OP GOLGOTA - DEEL 2
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 17
12 Jan.2008 22:21
Terwyl EK in die tuin van Getsemané gebid het en gevra het of die beker van droefheid nie by MY kon verbygaan nie, het twee van MY dissipels ‘n ent van MY onder ‘n boom gesit. EK het hulle gevra om net een uur saam met MY te waak en nadat EK in MY doodsangs MY gebed afgesluit het, het EK na hulle gegaan en hulle vas aan die slaap aangetref. EK het hulle wakker gemaak en weer aan hulle gevra om saam met MY te waak en te bid en weer het hulle aan die slaap geraak. In MY benoudheid kon geen mens MY troos nie, maar EK het hulle om ‘n rede gevra om saam met MY te waak. MY kinders, nou vra EK julle weer om saam met My te waak en EK vind julle weer aan die slaap. Geen mens weet wat die gevolge van die groot aardbewing gaan wees nie en niemand kan eers raai wat die geloofstryd alles gaan inhou nie. EK vra julle daarom weer om saam met MY te waak en te bid, maar julle bly net slaap. Dit is die gevolge van teveel behaging van die liggaam. Wanneer jy in groot benoudheid verkeer, sal jy nie slaap nie, al is jy hoe moeg, maar as jy houtgerus is, sal jy heerlik voortslaap sonder dat jy eers van die gevaar om jou bewus is. EK sien die boosheid om julle en julle is nie daarvan bewus nie. Sou julle die bose om julle kon sien, sou julle baie ernstiger deur die lewe gegaan het. Julle sou die hele tyd gewaak en gebid het en julle sou nie so deur die lewe gegaan het soos wat julle nou deur die lewe gaan nie. MY kinders, EK het geweet hoe groot die aanslag teen MY dissipels ook sou wees en het hulle daarom ook gemaan om saam met My te waak en te bid, maar aangesien hulle nie een kon raai watter groot uitwerking MY kruisiging op hulle sou gehad het nie, het hulle ook nie omgegee om aan die slaap te raak nie. Petrus het MY belowe dat hy sy lewe aan MY sou opoffer en saam met MY sou sterf en julle almal weet wat die uiteinde was toe hulle hom gevra het of hy MY ken. MY kinders, hy het dag en nag vir meer as drie jaar saam met MY geloop en alles agtergelaat om MY te dien, en hy kon nie staande bly teen die groot boosheid nie. Hoe sal julle, wat MY nog nooit gesien het nie, staande kan bly? Dink daaraan en waak en bid sodat die bose julle nie ook oorkom en julle MY verloën nie. Streef na die eenheid met MY voordat die groot dag van die Antichris op hande is, sodat jy MY die hele tyd kan aanskou en Ons Een kan wees en jy nie sal struikel nie. As EK julle aan die slaap sal vind, nadat EK julle drie keer gemaan het, sal EK julle los om voort te slaap en EK sal net na die gaan wat wakker is en MY verwag het. Wees daarom nie dom en vaak nie en ontwaak uit die doodslaap wat jou net jou ewige lewe sal kos en kom kry jou krag by MY, sodat EK jou kan versterk vir die werk wat jy vir MY moet doen. Dit is nie ‘n leuen dat EK jou met krag sal voorsien nie, omdat MY skryfkneg dit self ondervind het en ook sal skryf wat met haar gebeur het. Dit is die belangrike punt en EK wil julle weer sê om julle krag by MY te kom haal, aangesien julle baie keer vergeet om MY daarvoor te vra en dan verswak julle geleidelik en kan dan nie wakker bly nie. MY kindertjies, moenie aan die slaap gevind word wanneer EK besoeking oor jou kom doen nie.
Amen
 
(VADER maak my vroeg in die oggende wakker en sê dan dat ek in die Gees na HOM moet kom, sodat HY my dinge kan wys. Ek het vanoggend wakker geword met die woorde van Jahshua wat HY aan SY dissipels gesê het nadat HY hulle aan die slaap gevind het. Ek het gewonder waarom ek met dit wakker geword het, maar het gou genoeg uitgevind. Ek het probeer om met Jahshua te praat, maar het aanhoudend aan die slaap geraak en kon net nie wakker bly nie. Ek het alles probeer, maar was net te swak. Later het Jahshua gesê dat ek buitentoe moes gaan, sodat ek vars lug kon kry. Ek het dit toe reggekry om in die gees na HOM te gaan en nie aan die slaap te raak nie vir ‘n kort tydjie en HY wys my toe die volgende. Ek staan voor Hom en vra Hom vir krag en HY gee my ‘n glasballetjie, so groot soos ‘n gholfbal, en sê dat ek eers moet kyk wat in die balletjie is. Ek sien elektriese vonke soos blitse wat in die balletjie van een kant na die ander slaan. HY sê dat ek die balletjie moet insluk en ek doen dit. Net daar kry ek krag van Vader en al my moegheid is ook op ‘n einde. Die dag was sommer vir my iets om na uit te sien. Ek kon heeltemal verstaan hoe SY dissipels gevoel het, toe hulle so aan die slaap geraak het. Louise)

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205