DIE WEDERGEBOORTE
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50.

Hoofstuk 27

2 April 2008     03:38

Orals waar julle kom moet julle vir MY skyn omdat EK die lig is en wanneer julle MY in julle binneste het, sal julle ook die lig na buite uitstraal. MY lig is so groot dat niks dit kan uitdoof nie en wanneer EK in iemand is, sal niks MY in hom of haar kan uitdoof nie. Die lig sal die lig herken en dit is dan ook waarom mense wat mekaar dan vir die eerste keer sien aanklank vind by mekaar en oor MY kan gesels. EK is die Eerste en die Laaste en wanneer daar mense is wat so oor MY voel, sal hulle met mekaar kan gesels soos ou vriende. In der waarheid is hulle meer as net ou vriende omdat hulle almal uit MY is en daarom ken hulle mekaar al baie lank en is ook familie van mekaar. MY kinders, julle moet MY lig so uitdra sodat daar ander mense is wat julle kan herken en dan met julle begin gesels. Sodoende dra julle MY woorde uit en die ander persoon wat al baie lank na MY soek, sal MY dan deur julle weer vind. Daar is tans baie ander mense op hierdie aardbodem wat soekende is na MY en wat dink dat hulle die enigstes is wat so voel en dink, maar wanneer hulle julle sal hoor praat, sal hulle MY in julle herken en dan sal hulle weet dat dit al die tyd wel EK was wat so in hulle gewerk het. Die see van mense is so groot en MYNE is yl gesaai tussen die res van die mense sodat MY lig oral kan uitkom sonder om die mense te dwing. Dit moet julle altyd onthou, dat EK niemand dwing nie. Ek gee aan elkeen soos wat hy vra en daarom sal EK net soveel gee as wat iemand kan verdra en niks meer nie. Daar is niemand wat alles wat in MY koninkryk is, sal kan verdra nie en daarom sal EK net bietjie vir bietjie aan julle almal gee. EK kan julle nie al die voedsel gelyktydig gee nie omdat dit dan julle dood sal beteken. Die dood sal vir julle dan buitengewoon erg wees en soos lewende lyke sal julle dan wees omdat MY LIG te skerp is vir julle oë. MY lig bestaan uit die grootste liefde en wanneer julle dit sal ontvang, sal dit net die hoeveelheid wees wat julle kan verdra. MY kinders, EK het gister na elkeen van julle gekom en EK het julle geseën en almal van julle kan getuig van ‘n wonderlike dag en waarvan julle ook kan getuig van MY teenwoordigheid. Elke een van julle het MY pasga gehou soos wat dit vir hom geskik is. EK het aan elkeen gegee soos wat dit hom behaag het en ook soos wat dit vir MY behaag het. Elke een het die fees gevier soos wat dit MY behaag het en soos wat dit vir hom in sy binneste die beste was. Party van julle het EK uitgestuur na julle naaste om so die brood van die lewe te gaan breek waar dit noodsaaklik was en waar die mense ‘n hongerte gehad het. Ander het weer tuis gebly en die brood net met mekaar gedeel , maar elkeen het dit volgens sy geestelike toestand gedoen. Daar was nie ‘n reg en ‘n verkeerd nie, maar tog moes dit net in die Liefde geskied. Die liefde was die maatstaf waarvolgens alles gemeet kon word. Was daar nie liefde betrokke nie, dan het dit niks beteken nie, want EK is liefde. Hoe kon jy die brood van die lewe breek, wat EK is, terwyl daar niks liefde by was nie? Dan het dit beteken dat EK nie teenwoordig was nie omdat net EK alleen liefde is. MY kinders, wanneer julle mekaar met liefde behandel en mekaar so aan MY opdra en wanneer julle oor MY praat met vreemdes, is dit MY brood wat julle uitdeel en daarom is dit belangrik om MY fees elke dag te vier. Dink nie dat EK ‘n behae het in ‘n fees wat uitermatig gevier word op ‘n sekere dag waartydens daar oormatig geëet en gedrink word, maar MY liefde nie is nie. EK het ‘n baie ander manier van feesvier as wat julle dink. EK het gister iemand op MY skryfkneg se pad gebring wat sy nog nooit gesien het nie en hulle het die hele tyd brood met mekaar gedeel en MY wyn aan mekaar geskink deurdat hulle oor MY gesels het en na die tyd het EK aan MY skryfkneg getoon hoe die engele in die hemel saam met MY bly en verheug is omdat daar brood gebreek is in MY Naam. Dit het haar ook bly gemaak en EK het vir haar gesê dat EK en MY engele fees vier daaroor. Sy het ook in die fees gedeel deurdat sy met iemand oor MY gepraat het en dit is die fees wat EK vier. Wanneer julle dus met mekaar oor MY praat en gedagtes uitruil, vier EK met MY engele fees in die geestesryk. Dan heers daar die grootste vreugde en almal by MY is bly en brood word uitgedeel. Wat is die brood? Dit is MY liefde! So, wanneer julle met mekaar oor MY praat en in liefde met mekaar verkeer, vier EK en MY engele fees en dit is dan die egte pasga wat MY behaag. Daar is vandag so baie mense wat glo in rituele en dit stuit MY teen die bors omdat daar niks liefde in is nie. Daar heers net die behaging van die vlees en dan dink hulle dat dit MY behaag. EK is nie tevrede met rituele wat uitgevoer word net om MY “gelukkig” te maak nie. EK wil ware liefde tussen broers hê en oral waar dit so gevier word, is dit vir MY welbehaaglik omdat EK dan daar is. Maar waar mense rituele beoefen en tussen mekaar stry en baklei, is dit vir MY ‘n pes en sal EK dit met wortel en tak uitroei. Dink ‘n bietjie daaroor na, sodat julle dit aan die ander mense daar buite kan verduidelik omdat julle presies verstaan waarvan EK praat. EK wil net hê dat daar liefde tussen julle moet heers en dan het julle op die regte manier fees gevier, al was daar nie ‘n krieseltjie kos teenwoordig nie. EK is die kos wat elkeen nodig het om te kan oorleef en wanneer jy MY met jou naaste deel, het jy meer fees gevier as die mens wat fisies brood gebreek het, maar nie uit liefde nie. Laat MY liefdesvure in julle binneste brand sodat daar altyd iets gaar gemaak kan word vir jou naaste. En dit MY kinders, is die ware  vier van ‘n fees vir MY.

Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205