DIE VERBORGENHEID
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 21
1 Feb.2008 09 :51
Daar is sekere dinge wat julle nie verstaan omtrent die wedergeboorte nie. EK spoor julle aan om wedergebore te word, omdat Ek weet wat dit behels en ook omdat EK julle nader aan MY wil hê. EK weet dat julle almal dit begeer, maar nie so baie aandag daaraan gee soos wat julle moet nie. Die verborgenheid daarvan is dat, hoe meer julle daarna soek en MY daarna vra, hoe vinniger sal julle dit verkry. Die tyd van die wedergeboorte hang van elkeen self af en hoe meer jy aan MY dink en na MY streef, hoe vinniger sal jy met MY Een word. Julle dink dat EK daardie tyd bepaal en dat julle maar net moet glo en bid, maar EK sê vir julle dat dit nie so is nie. Elke een moet self gaan soek daarvoor en wanneer EK sien dat jy MY met jou hele hart soek en bereid is om die dinge in die lewe wat EK van jou vra, bereidwillig af te staan, sal EK jou tegemoet kom en met jou Een word. EK het aan julle gesê om minder te eet en julleself te kruisig wat die kos aanbetref. Daar is min van julle wat dit werklik doen, maar julle wil wedergebore word. As julle wedergebore wil word en die eenheid met MY wil bereik, moet julle ongelukkig afsien van die dinge wat EK julle opdra. Net so is dit met die reiniging tusssen man en vrou. Laat mekaar met rus en kom soek MY en al voel jy of jou hart wil breek, moet jy MY om krag kom vra en EK sal jou deur alles help. Is dit nie waar dat EK gesê het dat EK elke man en vrou weer aan mekaar sal teruggee nie? Nou waarom wil julle dan nie laat los nie? EK sal nie een huwelik wat deur MY gereinig word, tot niet laat gaan nie en daar sal niemand verdoem word sodat hy nie weer alles sal terugkry wat hy ter wille van MY moes los nie. Daarom sê EK julle weer, alles wat julle ter wille van MY opgee, sal EK vernuwe en jy sal dit terugkry - nuut oorgedoen en suiwer. Sonder smet en sonder enige gebrek. Dit wat julle nou het, is vol gebreke en EK, wat julle Vader is, wil dit vir julle weer nuut teruggee, maar julle moet bereid wees om dit aan MY af te staan. Daar is baie wat daarvan kan getuig en kan vertel van die wonderwerke wat EK in hulle lewens verrig het, net omdat hulle bereid was om dit af te gee ter wille van MY. Julle moet almal Een met MY word, voordat die geloofstryd op hande is, anders sal julle nie die stryd kan stry tot op die einde nie. Poog om nóu Een met MY te word, voor die stryd in julle land en julle sal die stryd met ope arms tegemoet kan hardloop en ook ander daardeur kan help. Dit wil EK vir julle gee as julle dit net wil hê. Wat sal julle beter deur die stryd kan dra as juis die wedergeboorte en daarmee die Eenwording met MY? EK sal julle vleuels gee sodat julle oor die vyand kan vlieg, terwyl die wat nog nie met MY Een is nie, die vyand tegemoet moet gaan met net die vertroue op MY. Dit is ook reg om in MY te vertrou, maar is dit nie nog beter om heeltemal Een met MY te wees en alles te kan deursien nie? Daarom, MY geliefdes, wil EK dit vandag dringend op die hart druk om die eenheid ernstiger met MY te soek en EK sal julle genadig wees en julle tegemoet kom. EK sal julle in MY arms wegdra, terwyl die wêreld in stryd gewikkel is om jou, en jy sal met MY krag en deur MY GEES, wondere verrig vir jou medebroers wat nog nie met MY Een is nie. Dit spreek EK, Jahweh van die leërskare aan julle, MY volk.
Amen.
 
 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205