DIE WEDERGEBOORTE
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50.

Hoofstuk 28

02.03.2008 19:04

 

MY Elia is besig om te ontwaak terwyl hy in sy liggaam is. Hy is tans besig om bewus te raak van sy groot taak. Terwyl hy sy lewe normaal lei soos enige ander mens, is EK besig om in die gees met hom te werk en hy weet nie eers daarvan nie. MY kinders, die wedergeboorte is ‘n baie langdurige proses en die mens met wie EK werk, is dikwels nie eers self bewus van sy vordering in die gees nie. EK is besig om MY Elia slaggereed te kry en hy voel dit nie. Hy is nie bewus van sy geestelike groei nie en hy dink dat daar niks in sy binnekant aan die gang is nie. Daar is dan ook ‘n baie belangrike rede daarvoor. MY Elia het ‘n baie groot taak en sonder om gereed te wees, kan hy nie weet wat hy moet doen nie. Hy mag van niks weet voordat dit die regte tyd is nie. Nou vat EK hom deur baie beproewings en hy sien nie MY groot hand daarin raak nie. Hy voel asof EK hom verlaat het en hy dink dat EK daarin behae skep om hom te pynig op allerhande wyses. MY kinders, niks is verder verwyderd van die waarheid nie en net soos hy is daar baie ander mense wat dieselfde voel en dink. EK moet julle deur baie dinge vat om julle siele gereed te kry vir die groot taak wat vir julle wag en sonder al die dinge wat julle moet deurmaak, sal julle dit nie kan doen nie. Daar is ‘n pad vir elkeen en elke mens het iets anders wat vir hom geskik is om hom gereed te kry vir die toekoms. Daarom moet EK elke mens wat na MY op pad is en wat MY werk wil verrig, op ‘n ander manier bewerk. Dikwels sien julle nie MY liefde in dinge wat met julle gebeur raak nie, maar EK wil julle verseker dat EK met elke beproewing met julle is en dat EK julle deur dit alles dra en elke oomblik, al is dit vir julle hoe swaar, met julle is. As julle in die gees kan sien sal julle sien dat EK julle nie vir een sekonde verlaat nie. EK versterk julle vir alles wat julle vir MY moet doen, en onthou dat alles wat julle doen vir die beswil van julle naaste is. EK wil hê dat julle moet besef dat julle hier is ter wille van ander mense aangesien die meeste van julle wel al op aarde was en nie nodig het om aan MY te bewys dat julle MY wil dien nie omdat daar al jare gelede ‘n ooreenkoms met MY gesluit is om MY te dien. Die rede dat julle hier is, is om ander by te staan sodat hulle hulle weg na MY kan vind. EK wil hê dat julle eers by daardie gedagte sal stilstaan en dit sal oordink en sal besef dat jy jouself moet versterk sodat jy ander mense wat op ‘n dwaalweg is, kan help. Dit is dus elke mens se verantwoordelikheid om aan homself te werk sodat hy ander kan help. Dit gaan dan net daaroor om ander te dien omdat julle MY en daarna julle naaste baie liefhet. Dit is ‘n baie belangrike punt waaraan julle baie aandag moet gee. Dink daaraan en julle sal verstaan wat EK bedoel.

Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205