Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 16

  1. Barnabé vra toe die hoë fariseërs vir toestemming om met My te praat, aangesien hy `n goeie idee gekry het. Dit word vir hom toegestaan en hy begin soos volg te praat:
  2. “Luister, Jy my liewe, klein Gesalfde van God uit Násaret in Galilea, wat natuurlik nie veel sê nie! Jy het vir ons verskillende klein bewyse gelewer, waaruit selfs ons met ons verstopte ore begin het om te hoor en met geblinddoekte oë begin het om te sien dat Jy ten slotte tog die beloofde Gesalfde is, maar juis met hierdie insig staan ons nou soos ingespanne osse voor die berg! Wat staan ons te doen? Of wat moet ons nou doen?
  3. Hierdie dag neig alreeds weer einde se kant toe en Jy het nog net môre die gekoopte reg om te praat, ofskoon Jy die Gesalfde is! Daarom is ek van mening dat dit vir Jou tyd geword het om Jou aanwysings vir ons te gee wat van nou af met ons en met die Tempel gaan gebeur, aangesien ons Jou nou herken het! Bly alles soos dit is, of word alles nuut gemaak? Jy is nou eenmaal die beloofde en aan ons gestuurde Gesalfde, wat ons nie wil betwis nie, maar wat nou? - Praat en doen nou, Jy jong menslike God/God, Gesalfde - natuurlik van bo af!”
  4. Ek sê: “As gevolg van hierdie minderwaardige grap van jou was dit werklik nie nodig om jou mond so ver oop te maak en om te wys dat jy baie graag iets wil hê maar dat jy die materiële en geestelike middele daarvoor kort nie! Verstaan jy dit, draer van Bileam?! - Maar omdat jy die vraag nou eenmaal aan My gerig het, naamlik wat van nou af met julle en die Tempel gaan gebeur, moet Ek ook vir jou `n korrekte antwoord daarop gee!
  5. Sien, dit staan geskrywe: “Maar wanneer die Gesalfde kom, sal Hy die wet nie ophef nie - ook nie een jota daarvan nie, - maar sal presies self daaraan voldoen!” Hy sal die Tempel en sy dienaars nie afskaf nie, maar hulle wel vir hulle onwettige verkeerdheid tugtig en aan die honende Leviete wat dink dat hulle al die wysheid het, sal Hy uit dankbare erkenning kenmerk vir hulle swak geplaaste grappe!
  6. Is die bespreking wat op My betrekking het en die onweerlegbare skrifgedeeltes wat op My van toepassing is, dan vir jou `n grap?! Of bewys jy vir My dat Ek nie op `n druppel water een en dieselfde is as Hy waarvan al die profete geprofeteer het nie! Maar as jy dan nie daartoe in staat is nie, wat gee jou die reg om My verspot te maak?! - Wag net - Ek sal ook aan jou `n vraag stel wat jy vir My sal moet beantwoord! Indien jy die vraag nie tot My tevredenheid kan beantwoord nie, sal jy `n ware Midas van die heidene word! (Midas was `n Frigiese koning. Hy het alles wat hy aangeraak het in goud verander en omdat hy voorkeur aan Marsias bo Apollon gegee het, het hy eselore gekry)
  7. Sê vir My, jou vlak grapmaker, wat beteken die naam ‘Jerusalem’?! Wat is versteek daarin? As Leviet en huidige fariseër behoort jy dit uit die boeke van Moshé en ook uit die boek van Henog, wat Noag van die sondvloed oorgebring het onder die titel ‘Die Oorloë van JaHWeH’ (sien ‘Huishouding van God’) weet, en Ek het nou die volle reg om van jou `n verduideliking te eis, want daar is baie versteek in die regte begrip van hierdie naam! Praat nou!”
  8. Die jong Leviet het van die oerhebreeuse taal nie `n blou duit geweet nie. Hy vra My dus vir `n bietjie tyd en geduld en Ek staan dit aan hom toe. Hy stap toe na `n ou skrifgeleerde en vra dié of hy hom nie kan help nie. Maar hy het dit ook nie geweet nie en verwys hom toe na die Kabbalis Joram. Dié trek toe ook sy skouers bedenklik op en sê toe na `n kort rukkie saggies vir hom:
  9. Joram: “Ja, daar is wel in die ou boeke `n soort etimologiese verduideliking hieroor en in die Kabbala word daar ook `n soort verklarende melding van gemaak, maar wat so `n mistieke omskrywing is dat die Hooglied van Salomo in vergelyking daarmee ware kinderspeletjie is! Ek self het niks verstaan nie en kan jou dus nie uit jou verleentheid help nie!
  10. Trouens moet ek die opmerking maak dat jy eerstens met die Seun weens Sy eminente skerp gees, en tweedens weens die aansien van Sy hoë Romeinse beskermheer, baie meer versigtiger moes gepraat het, omdat jy tog dié een is wat ons meer breedvoerig oor Sy wonderbaarlike wese ingelig het!
  11. Het jy dan nie vroeër opgemerk hoe Hy woord vir woord van alles geweet het wat ons laasnag in die geheim beraadslaag en bespreek het nie?! Ek het niks gesê nie, maar het `n groot teken van die aanwesigheid van `n gees in die Seun gevind, vir wie dit nie moeilik blyk te wees om hart en niere van mense te toets nie.
  12. Ek gee vir jou die raad om die buitengewone Seun weens die blatante belediging om vergifnis te vra, andersins kan ek werklik nie waarborg dat Hy nie vir jou `n lastige poets sal bak nie! Gaan na Hom en volg my raad!”
  13. Barnabé sê: “Nou ja, die reg om te praat het Hy en `n grap kan Hy nie vat nie - dan moet `n mens Hom nog om vergifnis vra! Maar dat niemand die naam van die stad kan verduidelik nie, is tog iets ongewoons, ook by ons tempelamptenare!”
  14. Hierop wend Barnabé hom weer na My toe en sê met `n vriendelike gesig: “Liewe, dierbare Seun! Ek het my growwe fout ingesien wat ek aan Jou deur my werklike swak en ontydige grap begaan het, en ek vra Jou vanuit my hele hart opreg om vergifnis en voeg opreg die versoek daarby, dat Jy vir ons die naam ‘Jerusalem’ sal verduidelik, want ons almal weet nie wat om daarmee te maak nie! Dit is wel vertaal met die uitdrukking ‘Stad van Heiligheid’ of ‘Stad van God’ - maar hoe die woord ‘Jerusalem’ tot stand gekom het, weet niemand van ons nie!
  15. Daar word wel gesê dat hier `n plek met die naam van ‘Salem’ was, waar die groot en magtige koning gewoon het, aan wie al die destydse vorste van die aarde `n tiende moes gee - want die koning Melgisèdek was vir alle mense op aarde gelyktydig die enigste en waaragtige hoëpriester van JaHWeH, - maar `n mens weet van daardie hoëpriester, van sy leerstellings en dade, so ook van sy persoonlikheid min of glad niks nie! Omdat Jy sonder twyfel meer daaroor weet as ons almal, dan dra asseblief dié kennis aan ons oor!”
  16. Ek sê: “Jou voordeel dat jy so na My toe gekom het - andersins sou jy op `n manier gekenmerk word, wat werklik nie aangenaam vir jou sou gewees het nie! Maar die teken, waarmee jou hoof versier sou word, lê nou by jou voete. Tel hulle op en leer daaruit dat Ek die moedswillige spotsug van elke mens tugtig en dat `n mens op die plek waar dit vir ewig gaan om die grootste erns van die lewe van alle mense op aarde, daar nie ellendige en niksseggende grappe opgedis moet word nie! - Kyk nou eers vir die grap wat Ek oor jou swak grap met jou sou gemaak het, dan eers sal Ek aan jou tweede versoek voldoen!”
  17. Hierop buig Barnabé af na die vloer en tel twee heel volmaakte ontwikkelde, natuurlike eselore op wat by sy voete lê en skrik toe des te meer omdat daar geen teken was dat hulle vir dié doel by `n werklike esel afgesny was nie.
  18. Sommige van die aanwesiges - veral ons Simon en die Romeinse Regter - het hierop hardop begin lag, maar al die tempelamptenare het baie ongemaklik gevoel en hulle het begin om onder mekaar te vra hoe so iets op `n natuurlike wyse moontlik kon wees. En hulle het heen en weer geraai, maar kon ook nie eers naastenby met `n bevredigende verklaring vorendag kom nie.
  19. Toe sê Barnabé: “Watter nut het al hierdie heen en weer raaiery, die saak is `n suiwer wonderwerk en niks verder nie! Want as die Seun Homself vooraf daarmee toegerus het, dan moes Hy ook vooraf geweet het dat ek `n slegte grap teen Hom sal maak! En dit sal mos dan nog `n groter wonderwerk wees!
  20. Maar die Seun het reeds aan ons met so `n eienskap `n baie gedenkwaardige toets afgelê, toe Hy ons geheime nagtelike bespreking woord vir woord aan my voorgedra het en die Owerpriester se mees geheime gedagtes openlik en hardop wou uitspreek! Wie die een kan doen, vir hom sal iets anders ook op soortgelyke maar vir ons natuurlik onbegryplike wyse moontlik wees!
  21. Agter hierdie Seun steek daar werklik iets buitengewoon! Na my mening kan ek wel insien dat daar mettertyd `n heel volmaakte Gesalfde uit Hom kan ontwikkel!”
  22. Die Owerpriester sê: “Jy praat net soos `n blinde mens van die prag van kleure! Hoe dikwels het Persiese towenaars ons nie met toertjies verras en gedagtes gelees nie, wat by ons ook niks nuuts meer is nie! Wie ken dan nie die Griekse Orakel nie?! Hulle het die gedagtelesery sodanig onder die knie gehad dat niemand dit meer gewaag het om in hulle nabyheid te kom nie!
  23. Ja, my Leviet, met so `n belangrike saak moet `n mens met heel ander oë kyk en die verskynsel baie dieper beoordeel! Eers wanneer alles deeglik op die proef gestel is, kan `n mens - maar steeds net baie versigtig - `n ietwat beter mening daarby aanneem! Maar van `n volkome geloof kan daar vir nou geen sprake wees nie, alvorens alle omstandighede en tekens sodanig getoets is dat daar niks meer twyfel oorbly nie.
  24. Laat dit vir jou `n les wees, my liewe Barnabé, want dit is nog steeds `n ou gewoonte van jou dat jy saam met jou andersins baie waardevolle kennis baie liggelowig is!”
  25. Barnabé sê: “Nee, dit was ek nog nooit nie! Want as ek `n liggelowige mens was, sou ek nooit tot die veelvoudige en deeglike kennis gekom het, wat `n mens nooit deur liggelowigheid kan verwerf nie. Ek weet hoe om `n saak en `n verskynsel te toets en ek onderskei die alfa van die omega, maar hier skiet my hele verstand te kort en al my baie en veelvoudige ondervindinge het in die Jordaanrivier geval!
  26. Die towertoertjies van die Persiërs ken ek en nog baie ander ook, maar daar is geeneen onder hulle wat in staat sou wees om `n paar heel onbeskadigde eselore uit die blou lug sy bestaan te gee nie. En die slim berekende Orakelspreuke en gedagtelesery sowel as die oudste Orakel van Dodona soos dié een in Delphi is goed aan my bekend. Maar onder hulle het ek nooit iets soortgelyk gevind soos dat hierdie Seun vir my en ook vir Joram woord vir woord voorgehou het wat ons heel in die geheim met mekaar bespreek het nie!
  27. Ek bly dus by my uitgesproke mening en sê dit nog eenmaal sonder om doekies om te draai: Agter hierdie Seun steek daar meer as wat ons almal ooit in staat sal wees om te kan begryp! Ek wil nie eintlik beweer dat Hy weens Sy buitengewone eienskappe reeds die onfeilbare verwagte Gesalfde is nie; maar dit kan eerder Hy wees as enigiemand anders van ons wat hier bymekaar gekom het!
  28. Maar nou, my liewe, dierbare jong landgenoot, wil ek graag, voordat dit aand word, nog soos belowe deur Jou die terme ‘Jerusalem’ en ‘Melgisèdek’ verduidelik hê!”
  29. Ek sê: “Omdat jy so goed van My gepraat het, sal dit ook vir jou gedoen word. Maar neem nou eers die twee eselore by die boonste punte in jou hande en hou hulle tussen die vingers vas - bietjie hoër, en ons sal sien of die Persiese towenaars dit ook sal kan vermag!”
  30. Barnabé doen dit en Ek sê: “Daar sal vir hierdie ore ook `n lewendige en heel gesonde eselliggaam gegee word!”
  31. In `n oogwenk staan daar toe `n suiwer gevormde esel in die middel van die aanwesiges!
  32. Toe skrik almal weens My wonderkrag en begin aanstaltes maak om te vlug.
  33. Maar die Romeinse Regter en Simon het dit nie toegelaat nie en sê: “Daar moet by die tyd gehou word en die Wonderseun sal nog die twee woorde verduidelik!”
  34. Toe gaan die tempelamptenare weer sit en hulle het verbaas na die nuutgeskape esel gekyk en niemand was in staat om slegs een woord oor sy lippe te bring of om te wonder hoe so iets kon gebeur het.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205