Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 26

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 26

  1. Toe Ek dit sê, het die Owerpriester baie kwaad geword en gesê: “Seun, wie gee vir Jou die reg om vir ons en die Tempel te dreig?! Het ons dan die voorskrifte opgestel waarvolgens ons nou moet handel?! So wys soos sommige van Jou vroeëre praatjies was, so dwaas is hulle nou! Weet Jy dan nie dat geen boom met een hou afgekap kan word nie en dat dit sinneloos is om iets te verander wat beslis nie meer verander kan word nie?! Verander Jy dan die volk, indien Jy kan! Die volk van Juda is reeds `n baie ou boom, wat nie meer soos `n jong struik gebuig kan word nie!
  2. Ons wil dit glad nie betwis dat daar aan Jou `n hoër roeping deur God gegee is nie; maar daarom moet Jy die ou instellings wat van Moshé afkomstig is - indien ook met sommige latere byvoegsels, wat vir die toepaslike tye nodig was - nie met die voete vertrap nie en nie vir ons as die opsigters daarvan met verskeurende wolwe in skaapsklere vergelyk nie! Want ons het nog niemand verskeur nie; maar indien ons mense wat God en die Tempel gelaster het, getugtig het en so ook die egbrekers, dan het ons net dit gedoen wat Moshé vir ons beveel het om te doen. Kan Jy dan sê dat ons onregmatig teen die voorskrifte van God gehandel het?!
  3. Indien Jy met ons praat, plaas dan Jou woorde in `n beter weegskaal. Want indien Jy iets besoedeld by ons en die tempel gesien het, sê dit dan vir ons met kinderlike suiwer woorde en ons sal sien wat daaraan gedoen kan word! Maar met dreigemente sal Jy niks met ons uitrig nie!”
  4. Ek sê: “Met julle soort het niemand nog ooit, hetsy met sagte of met skerp woorde, iets reggekry nie. Daarom sal julle ook bly soos wat julle is tot aan die einde van die wêreld! Daarom sal die barmhartigheid van julle wegge­neem word en vir die heidene gegee word!
  5. Kyk oor die groot meer na die wêrelddeel Europa! Dit is van suiwer heidene bewoon en net uiters selde gaan `n Judeër daarheen. Daarheen sal die barmhartigheid uit die hemele verplaas word!
  6. Maar binne ongeveer sewentig jaar sal die mense Jerusalem en die Tempel soek en hulle sal die plek nie meer kry waar die stad en die Tempel gestaan het nie en die mense sal dan sê: “Ha, wat is dit tog met die ou plek waar die Tempel gestaan het?! Kom ons kies die naasbeste plek en bou daar `n nuwe Tempel van Salomo en rig dit in soos die ou een ingerig was!”
  7. Ja, so sal hulle praat en ook doen! Maar sodra hulle begin om aan die Tempel te bou, sal `n magtige vuur uit die aarde opskiet en die bouers en die materiaal sal sleg daarvan afkom.
  8. Nie lank na verskeie sodanige mislukte pogings sal magtige heidense stamme vanaf die Oggend (ooste) en die Middag (weste) in hierdie land indring en haar verwoes en julle sal verstrooi word oor die hele aarde en sal vervolg word van een hoek van die aarde tot die ander!
  9. So sal dit met julle gebeur omdat julle julleself eiesinnig verwyder het van die ou voorskrifte van God en in plek daarvan julle wêreldse mensgemaakte voorskrifte opgestel het en julle vetgevoer het met die groot winste wat die implementering van julle mensgemaakte voorskrifte vir julle gegee het.
  10. Lees self die kronieke van die Tempel en sy geheime werksaamhede en julle sal dinge sedert die tye van die profete daarin vind wat elke effens regverdig denkende mens se hare tot by die punte van Libanon sal laat rys!
  11. Is elke priester en profeet tog nie gestenig wat ernstig probeer het om hierdie afskuwelike mensgemaakte voorskrifte uit die huis van JaHWeH te verwyder nie en om die suiwer leer van God weer daarin terug te bring nie?
  12. Hoe lank gelede is dit nou dat die Owerpriester Sagaria, toe hy op `n goeie manier in die Tempel geoffer het, deur julle hande verwurg is?!
  13. Die volk, wat Sagaria hoog aangeslaan het en wat lief was vir hom, het van julle `n verklaring geëis wat met hierdie man van God gebeur het nadat `n nuwe Owerpriester in sy plek aangestel was.
  14. Toe belieg julle die volk op die mees vermetele wyse en sê met huigelagtige hoogagting dat Sagaria in die Allerheiligste vir die hele volk gebid het toe die Bood­skapper van JaHWeH weereens aan hom verskyn het en dat sy aangesig helderder as die middagson verlig was.
  15. En die Boodskapper het vir die verbaasde man van God gesê: “O getroue dienaar van JaHWeH, jou aardse werk het jy voltooi en jy is regverdig bevind voor God! Daarom moet jy hierdie aarde verlaat en my volg net soos jy is, met liggaam en siel soos wat Henog en EliJaH dit gedoen het en voor die troon van die almagtige God in die hemele gaan sit waar daar `n groot beloning op jou wag!”
  16. Daarop sou Sagaria met hemels verheerlikte oë na die hemele gekyk het en meteens uit die Tempel en in die arms van die Boodskapper van hierdie aarde af verdwyn het!
  17. Julle het toe nog `n wit klip op die versinde plek geplaas met die volgende versie daarop: “Sagaria, die man van God, verheerlik!” En daarmee het julle julleself weer wit gewas voor die volk en vereer toe die man van God saam met die volk met allerlei Psalms, terwyl julle as sy ergste vyande, hom tussen die groot offeraltaar en die Allerheiligste, terwyl hy op sy knieë gebid het, soos roofmoordenaars oorval en verwurg het!
  18. Soos dit met Sagaria gegaan het, het dieselfde gebeur met baie profete en ware hoëpriesters in die orde van Aäron! Later het julle, ter wille van die volk, groot monumente vir hulle opgerig en tot nou toe vir hulle alle eer betoon!
  19. Sê nou of dit nie so is nie! - Julle swyg nou en is stomgeslaan van vrees, omdat Ek sulke dinge voor julle oopgevlek het! Julle het natuurlik gedink dat julle veilig is as gevolg van julle posisie betreffende die wêreldse geregtigheid; ja, ja, dit is ongelukkig so, omdat daar buiten My geen getuie gevind sal word nie! Maar Ek het ook nie die wêreld se geregtigheid vir julle nodig nie - ook sal Ek nie self My hand op julle plaas en julle tugtig nie. Maar indien julle in julle verkeerdheid bly, dan sal met julle gebeur wat Ek vantevore vir julle gesê het! - Nou het Ek gepraat, praat julle nou weer!”
  20. Hierop maak die Regter `n kwaai gesig en sê vir My: “Indien Jy dit vereis, sal ek vinnig met hierdie larwes van dienaars van God afreken! Want Jou getuienis is vir my meer as voldoende!”
  21. Ek sê: “Laat dit daarby berus! Want sien, Ek het oorgenoeg mag in My wil tot My beskikking en kon hulle almal binne `n oomblik vernietig het. Maar nie jy of die volk en net so min sou Ek baat daarby vind! Dit is vereers voldoende dat ons hulle swart nag ietwat skemerig gemaak het; `n skielike daglig sou hulle eers geheel en al blind gemaak het en saam met hulle die hele volk van Juda. Dit is wat sou gebeur indien jy hulle op grond van hulle baie en growwe sondes tot verantwoording sou bring. - Hulle soort sal vasgevang word in hulle eie nette wat hulle uitgelê het en daarin tot niet gaan!
  22. Maar vir die mens op aarde is daar orals `n perk geplaas, vir die suiwere sowel as ook vir die besoedelde; net so is ook vir elke instelling en elke volk `n perk gestel. Wanneer die gestelde perke van die suiwerheid van die God oorskry word, dan sal die volk en sy land begin om oor te loop van seëninge; maar wanneer `n volk en sy land vol word van die besoedelde, dan sal daaroor ook `n streng ontoegeeflike oordeel kom. Die volk het dan sy besoedelde rol uitgespeel en die land sal in `n woestyn verander word, soos dit ook in die nabye toekoms met hierdie land die geval sal wees!
  23. Wie dit kan verstaan en wil, dié sal dit verstaan! Die tyd kom nou nader waarin daar vir die besoedelde mense van die dakke af verkondig sal word watter gees se kinders hulle is en hul dade sal vir hulle van hulle voorkoppe af gelees kan word! Want uit die skool waaruit Ek geskep het, weet Ek dat daar eendag baie studente uit dieselfde skool van My Liefde sal skep en dan ook sal weet wat Ek weet en sal doen wat Ek doen! Maar die tyd is nou nog nie heeltemal ryp daarvoor nie. Maar wanneer dit daar is, sal julle dit hoor en julleself daarvolgens inrig.
  24. Ek het nou gepraat! Wie nog iets het om te sê, praat; want Ek sal net nog vir `n baie kort tydjie met julle wees, aangesien hulle wat dink dat hulle My verloor het, binnekort Jerusalem sal bereik en My hier sal vind!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205