OP GOLGOTA - DEEL 2
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 24
15 Jan.2008 08:04
Nadat EK na die hemel gevaar het, het EK MY dissipels beveel om hulle af te sonder vir ‘n paar dae, wat hulle dan ook gedoen het. EK het op die dag wat EK beplan het, MY GEES oor hulle uitgegiet en hulle het heeltemal Een met MY geword. Daarna kon hulle alles doen wat EK hulle aangesê het om te doen. Elke wonderwerk wat EK op aarde verrig het, kon hulle doen en alles wat hulle gesê het, het ook dan net so uitgewerk. Daar is baie mense deur hulle tot inkeer gebring en daardie mense het almal na MY gekom en die pad tot aan die einde vir MY gestap. Nou staan julle weer voor ‘n baie groot gebeurtenis en daar sal ook mense wees wat voor daardie tyd Een met MY sal wees. EK weet wie EK vir daardie werk eenkant gesit het en is tans besig om met hulle te werk om vinnig Een met MY te word. MY kinders, julle moet die hele tyd daarna strewe om Een met MY te word, sodat die bose nie hulle kloue in julle kan slaan nie. EK wil met elke een van julle Een word, sodat julle alles sal kan doen wat EK op aarde gedoen het en nog meer. Die “nog meer” beteken dat julle in ‘n oorlog gewikkel sal wees wat baie feller sal wees as enige ander aanslag teen My kinders en selfs teen MY, toe EK op aarde was. Die satan het nog altyd teen MY verloor en het woedend omgedraai om verder planne teen MY en MYNE te smee. Hy beplan die vreeslikste dinge vir julle om so tot MY te kan kom. Maar hy leer nie, en sal weer ‘n keer verloor deurdat julle nie eenkeer sal ingee vir hom nie. Al doen hy wat hy wil met julle liggame, sal julle nie vir hom ingee nie en dit maak hom woedend, omdat hy weet dat julle siele vir hom belangrik is. Belangrik in die sin van die woord, dat hy julle siele teen MY wil gebruik om te wys dat hy sterker is as EK. Maar julle sal nie net julle eie siele van die bose bewaar nie, julle sal ook ander van die bose bevry en hom daardeur ‘n doodsteek in die hart gee. Dit wat hy vir julle sal beplan, sal terugkom na hom en mense uit sy kloue uithaal en hom van sy krag beroof. MY kinders, daarom sê EK julle om die eenheid met MY te kom soek sodat julle MY krag kan kry, want sonder die krag wat julle van MY sal kry, sal julle nie net niks teen hom kan uitrig nie, maar ook self in sy kloue val. Julle weet nie hoe vêr dit nog is nie, maar almal wat na MY wil kom en met MY Een wil wees, sal dan ook Een met MY wees. Die mense wat EK nou uitgekies het om voor daardie tyd Een met MY te word, sal julle help om ook Een met MY te word op die regte tyd. EK sal self ook na julle kom in die vlees en julle versterk voor daardie vreeslike tyd aanbreek en EK sal julle almal Een met MY maak voor die groot geloofstryd aanbreek, en daaroor hoef julle julle nie te bekommer nie. Gee net alles aan MY oor en werk aan jouself sodat jy al verder op die pad kan wees wanneer die stryd in julle land met die ander nasies dan ook sal begin. Daardie stryd is baie nader as die groot geloofstryd en almal wat oplet sal agterkom dat daar snaakse dinge aan die gang is. Wees verseker dat die vyand besig om sy boog te span en julle al klaar in die visier het. Julle is almal onbewus van die planne wat hulle vir julle het, maar EK is, en sal julle daarom waarsku en julle aanspoor om nader aan MY te kom. Wees nie bang vir die menigtes wat julle wil omsingel nie, omdat EK julle wat MY liefhet sal beskerm en hulle sal nie ‘n hand aan julle slaan nie, maar sal self geslaan word. Aan die wat MY nog nie ken nie, wil EK sê dat julle haastig na MY moet kom en MY kom vra vir beskerming voor die dag aanbreek, en julle sal lewe. Kom voor die tyd, omdat die wat MY net in die nood aanroep en verder van MY vergeet, nie hierdie stryd sal oorleef nie. Dit sê EK weereens in al MY liefde aan almal. Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205