Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 19

  1. Barnabé sê: “Maar dierbare Wonderseun! Aangaande die twee woorde ‘Jerusalem’ en ‘Melgi­sèdek’ - daaroor wil ons graag vandag nog iets van Jou verneem!”
  2. Ek sê: “Slaan dan slegs ag op die afsonderlike wortels van die oud-Hebreeuse tong: Je (dit is), Ruh of Ruha (die woonplek), sa (vir die), lem of lehem (groot Koning); Me of mei (my), l’chi of lichi - gelees litzi - (aangesig of lig), sedek (plek).
  3. Julle weet dat die voorvaders wel die klinkers by die woordsamestelling tussen die mede­klinkers uitgespreek het, maar vanweë `n sekere piëteit (uit piëteit of respek vir God, wie se naam ‘Jehova' uit die 5 vokale e i o u a saamgestel is) nie neergeskryf het nie. `n Mens moet dus by sulke ou woorde wat oor `n duisend jaar oud is, verstaan hoe om die vokale tussen die konsonante te plaas en dan is die ware begrip van so `n ou naam selfverduidelikend vanuit sy wortels. - Is jy nou tevrede met hierdie verdui­deliking?!”
  4. Barnabé sê: “Ja, geheel en al en bo alle mate voortreflik! - Maar hoe weet Jy sulke geheime?”
  5. Ek sê: “Daar is die een soos die ander een en daar berus alles op die krag van die Gees van God wat van bo af in My verheerlik is! Maar jy sal nog lank nie kan insien hoe so iets moontlik is nie!
  6. Sien, jy lees ook die Skrif, maar vind niks van God wat daarin is nie, want jy sien dit as `n suiwer mensgemaakte werk, wat verskillende mense vir die effektiewe beheer van hulle medemense saamgestel het. Die Egiptenare sou dit gedoen het deur hulle mistieke en reusagtige groot geboue en die Hebreërs deur hulle mistieke geskrifte; maar vir die ware ontwikkeling van die mens van hierdie tyd is die een net soos die ander een gladnie meer bruikbaar nie, wat al die wêreldwyses lankal reeds weet en ook duidelik bewys het!
  7. Sien, dit is jou eie innerlike en daarom ware geloofsbekentenis! Maar Ek sê vir jou: Wie die Skrif met jou oë lees, sal nooit iets wat van God is, daarin vind nie en voortaan `n materiële wêreldklont bly wat onder andere ook `n belang sal hê vir buitengewone dinge en verskynsels wanneer hulle voor sy oë uitgevoer word. Maar vir sy gees sal hy nooit voordeel daaruit kan trek nie, omdat elke groot wonderwerk bloot `n verlustigende vermaaklikheid vir sy sintuie is.
  8. Waarlik, sulke mense is baie dieselfde as die varke wat ook alles vreet, maar dan nog steeds voortdurend die ou, onveranderlike varke bly, vir wie alles lekker proe, of dit nou uitskot is en of dit die fynste koringbrood is.
  9. Maar daarom moet sulke mense, wat `n hoër geestelike geloof kort, die geskrifte wat vir die mense uit die Gees van God gegee is en as woord van God beskou moet word, nie lees nie en hulle nie daardeur laat verontheilig nie, want daar staan geskrewe: “Die naam JaHWeH moet jy nie ydel noem nie!”
  10. Maar Ek sê en voeg daarby: Elke woord uit die Gees van God is gelykstaande aan die Naam van JaHWeH! Wie dit lees soos `n mensgemaakte werk, maak ydele misbruik van die Naam JaHWeH en maak homself daardeur strafbaar. Maar wie dit lees met groot eerbied in sy gemoed en glo dat die Skrif se oorsprong vanuit die God is, hy sal ook binnekort en maklik die God daarin vind vir die opwekking en herlewing van sy gees!
  11. Sou jy, en ook julle ander, die Skrif beskou asof sy oorsprong van God is, dan sou julle My al lankal gehou het vir dit wat Ek werklik is en soos wat Ek My deur My wonderwerke bewerkstellig het. Maar omdat julle die Skrif net as `n ydele en vir hierdie tyd totaal onbruikbare mensgemaakte werk beskou, is dit ook vir julle onmoontlik om My te herken vir dit wat Ek is - en aangesien julle nie vir My as dit wil herken nie, moet My dade ook vir julle in die hoogste graad onbegryplik wees!”
  12. Joram sê: “My dierbare Seun, dit lyk asof Jy Jou met hierdie aanname `n bietjie misgis het! Want sien, al is daar sommiges onder ons wat nie aan die suiwer goddelikheid van die Skrif glo nie, is daar weer ander wat nog baie daaraan vashou en glo en daarom ook op die aankoms van die beloofde Gesalfde en sy ryk hoop en hulle sal ook by nadere kennismaking met Jou nie veel daarop sê indien Jy die beloofde Gesalfde sou wees, van wie die groot profeet Jesaja die meeste geprofeteer het nie.
  13. In Jesaja is die voorspelling natuurlik baie mistiek gehou en `n mens kan met die persoonlikheid van die Gesalfde nie so goed klaarkom nie; maar daar is oor die algemeen baie wat met Jou ooreenkom! Daar is natuurlik ook dit wat nóg op Jou en ten slotte nog minder op die regte Gesalfde - al sou hy direk vanuit die hemele kom - van toepassing is! En daarvolgens sal Jy, uiters wyse Seun, ook self kan insien dat selfs die vaste gelowiges met die goeie Gesalfde - prontuit gepraat - sy haakplekke sal hê en dat dit waarlik `n moeilike saak is om daarin ordentlik rigting te vind!
  14. Die saak sal altyd net `n volksage bly, voortspruitend uit die lang verwagte wense van die volk. Daar mag die Romeine dus nie so verkeerd wees wanneer hulle sê: Ubinam vanis invectis super­lativum tradit gens, nihil quam hauririe! (“Sodra die volk met futiele gerugte aan oordrewenheid oorlewer word, beteken dit niks meer as om water te skep nie!” In Duits: “Aan volksages kan geen waarde geheg word nie!”) En so is dit ook hier met die Gesalfde! Daar kan natuurlik iets wees daarin, maar moontlik ook niks nie - en op die wyse sal `n mens skaars `n druppel gesonde water uit die ou put van Jakob geskep kry! - Wat sê Jy hierop, dierbare Seun?”
  15. Ek sê: “Hoe lui die gedeeltes uit die profesieë van Jesaja wat nie op die Gesalfde en naamlik ook nie op My van toepassing is nie?”
  16. Joram sê: “Ja, my liewe jong vriend, daarvoor moet ek eers die boek gaan haal! Uit my kop uit ken ek dit nie, want so iets lees `n mens maar selde en dan vergeet Jy tog die meeste, veral uit die sfeer van die profete! - Maar wag net `n bietjie, ons sal binnekort by die saak uitkom!”
  17. Ek sê: “Weet jy wat?! Aangesien dit nou al aand geword het, kom ons laat dit tot môre. En omdat niemand vandag vanaf vanoggend af tot nou toe enige versterking vir sy liggaam gekry het nie, laat ons die sitting beëindig, `n aandete geniet en ons saak môre voortsit!”
  18. Met hierdie voorstel van My was almal tevrede en ons het die saal verlaat en het na die reeds bekende herberg toe gegaan.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205