DIE VERBORGENHEID
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 34
6 Feb.2008 06:27
EK sien alles in die heelal en Ek sien ook waar daar met heftigheid teen MY kinders baklei word. Elke liewe woord teen MYNE word gehoor en niemand kan iets vir MY oë wegsteek nie. Daarom wil EK vir almal wat MY woord uitdra en deur die mense bespot en selfs belaster word, sê dat hulle nie bekommerd moet wees nie, want EK sal al julle laste dra en julle van julle bose vervolgers verlos. Moenie bekommerd wees en mismoedig word wanneer hulle julle as boos afmaak en julle agteraf beswadder nie. Onthou dat EK dit ook moes verdra en nog meer, wat hulle aan MY gedoen het. Wees verseker van MY bystand en Liefde en weet dat EK julle deur dit alles dra. As daar tye kom waar julle in opdrag van MY vir iemand iets moet sê, sal julle ook die krag van MY ontvang om dit te doen, al word julle met klippe bestook. EK sal julle almal beskerm en voor julle gaan staan en die klippe SELF vang wat na julle kant toe kom. EK sal julle oë oopmaak, sodat julle kan weet dat EK naby is en julle beskerm. MY kinders, maar julle moet bereid wees om vir MY te gaan veg en te ly in MY Naam. Moenie by die huis sit en wag dat iemand na jou kom wanneer EK jou gestuur het nie. As EK jou na iemand stuur, moet jy gaan en sonder skroom of skaamte, MY woord aan daardie persoon gee. EK het gister MY skryfkneg gestuur en sy het gegaan. Op die pad het ek aan haar gesê dat sy met klippe gegooi gaan word, maar dat EK voor haar staan en haar beskerm. Daar is sy toe met klippe bestook op ‘n baie subtiele wyse en EK het dit aan haar gesê terwyl sy bestook is. Die klipgooier dink natuurlik dat sy niks daarvan weet nie, maar EK het aan haar gesê dat EK voor haar staan en die klippe wat na haar kant toe kom, opvang. Dit wat duidelik teen haar gesê is, maar op ‘n ”liefdevolle” manier is deur MY opgevang en sy het niks gevoel nie. Inteendeel voel sy niks kwaad vir die persoon wat dit gedoen het nie. Dit is wat EK belowe het vir almal wat MY liefhet en daar sal nog erger dinge vir julle almal kom. Maar vir die wat MY liefhet en bereid is om vir MY te ly, sal daar altyd redding wees en EK sal julle nooit vir die wolwe los om verskeur te word nie. Gaan doen MY werk wat EK vir julle oplê en weet dat EK jou gestuur het en niemand anders nie. Gehoorsaam MY en nie die mens wat jou liggaam kan skaad nie. EK alleen kan red of verdoem en daarom moet julle MY eerder vrees as die mense wat julle niks kan doen nie. EK wil egter nie gevrees word in die ware sin van die woord nie, maar EK wil bemin word en daarin lê die regte vrees wat EK wil hê. Gaan met moed en durf en daad na die plek waarheen EK jou stuur en weet dat jy nie uit jouself gaan nie, maar deur MY. EK sal jou nie op die pad daarheen verlaat en jou aan jou eie lot oorlaat nie. Dit belowe EK jou.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205