SEISOENE VAN OORVLOED
BERTUS HANEKOM

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

VOORWOORD
Net soos in die natuur, wissel die seisoene in ons geestelike lewe ook. Soms is jy begeester en jy ervaar Elohey se teenwoordigheid. Ander kere voel Elohey ver en dan soek jy na antwoorde.
Maar in sowel die natuur as die mens se lewe het Elohey die jaargetye op `n besondere manier ontwerp. Al is elkeen anders, werk hulle almal saam om lewe en groei te bring.

In die natuur assosieer ons:
Lente met nuwe lewe
Somer met groei
Herfs met oestyd
Winter met rus.

In die mens se lewe assosieer ons:
Lente met vrolikheid
Somer met arbeidsaamheid
Herfs met nadenke
Winter met swaarkry.

Kom stap saam en ervaar Elohey se seën vir elke seisoen in jou lewe. Mag jy met die lees van elke boodskap elke seisoen voluit beleef en terselfdertyd ook nader aan Elohey, die Samesteller van die seisoene, kom.


INLEIDING
Jy is ongetwyfeld op soek na rus, na Jahweh se soort rus. Daarom het jy nou hierdie boek in jou hand. Aan die een kant is jy elke dag deel van hierdie gejaagde wêreld. Maar aan die ander kant weet en glo jy dat daar iets meer vervullend in die lewe moet wees as net dit. En jy`s reg!
Daar is regtig meer vreugde in die lewe te vind as wat die meeste mense rondom jou – en dalk jyself – tans geniet. `n Lewe van rustigheid en innerlike vrede is selfs vandag nog in hierdie woeste nuwe Suid-Afrika van ons moontlik. Maar dis ongelukkig nie vir baie mense beskore nie. Slegs daardie klein groepie wat regtig moeite doen om op Elohey se pad te stap – ek bedoel regtig daarop te stap en nie net dreig dat hulle dit nog iewers vorentoe gaan doen nie – staan `n kans op `n stukkie geluk. Net hulle gaan Elohey se soort geluk raakloop!

Om Elohey se vrede te ervaar, daardie vrede wat jou elke dag soos `n tevrede kind aan jou Hemelse Vader se voete laat sit, vra egter dissipline en oefening. So `n lewe kom nie vanself nie. Dit vra toewyding en gehoorsaamheid, maar dit vra ook luister en rus. Ongelukkig het hierdie tipe geestelike dissipline grootliks verlore geraak in ons gejaagde lewe. Daar is eenvoudig nie meer tyd om regtig stil te wees voor Elohey of om jou geestelike lewe in `n vaste roetine te plaas en daarby te hou nie.
Geniet hierdie boek (boodskappe). Gebruik dit as jou bousteen vir jou tyd van geestelike groei.
Dan gaan dit die mees opwindende tyd in jou lewe wees.

BOODSKAP 1 - 28 AUGUSTUS 2013 - WOENSDAG 11H00
VREUGDE – ‘N MAGTIGE KRAG!
Vreugde is `n krag wat bekommernis en wanhoop van jou verdryf en jou in staat stel om elke vervolging en stryd met oorwinning deur te sien. Met vreugde in jou lewe kan hierdie laaste uur `n avontuur wees, daarsonder kan jy nie `n effektiewe getuienis wees nie.
So baie mense se vreugde verdwyn die oomblik as hulle `n geseënde diens verlaat, of na `n geseënde boodskap. Jesaja 61:3 sê dat Jahshua aan ons `n gewaad van lof sal gee en ons met vreugde-olie sal salf. Met ander woorde, Hy wil aan ons nuwe geestelike klere gee, klere wat die gees van swaarmoedigheid sal verdryf. Natuurlik is dit nie altyd maklik om, wanneer jy voor die werklikheid staan, in prys los te bars nie, maar jy kan dit doen, maak die keuse.
Habakuk 3:17 – 18 sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in Jahweh, ek sal juig in die Elohey van my heil.”
Jakobus leer ons ook dat ons dit louter vreugde moet ag as ons in allerhande versoekinge kom.
(Jakobus 12:3). Julle vra hoe doen `n mens dit? Met die wete dat Elohey die oorwinning sal gee.
Vreugde gee aan u die krag wat u nodig het om elke geveg te wen. Die Skrif leer ons die blydskap in Jahweh – dit is ons beskutting. As ons dit glo, dan is dit ons plig om ons vreugdevlak hoog te hou.
Luister wat leer Psalm 51:10-12 ons: “Skep vir my `n rein hart, o Elohey en gee opnuut in my binneste `n vaste gees. Verwerp my nie van U aangesig nie en neem U Apartgestelde Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van U heil en ondersteun my deur U gewillige Gees.”
Ons het nie `n nuwe doping in vreugde nodig nie, maar het net nodig om terug te keer na die vreugde wat ons eens op `n tyd ervaar het. Daardie vreugde is die vreugde van ons redding, die vreugde om weer gebore te wees, om in die Bloed van Jahshua gewas te wees.
Dit is vreugde om te weet dat ons name in die Boek van die Lewe geskryf staan!
Amen.

 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205