BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 10

Wetenskap

Wanneer Ek genader word om enige verskynsel te verklaar, sal die siel daarmee gevoed word tot groei. Wanneer wetenskap egter gebruik word om ‘n verskynsel te verklaar, sal die verstand aangespoor word om op sy eie nuwe oorsake en redes te soek. Ek is die begin en einde van alle lewe en instandhouding daarvan, daarom is dit nodig dat die eer aan My gegee word daarvoor. ‘n Ondankbare mens sal nie die waarde van skeppings in die regte orde sien nie en dus nie die antwoorde op die regte plekke vind nie. Amein.

Wetenskap bestaan uit die ondersoek van hoe dinge werk en wie is die wysste om die antwoorde te kan gee? Wees daarom net ’n ondervraer van verskynsels maar met afhanklikheid van My om dit te verklaar en die antwoorde op alle probleme te bring. Die studie van wetenskap in die hoër onderrig vlakke behels vele benamings en sogenaamde wette om verskynsels mee te staaf. My Wil is dat hierdie in aanmerking geneem word met dieselfde agting as die woorde van enige vreemde taal. Dit dien slegs ‘n doel tot kommunikasie. Daar is geen ander rede om daaraan agting te gee as hierdie nie. My verduidelikings sal dus ook nie altyd met die wetenskap-bewyse ooreenstem nie, maar die siel is die verskil tussen wêreldse wetenskap verklarings en ewige Waarheid. Amein.

Wetenskap het ‘n plek in die daaglikse onderrig by ‘n kind in die mate waarmee dit die kind aanspoor daartoe om vrae aan My te stel oor die doel van skeppings en die gevolg van die skeppings vir die verbonde siele. Wanneer die les oor geestelike groei die kind lei tot sielsgroei deur na die omgewing te kyk, sal die waters in die kind se wese een word en vrede sy deel word in die bewustheid van doel en rede vir alles om hom. Dit sal lei tot ‘n eenwording met My deur nederige liefde en vertroue dat daar ook ‘n doel is met die eie bestaan. So wil Ek die kind rig tot hoër vermoëns as wat die aardse skyn-onderrig toelaat. Wees ‘n opvoeder wat waarlik siele skool vir ewige diens in die plek van opvoeders wat die taak van opvoeding as ‘n aardse tydverdryf en wyse tot broodwinning beskou. Die siele wat in jou sorg is, is ewighede meer werd as die broodwinning wat daaruit voortvloei. Amein.

My kindertjies moet van die kleinste eenhede af leer om die sieleleer in alles te bevraagteken en as ‘n skynbare legkaart aanmekaar te sit, sodat die groter eenheid tussen lewende en nie-lewende dinge op aarde ‘n diensbare beeld in hulle harte vorm. Begin daarom in die kleine met ondersoeke na My en Lewe. Begin by ‘n grondkorreltjie en vergelyk dit met die son. Kyk na lig, grootte, afstand, hitte, voedende vermoë en behoeftes. Vra hoeveel daarvan nodig is vir lewe. Gaan verder na die water wat daaroor vloei en dit saambind. Bestudeer waar die water vandaan kan kom, wat die water se temperatuur en krag is, wat die voedende vermoë van die water kan wees vir die grond en wat die water alles saamneem op sy reis. Verder moet soortgelyke en meer vrae gevra word rondom die kleinste saadkorrels, groter sade en die plante wat daaruit spruit. Elke waarde in My Liefde moet daarby gelys word, sodat My kindertjies die sekerheid beleef van My Sorg en bestaan sonder einde. Amein.

Die klippe om julle met elke aspek daarvan, soos reeds deur julle wêreld bestudeer en uitgelig dra nie net tekens van bestaan nie maar van diensbaarheid as ‘n verharde element. Lae rots, minerale en edelstene dui op toestande van willose, onbewerkte bodems. In hierdie tye het die vasgevangde dele geen ander diensbare lot gehad as geduldige wagtye en samebinding tot iets groter en skoner van aard nie. Hierdie saamgebinde eenhede is nou daar tot verhoging van My Aard en Wese in klein aspekte en sal net deur harde omwentelinge in die aarde die kans kry om weer te versag. Amein.

Hoe regverdig is die een se kans op groei en die ander op ‘n skynbare ewige vasvanging in ‘n samestelling? Elke nuwe samestelling wat met die vorige gemaak word, is goed vir die verdere diensbare bestaan van die stof. Enige diens wat My Wese verhoog, behaag My en is ‘n beeld van My Lig vir julle. Waardeer dit dus, al is dit om die balans van die aardbodem op verskeie plekke te handhaaf. Elke diensbare eenheid sal sy loon en eenwording met My verkry na gelang van die gewillige uitvoering van My Wil. Amein.

Eenhede wat nie meer ‘n wil het nie, het dit ontvang omdat hulle nie onder beter geleenthede sou dien nie. Ek bepaal die lot van elkeen om die beste vordering van sy siel te verseker en wil daarom dat julle, Kinders van My Liefde wat hier lees, EEN word met My wat elkeen ‘n regverdige plek in die skepping toeken vir die wyle wat dit daar diensbaar moet wees. Leef voluit met die doel om My in alles te vind en te verhoog en Ek gee aan julle die ewige geleentheid om saam met My te heers. Amein.

Wanneer My Kleintjies dan na die kleinste en grootste eenhede en die willose eenhede gekyk het, kan die lewende eenhede met hulle eienskappe, behoeftes en nut bygevoeg word, sowel as die mens as die kroon daarvan. Genoeg het Ek reeds gesê oor die mens om hierdie leerstof te vul. As uitvloeisel uit die mens se vermoëns spruit nou die werke van die mens, hetsy goed en sleg en die gevolge daarvan op die skepping. Mengsels van stowwe en die nut daarvan, diensbare produkte en werkende eenhede om arbeid mee te verlig kan ondersoek word. Beskou elkeen in die mate waarin dit die mens tot nut is in My diens en hoe om dit te verbeter dat minder beskadiging van die omgewing en meer verering aan My daarmee sal geskied. Amein.

Ek wil dat die mens die gebruik van die omgewing se kragte inspan om grootser werke te verrig tot voordeel van gemeenskappe en families. Dit moet egter nooit tot verryking van ‘n enkele persoon geskied nie, maar in liefde vir mekaar en vir My as diens tot ander. Wanneer Ek aangeroep word om Hulp en Leiding te bied, sal daar altyd ‘n toestroming van kragtige idees en vereenvoudigde probleme in die gedagtes ontspring wat spruit uit My Leiding en Wysheid. Hierdie is die antwoorde wat die probleem sal opklaar en die omstandighede heilig en daarom moet dit met gehoorsame vertroue uitgevoer word. Hoe kweek ‘n mens dit dan as ‘n gewoonte aan by ‘n kind? Amein.

Eerstens moet daar tydens die ondersoeke van alles wat bestaan en alle resultate van toetse aan My die eer gebring word vir die grootsheid van die skepping en die onverwagte, bruikbare resultate. Hierdie is die begin daarvan om My deel te maak van ‘n skeppingsdaad. Wanneer die hart dan so ontvanklik geraak het om My te verwelkom in volgende werk, kan die gebed die skepping vooraf-gaan om te vra vir wysheid en leiding in hoe om die probleem op te los. Wanneer Ek dan die oplossing gebring het, moet ook gevra word hoe dit op groot skaal aan ‘n gemeenskap as hulp gebied kan word en wat die benodigde hulpbronne sal wees, aangesien die werking en gevolge op klein skaal nou reeds bekend is. Amein.

Moet nooit ‘n wetenskaplike ekspedisie of ondersoek loots sonder om My die middelpunt daarvan te maak nie, want aangesien die verstand meer betrokke is as die hart hierby, sal die hart maklik ydel en hoogmoedig raak in die aksies en geen afhanklikheid van My meer wil toelaat nie. Ek is nie verheug oor die gebruik van wetenskap by verskeie skole om siele mee onafhanklik en ‘slim’ te maak op die wyse waarop hulle dit aanbied nie. Eerstens keur Ek nie die inmenging met My lewende skeppings se prosesse toe nie en tweedens is daar geen respek vir die krag wat deur My na die aarde vloei deur al die skeppings nie. Wanneer hierdie twee regstellings in aanbiedings gedoen word is die ondersoek van wetenskaplike beginsels en oplossings wat daaruit spruit wel deur My geseën. Amein.

My Liefde oordek die hele aarde en alhoewel die bande wat die siele bind om hier te bestaan en om te oorkom om met My Liefde te verenig, is My Liefde aan elke lewende gegee as ‘n sleutel en krag binne die self. Solank die Liefde gekies word, is die siel goed besig om die self te oorwin en My te vind. Amein.

My klein kindertjies het nodig dat wetenskap lewend vir hulle aangebied word, sodat hulle die lewende Krag wat van My voortvloei daaruit kan vind. Laat hulle dus toe om die begin en einde van lewe vir elke lewende onderwerp te ondersoek. Laat hulle toe om vrae te stel oor die begin en die einde en die antwoorde na My te rig, aangesien alles wat bestaan na My moet terugkeer. Amein.

Die volgende ondersoek moet die hartklop in elke lewende wese wees. Wat hou die wesens aan die lewe en waar is die krag te vind in die lewende wese. Laat hulle My om die antwoord vra en luister saam na die antwoorde. Amein.

Wanneer die begin en einde en die voortbestaanskrag se antwoorde beantwoord is, lê daar nog ‘n vraag voor die ondersoeker: Wat word gedoen met die krag of hoe word dit aangewend? Is dit net ter behoud van die self of ‘n gemeenskap. Sien die bruikbaarheid en dus vlak van die siele-ontwikkeling in hierdie lig. Hoe meer diens die lewende organisme doen, hoe meer liefde is daar te vind in die siel van die organisme. Het die organisme dan enige hulp nodig in die uitvoer van die take? Nee, is die antwoord, want die organisme dien in gehoorsaamheid. Waarom vra die mens dan om hulp in die uitvoer van take? Leer die kind om take te onderskei tussen klein en groot en self te glo dat Ek die krag is om met die taak te help, soos wat organismes sonder hulp hulle take moet uitvoer. Slegs groot take waarby die krag van ‘n enkele mens te min is, het weer liefde as doel in die versoeke van hulp van een persoon aan ‘n ander. Voldoen dan aan die versoek, aangesien dit die liefde en krag van meer as een persoon vra om tot uitvoer te bring. Amein.

Wanneer ‘n span arbeiders nodig is om ‘n taak te verrig, is gebed van nog meer belang tydens die arbeid as vir ‘n enkele persoon, aangesien die liefde onder mekaar die resultaat van die arbeid tot My eer rig al dan nie. Indien Ek geken word in die saak sal vele meer siele baat by die arbeid as daarsonder. Ondersoek dus werkswyses waar Ek die middelpunt is en hoe dit gebruik kan word in diens van ‘n gemeenskap. Amein.

Dit is in hierdie geval waar siele baat by noodlottige gebeure, aangesien daar dan sonder vrae eers na My geroep word om die gemeenskap by te staan. Vir die daaropvolgende tyd is siele weer nederig en wen My Ryk baie meer toewyding as in welgestelde gemeenskappe waar geen ingryping geskied nie. Wees dus nederig as ‘n gemeenskap, sodat Ek nie nodig het om noodlottige gebeure toe te laat, sodat siele as ‘n eenheid weer nederig na My opsien nie. Amein.

Ek wil graag die begin en einde van hierdie les wees vir al My Kleintjies, daarom is dit nodig dat hulle reeds van vroeg af die werking van dinge en mense ondervra en beleef om sin te maak uit die liefde en nederigheid daarin. ‘n Opvoeder wat geskool is in My Liefde sal met gemak hierdie kan oordra aan My Kleintjies. Hou voor oë dat Liefde en Nederigheid die hemelse waardes is wat in ‘n saak My die Lewende Krag maak. Enige ander benadering maak My Teenpool in daardie mate die krag en hoeveel meer kan Ek dan doen om die siele vir My te wen, as om hulle harte deur baie seer weer te bekeer na My. Amein.

Hierdie hoofstuk is veel dieper as enige vorige en het ‘n mate van geestelike rypheid nodig om te onderrig. Vra dus as opvoeder aan My om jou voor te berei op die taak om bespreking van nederigheid en Liefde as kraggewende beginsels in die skep van vloeiende beginsels en in die ondersoek van lewende dinge. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205