BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 2

Kleure

My Naam is vol van die ligrykste, kleurvolste klanke – Jahweshua-Miriam-Gees. Hiermee vertel Ek aan julle dat klanke en kleure een word in die mens se siel. Ek wil dat My Kleintjies kleure deur klanke leer ken, en julle, My kinders, is die wyse waarop dit moet gebeur. Toon aan hulle My natuur se klanke en kleure tesaam, byvoorbeeld die donderweer en donker wolke, die blou tydens bewolkte dae en die heldergeel lig as die son ‘n vertrek binnestroom met ‘n glimlag op jou gesig. Toon aan hulle die voëlgesang en die blommeprag in die helder wit sonlig buite. Toon aan hulle die skoonheid en vredevolle klanke van ‘n watermassa as My son se lig daarop reflekteer. Ek wil hê dat hulle My deur die klank van julle stemme leer ken, deur die kleur van julle emosies en deur die sagtheid van julle hande en werke. Ek wil hê dat julle kleur as ‘n eenheid tussen die sintuie waarneem en nie net as ‘n kleur op ‘n skaal van lig na donker of ‘n wiel van verskillende afdelings nie. Dit is nie My volledige kleure nie. My kleure vloei ineen en smelt saam om ‘n ‘gevoel’ of wete tuis te bring. Wees in die helder kant van daardie skaal, want My teenpool se kleure is vertroebel met digte en donker dele en so sleur dit saam met klanke wat swaar en vol is. My klanke is eenvoudig en lig, soos wat ‘n ouer met sy kind sal kuier. Amein.

Leer daarom My kleintjies van die begin af van die variasies van dieselfde kleur, van deursigtigheid van kleure en van Lig se breking om die kleure voort te bring. Leer daarom die kleintjies om die kleure in volmaakte samestelling te vind in My Lig en dat dit weereens in water ‘n tasbare voorbeeld het. Ek wil dat hulle dit leer gebruik deur kleurpalette waterverf te geniet. Die groter hoeveelheid water by die verf, laat My Lig se vloeibaarheid ‘n lewende begrip word. Die samesmelting van kleur is hier ook ‘n goeie voorbeeld. Maak kleurskywe waarop My kindertjies kleure se oorgange van die basiese, rooi, geel en blou na al die ander kleure kan waarneem. Maak lig en donker ‘n ander les. Gebruik skaduwees om te toon hoe sterk vaste stof lig blokkeer en verduidelik dat Ek nie die soort lig is wat deur vaste stof gekeer word nie. My Lig skyn orals en daarin is nie skaduwees nie. My Lig deurtrek die liggaam en daarom is daar helder bloed en water in die liggaam. Ek heel ook deur Lig en daarom sal die liggaam gesond wees as dit gereeld in My son se Lig baljaar. Toon aan die kindertjies dat gesonde liggame soos ligstrale kan buig en beweeg en dat lig alle ruimtes binnedring as daar ‘n gaping gelaat word. Tref daarmee ‘n vergelyking met hulle harte wat die deur vir My moet oopmaak dat My Lig alle ruimtes kan vul om mee te handel, maar dat My Gees teenwoordig is om alles te sien, al is die deur nie oop nie. Ek wil dat My kindertjies modelle bou van hul hartshuisies om Lig te sien instroom daarin, sodra die deur vir My geopen word. Maak dit ‘n blye gebeurtenis as die lig daarin vloei. Sluit weer die hart dig en maak kleiner openinge en sien dat hoe groter die deur vir My oopgaan, hoe groter sal die hart se blydskap wees om My daar te hê. Ek is hier om elkeen se tempel te verlig met My EWIGE LIG wat nie uitgedoof word nie, as die deur maar net wyd vir My oopgemaak word. Amein.

Kleur is te sien in die blommeryk, die diereryk, die voëls van die hemel en die visse in die waters. Die plante het ook ‘n kleurskakering eie aan die omgewing en daarmee wil Ek uitlig dat kleure gegroepeer kan word na gelang van die skepping waarin dit hulle bevind. Ek het My kindertjies bymekaar geplaas in groepe waar hulle My maklik sal vind in mekaar op die vlak waarin hulle hulle bevind. Maak daarom seker dat jy jou kindertjies met siele van dieselfde soort laat saamspeel om hulle te help om My in mekaar se werke te waardeer. Wanneer verstaan word dat groepe kleure saam hoort, kan kleurpalette met ander mediums saam aangebied word, sodat die siel leer hoe om kunstig kleure saam te gebruik in die skepping van ‘n unieke werk. Lig aan My kindertjies uit dat Ek ook ‘n kunstenaar is en tyd en dus Liefde in elke skepping se vorming geplaas het om dit prakties en uniek aan die aarde te gee. Net so is daar talle skeppings waarvan die mens nie bewus is nie, in ander ruimtes van My heelal, waar Ek ook ‘n doel en nut vir elkeen het.

Op tweejarige ouderdom, moet kindertjies basiese kleure kan onderskei en beskryf, op drie-jarige ouderdom moet hulle sinvol daarmee kan speel, deur groepering en benoeming. Op vierjarige ouderdom moet die kind sy eerste kunswerke  bedink, op vyfjarige ouderdom kan die kind verskillende mediums vir kunswerke byvoeg, op sesjarige ouderdom kan die kind ‘n kunsprojek aanpak en op sewejarige ouderdom moet die kind vryheid beleef in die kies van sy kunsmediums vir sommige projekte. Op agtjarige ouderdom moet My werke as voorbeeld gegee word om te begin naboots en op negejarige ouderdom sal die kind uit sy eie teksture begin noem in die skeppingsproses. Dui dan aan hoe lig en skadu die teksture vorm en ondersoek natuurlike maniere om teksture en lig weer te gee. Tydens die tiende jaar sal die kindjie ‘n baie goeie begrip toon vir die vlakke van materie, omhulsels, samestelling en groepering van die kleure. Nou is ‘n goeie tyd om voorgrond en agtergrond uit te lig in lesse van dimensies en proporsies en daarom sal vêrtes en dieptes goeie lesmateriaal wees. Ook kan die mens se liggaam proporsies bygevoeg word en die gesig se dele ontleed en nageboots word. Sodra die kind verstaan hoeveel klein deeltjies die geheel opmaak, sal waardering nog meer uit die hart spruit en daar opnuut na die skepping gekyk word om Lig en Lewe daarin te vind. Tydens die elfde jaar sal strukture wat deur die mens saamgestel is, ‘n goeie studie wees om proporsies van stabiliteit te ondersoek en die kleurgebruik in raamwerke te vind. Lig dan aan die kind uit dat die skoonheid van ontwerp in die lyne lê en hoeveel lig daarin kan vloei. Die versiering van kleur deur materiale en byvoegings, is die karakter van die ontwerp wat laaste bygevoeg word, maar deur die ontwerp geïnspireer word. Dit word dus ‘n eenheid, soos wat Ek die mens as ‘n eenheid bedink het met ‘n raamwerk en fyner skoonhede vir praktiese gebruik. Sien al die skeppings op aarde in daardie lig en bid voor jy werk verrig, dat die werk tot My eer sal geskied. Amein.

Hierdie inleiding in kleur sal verseker dat die kindertjies alle fasette van kleur ontdek en waardeer. Wetenskaplik kan baie aandag aan kleur gegee word, om te verstaan hoe kleur vorm, hoe dit meng en hoe om dit suiwer te hou. Ook sal kleur in die lugruim ‘n studie wees om te verstaan hoekom sekere seisoene en ruimteverskynsels sekere kleure tot gevolg het. Maak My altyd die middelpunt van die gesprek deur te vra hoekom Ek so iets sou wou laat verskyn en wat die nut daarvan is, want geen verskynsel is sonder rede nie. Amein.

Ek is elke kleur in volmaaktheid. Ek vul elke kleur in volmaaktheid. Kleure kan in die natuur gevind word om begrippe soos eenvoud, vrolikheid, weelderigheid en koninklikheid uit te beeld, maar water voed steeds elke kleur en kan nie skoonheid en lewe verbeeld as dit nie deurentyd die kleur voed nie. Net so kan die mens se emosies nie kleurvol en helder bly as dit nie deur My Water gevoed word nie. Reinig daarom daagliks jou geestelike kleure deur dit voor My te bring en My seën en voeding daarvoor te vra. Amein.

Dit is die voltooiing van hierdie leerwerk oor kleure, want die aarde kan nie die volheid dra van wat kleur behels in die ewige nie. Laat My kindertjies net die belangrikheid en waarde van My bestaan in elke kleur vind en die eenheid daarvan, dan sal My Ryk se kleure voor hulle begin oopvou as die siel gereed is daarvoor. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205