Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 11

  1. Maar die menere van die Tempel het nie so `n rustige nag gehad nie; want Ek wou dit so hê, dat hierdie self- en heerssugtige soort mense deur allerlei dinge beangs moes word. En die Owerpriester kon van gal, woede en vrees nie slaap nie, want bo alles was dit `n besonderse vernedering vir hom, dat die Romeinse Regter vir My as `n geëerde gas genooi het. Hy het dus ook voortdurend sy spioene na die herberg toe gestuur, sodat hulle aan hom nuus kon bring van dit wat ons dan met mekaar sou praat. Maar ons het niks gepraat nie.
  2. Maar daarvoor het die tempelmenere des te meer onder mekaar beraadslaag, hoe hulle My die volgende dag met allerlei vrae kon verwar en onsinnig maak. Net die jong Leviet, wat op die drumpel was om `n selfstandige fariseër en voorsitter van `n sinagoge te word, sê die volgende sonder voorbehoud vir al die ander in hul gesigte, omdat hy baie gesien en beleef het tydens sy sendingreise.
  3. “Met hierdie Seun sal julle almal niks kan uitrig nie! Ek het in Násaret waarlik wonderbaarlike dinge van sy welsprekendheid gehoor en daar bestaan geen geleerde wat hierdie Seun ooit kon oortuig nie! Die tong van hierdie Seun en die onbegryplike wilskrag van sy vriend is magtig genoeg om die hele wêreld te onderdruk! En ons het onsself met hierdie Seun `n groot las op die hals gehaal, wat ons nie maklik of sonder skade van ontslae sal raak nie!
  4. Daarom is my baie ondergeskikte mening net dit: Laat Hom by Sy mening bly, naamlik dat daardie Wonderseun minstens moontlikerwys die beloofde Gesalfde kan wees of dit mettertyd kan word, aangesien die profesieë tog op Hom sowel as op hierdie tydperk dui!
  5. Met enige teëpratery kom ons nie ver by Hom nie - en om Hom kwaad te maak deur `n dreigement, sou volgens my mening selfs bedenklik wees, want Hy weet tot in die fynste besonderhede van alles en ons diepste tempelgeheime blyk nie vir Hom vreemd te wees nie!
  6. Hy sou ons almal die duiwel in maak, indien Hy van ons mees private geheime openlik voor Simon en die Romeinse Regter wat baie van Hom hou, begin te praat! Daarom moet ons baie slim wees en Hom by sy onderwerp laat bly en Hom nog daarin ondersteun, eerder as om te probeer om Hom van sy idees te verwyder!
  7. Wat is daar vir ons daarin geleë, waar ons almal die ou skrifgeloofsake al lankal in die see van vergetelheid oorboord gegooi het, of daar `n Gesalfde, of geen Gesalfde is nie?! Maar om slim te wees en daardeur op rekening van die blinde en dom massas mense goed te lewe is beter as om te probeer om geweldadig te wees, wat ons op die ou end tog nie het nie en ons terselfdertyd deur allerhande onnodige bekommernisse en vrees te laat opeet!
  8. Ons het ons reeds gister met ons swak berekende stywe hooggeplaasdheid by die Romein `n slegte naam gegee en die storie met Sagaria kan vir ons nog in groot verleentheid bring! Want daar kan nie met die heidene `n grap gemaak word nie! Ons kan ons net môre `n bietjie stram teen die Seun gedra - en ons almal beland in die eg Romeinse warm sop!
  9. Daarom laat ons net soos heel geslepe en slim vossies wees en ons maak ons foute van gister so goed as moontlik ongedaan en ek wil `n weddenskap aangaan, dat die Romein die storie van Sagaria sal laat vaar, andersins sal hy dit onmiddellik as `n skerp wapen teen ons gebruik! - Wat dink julle van my voorstel?”
  10. Die Owerpriester wat steeds wakker was, sê: “Ja, ja, ek is heel tevrede met jou voorstel; so sal dit beslis die beste wees! Rede en antwoord moet ons vir die Seun gee, omdat Hy `n duur gekoopte aanspraak daarvoor het en wat ons nie van ons af kan wegstoot nie! Ek is net van mening dat ons môre vir Hom `n ander groep geleerdes moet gee wat Hom makliker sal kan antwoord as wat ons dit gedoen het! - Wat dink julle daarvan?”
  11. Die jong Leviet sê: “Die mening kan ek nie deel nie! Om deeglik te verstaan wie hulle in die Seun voor hulle het, sal `n vreemde groep geleerdes ook eers ingelig moet word. Ons ken Hom nou en ons weet wat Hy eintlik wil sê. Ons kan Hom dus maklik antwoord. `n Vreemde groep sou môre soos `n jong paar trekosse voor `n berg voor die Seun staan en sou met alle vooraf inligting nie weet wat om te sê nie.
  12. Dan moet daar nog iets baie belangrik in aanmerking geneem word en dit is: Hoe kan ons weet of die Seun nie juis op ons teenwoordigheid sal aandring nie? Ons sal dan op aandrang van Simon en die Romeinse Regter moet kom om vir die ongelooflike slim Seun `n antwoord te gee, waardeur ons onsself sou verraai het dat ons in die geveg met die Seun klaarblyklik aan die kortste end getrek het!
  13. Ek wil en kan met hierdie mening van my geen finale voorstel maak nie, maar een ding is seker, dat ons beslis dit wat ek gesê het kan verwag. Niemand van ons sal dit graag wil hê nie!”
  14. Die Owerpriester sê: “Ek is dit eens met jou en ons sal jou suiwer raad ook as riglyn gebruik; maar my seun, wat dink jy in die algemeen van hierdie besonderse intelligente Seun?
  15. `n Mens kan net suiwer die duiwel in word! Ons hoogste hoogwaardigheidsbekleërs van die hele Juda moet ons deur `n egte Galilese varkoppasser tot oor ons ore in die verleentheid laat dryf! Voor so `n lae wurm van die agterstrate moet ons bewe en alles wat moontlik is doen om op `n goeie manier van Hom ontslae te raak. Nee, nee, so iets was sedert menseheugenis nog nie daar nie!
  16. Maar sê vir my wat jy van die Seun dink! Hoe en wanneer kon hierdie Seun van twaalf jaar ouderdom sulke volkome kennis opgedoen het?”
  17. Die jong Leviet sê: “Geagte, na die Owerpriester die hoogste gesag en beskermheer! So iets is in Galilea niks nuuts nie! Almal in Galilea dryf handel, kom met alle nasies van die wêreld bymekaar en doen duisendvoudige onder­vinding van alle maniere en soorte op, leer praat verskillende tale en meng met Grieke, met Armeniërs, met Egiptenare en nog baie ander volkere. Dit is daarom ook verstaanbaar, dat in die stede en oorde en dorpe van Galilea daar dikwels kinders aangetref word wie se deurdringende verstand almal van ons wat vanaf Jerusalem daarheen gaan, in die grootste verbasing plaas.
  18. Ek is soos bekend, self in die omgewing van Násaret gebore en was in my twaalfde lewensjaar reeds meer vertroud met die hele Skrif as nou, waar ek reeds verskeie dinge vergeet het en daarmee saam nog baie ander geskrifte en dinge. Hoekom nie ook ons blonde krulkopseun nie?! Sy skerpsinnigheid verbaas my nie te veel nie, alhoewel dit baie deurdringend is.”
  19. Verder sê die Owerpriester: “Ja, dit sou by die vroegtydige opleiding van `n talentvolle Seun natuurlik nie iets besonders wees nie; maar hoe kom daardie mense in die besit van die geskrif, waar die enigste ware afskrif net in die heiligdom van die Tempel bewaar word en waaruit niemand behalwe net die hoëpriester, die owerpriester en die skrifgeleer­des mag lees nie?”
  20. Die jong Leviet sê: “Hoogste Gesag, sedert die tye toe die Romeine ons ryk verower het, is dit mos nie meer waar nie! Aan die oorwinnaar moes alle stelsels van die Tempel en al sy boeke ter insae uitgelewer word. Toe is daar vir drie jaar lank van alles die getrouste afskrifte gemaak.
  21. En nou kry jy al onder die Romeine en Grieke `n hele aantal van die getrouste afskrifte in alle tale, sodat jy so `n afskrif in elke taal van voorkeur vir `n paar silwerstukke kan aanskaf. Indien dit so is, hoe moeilik kan dit dan wees om in `n talentvolle Galilese Seun `n ware skrifgeleerde non plus ultra raak te loop?
  22. Die Owerpriester sê: “Jy gebruik nog steeds Romeinse tussenwoorde terwyl jy weet dat ek `n aartsvyand is van alles wat Romeins is! - Wat beteken dan die uitdrukking, `non plus ultra’?”
  23. Die jong Leviet sê: “Hoogste Gesag, ek as `n Galileër is met Hebreeus ook nog die Griekse soos ook die Romeinse tong magtig en ek verstaan Siries, Chaldees, Armenies, Persies en Oudarabies, wat jy as sendeling ook moet verstaan - en dan gebeur dit tydens die vloei van spraak maklik en dikwels dat ek vanself gebruik maak van vreemde tale!
  24. Maar onder ons Judeërs is die uitdrukking `non plus ultra’ nou as gevolg van die kort en bondige begrip daarvan algemene gebruik, dat dit vir `n mens eintlik moeilik is om die lang en vervelige Hebreeuse term te gebruik. Dit beteken soveel soos: Sodanige Seun is dus uiters bekwaam en kan deur niemand oortref word met betrekking tot die Skrif nie.
  25. Die Owerpriester sê: “Goed, goed, daar is niks vir my daaraan geleë nie, ek is net uit verstaanbare redes nie `n vriend van die Romeine nie en dus ook nie van hulle taal nie; maar laat dit nou daar en sê jy vir my wat jy alles weet van daardie Wonderseun van Násaret, wie se vader en moeder ek ken!”
  26. Die jong Leviet sê: “Ja, hoogste Gesag, dit is `n baie netelige saak! Ek glo dat ek Hom `n paar jaar gelede gesien het en dit in die geselskap van verskeie seuns, wat meer na mekaar gelyk het as enige tweelingbroers. Daar is wel vir my gesê dat dit Hy of hy of hy is, maar omdat die seuns voortdurend lewendig heen en weer gehardloop het, kon ek onmoontlik die regte een meer presies in die oog neem! Ek het Hom dus gesien en tog weer nie gesien nie!
  27. Die Seun wat nou vir ons `n regte onweer berei, was beslis ook destyds onder die groep, begelei deur `n Seun wat baie soos Hy lyk en - soos dit nou vir my wil voorkom - met `n nog ernstiger gesig en het ook geen vrolike spronge gemaak nie. Dit het baie gelyk asof die twee seuns gesaghebbend teenoor die ander was, aangesien dit gelyk het of die ander hulle volgens die wil van die een beweeg het.
  28. Wat hierdie bont deurmekaar hardlopery van die seuns beteken het as `n speletjie, kon ek nie verstaan nie, aangesien ek nog nooit vantevore iets soortgelyk gesien het nie. Die saak blyk nie sonder plan te verloop het nie, want hoe langer jy dit dopgehou het, kon `n ordelikheid raakgesien word. Maar wat dit beteken het, kon niemand van die toeskouers aan my verduidelik het nie. Daar is gesê dat die seuns altyd op hierdie manier met mekaar gesels, wat nog nooit vantevore in Násaret gesien was nie; maar niemand verstaan wat sodanige vreemde geselskap beteken nie.
  29. Dit sou dan ook al wees wat ek persoonlik en uit eie ervaring van daardie Seun weet. Maar nou is aan my `n paar heel buitengewone dinge van daardie Seun vertel, en wat aan die mees ongelooflike raak! Om alles weer te herhaal, sou `n tyd van ten minste tien dae in beslag neem, daarom sê ek dit net in die algemeen:
  30. Alle elemente luister letterlik vir daardie Wonderseun, ja selfs die son, die maan en al die sterre is oënskynlik onderdanig aan Sy wil, aangesien Hy bloot deur Sy wil die son en maan donker sou kon maak! En as Hy dan ernstig vir die son of vir die maan sê: “Lig voortaan!”, dan sou die lig onmiddellik weer skyn.
  31. Mense wat van geboorte af blind is, maak Hy bloot deur een woord so siende dat Hy so duidelik kan sien as `n kat, wat ook in die mees donkerste nag haar prooi goed kan sien.
  32. `n Seun uit die kring van sy maatjies, wat vol moedswilligheid op `n dakstellasie geklim het, afgeval het en tot die dood verpletter bly lê het, het Hy in die teenwoordigheid van baie toeskouers bloot deur Sy woord weer lewendig gemaak, sodanig dat die seun van alle wonde genees is en kerngesond en op en wakker daar gestaan het, asof hy nooit `n ongeluk gehad het nie. Maar die Wonderseun het vir die seun wat uit die dood opgewek is `n baie ernstige waarskuwing gegee om voortaan nie meer so moedswillig en ongehoorsaam te wees nie, andersins sou Hy Hom nie meer help nie.
  33. Mense praat in die algemeen van die wonders van sedelikheid en die mees wyse krag van spraak van die Wonderseun. Net een ding klink ietwat buitengewoon: Hy, naamlik die Wonder­seun, het nog nooit iemand vir iets gevra nie en wanneer iemand iets vir Hom gegee het, dan sê Hy ook nooit dankie nie! Hy is altyd baie ernstig, `n mens sien Hom baie bid en ook in stilte ween, maar nooit lag nie!
  34. In kort is dit al die gedenkwaardighede, wat ek van daardie Wonderseun gehoor het. Meer kan ek nie sê nie. Maar hoe en deur watter middele die Wonderseun sulke wonderbaarlikhede tot stand bring, is aan my nie bekend nie. Om dit te beoordeel, staan te hoog bokant die horison van my kennis en my beperkte wysheid - dit kan die oudstes en mees wyse lede van die Tempel nou doen want ek het gepraat!”
  35. Daarop sê die Owerpriester: “Met watter mag anders as met dié van Satan in lewende lywe?! Want God verrig nooit wonderwerke deur kinders of losbandige seuns nie, maar dikwels deur vrome mans wat Hom heel onderdanig is en wat deur die jare ryp geword het, soos ons! Maar wanneer `n twaalfjarige Seun sulke dinge in Násaret verrig, dan is dit glashelder dat dit net met die hulp van die Satan gebeur! - Dit is my mening en wie enige ander en beter verklaring kan gee, staan dan op en praat!”
  36. `n Ander ouderling staan op en sê: “Na my mening gee jy dan te veel mag aan die Satan! Streng onder ons gesê is Satan ook maar net `n allegoriese persoonlikheid, en stel `n totale begrip voor van alles in die mens wat besoedel en sleg is en stel hy bloot die verkeerdheid van die mens se wil voor.
  37. Dat daar deur die volle samewerking van `n gemeenskap van baie mense wat teen alle goeie wette gekant is, `n sogenaamde Satan onder hulle opgewek word, wat alles onderdruk wat goed is, is lank reeds `n bekende saak! Want so `n besoedelde gees kan vergelyk word met `n immorele pesasem en dit vergiftig deurgans die harte van die mense in so `n gemeenskap sodat hulle hulleself nooit kan verbeter nie.
  38. Maar ook daaraan is `n sekere geestespersoonlike besoedelde gees van Satan nie skuldig nie, maar die skuld lê by die totaal verkeerde en sodoende slegte opvoeding van kinders vanuit die wieg. Sulke mense verkry geen begrip van `n almagtige en alwyse God nie en ook ten opsigte van alle ander kundighede en wetenskappe staan hulle ver agter die beskaafde volkere en sal daarom ook binnekort en maklik deur hulle oorwin word.
  39. Maar wanneer ons die Seun onder bespreking se buitengewone geleerdheid beskou, sy uiters vroom en nederige ouers wat net al te goed aan ons bekend is en ons neem sy ongewone groot weldadig­heidsgesindheid in aanmerking, dan kan ek my nie in my wildste drome voorstel dat so `n Seun in volle krag verenig is met die hoof van alle duiwels nie, wat nooit in staat kan wees om ook net `n kleinste liggedagte te laat gedy nie!
  40. Of kan, volgens ons beredenering, met die volkome bose ooit naastenby `n goeie doel bereik word? Vir my was so iets in elk geval tot nou toe nog heel vreemd! Of weet iemand van julle of volkome bose mense ooit een goeie daad begaan het?! Is dit enigsins moontlik om met die slegste en verwerplikste middele iets volkome goed te bereik?!
  41. Maar indien ons Wonderseun met Sy wilskrag, wat natuurlik vir ons iets onbegryplik is, `n hele aantal van die beste en wonderbaarlikste goeie dade met positiewe nagevolge verrig het, hoe kan Hy dan gebruik maak van volkome bose middele?! Hieroor wil ek van julle `n volhoubare verduideliking hê!”
  42. Sekere van die ouderlinge en skrifgeleerdes het met hierdie woordvoerder saamgestem, maar nie die Owerpriester en sy nie so groot aanhang nie. Die Owerpriester staan toe op en sê vir die verdediger van die Wonderseun:
  43. (Die Owerpriester:) “Sien, uit jou redenasie merk ek op dat jy die persoonlikheid van die Satan ontken met sinlike argumente en net so ook die persoonlikheid van die duiwels wat aan hom onderdanig is! Indien jy dit met jou toespraak wil beweer, verduidelik dan vir my op jou manier wie dit was wat drie dae lank op die berg Horeb met die Hoofboodskapper MikaEl oor die liggaam van Moshé gestry het en boonop nog beweer het dat hy gewen het!
  44. Wie was daardie ligfiguur wat dit voor die troon van God durf waag het om toestemming te vra om vader Job te beproef? Wie was die slang van Eva? Wie was die besoedelde gees van Saul vir wie die seun Dawid met die harp verjaag het? Verder is daar nog `n groot aantal voorbeelde in die Skrif, veral in Daniël, waar verskeie keer melding gemaak word van die groot draak en die groot hoer van Babel! Hoe wil jy, wêreldwyse, dit alles op jou manier verduidelik?”
  45. Die wyse ouderling en skrifgeleerde sê: “Dit sou vir my `n baie maklike taak gewees het indien jou verstand die nodige geleerdheidsvlak gehad het om dit te kan begryp, maar in jou volkome verstandelike nag kan jy sulke dinge van die lig nie verstaan nie. En sodoende sou ek dus tevergeefs vir `n dowe en blinde mens lering moes gee wat geen uitwerking sou hê nie - en dus sal ek dit nie doen nie!
  46. Dié wat my wou en kon verstaan, dié het my reeds vroeër verstaan. Maar om vir `n harde wil lering te gee, is dieselfde as om `n klip in die water te plaas om sag te word. Het jy dan nooit in die groot Kabbala, wat die werk van die groot gees is, gelees nie? Daarin kry jy `n uitgebreide verduideliking van die ooreenkomste tussen die spraak- en skrifbeelde en die werklikheid en dit wat hulle moet voorstel!”
  47. Die Owerpriester sê: “Die klein een wel, maar nie die groot een nie!”
  48. Die woordvoerder sê: “Dan is dit vir my onmoontlik om met jou te praat, want die klein een het `n ander outeur en is nie eers werd om `n swak uittreksel van die ou groot een genoem te word nie!
  49. Voor God bestaan daar geen Satan en geen duiwels nie en sodoende ook nie enigiets wat absoluut boos/besoedel is nie, want aan Hom moet alle magte en kragte gehoorsaam wees en nie een kan buite sy perk werksaam wees nie.
  50. Is die vuur dan nie `n kragelement wat die hoogste graad van bose en vernietigende krag in homself dra nie? Is dit daarom `n produk van die Satan wanneer dit hele stede vernietig en in dooie as verander, wanneer dit hetsy deur die bose wil deur mense of deur hulle strafbare nalatigheid vrygestel word?
  51. Of sit die Satan daarom in die water, omdat ook dit mense en diere doodmaak wanneer hulle daarin val? Of sit die Satan in `n klip of op die hoogtes van berge of in die giftige diere en plante, of kortom in alles wat aan ons as mense die dood kan bring wanneer dit onsinnig aangewend word? - Sien, alles op die aarde en in die aarde kan vol seën, maar ook gelyktydig vol vloek wees, afhangende of die mens dit óf wys óf dom wil gebruik!
  52. Wat was dan die beroemde geveg van die Satan met die Hoofboodskapper MikaEl om die liggaam van Moshé?
  53. Die vroom gedeelte van Juda, wat Moshé soos `n God vereer het, het ook gedink dat Moshé nie volgens die vlees sal sterf nie, omdat daar gesê was: “Hulle wat die wette van God streng nakom, sal nie sterf nie, maar vir ewig en ewig lewe en hul vlees sal nie deur die wurms aangeraak word nie!” Maar Moshé het aan die einde ook swak geword en het soos elke ander mens gesterf.
  54. Toe was daar onder die manne van Juda `n wyse en `n dokter.
  55. Die wyse sê: “Dra die liggaam op die kruin van `n hoë berg, waar die mees suiwer lewenslug waai en Moshé sal weer soos vroeër lewendig word en sal sy volk die beloofde land inlei!”
  56. Maar die meer insigvolle dokter sê: “Geen liggaam wat eenmaal sy siel verloor het, kan ooit weer lewendig word nie!”
  57. Die wyse man sê: “As Moshé nie binne drie dae op die kruin van die berg weer lewendig word nie, maar dood bly, dan het jy oor my en my geloof gewen en ek sal lewenslank jou slaaf bly!”
  58. Die dokter sê: “Dat ek sal wen, weet ek nou al. Maar jy hoef nie daaroor my slaaf te word nie, maar ek sal bly wat ek is en jy sal bly wat jy is en jy sal insien dat die vors of die mag van die dood sy offer behou en dit nooit loslaat nie.”
  59. En Moshé is met groot eerbetoon op die kruin van die berg Horeb gebring. Baie duisende van die mees vooraanstaande Israeliete het sy liggaam begelei. En toe die kruin van die berg na baie moeite bereik is, is Moshé aan die vrye lewenslug blootgestel en vir drie dae lank is alle denkbare geestelike en materiële herlewingspogings op hom uitgevoer, maar alles was tevergeefs: die groot profeet se oë het nie meer vir die lig van hierdie wêreld oopgegaan nie.
  60. Toe sê die wyse man heel verontrus voor die volk: “Sien jy die mag van die Satan, volk van God! Drie dae lank het MikaEl (mag van die hemele) met Satan (mag van die dood) oor die liggaam van die profeet geveg en Satan het hom oorwin; maar toe sê MikaEl: “God sal jou daarvoor bestraf!”
  61. Dit was `n toespraak voor die volk, natuurlik net simbolies bedoel, maar tog noodsaaklik en fundamenteel gesien ook baie waar.
  62. Toe die dokter dan onder vier oë met die wyse man gepraat het en hom daaraan herinner het dat hy tog reg was, sê die wyse man:
  63. “Ongelukkig is jy reg. Maar dit is tog immers jammer vir ons mense dat JaHWeH ook by sy grootste profeet geen uitsondering gemaak het nie en op die ou einde word hy ook maar soos `n gemene dier verwurg en doodgemaak! Vir Moshé kon hy wel lewendig gehou het en vir die volk gewys het dat Satan geen mag meer het oor volkome gewydes nie.
  64. Die dokter sê: “Jy oordeel nie korrek oor JaHWeH nie! Sien, Hy het vir alle vlees sy weg aangedui en vir die gees `n ander weg aangedui: maar die weg van die vlees moet ten volle geoordeel wees, sodat die weg van die gees totaal en vir ewig vry kan wees!”
  65. Toe die twee nog so met mekaar woorde wissel, tree die gees van Moshé skielik tussen hulle en sê: “Vrede vir julle! God se orde is onveranderlik en alles wat Hy doen, is goed! Wanneer die liggaam ook sterf, dan sterf die gees beslis nie. Hou by die wette en moet nie oor my liggaam argumenteer nie, want ek, Moshé, leef vir ewig, al sou ek die liggaam wat ek gedra het, ook `n duisend keer afgesterf het!”
  66. Daarop het die gees verdwyn en altwee was tevrede.
  67. Nou, my liewe broer in Abraham, Isak en Jakob, wat sê jy daarop? Waar is jou persoonlikheid van die Satan? Want wat Ek nou vir jou gesê het, is die naakte geskiedkundige waarheid en dit wat in die boek geskryf is, is slegs `n beeld wat gegee is net soos alle soortgelyke gebeurtenisse, in poëtiese versies, wat alleenlik deur die wetenskap van ooreenkomstighede in sy natuurlike omstandighede verstaan kan word. - Wat sê jy as `n skrifgeleerde hieroor?”
  68. Die Owerpriester sê: “Ja, ja, die saak het meriete en val goed op die oor, maar dit berus nog steeds op geloof en laat daarbuite geen bewysbare rede toe nie. Maar daar mag wel iets aan die saak wees, want waar dit eenmaal op geloof berus, dan is dit ten slotte byna eners of ek dit of dat glo - en dit is altyd makliker om iets wat natuurlik is te glo as iets wat bonatuurlik is. - Laat ons die saak daarby berus! Die nag is verby en hulle sal ons alreeds in die saal verwag!”
  69. Die jong Leviet sê: “Ek is werklik baie nuuskierig om te sien watter wending die saak vandag sal neem! Maar terwille van ons eie beswil wil ek tog net vra dat, weens die teenwoordigheid van die Romein, my raad in oorweging gebring moet word; want daar is tog werklik nie soveel daarin geleë of ons tussen ons en tussen hierdie vier mure ten minste gedeeltelik vir die skyn aanneem wat die Seun dan so graag van ons wil hê nie, aangesien ons andersins die Romeine tot nog groter vyande sal maak as wat hulle alreeds is!”
  70. Die Owerpriester sê: “Moet Jou nie bekommer nie, my seun! Wat altyd gedoen kan word, sal gedoen word, want vandag ken ons ons standpunt beslis beter as wat dit gister die geval was.”
  71. Na hierdie woorde kom `n tempeldienaar en maak melding - soos gewoonlik met die grootste eerbetoon, - dat die Romeinse Kommissaris tesame met die Seun, Simon van Bethania en nog etlike manne in die saal aangekom het.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205