DIE VERBORGENHEID
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 39

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 39
9 Feb. 2008 05:44
EK maak beloftes aan almal wat MY liefhet en daardie beloftes sal EK nakom. EK het aan MY skryfkneg belowe dat EK haar vandag sal help om nog nader aan MY te kom, as sy MY die hele dag kom opsoek en dit sal EK doen. EK sal dit vir elke liewe mens doen wat MY met ‘n ernstige hart kom soek. EK wil aan julle beloftes maak omdat dit in MY mag is om dit na te kom en MY beloftes aan julle tot op die laaste letter te volvoer. Terwyl julle alles aan MY gee, sal julle alles en nog meer van MY ontvang, sodat julle nie ‘n hongerte in julle siele sal ondervind nie. EK wil al MY kinders voed en klee met die geestelike voedsel en kleding sodat julle nie honger en naak voor MY sal verskyn nie. As julle na MY kom met al julle probleme en nie na die wêreld hardloop nie, sal alles vir julle sommer maklik opgelos word. As EK beloftes maak, sal dit nie onvervuld bly nie en dit sal gebeur net soos wat EK dit aan julle gesê het, al lyk dit of dit darem baie lank vat om te gebeur. MY kinders, wees maar net gerus, dit sal wel gebeur. EK het in die verlede al baie beloftes aan MY kinders gemaak en net voordat hulle dink dat dit nie die waarheid is nie, gebeur dit. EK het aan Abraham belowe dat EK sy nageslag soos die sterre sal maak en die hoeveelheid sand van die see en hy het gedink dat hy maar vir hom ‘n ander vrou moet vat sodat dit sal gebeur, maar dit was nie MY wil om uit enige ander vrou vir hom ‘n nageslag te verwek wat MY Naam sou dra, behalwe uit Sarai nie. En EK hét MY belofte aan hom nagekom. Hy het weliswaar nie so lank op aarde gebly om sy nageslag te sien tot hulle so baie soos die sterre was nie, maar EK het hom geseën sodat hy baie van hulle kon sien op aarde en daarna het hy hulle vanuit MY paradys gesien. Hy waak oor sy nageslag en dra julle gedurig aan MY op, omdat hy die belofte wat aan hom gemaak is deur MY, sien gebeur het en julle almal net so liefhet soos wat hy Isak liefgehad het. EK het MY belofte aan hom gestand gedoen en sal dit ook vir ieder en elk doen wanneer julle na MY vra en EK julle iets belowe. Die geestelike eenwording met MY is iets wat EK aan elke een wat MY liefhet en soek belowe en dit sal ook so aan julle gegee word, wanneer Ek sien dat julle werklik ernstig is daaroor. Kom net weer en weer na MY en kom soek na MY met julle hele hart en EK sal nie uitbly nie. Julle sal dit so stadig maar seker sien gebeur en EK sal julle stelselmatig Een met MY maak, omdat dit nie ‘n proses is wat binne een uur gebeur nie. Daar is baie opoffering van jou kant ook nodig. EK het gesê dat julle MY moet liefhê met alles wat in julle is en dat julle julle eie ek moet kruisig en wanneer julle dit doen, sal EK so stil kom dat julle nie eers daarvan bewus is nie en EK sal MY woning in jou hart kom maak en voor jy mooi weet wat aangaan, sal EK jou Een met MY maak. EK het gesê dat EK julle halfpad tegemoet kom in die Eenwording met MY en dit sal so wees. Omdat EK weet dat julle MY nêrens sal vind as EK MY nie deur julle laat vind nie, sal EK kom en MY woning SELF by julle kom maak. Dink daarom nie dat MY beloftes onvervuld sal bly nie en glo alles wat EK vir julle sê, omdat dit wel sal gebeur, al is dit nou eers oor een jaar. Maar wanneer EK jou ‘n tyd gee, sal dit so gebeur, maar jy moet ook mooi verstaan dat jou tyd nie MY tyd is nie. EK weet wanneer EK dit sal doen wat EK jou belowe het. Dit is waar en gewis.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205