Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 28

  1. Joram sê: “Dit sal ons nou nie as `n uitgemaakte saak beskou nie! Want met tyd kom raad en wanneer Salomo beweer dat alles in die wêreld ydel is, dan kan dit tog ook wees dat U huidige voorspelling ook tot ydelheid sal oorgaan en dat dit wel sal gebeur dat ons U werklike goeie raad sal nakom! Want sien, hier is baie van ons wat heel ingenome is met U! Van al die inwoners van die tempel is ons natuurlik in die minderheid, maar as taamlik hooggeplaastes dra ons mening aansienlik gewig! - Wat sê U daarvan?”
  2. Ek sê: “Dikwels in die verlede het daar heelwat beter toestande in hierdie huis geheers, maar ten spyte daarvan het die beter deel nog nooit deurgedring nie, maar altyd net die oorgrote meerderheid wat geweet het hoe om die groter geraas te maak! Maar Ek sê vir jou en al die ander wat dink soos jy en daarby ook so wil doen: - Ook by die meerderheid van kwaaddoeners sal die enkele een wat voor die Aangesig van God geregverdig is, nie vergeet word nie.
  3. Julle het in die algemeen [nie in die heiligheid nie: vertaler] weer `n nuwe verbondsark vir julle laat maak en het `n nuwe houer aangeskaf vir die bewaring van die ‘vervloekte water’ wat deur geen profeet aanbeveel was nie. Dit is `n baie bose uitvindsel en instelling van die huidige tyd! Waarlik, dit was onnodig, die ark sowel as die houer! Waarom het julle nie instede daarvan, julle harte voor God vernuwe deur opregte boetedoening en julle ou wêreldse gesindheid omskep in ware liefde en barmhartigheid nie?!
  4. Waarlik, Ek sê vir julle: Die ou verbondsark, vol van die Gees vanuit God, staan nou in My voor julle en sê openlik vir julle in julle gesigte dat daar in julle nuwe verbondsark nie `n sonstofgrootte deeltjie van die Gees van God teenwoordig is nie; en die vervloekte water is die bose trane van diegene se wêreldse verliese waaruit julle hoop om `n groot wins te maak. Die van hulle wat julle verraai het teenoor die Romeine, indien julle hulle net in julle kloue kon kry, het ellendig gesterf hoofsaaklik as gevolg van die Vervloekte Water!
  5. Maar van nou af sal selfs die duisend keer vervloekte water nie meer vir julle van enige nut wees nie! Dit was eens op `n tyd bepaal dat diegene wat tempelverraad gepleeg het, met betrekking tot aangeleenthede van God teen die vyande van JaHWeH - soos daar die Filistyne was wat bose en duister heidene van ouds was, - die besoedelde water van die Dooie See moes drink en sou die water geen leed aan hulle doen nie, hulle as onskuldig bevind moes word. Daarteenoor was dit dat wanneer hulle mae begin het om op te swel, hulle as skuldiges aan hulle bose noodlot oorgelaat moes word en as gevolg van die uitwerking van die dooie water tot niet moes gaan. Maar hoe lank is dit dat hierdie bepaling in `n heel ander een oorgegaan het?
  6. Hoeveel duisende het nie al as gevolg van hierdie nuwe gifwater ten gronde gegaan nie, sonder dat hulle die allergeringste inligting van die suiwer God van die Tempel aan enige van die bose heidene verraai het nie! Hoekom het julle dan nie self van die dooie water gedrink nie, aangesien julle in die geheim heel dikwels vir die heidene - maar natuurlik net vir baie goud - die Allerheiligste vir besigtiging oopgesluit het?!
  7. Julle sien, dit en nog baie ander dinge gebeur hier in die Tempel; ja, die sogenaamde Huis van God op aarde het verander in `n grot waar roof en moord gepleeg word. Daar bestaan geen misdaad wat nog nie telkemale in hierdie Tempel gepleeg is nie! Dink julle dan dat so `n plek nog steeds goed genoeg is om vir God JaHWeH as `n woonplek te dien?! Waarlikwaar, die swaard waaraan die bloed van jou broer kleef, moet jy nooit in die slagveld trek nie, want daaraan hang reeds `n ou vloek en jy sal nooit daarmee `n oorwinning behaal nie!
  8. Ja, julle harte kan julle nog suiwer, indien julle dit regtig wil doen, maar hierdie mure nooit meer nie! Het julle tog nie self `n wet waarvolgens `n hele land, `n huis, `n akker, `n huisdier en `n mens deur `n growwe sonde teen die Gees van God vir altyd besoedel kan word nie; waarom nie hierdie Tempel nie, waarin daar al dikwels hemeltergende misdade beoefen is?!
  9. Maar Ek sê vir julle: Nie net hierdie Tempel nie, maar ook die hele land is reeds vir `n baie lang tyd nie meer redbaar en suiwerbaar nie en is sodanig besoedel dat sy binnekort deur die heidene vertrap sal word en in `n woonplek van rowers en wilde wesens verander sal word.
  10. Hiermee het Ek nou My mening vir julle uitgespreek sonder om doekies om te draai en julle kan nou daarmee maak wat julle wil? Want Ek sal julle binnekort verlaat en wat Ek gespreek het, het Ek slegs vir julle gespreek en vir niemand anders nie, alhoewel Ek nog altyd geweet het hoe sake met julle staan. Ek sal dit ook aan niemand verder vertel nie, aangesien dit van geen nut sou wees nie! Maar julle kan nog aan die saak verander, as julle wil, maar hierdie mure is vir niks meer geskik nie! - Verstaan julle dit?”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205