Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 21

  1. Toe die twee hulle plekke ingeneem het, het die bespreking van die derde dag begin.
  2. Op `n teken van die Romein wat baie toegewyd was aan My, het Ek My eers na Joram gewend en gesê: “Nou is dit al die derde dag wat ons hier in die saal versamel is! Dit kom nou daarop neer dat jy vir My, soos reeds aangedui, uit die profeet Jesaja sal wys watter tekse nie van toepassing is op My of dan ook volgens jou mening op enige ander moontlike Gesalfde nie!”
  3. Joram sê: “Ja, my dierbare Seun, dit sou alles reg wees - maar die spesifieke tekse het my al lankal ontgaan en dit sou nou vir my `n ware verleentheid teenoor Jou wees, Jy wat juis as gevolg van Jou reuse geheue die hele Skrif woord vir woord kernvas in die kop het, om die spesifieke tekse op te soek! Laat ons dan maar eerder die saak vaar en ek sê: ons sal Jou op grond van wat ons van Jou gesien en gehoor het glo dat Jy die beloofde en betrokke toekomende Gesalfde is! Maar om nou al die baie tekse in die Skrif te gaan opsoek, sou te veel tyd en moeite in beslag neem!”
  4. Ek sê: “Nee, My vriend, dit kan nie gedoen word nie! Julle wil nou op `n maklike manier van My ontslae raak. Gesalfde of nie, dit maak vir julle nou nie meer saak nie; solank julle verder net goed kan leef en vir julle groot hope van goud, silwer en allerlei waardevolle edelgesteentes kan versamel! Maar nou gaan dit egter in alle erns daaroor of Ek die Gesalfde is of moet julle op iemand anders wag?
  5. As dit Ek is, dan het die ryk van God reeds na julle toe gekom en julle sal uit die Skrif weet wat julle moet doen wanneer julle `n suiwer wil het! Maar as Ek volgens julle mening en volgens die profeet dit nie is nie - kan julle mos maar met julle ou sondes voortgaan totdat die dood julle lot word! - Maar aangesien die opsoek van toepaslike tekse alreeds vir julle so baie tyd kos en sulke groot moeite is, gee dan vir My die boek en Ek sal vir julle die tyd en moeite spaar!”
  6. Hierop sê die Owerpriester: “Dan sal Jy natuurlik vir Jou al die tekse uitsoek wat die allerbeste op Jou van toepassing is?!”
  7. Ek sê: “Nou goed, soek jy hulle dan op wat die minste op My van toepassing is!”
  8. Die Owerpriester sê: “Nou goed, daarmee sal Jy onmiddellik geholpe word! - Gee vir my die boek!”
  9. Die boek word vir die Owerpriester in die hand gegee en met `n belangrike uitdrukking op sy gesig begin hy om daarin te soek, maar kon vir `n lang tyd nie iets kry wat toepaslik is nie. Uiteindelik het hy tog iets gevind, want in sy gesig kon `n soort tevredenheid raakgesien word, maar waaragter die ergernis van die hoëpriesterlike hoogmoedigheidskam soos by `n kwaad gemaakte kalkoen begin styg het. Met `n sekere heerserspatos het hy die oop boek voor hom op die tafel neergesit en met oorwinningsvreugde boor hy as te ware met sy wysvinger in die teks in en sê:
  10. (Die Owerpriester:) “Daar! Kom nou hier, Jou jong Gesalfde uit Galilea, lees hierdie teks en sê vir my of dit ook op Jou as persoon van toepassing is!”
  11. Ek sê: “Waarvoor roep jy My sodat Ek die teks uit jou boek moet lees?! Die Gees wat in My woon het alreeds daarvan geweet nog voordat Jesaja dit neergeskryf het! En jy het presies op die regte plek oopgemaak waarmee Ek jou sal oorwin en jy kon waarlik nie op `n beter plek oopgemaak het nie!”
  12. Hierop staan die Owerpriester woedend op en sê vol woede en ywerigheid: “Wat sê Jy? Jy het alreeds van hierdie teks geweet voordat die profeet dit neergeskryf het?! Ek waarsku Jou, Jou Galilese Seun, oor te veel moedswilligheid! Jy is skaars twaalf jaar oud en het reeds voor die profeet van hierdie teks geweet?! Is Jy dan waansinnig?!
  13. Indien Jy egter van Jou siel of van Jou gees praat - wat een en dieselfde is, dan sal hulle tog onmoontlik ouer kan wees as hulle liggaam, wat tog volgens die getuienis van Moshé eerder daar moes gewees het sodat die siel daarin kan intrek!
  14. Sê Moshé nie: “God het die eerste mens van klei gemaak en deur die neusgate vir hom `n lewendige siel ingeblaas?!” Word dit hiermee nie duidelik gemaak dat die liggaam van elke mens, die voltooide woonhuis van die siel, eerder daar moes gewees het as die siel self nie?! Want wat en waar sal die siel gewees het sonder die liggaam?! - Besef Jy daarom jong Galileër, waar Jy staan en voor wie?”
  15. Ek sê: “Afgesien daarvan dat jy deur wêreldse beskerming en nie deur `n hoër geestelike beroeping Owerpriester is nie en afgesien daarvan dat ons hier in die ou spreeksaal van die Tempel versamel is, sê Ek reguit in jou gesig vir jou dat jy baie swakker oordeel oor geestelike dinge as wat `n blinde mens oordeel van kleure!
  16. Indien God `n lewendige siel in die voltooide liggaam van Adam deur sy neusgate ingeblaas het, dan was die siel tog sekerlik vantevore in God en sy kon ook nêrens anders gewees het nie, omdat God in Sy Wese oneindig is en streng gesproke kan niks homself buite God bevind nie!
  17. Maar God, aangesien Hyself ewig is, kan niks wat tydelik of verganklik is, of wat nog eers moet ontstaan in Hom dra nie, maar dit wat in Hom is, is ewig soos Hyself. Hy kan Sy ewige groot gedagtes en idees slegs buite Homself uitplaas as `n verskynsel vir die herwinning van `n wesenlike selfstandigheid; en wanneer Hy dit doen, dan is dit wat van Hom uitgaan `n skeppingsoomblik en vir die God-gedagtewesens wat deur Sy mag en Wysheid buite Homself vrygestel word, begin die tyd dan eers. Beter gestel, dan begin die toestand van die toegelate selfstandigheid om `n blywende selfstandige bestaan buite God te behaal, ofskoon dit in diepte ter diepte nog steeds binne Hom beskou kan word.
  18. Maar indien dit so is, hoe kon Ek dan in die gees en in God nie vroeër daar gewees het as wat die profeet sy tekse uit God geskryf het nie?!
  19. Boonop misgis jy jou geweldig indien jy glo dat gees en siel een en dieselfde is! Die siel van die mens is `n geestelike produk vanuit die materie, omdat dit juis net die geoordeelde gees is wat in die materie ter verlossing rus, terwyl die suiwer gees nooit geoordeel was nie. Elke mens het egter sy eie toegedeelde gees van God gekry wat by die wordende mens vir alles sorg, doen en lei, maar wat met die eintlike siel eers as een verbind wanneer sy (die siel) uit eie vrye wil volkome in die herkenbare orde van God oorgaan en sodoende volledig geestelik word.
  20. Maar dat hierdie oorgang nog lank nie by jou plaasgevind het nie, het jy so pas aangetoon, deurdat jou eie gees, sonder wie jy nie `n enkele oomblik lank sou kon leef nie, nog nooit `n idee gehad het waaroor dit gaan nie!
  21. Maar Ek ken My gees en het al lankal met dit een geword en kan daarom ook die ganse natuur gebied omdat die gees waaragtig `n Gees van God is en ewig nooit iets anders kan wees nie, omdat daar buite God geen ander gees kan wees wat nie die Gees van God sou gewees het nie. Dink jy en al die ander nou `n bietjie daaroor na en kom eers daarmee reg, dan eers sal ons oorgaan na die teks wat nie op My van toepassing sou wees nie!
  22. Maar vir jou, Owerpriester, wil Ek aanraai dat jy jou binne perke van ordentlikheid teenoor My moet begin gedra, andersins is dit moontlik dat jy die Krag van die Gees van God in My te veel gaan uitdaag! Wat Ek kan doen het jy al gister gesien - daarom weet jy ook reeds wat jy sal oorkom wanneer jy jou perke oorskry! Want Ek het `n duur gekoopte reg om te praat in sake van JaHWeH, wat voor almal beding was. Dit is reeds erg genoeg dat `n mens by julle sogenaamde dienaars van JaHWeH `n spreekbeurt, volgens ure gemeet, moet koop, maar nog erger is dit as `n mens boonop nie van die gekoopte, onderhandelde spreekbeurt gebruik mag maak nie!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205