BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 9

Kuns

Vele gedagtes is al rondom kuns en kunsvorme op hierdie aarde gedebatteer. Ware kuns is nie om probleme uit te lig nie, maar om My Lig vas te vang in ‘n oomblik en so waardering by ander te wek vir die Skeppingsoomblik wat iemand kon raaksien. Heiligheid, nederigheid, eenvoud en ‘n ware weergee van die Skepping wat Ek laat lewe is ‘n werklike voorstelling van My Liefde. Die uitgangspunt van My Kinders is tog gegee om die Liefde die hoogste waarde in hulle bestaan te maak en daarom kan Ek net My seën op ‘n kunsskepping plaas as My Liefde die waarde daarvan is. Amein.

Ek laat ‘kuns’ op hierdie aarde toe, soos wat die mense dit voorstel as huldigers van verskeie grade op die skaal na My teenpool, want daarin sal die goeie navolgers van My Liefde hulle motivering vind om My Liefde op meer maniere aan die mensdom te toon. Asof die aanskoue van My Liefde in elke dag se Lewe nie genoeg is nie, sal ‘n afdruk daarvan die herinnering daaraan verhoog. Om ‘n afbeelding te maak van wat bo in die hemel en onder op die aarde en in die waters onder die aarde is en daarvoor neer te buig en dit te dien, soos genoem in die gebooie deur Moshè aan die volk gegee, is ver van waardering van die Liefdeselement in My skepping. Neem byvoorbeeld die lug tydens ‘n asemrowende sonsondergang. Sal iemand in ‘n straat vol geboue dit kon aanskou en na waarde onthou? Nee, slegs die siel wat met ‘n geopende oog van waardering My opsoek in die natuur se stiltes en skoonheid, sou hierdie oomblik op ‘n kunstige wyse kon vasvang om met ander te deel. Ek is die Lewe in daardie oomblik en afbeelding. Amein.

Roep My aan in die diepste van julle wese om My met helder geestesoë te vind in alles om julle, want soos genoem is Ek selfs as Lig te vind in hande van die mense om julle. Enige oomblik se Lig wat vasgevang word om met ander te deel sal dien as ‘n goeie kunswerk in My Oë. Amein.

Hoe sal kuns dan aan My kindertjies verduidelik word en moet almal dan geskool word daarin om kunstig te kan skep? Ja, soos hul Maker, is daar ‘n vorm van kunstigheid in elke wese gegee. Kyk maar na die natuur en vind die kunstige vermoëns in menige dier, voëltjie en insek versteek. Op die regte tyd, dus onder die regte omstandighede sal die hemelse kunsvermoë homself voordoen en al die omstanders hulself saam verbly oor die vermoë wat die lewende organisme gevind het om kunstig te handel vir ‘n bepaalde doel. Selfs plante het ‘n kunstige vermoë in die oprank of wyse waarop hulle spasie vul op aarde. Elke ‘spasie’ is ‘n genadegawe van My Liefde vir die plant om homself in My Liefde te baai. Amein.

Maak dus die uitkyk om My kinders van kunsvorme en kunsvermoëns te leer eerstens een van die waardering van ware kuns soos dit in My orde is en moenie tyd verspil op die teenstander se beoordeling van kuns nie, want daarin lê meer bande vir die siel opgesluit as Vryheid in My Liefde. Vind die kuns wat uit My Liefde gespruit het in julle omgewing, al is dit ‘n stellasie of tuin-uitleg. Enige vorm van ordelike weergee van My Lig en Liefde wat die mens se wese tot waardering, en diensbare skepping aanspoor sal goed wees vir My kindertjies om na te kyk en die elemente van balans, hemelse kleurgebruik en ware diensbaarheid en ootmoed te ontleed. Bring dan dieselfde elemente na die onderrigruimtes van My kleintjies om sodoende aan hulle onervare hande en harte die kans te gee om daarmee te werk in die doel om ook iets van Myself daarin vas te vang. Amein.

Om te kan gesels oor die oomblik van Lig wat waardeer word is ‘n belangrike stap in die skeppingsproses. Dit maak die hart se vrae oop teenoor My, sodat Ek binnegenooi word om te mag opklaar wat onduidelik mag wees. Dit open ook die siel vir geesteservarings deur My Liefde, aangesien daar hemelse begeertes gewek word waarin Ek mag beantwoord. Amein.

Wees ‘n opvoeder uit My hemele deur hierdie aspek van opvoeding na waarde te ag en deurgaans daaraan aandag te gee op ‘n manier wat My die Middelpunt van die gesprekke maak. Ek wil nie net as ‘n Skepper van die kuns-onderwerp geken word nie, maar as die Bron van die kunsvermoë in elkeen wat daarna kyk en dit afbeeld. Laat My Lig vir die siel daarin dus bespreek word en die gesprekke lei om maniere te vind om dit aan ander te toon. Amein.

Kuns is ‘n baie wye bestaanswêreld vir iemand wat werklik verstaan waar om dit te vind en hoe om daarna te kyk. Ek wil egter nie dat kinders van My Liefde hulself so in die kunsbesef verdiep dat hulle naastediens eenkant skuif nie. Deur naastediens sal die waarde van kuns selfs meer beteken in die wat die sleutel daarvan gevind het, maar sonder naastediens sal die siel maklik weer verval in die ydel beginsels van My teenpool en die waardering vir die verkeerde resultate begin aanwend. Kunsvorming is nie ‘n edele bron van inkomste nie, maar indien dit tot diens van die naaste aangewend word as Skeppings wat die naaste benodig en gebruik, is dit in die korrekte orde. Wees daarom nie ’n alleenloper om die ‘kuns’ wat Ek geskape het te soek en te vind nie, maar deel van gemeenskappe en families waar ‘kuns’-waardering gesprekke oor My en My Liefde kan ontlok. Dit dien ewe veel as verheffing van die siel as die verhoging van My Wese in die self om met ander daaroor te kan gesels. Amein.

Om ‘n nageslag van My te ontvang is een van die grootste gawes van kunswaardering wat aan ‘n mens toevertrou kan word, daarom spoor Ek eerder die kinders van My Liefde aan om na hulle familie-lede en nageslag te kyk in die Lig van My Liefde om daarmee die volheid van My Liefdesgawes op die hoogste vlakke te vind. Die Lig van My Skepping om julle wat weergegee word in die blye kyke van familie-lede of in die sagte werke wat geliefdes teenoor mekaar doen, voed die siel in so ‘n mate dat dit versterk na My kan keer vir vaste spys. Ek is die lewe wat nie ‘n begin of ‘n einde het nie in elke familie-lid om jou en bring so die beste van ‘lewe’ uit as daar in Liefde en eenheid saamgewoon en saamgewerk word. Amein.

Kuns is prakties aan ‘n kind voorstelbaar deur eerstens skadubeelde van voorwerpe te maak, sodat die kind die vorm as deel van volume kan begryp. Die buitelyne moet noukeurig nagetrek en bestudeer word, rakende die doel van die lyn en die verhouding daarvan teenoor die res van die skepping. Elke nagebootste lynskets moet dan gevul word met waterverf om die bestaan daarvan lewend te maak vir die kind se begrip. Sodra daar verskeie voorwerpe met verskeie kleure op die blad bestaan, kan ‘n verhaal vertel word oor die rede waarom hulle saam op die blad is en waarom die spesifieke voorwerpe saam gekies is. Dit sal verklaar wat hulle byeengebring het en wat hulle voornemend is om saam te doen. So sal ‘n storie-prenteboek kan volg wat die kind self moet saamstel om ‘n verhaal van sy eie te skep.

Wanneer die kind begryp dat elke item ‘n naam het en ‘n koppeling aan tyd deur middel van ‘n plasing in ‘n verhaal, kan die lewe soos in die werklikheid afspeel aan hom voorgehou word en realistiese aksies en toevoegings bygevoeg word. Kleure kan bespreek word om die waarde van die kleur en sieledele toe te voeg en nuwe kleure kan tot die omgewing bygevoeg word om te verseker dat daar ‘n persepsie van grond, lug en voor en agtergrond bestaan.

Sodra die kind al hierdie self in sy werke as kunsvorm begin gebruik, kan toenemende besonderhede van enkele voorwerpe bygevoeg word. Alvorens die kind egter nie die bogenoemde alles waarneem en weergee nie, moet daar nie voortgegaan word met meer kleure en fyner lyne nie. Sodra die kind dan gereed is vir die fyner lyne, kan sterk, dik lyne gebruik word om groot vorms af te rond, byvoorbeeld bome of klippe, diere en wolke. Daarna moet die lig in die gestaltes aandag geniet. Dus moet skadu-lyne dikker geteken word. Indien ‘n kind dit van vroeg af leer ondersoek, sal kuns waarlik lewe kry in kinderopvoeding. ‘n Kind se waarneming is nog nie belemmer deur allerlei invloede nie, daarom sal hierdie les maklik aan ‘n kind oorgedra kan word. Sodoende leer die kind ook om die hand met meer en minder krag te gebruik en waarom dit ‘n doel het. Sodra hierdie bemeester is, kan die kind geleer word om spasies met lyne te vul, dus ‘in te kleur’ soos wat julle dit noem. Hierdie ‘inkleur’ se doel is nie so omvattend soos al die vorige lesse nie en moet daarom nie soveel aandag geniet in die opvoedingstaak nie. Dit kan hoogstens een maal per week ’n tydgleuf vul, want die skeppende vermoë wat daarmee ontwikkel word, is skraal. Amein.

Teen hierdie tyd is die kind gereed vir eie verf-skeppings en kan waterverf as medium ‘n groter doel dien deur skeppings in periodes op te breek waar aan verskeie lae van die afbeelding aandag gegee word op verskeie tye. Laastens sal die voorste beelde ingeverf word. Hierdie sal ook die ondersoek van kleurgebruik bo-oor mekaar uitlig en daarmee kan lig verder ondersoek word deur verskeie kleure oor mekaar te laat skyn. Kyk ook hier na ligbreking wat toon dat lig bymekaargevoeg kan word om meer krag te dra as enkele kleure. Bespreek tydens elke element ook My waardes en leer. So sal die siel gevoed word tydens elke skeppende oomblik. Amein.

Hierna is die siel gereed om met teksture te begin speel, sowel as mediums wat sterker kleurwaardes gebruik om die teksture makliker te vorm. Ander verf-mediums kan bygevoeg word en met aanvanklike geleide ondersoeke, kan die kind later gelaat word om self te skep. Kuns sal op hierdie manier vinniger waarde dra en in diens van die samelewing gebruik kan word. Soek daarom geleenthede om die ware balans in grootte en vorm aan die kind te leer, alvorens kleure en mediums aandag geniet.

Kuns is ‘n dienende vaardigheid bo alles, geskep om siele die skoonheid van My Volmaakte Liefde te laat waardeer en enige ander gevolg van kuns draai die siele na die teenpool in ‘n hartseer vloed wat aanhangers werf. Al die siele raak sodoende weer verlore vir My onvoorwaardelike Liefde. Ek roep hiermee elke hart tot bekering van ydel waarderings en passies. Soek My afbeeldings en My Liefde in die beelde waarmee julle julle harte en vestings versier en My Liefde sal na julle terugkeer in die OERGRONDPOOL VAN MY LIEFDE om julle by te staan met Wysheid, Barmhartigheid en ‘n oorvloed gawes tot My eer. Amein.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205