DIE VERBORGENHEID
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 35
6 Feb.2008 07:05
EK, julle Almagtige Skepper en Vader sal julle nooit in die duister laat wanneer julle MY opreg soek nie. EK sien baie wat MY in opregtheid soek en daarom sal EK die volgende aan julle bekend maak. In die begin was die Woord en die Woord was by GOD en die Woord was GOD. Dit is die heel eerste verse van die boek Johannes wat in die Bybel staan. MY kinders, wat beteken dit? Dit beteken net die volgende: EK was van ewigheid af gewees. Van die begin af was EK en die Woord was by MY en die Woord was en is nog steeds EK. EK of MY Woord kan nooit vergaan nie. Vir ewig en ewig bly dit steeds vas staan. Daarmee wil EK aan julle sê dat dit wat EK gespreek het, vas bly staan tot in ewigheid. Wanneer EK dus sê dat julle MY volk is en nie die ander nasies nie, beteken dit dat dit vir altyd so sal wees. Baie lees die Bybel en sê dat baie dinge verander het en wil MY dan daarin vastrek. Baie verkondig dat julle nog steeds gebonde is aan die wette van ouds, omdat dit vasgestel is vir die Israeliete in die woestyn en dit deur MY bekragtig is, maar daarin wil hulle dan ook sê dat EK onmagtig is en gebonde aan menslike wette, want daardie wette is deur Moses aan die volk gegee. MY kinders, die enigste wet wat EK vir julle gee om te hou, is die wet van die liefde. Niemand kan MY vashou in woorde wat EK gespreek het nie, omdat EK die een is wat spreek en presies weet wat MY woorde beteken. EK het net die liefde as wet ingestel, van altyd nog, maar omdat die Israeliete ongehoorsaam was aan daardie wet, moes Moses na MY kom en hy het aan MY sekere wette voorgelê om die Israeliete te bind om sodoende die liefdeswette na te kom, anders sou die hele volk verdelg gewees het. Nadat hulle uit Egipte uitgelei is, het daar nog baie van die liefdeloosheid in hulle geheers en niemand het die ander een liefgehad nie. Daar was hier en daar mense wat liefde gehad het en hulle was baie skaars, maar die oorgrote meerderheid het mekaar in onguns behandel en was nie meer gehoorsaam aan MY woorde van liefde, gespreek aan hulle vanaf Adam se tyd nie. Dink julle dat EK eers die wette van liefde vir die Israeliete in die woestyn gegee het? As julle so dink, maak julle ‘n baie groot fout, omdat EK nog van altyd af met MY kinders gepraat het. Watse God sou EK wees as EK eers met MY volk sou spreek baie jare nadat EK hulle geskape het? Nee, EK het hulle al van die vroegste tye af met MY liefdeswette onderrig. Daarom kan julle MY nie bind aan MY gespreekte woord op die berg Sinai nie, omdat dit ‘n voorstel en vraag van Moses was. Hoe weet julle wat Moses MY gevra het in sy hart? Hy het MY gevra vir sekere riglyne om die volk te kon verbeter na hulle uittog uit Egipteland uit. EK het die liefdeloosheid van die volk raakgesien en dit aan Moses toegestaan om sekere wette ekstra van MY gebooie wat aan hulle gegee is, by te voeg. Daardie wette was die wette van die reiniging en al die ander wette van daardie tyd wat onmoontlik én onnodig is om nou na te kom. Ek wil julle net MY gebooie van liefde op die hart druk en julle daarin onderrig. Nou kan julle sê dat hier nou ook liefdeloosheid heers en dat dit die mense sal baat om weer daardie wette te onderhou, maar EK sê vir julle dat daardie wette ook gegee is om die ander volkere uit die midde van My volk uit te kry. Niemand kon die wette tot in die fynste besonderhede onderhou nie, en is daardeur baie swaar gestraf, wat vir die ander volke dan ook teveel geword het en hulle het teruggegaan na hulle eie mense toe. EK is ‘n God van reinheid en wil daarom My volk rein hê.Vry van ander nasies tussen hulle. EK het dan ook die volk vir baie jare deur die woestyn gelei sodat hulle kon uitsterf en nie tussen MY kinders wees in die beloofde land nie. Daar was baie wat teruggegaan het, na die kwaai, strenge wette van daardie tyd, maar baie het dan ook gebly en moes op die tog deur die woestyn verwyder word. MY kinders, julle lewe ook vandag in liefdeloosheid en het ook sekere wette nodig om julle daarvan af te laat sien, MAAR EK wil hê dat julle MY in liefde moet dien en nie uit dwang nie. Kom na MY met die liefde in jou hart en EK sal jou reinig en jou help, sonder dat jy wette daarvoor nodig het. EK wil harte hê wat uit liefde na MY kom en nie uit vrees nie. Daardie wette wat in die woestyn deur die Israeliete nagekom moes word, het dan ook verval toe EK na die aarde gekom het en die mense se oë oopgemaak het. EK het nie die wette van die reiniging nagekom nie, omdat EK alreeds rein was sedert ewigheid. EK het ter wille van die mense waarby EK tuis was in MY kinderjare, gedoen wat hulle MY aangesê het om te doen en sodoende was EK ook ‘n voorbeeld vir die nageslag, wat hulle ouers moes eer. Maar die wette het EK nie nagekom nie en dit was vir baie ‘n doring in die vlees en hulle het MY al van kleins-af begin haat. EK weet wat nodig is vir die sieleheil van die mens en sê dan nou ook dat die baie wette wat gehou moes word, nie tot die voordeel van die siel gestrek het nie. Dit het eerder die mens gedwing om agteraf sy sondes te doen en dan het die tempel miljoene daaruit gemaak, omdat hulle dan ook die geleentheid gesien het om ryk te word daaruit. Daarom het EK na die aarde gekom, om die wette van Moses vir die Israeliete in die woestyn te kom vervul. EK het die onnodige vergeefse wette kom afstel en net MY wette van liefde, wat vandag nog staan, kom herstel. Wat is die beste? Om mense te dwing om ‘n klomp wette te gehoorsaam en hulle dan sodoende tot poppe van gehoorsaamheid aan MY te dwing? Of is dit beter om die mense se harte te laat verander sodat hulle uit vrye wil uit, hulle naaste en MY bo alles sal liefhê? EK sou sê dit is beter om die mens se hart in liefde te verander, sodat hy uit vrye wil nie meer sal sondig nie. Dan hoef jy hom nie met ‘n valkoog dop te hou of hy nie dalk die goed van sy naaste steel nie. Jy hoef dan ook nie bekommerd te wees of jou buurman dalk nie skelm by jou vrou kuier nie. MY kinders, verstaan julle nou waarom EK so op die liefde hamer? Dit is omdat EK SELF liefde is en EK SELF sal julle harte verander sodat julle niks verkeerd doen uit julle eie uit nie. Daar is nie sin in om ‘n klomp wette na te kom, wat jou MOET verander, maar dit nie regkry nie, omdat dit die vrye keuse van die siel is. Maar daar sit sin in om die hart in liefde te verander sodat die liefde die aanwysing sal wees van alles wat jy doen. Is die liefde nie die aanwysing hoe jy jou meisie of vrou moet behandel nie. Die liefde wys jou hoe jy jou vrou moet behandel en dit sal altyd met die grootste respek en deernis gedoen word. Daarin lê vir julle die bewys dat die liefde die enigste riglyn vir julle moet wees. MY woorde wat gespreek is, sal vir altyd bestaan, maar die woorde deur ‘n mens, en hier praat EK van Moses, sal nie vir ewig bestaan nie, al het EK MY toestemming vir die wette gegee. Dit was nog steeds hy wat dit van MY gevra het en nie ‘n besluit uit MY eie wat Ek op hulle afgedwing het nie. As julle MY gehoorsaam, sal julle nie nodig hê om ‘n klomp wette te gehoorsaam nie, maar sal julle harte in liefde verander, en sal dan alles doen wat EK van julle verwag, uit julle eie uit. Dit is dan die rede vir die wette, gegee deur Moses, MY kneg wat MY volk uit Egipteland uitgelei het.
Amen.
 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205