Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 6

  1.  Toe stap daar `n jong fariseër na vore, wat eintlik nog `n Leviet was en vra om toestemming om `n paar woorde hier te mag sê. Die Regter het hom die toestemming gegee met die opmerking om gelate en verstandig te praat.
  2.  Die Leviet begin te praat en sê: “Ek kom van Galilea uit die omgewing van Násaret af en ek kan my nou herinner dat ek verskeie dinge van die Wonderseun gehoor het en waarvan hierdie Seun nou melding gemaak het. Maar ek kan nie sê dat ek Hom persoonlik leer ken het nie; maar deur hoorsê het ek al baie dinge van Hom gehoor.
  3.  Oor sy ouers het ek navraag gedoen, so goed as moontlik en ek het verneem dat sy vader `n timmerman met die naam Josef is en dat sy tweede vrou Maria heet en dat altwee reguit primo­genituurlyn (linie van eersge­borenes) afstammelinge van Dawid is. En hiervolgens stem dit ooreen met die verklaring van die profete.
  4.  Ek is dus van mening dat dit tog vir ons Judeërs die moeite werd sal wees om hierdie baie belangrike saak van naderby te ondersoek. Ek beveel egter niks, maar wou net in alle nederigheid my mening oordra, aangesien ek dit as my plig beskou.  Wat alles verder moet gebeur, dit moet die hoë tempelraad oor besluit. - Ek het in alle nederigheid gepraat.”
  5. Toe staan een van die hoëpriesters op en sê: “Waarom moet die Tempel ag slaan op die praatjies van `n voorbarige Seun?! Daar moet vir die Tempel hoër tekens gegee word! Daar was al dikwels soortgelyke praatjies  onder die Judeërs en daar het ook al wonderwerke plaasgevind en tog kon daar later geen spoor van `n Gesalfde gevind word nie!
  6.  Hoe lank gelede is dit dan dat Sagaria as hoëpriester die Tempel bestuur het?! Sy vrou Elisabeth het vir hom, reeds op hoë ouderdom, `n seun gebaar wat aan hom deur `n Boodskapper, toe hy in die Tempel geoffer het, aangewys was. Sagaria wou daardie aanwysing nie glo nie, want sy vrou was te oud daarvoor. Daaroor is hy is toe met stomheid geslaan totdat sy vrou geboorte gegee het. Op die dag toe die nuus dat sy vrou vir hom `n seun gebaar het, hom in die Tempel bereik het en hy gevra is hoe die seun genoem sal word, is sy tong los gemaak en hy het gesê: ‘Johannes!’ En sien, dit was juis die naam, wat tien maande vantevore deur die Bood­skapper van JaHWeH aan hom gegee is!
  7.  Maar Sagaria vra die Boodskapper: “Wat sal van die Seun word? Maak aan my die wil van JaHWeH bekend!”
  8.  Maar die Boodskapper sê: “Dit is hy, van wie Jesaja gepraat het: ‘Hy sal wees die stem van `n prediker in die woestyn: berei die weg vir JaHWeH en maak gelyk sy voetweë! Alle valleie moet vol word en alle berge en bulte moet afgeplat word en wat krom is, moet reguit word; maar wat ongelyk is, moet word `n gelyke pad! En alle vlees sal die Verlosser van God sien!”
  9.  Daar is destyds ondersoek ingestel en daar is bevind dat die heerssugtige Sagaria daardeur vir homself met die geheime hulp van die Esseners `n erfbare geestelike dinastie wou stig. Hy is derhalwe deur die arm van geregtigheid gevang en vir hierdie misdaad met die dood gestraf.
  10.  Wat het nou geword van daardie groot belofte van `n Gesalfde? Geen mens dink meer daaraan nie! Alles het voor die Tempel, wat deur JaHWeH vir alle tye der tye geheilig is, soos `n sweempie van `n modderpoel voor die mag van die son in niks vergaan! En tog het daardie storie by die hoëpriester self ontstaan. Maar aangesien dit besoedel was en gedreig het om die heiligheid van God te besoedel, het die Heer ook nie getalm om hierdie oortreder op die regte tyd te tugtig nie.
  11.  Maar as daardie baie gedenkwaardige storie alreeds aan so `n einde gekom het, hoe sou die timmerman Josef se messiasverhaal dan vir die Tempel voorkom, waaragter niks anders as Esseense- en Indomagiese bedrog steek nie! Die Seun moet nou net sy wonderwerke voor ons alsienende oë doen en ons sal dan verstaan om dit aan die dom volk te verduidelik en om aan hulle hul vermeende Gesalfde te openbaar!
  12.  Indien Hy (die Gesalfde) sal kom, sal daar eers vooraf voor al die oë van die wêreld groot tekens aan die uitspansel plaasvind. Dan eers sal die Verwagte Een kom, toegerus met alle mag vanuit die hemele, om sy volk te verlos van die mag van die heidene en Hy sal voortaan `n Heerser en Koning oor alle lande van die aarde wees en die kinders van Abraham sal sy volk wees en dit sal so bly tot in ewigheid!
  13.  Wie dit weet soos wat ons uit die boeke van die ou profesieë kry aangaande die aankoms van die Gesalfde, kan tog onmoontlik glo dat God, wat Sy aankoms altyd op besonder skouspelagtige wyse voor die oë van die mense en die hele skepping vooruitgeloop het, nou eweskielik onopsigtelik soos `n swak mens wat soos ons aan die dood onderhewig is en selfs as `n buite-egtelike kind, in hierdie wêreld sal kom!
  14.  Want ons weet dan dat Jojakim se dogter Maria swanger geword het voordat sy met Josef in die Tempel getroud was. Die meisie was aanvanklik onder die sorg van hierdie bekende boukunstenaar uit die stam van Dawid geplaas en net om hom nie ten gronde te laat gaan nie, was hy vriendelik aangeraai om die meisie as vrou te neem om sodoende die vlek uit te vee, voordat die saak aan die volk bekend sou word.
  15.  Maar daardie Seun is en bly nog steeds `n buite-egtelike kind. As gevolg daarvan is die moontlikheid nog minder dat Hy die beloofde Gesalfde kon wees, al sou Hy ook in staat gewees het om al die berge deur sy aangeleerde towerkunste te verplaas!
  16.  Voortspruitend uit die inhoud van die saak sal `n swaksinnige mens selfs kan sien wat enigsins moontlik is en wat geheel en al onmoontlik is!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205