|
Die drie dae in die Tempel JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 12
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31. |
|
|
Hoofstuk 12
-
Op grond van hierdie nuus het die hele groep vinnig die saal in beweeg en die aanwesiges is volgens gebruik met eerbetoning begroet, iets wat die fariseërs baie van gehou het. Sommiges het ook onmiddellik ongelukkig geraak omdat die Seun niks gedoen het wat enigsins soos groet gelyk het nie.
-
As gevolg daarvan kom `n ouderling na My en vra meer beskeie waarom Ek, die ietwat onwillig lykende Seun, niemand gegroet het nie.
-
Maar Ek sê kortliks vir hom: “Dit is dalk vir julle `n goeie gebruik onder mekaar, maar wat het dit met `n twaalfjarige Seun te doen?! Trouens het niemand van julle My ook gegroet nie, waarom moet Ek dan weer iets teruggee wat Ek vantevore nog nooit van julle ontvang het nie?!
-
En buitendien bestaan hierdie gewoonte nie by ons in Galilea nie en beslis nie vir My nie! Want julle laat julle aldag bo alle mate eer en groet, terwyl die wêreld julle tot meesters gemaak het. Maar Ek is op My manier ook `n heel besondere Heer, waarom het julle My dan nie eerste gegroet nie?!
-
O, glo My, Ek as Seun weet presies wie Ek moet groet, maar aan julle is Ek beslis geen groetwoorde verskuldig nie! Die diepere rede kan julle My Romein vra indien julle dit graag wil. Maar vandag is dit die na-Sabbat en op dié dag, soos die Sabbat self, is alle gegroet en eerbetoning volgens julle eie reëls streng verbode, omdat ook dit die Sabbat onteer en die mens vir die hele dag besoedel. Hoekom verwag julle iets van My, wat teen julle eie statute is?”
-
Hierop swyg die lede van die Tempel en kyk met groot oë vir mekaar en die jong Leviet sê: “My hoofde, ons kan dit nie meer met hierdie andersins dierbare Seun uithou nie! Die ergste van die saak is dat Hy alles weet en sodoende ook onherroeplik reg is!”
-
Die Owerpriester sê vir die Romeinse Kommissaris: “Geagte Regter volgens reg en orde! Hierdie Seun het ons na u verwys oor nog `n rede waarom Hy ons nie gegroet het nie. Sal u so goed wees om dit aan ons te verduidelik?!”
-
Die Regter sê: “O, hoekom nie? Boonop doen ek dit baie graag! Maar of dit vir julle `n besonderse vreugde sal wees, dit weet ek nie.”
-
Almal sê: “Sê maar, want vandag is ons in `n goeie bui en ons sal heelwat kan verdra, wat ons andersins nie maklik sou verdra het nie!”
-
Die Regter sê: “Goed so en luister dus nou! Hierdie Seun self is die Wonderseun uit Násaret, wie Hy gister skynbaar net verteenwoordig het! - Hoe hou julle van hierdie storie? Wie ook net een haar aan Hom sal beskadig, sal met my ergste toorn te doen kry!”
-
Toe die tempellede dit hoor, het hulle almal van skrik begin bewe!
-
Eers na `n rukkie sê die Owerpriester: “Hoekom het Jy dit dan nie alreeds gister vir ons gesê nie? As ons dit alreeds gister geweet het, sou ons verseker heel anders met Jou gepraat het en sou ons vir Jou heel ander antwoorde, waarvan Jy beslis meer sou gehou het, gegee het as dié van gister!”
-
Ek sê: “O, maar dit weet Ek baie goed. Maar omdat dit nie vir My om huigelary gaan nie, maar omdat Ek vir die waarheid staan, het Ek dit so gedoen soos wat Ek dit gister gedoen het! En sou Ek vandag nog wees wat Ek gister was, dan sou Ek weer nie `n enkele ware woord van julle gehoor het nie, aangesien julle laasnag uit vrees vir die Romeinse Regter fyn beraadslaag het om aan My toe te gee dat die Gesalfde nou gekom het, slegs om My te kalmeer en daardeur ook die Regter, weens die storie van Sagaria.
-
Maar aangesien Ek nou nie meer die verdediger van die Wonderseun is nie, maar die Wonderseun self, het so `n skielike, onvoorsiene wending van die saak julle sintuie verwar en is julle bose plan verydel en julle staan nou daar vol vrees en angs en weet nie herwaarts of derwaarts nie. - Praat nou, hoe behaag hierdie situasie julle?!”
-
Almal was verbaas en die Owerpriester sê met `n skynbare vriendelike gesig: “Nou, dierbare Wonderseun, aangesien Jy blykbaar alles reeds weet, dan wil ek nog van Jou hoor wie van ons nou eintlik die raad uitgedink het!”
-
Ek sê: “Juis hy aan wie Ek die raad self ingefluister het! Hy is die jongste onder julle en is ook in Galilea gebore: Sy naam is Barnabé!”
-
Hierdie antwoord het soos `n weerlig onder die fariseërs geslaan en `n groot vrees het oor hulle gekom; want talle se gewete was baie besoedel en hulle was bang vir die openbaarmaking van hulle geheime sondes voor die streng Romein.
-
Die Owerpriester fluister saggies in een van die fariseërs se oor: “Kom ons gee vir Simon die geld terug en die vergadering met JaHWeH-staan-by-ons-Seun, wat vir ons nog baie ondraaglikhede sal berei, is verby! Of ons vra Hom niks verder nie! Indien Hy ons iets vra, sal ons Hom wel `n antwoord gee wat Satan self nie sal kan verstaan nie! Nee wat, hierdie kind het nog lank nie bokant ons koppe gegroei nie! Kyk nou hierdie besigheid! Gister was Hy iemand anders - vandag is Hy weer iemand anders!”
-
Hierna trek `n fariseër wat wil slim wees, die Owerpriester opsy en sê vir hom: “Weet u wat?! Ons is mos geen antwoorde meer aan hierdie misbaksel van `n Wonderseun verskuldig nie! Hy vir wie daar betaal is, is dan vandag nie meer Hy nie, maar vir die huidige Een het niemand nog voor betaal nie en sodoende is ons aan Hom ook nie meer enige antwoorde verskuldig nie! - wat dink jy?”
-
Die Owerpriester sê: “Vriend, net `n god kon hierdie gedagte vir jou gegee het! Wanneer die nood op sy ergste is, is hulp van bo baie naby! Die vergadering en konsessie (toestemming om te praat) word dus as afgehandel verklaar, omdat die huidige Seun iemand anders is as wat Hy gister was, waarvoor daar eintlik betaal is!”
-
Hiermee kom die tempelaankondiger vinnig na vore en sê met groot amptelike hoogdrawendheid: “Met volmag van die hoogste Hoëpriesterskap van die Tempel van JaHWeH verklaar ek op grond daarvan dat die huidige Seun nie meer die Seun van gister is, vir wie die groot fooi betaal is nie. Die verdere sitting is nou volledig ontbind en niemand sal vir die geheel en al ander Wonderseun, vir wie daar geen fooi betaal is nie, enige antwoorde verskaf nie!”
-
Maar hierop staan die Regter vol erns op en sê: “Die sitting bly so en julle sal praat! Die huidige Seun is presies dieselfde Een waarvoor die groot fooi betaal is, slegs die morele karakteristieke persoonlikheid het verander. Volgens ons wette verander hierdie slim omstandighede niks aan die regte van die Seun nie en sodoende lui my steeds geldige regteruitspraak: Die sitting duur onveranderd voort vir vandag en môre, wat ook sal gebeur! Vra of antwoord, dit is om het ewe! Dixi!”
|
|
|
|
|