Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 1

1                    Dit was die gebruik en voorgeskrewe reël in die hele ryk van Juda, dat ouers hul kinders, wanneer hulle die twaalfde lewensjaar bereik het, na Jerusalem moet bring, waar hulle in die Tempel deur die ouderlinge, fariseërs en skrifgeleerdes ondervra word oor alles wat hulle tot op daardie ouderdom, veral met betrekking tot die leerstellings van God en die profete, hul eie gemaak het.

2                    Vir sodanige eksamen moes ook `n klein fooi betaal word, waarvolgens die wat getoets is, indien hulle dit wou hê, teen `n tweede klein fooi `n slaagrapport ontvang het. As die kinders in elke opsig presteer het, dan kon hulle ook in die skool van die Tempel opgeneem word en het die vooruitsig gehad om eendag `n dienaar van die Tempel te word.

3                    Kon die kinders bewys dat hulle van die stam Levi afkomstig is, dan het dit maklik gegaan met die opname in die skool van die Tempel. Kon die ouers dit egter nie bewys nie, dan het dit met die opname minder goed gegaan en hulle moes hulle feitlik in die stam van Levi inkoop en aan die Tempel `n beduidende offer bring.

4                    Die dogters was van hierdie eksamen vrygestel - behalwe as hulle op aandrang van die ouers hulle ook wou laat toets, ter wille van die groter welgevalligheid voor God. In hierdie geval is hulle deur die oumoeders van die Tempel, in `n spesiale woning deeglik getoets en het ook `n rapport vir alle kennis en vaardighede wat hulle tot dusver opgedoen het, verwerf. Sulke meisies kon dan vrouens van die priesters en Leviete word.

5                    Die eksamen van die seuns was van korte duur en nog meer so vir die meisies. Daar was enkele hoofvrae wat altyd gevra was, wat elke man van Juda al lankal uit die kop geken het.

6                    Die antwoord op die bekende vrae is vir die kinders deurgaans ingehamer en die eksaminator het skaars die vraag gevra, dan was die getoetste seun ook reeds klaar met die antwoord.

7                    Niemand het meer as tien vrae gekry nie en dit is daarom maklik verstaanbaar, dat die eksamen van `n seun skaars langer as `n minuut geduur het. Veral as hy die eerste vraag baie goed en volledig geantwoord het, was hy meestal vrygestel van die res.

8                    Na voltooiing van die kort toets het die kind `n klein papirus gekry, waarmee hy saam met sy ouers by dieselfde belastingskassiere waar hy vantevore die eksamenfooie betaal het, moes aanmeld. Daar het hy dan met voorlegging van die toetspapiertjie weer `n klein fooi betaal, indien hy in plek van die papiertjie `n tempelrapport wou hê. Kinders van arm ouers moes `n bewys van armoede saambring, andersins was hulle nie tot die eksamen toegelaat nie.

9                    Die tyd van die eksamen was óf tydens die Paasfees óf ten tye van die Fees van Takskuilings en het gewoonlik vyf tot ses dae geduur. Maar voordat die eksamen in die Tempel `n aanvang geneem het, het tempeldienaars reeds `n paar dae vantevore na die herberge gegaan om vas te stel hoeveel toetskandidate teenwoordig sou wees.

10                Teen betaling van `n klein fooi kon iemand voorkeurbehandeling kry en het hy daardeur sy beurt om getoets te word, vroeër gekry. Diegene wat nie betaal het nie, moes dan gewoonlik die laastes wees en met hulle eksamen was dan ook nie baie moeite gedoen nie en dan is daar gewoonlik ook geen rapporte uitgereik nie. Daar word belowe dat dit nog gedoen sal word, maar daarvan het gewoonlik niks gekom nie.

11                Maar soms het dit ook gebeur, dat seuns van besonder baie gees en talent, teenvrae aan die eksaminatore gerig het en `n verduideliking verwag het oor skrifuitleg uit die profete. By sulke geleenthede was daar onder die eksaminatore gewoonlik mismoedige en ergerlike gesigte te sien, want die eksaminatore was selde met die Skrif en die profete meer vertroud as die hedendaagse baie skraal opgeleide Abc-onderwysers. Hulle het net dit geweet waaroor hulle vrae gevra het. Verder as dit het dit gewoonlik maar donker gelyk.

12                Teenwoordig by die eksamen was daar egter ook sogenaamde eksamenkommissarisse, bestaande uit verskeie ouderlinge en skrifgeleerdes. Hulle toets nie, maar luister net na dit wat gevra was. Net in bogenoemde spesiale geval, wanneer dit die moeite werd was, het hulle begin roer deur die vraende seun te berispe oor sy onverstandige vermetelheid deurdat hy dit gewaag het om sy eksaminatore in `n onaangename, tydrowende posisie te plaas.

13                Sodanige seun, wanneer hy hom nie laat afskrik het nie en by sy voorneme en verwagting gebly het, was meer vir die skyn voor die volk as wat dit was vir die dieper waarheid daarvan, vir eers gevra om te wag vir die verduidelikende antwoorde tot `n sekere uur in die aand, waar hy dan eers op sy eie ondervra is.

14                Wanneer die beloofde uur aangebreek het, is sulke kandidate nog steeds met heelwat onwilligheid uit hul wegsteekplek geroep, waar hulle weer die vraag moes herhaal. Een van die ouderlinge en skrifgeleerdes het dan gewoonlik vir die vraer `n mistieke en soveel as moontlik verwarrende antwoord gegee, waaruit die seun beslis nie slimmer kon word nie - en die volk het hulleself op die bors geslaan met diep, dom, stom, doof en blinde bewondering oor die onbegryplike diepte van die Gees van God deur die mond van `n ouderling of skrifgeleerde en het ten slotte weer die Seun berispe oor sy onbesonne vermetelheid.