Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 5

  1.  Hierop wend die Hoof hom na My toe en sê: “Dit is mos so, Jy wil mos van ons al die presiese datums en gebeure van die gedenkwaardige geboorte te Bethlehem weet?”
  2.  Ek sê: “O, daardie moeite en arbeid kan jy jou gerus spaar, want alles is baie getrou en in waarheid aan My bekend soos aan niemand van julle nie! Ek wil net van julle weet hoe julle dit wat alles destyds in Bethlehem gebeur het in samehang sien met die verklaring van al die profete en vernaamlik met die getuienis van Jesaja. Dit gaan slegs hieroor en om niks anders nie, My ouderlinge!”
  3.  Die Hoof uit Bethlehem sê : “Ja my liewe, dierbare Seun, sien, Jy verwag dinge van ons wat ons baie moeilik of glad nie in staat is om vir Jou te gee nie!
  4.  Dit is waar, dat tussen die verklarings van die profeet Jesaja en die geboorte wat twaalf jaar gelede in die stal in Bethlehem plaasgevind het - waar die plek ook deur `n profeet genoem is - onmiskenbaar `n tipe verband gesoek kan word en nie so maklik gevind sal kan word nie; maar, my liewe Seun, hoeveel soortgelyke gevalle mag reeds sedert die tye van die profeet Jesaja voorgekom het en steeds is daar van die ene liggaamlike ImmanuEl geen spoor te sien nie!
  5.  Judea was so te sê reeds meermaal sonder konings en verskeie maagde in Bethlehem het hul kinders in stalle gebaar en soms ook onder groot seremonie, ofskoon net toevallig, maar wat net geïsoleerd en op sy eie as `n natuurverskynsel plaasgevind het.
  6.  Swak en bygelowige mense onder toetrede van winsgierige towenaars uit Indië en Persië en sterrelesers, waaraan daar by ons nog nooit `n tekort was nie, het geweet hoe om so iets te benut. Vertroud met die sages van die profete, benut hulle steeds sulke uitsonderlike geleenthede en verkondig hulle aan die blinde manne van Juda met die ernstige uitdrukking van `n profeet hoe hulle lank verwagte Gesalfde in die wêreld gebore is.
  7.  Maar tyd, die ongevraagde vernietigende element van alle menslike werke, sages en versinsels, het die jongere geslag weer tot beter insigte gebring. Alles het in die bodemlose diepte van die steeds groeiende vergetelheid weggesink en vir ons het niks oorgebly nie, behalwe `n ydel sage gepaardgaande met die grootste moontlike verwarring! Die verklarings van die profete is mistieke beelde, waaraan die mense nog honderde jare aan sal knaag; maar geen volk op hierdie aarde sal oplossings daarvoor kan vind nie.
  8.  Sien Jy nou, my dierbare Seun, net so staan sake met die wonder­baarlike geboorte twaalf jaar gelede te Bethlehem, in die gebied wat aan my baie bekend is. Juis omdat die profete dit so baie noem, word hierdie gebied steeds deur allerlei towenaars, sieners en sterrelesers besoek, om te sien of daar nie dalk iets sal gebeur wat hulle vir hulle eie voordeel kan uitbuit nie. Die geboorte twaalf jaar gelede was baie water op hulle droë lande.
  9.  Die drie towenaars uit Persië het sover ek weet, vir hulle geskenke aan die maagd, `n groot aantal skape, kalwers, koeie en osse van die herders ontvang as teen­vergoeding en hulle het daarom beslis nie hulle reis verniet gemaak nie. Maar nou het twaalf jaar reeds verloop en alreeds dink geen mens meer aan hierdie verhaal nie!
  10.  Dat Jy uit die dromerland Galilea weer hierdie verhaal vir ons opgedis het, is vir my glad nie vreemd nie, want Galilea bly steeds die land van dromers, daarom dat dit ook alreeds deur die voorvaders beskryf is as `n land waaruit `n ware profeet nooit sal opstaan nie.
  11.  Daarmee, my dierbare Seun, glo ek ook dat ek Jou eerste vraag volledig beantwoord het! Dit kan wel wees dat JaHWeH eendag vir die nou baie onderdrukte Juda `n held sal opwek, wat hulle weer tot `n vrye volk sal verhef; maar daarvoor is daar nou volgens die natuurlike verloop van sake nie die geringste vooruitsig nie.
  12.  Hoe moet `n held wees en van waar af moes hy vandaan kom om teen die ongelooflike mag van die Romeine te kan staan?! Dit kan dalk eenmaal in `n duisend jaar gebeur indien al die ander wêreld­magte, nes Rome, per toeval los en swak word - maar nou is daar vir lank geen vooruitsig daarvoor nie en Jou aangeraakte eerste vraag gaan dus klaar­blyklik oor in blou lug, wat wil sê: dit handel oor niks en vergaan ook in absoluut niks. - Het Jy nou uiteindelik helderheid oor Jou eerste vraag?”
  13.  Ek sê: “Ja, Ja, wanneer jy alles volgens die maatstaf van hierdie wêreld meet, dan mag jy reg wees. Maar hier moet net `n geestelike maatstaf gebruik word, waarvan jy blykbaar geen begrip het nie. Sodoende het jy vir My met jou hele toespraak, waarin jy voorgee om baie vindingryk te wees, met betrekking tot My eerste vraag net so min as niks gesê nie!
  14.  Want indien die Gesalfde sal kom, sal Hy geen materiële nie, maar net `n geestelike ryk op aarde stig en daardie ryk sal tot in ewigheid geen einde hê nie, soos die profeet Jesaja ook vir die komende Gesalfde voorspel het.
  15.  Maar wat is `n geestelike ryk op aarde? - Dit is nie `n ryk met uiterlike skouspel nie, maar moet inwendig in die mens geopenbaar word en `n mens wat in daardie ware aardse ryk van God sal inkom, sal waaragtig lewe en sal in ewigheid die dood nie sien, nog voel en nog proe nie, soos wat Dawid, Daniël en Jesaja voorspel het.
  16.  Wanneer dinge met betrekking tot die beloofde Gesalfde nou so daar uitsien en dit kon ook nooit anders gewees het nie, hoe en om watter rede sou daardie baie ongewone en wonderbaarlike geboorte te Bethlehem sonder betekenis wees?!
  17.  God het daardie kind wonderbaarlik van die moordende hand van Herodes beskerm. Hy leef en staan huidiglik, natuurlik uiters teruggetrokke, waar Hy moet wees, met `n gebiedende krag wat in alle elemente teenwoordig is, soos dit net vir een God moontlik kan wees. Niemand kan vir Hom wegkruip nie; maar Hy verberg Hom voor die mense. Dit is ook vir niemand moontlik om Hom te vind nie, as Hy Hom nie vrywillig laat vind nie.
  18.  Hy het nooit geleer om te lees en te skryf nie en tog is daar geen Skrif in die wêreld wat Hy nie kan lees nie. Hy skryf in alle tale en is bekend met alle kunste wat in die wêreld teenwoordig is en Hy besit `n krag waarvoor die berge bewe en die magtigste seder sy hoof tot op die aarde moet buig en selfs die son, maan en sterre blyk gehoorsaam te wees aan sy wil! - Wat Ek hier sê, is nie oordrewe nie, maar in geheel woordeliks die waarheid!
  19.  Maar as dit presies so is en nie anders nie, dan is Ek tog van mening, dat dit van julle kant die moeite werd behoort te wees, om vir julle meer kennis daaroor in te win en in die profete te lees of die profesieë van Jesaja nie ooreenstem met dié spesifieke ouers van die kind, met die kind self, met sy geboorte, met die plek van geboorte, met die tyd, met sy huidige woonplek en met verskeie tekens wat Hy alreeds van Hom Self gegee het nie!
  20. Hierdie op sigself beslis nie onbelangrike saak moes van julle priesters, wyses, skrifgeleerdes en ouderlinge van die volk tog nie so onopgemerk gebly nie, aangesien julle tog daardie posisies in die volk beklee, vanwaar die volk die duidelike aankondiging oor die aankoms van die beloofde Gesalfde, uitsluitlik en met alle reg moet verwag. - Ek praat volgens My duur gekoopte reg en niemand kan vir My sê om stil te bly nie! Daar staan die Romeinse Regter, slegs daardie reg is toegelaat!”
  21. Ek sou hierdie verwysing na die Regter nie gemaak het, as Ek nie gedurende die vloei van My toespraak deur `n ou, trotse fariseër vermaan is om stil te bly nie en dat hierdie nie dinge is waaroor `n voorbarige varkoppasser van Galilea moet oordeel nie.
  22.  Maar die Regter, wat ten volle aan My kant was, het die fariseër ernstig berispe oor sy grofheid en het hom verbied om ooit weer met sulke gemene grootdoenerige taal in sy teenwoordigheid na vore te kom. Want My aankondigings oor die Wonderseun wat in Násaret woon, was ook vir die Romeine meer belangrik as al hulle verslete Joodse gedoentes. Hy sê dit toe reguit vir die fariseërs in hulle gesigte:
  23. “Julle leerstellings het, soos geen ander leerstelling op dees aarde, `n totale reformasie nodig, andersins sal dit nie meer vyftig jaar lank staan nie! Want soos julle godsleer en julle erediens nou beoefen word, is Rome se Bacchanalië in vergeleke daarmee `n ware son, ofskoon dit as verering van `n hoër godwese as `n ware misgeboorte van die menslike verstand beskou kan word!
  24.  Jy, dierbare Seun, praat maar hartlik voort! Daar sal aan Jou geen leed aangedoen word nie, want daar blyk in Jou meer verstand te wees as in hierdie hele Tempel! Daarom, praat maar my liewe Seun!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205