waar die bose is, sal daar altyd onmin heers en julle sal sien hoe die bose die oorhand het as julle mekaar nie in liefde behandel nie en die ‘eie ek’ wat te groot is, is ‘n groot oorsaak daarvan. Daar waar die “eie ek” nog teenwoordig is, is daar altyd ‘n gevoel van ongelukkigheid en ontevredenheid. Gee die “eie ek” aan MY oor sodat EK jou tot ‘n nuwe mens kan skep en jy sal sien hoedat alles om jou dan begin verander. Wanneer jy te gou op jou perdjie spring, sal jy agterkom dat jou omgewing nie baie plesierig is nie en gou-gou sal daar bakleiery ontstaan. So, MY kinders, let op na julle gevoelens en wanner jy agterkom dat jy geïrriteerd voel of ongelukkig, moet jy weet dat die “eie ek” die oorsaak daarvan is. Die “eie ek” word net gesmoor deur die reine opregte naasteliefde en natuurlik die reinste liefde vir MY. MY liefde het die krag om van die grootste monster ‘n liefdevolle pragtige mens te maak. Luister na MY woorde. Neem dit ter harte en jy sal leef. Luister na MY woorde en doen soos wat EK sê en jy sal volle vreugde vind. Daar is nie ‘n groter vreugde as die vreugde wat jy ondervind deur MY te dien nie en daarvan kan MY skryfkneg getuig deur dit wat sy al vir MY moes doen. Julle moet MY bo alles stel en wanneer jy nog van die “eie ek” in jou het, het jy MY nog nie bo alles gestel nie omdat jy dan nog jouself bo MY stel. Dit is dan die rede waarom daar bakleiery uitbreek tussen mense wat veronderstel is om in liefde met mekaar saam te leef. Gee jouself op en wees nederig, oud en jonk en luister na MY woorde. Niemand kan in die “eie ek” oorleef nie, maar almal kan oorleef in die liefde wat van MY af kom. Liefde is die eerste en die laaste en dit beteken dat EK die Eerste en die Laaste moet wees in jou lewe. Julle is geneig om te dink dat die ander een teveel “eie ek” in hom het as julle begin baklei, maar EK wil vir julle sê dat as jy nog kwaad kan word vir jou naaste en hom nie met sagte woorde van liefde kan antwoord nie, al het hy jou te na gekom, is daar nog net soveel “eie ek” in jou teenwoordig. Eers wanneer jy kan stilstaan en stilbly wanneer iemand jou slaan of vloek, is daar niks meer “eie ek” in jou teenwoordig nie. Nou, MY kinders, daar waar die “eie ek” nog is, kan EK nie inkom en Een met jou word nie en daarom maan EK julle om die “eie ek”, of die te groot ego, van julle af weg te werp sodat julle kan nederig wees en EK MY GEES oor julle kan uitstort en julle met MY verenig kan word. Dit is MY woorde aan julle vandag en EK wil hê dat elkeen van julle nou-nou stil moet gaan sit, die aardse werk eenkant moet sit, en met MY kom praat sodat EK vir julle kan wys waar julle foute nog lê, sodat Ek met julle Een kan word. Glo net as EK vir jou sê waar jou foute lê, want as jy nie glo as EK jou op jou foute wys nie, beteken dit dat jou ego nog te groot is. Let op na die manier waarop jy My woorde aanneem wanneer EK vir jou jou foute uitwys en dit sal vir jou ‘n aanduiding wees van hoe groot jou “eie ek” nog is. Die “eie ek” verhoed jou om met MY GEES vervul te raak. Gooi eers jou “eie ek” weg sodat jou houer met MY gevul kan word. EK sal die houer met die “vuil” van die “eie ek” was, en hom skoon aan jou terug gee, gevul met die wonderlike Liefde van MY GEES.

Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205