BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 18

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 5

Die Mens

My klein kindertjies het nog geen besef van hulle rol in die heelal nie. Die wêreld bestaan vir hulle uit alles en almal wat hulle om hulle beskou in kinderlike vertroue. Dit is julle taak as opvoeders om ‘n goeie voorbeeld te wees van Die Mens voor hulle, dus om al My eienskappe in julle te koester en te vervolmaak om hulle sodoende te help om ‘n riglyn te vind in die ontdek en vorming van hulleself. Amein.

Hoe die taak aangepak moet word, is reeds breedvoerig beskryf in die vorige hoofstukke, maar hier wil Ek weer meer Lig werp om die siel in die mens. Die aarde het genoeg riglyne oor die versorging en inligting oor die samestelling van die mens se liggaam, maar Ek wil julle toelig oor die ware werking van die mens se siel om nader aan My te groei. Amein.

Eerstens is die mens se omhulsel My Skepping wat waardeer en versorg moet word binne My riglyne, sodat daar ‘n vlekkelose eenheid tussen My Lig en die uiterlike van die mens kan vorm. Dit wil sê die mens se omhulsel moet My werke doen met sagmoedigheid en ywer, sodat dit voorkom asof dit Ek is wat die werke doen. Hierdie sal die mens se uiterlike suiwer van vlekke en vreemde dinge voor My. Sodra die mens se uiterlike gesuiwer is en daar daagliks gewerk word aan die nuwe kleed van Lig voor My, kan die suiwering na die dieper vlak, naamlik die menslike siel gaan, waar ingewande se werking en die wil om dinge te doen vandaan kom. Dit is die vlak waar gesondheid of siektes ontvou, waar die siel opreg leer wees en swakhede wat na My teenpool neig koester of oorwin. Hierdie vlak het versorging nodig deur My te vra vir suiwering en seën op elke dag se weë. Dit vereis dat die eienaar van die siel wakker is om enige negatiewe neiging of las gou aan te spreek en uit die weg te ruim. Dit is maklik om dit vir ‘n kind te leer, deur dadelik verantwoording te bewerk vir konflik, slegte samewerking en verkeerde optredes. Hou dit aan die kind voor as ‘n reël om dit altyd dadelik met die teenparty op te los of versoening daarvoor te doen teenoor My en die verontregte. Ek wil hê dat daar altyd en met sekerheid beskerming en ‘n sterk vloei van energie in My kindertjies moet wees van My af en daarom is die oop hart ‘n voorvereiste. Die hart se deur is die siel se begeerte en neigings. Indien die siel so ‘n oop verhouding met ander en My handhaaf, sal dit die hart uitnodigend en ontvanklik maak vir My lering, teenwoordigheid en skoling om dit te help volwasse word in My Ryk. Ek wil dat elke siel volwasse word in My Ryk, omdat dit eenheid met My Wil beteken en dus ‘n vergroting van My Skeppende en Versorgende Krag in die heelal. Amein.

Die koestering van ander siele maak die mens nog meer een met My, omdat dit die siel leer van die verskillende aspekte van My Wese wat telkens sterker is op ‘n ander manier in ander as in die self. Indien die siel die Liefde vir ander ontdek en voed deur dade van omgee, diens en bemoediging, sal My Krag in die mens ontwikkel tot ‘n diensbare gawe om die wil lewend te maak in die mens. Elke mens het ‘n nut as Hemelse Versorger en selfs in daardie begrip is oneindige vorme van diens omvat. Ek wil My nuwe geslag in die lewe roep wat soos engele reeds op aarde hul take wil opneem, maar kan dit net bekragtig as die harte van daardie geslag suiwer geword het om nie bevooroordeeld teenoor ander te staan nie. Al is die ander nie op dieselfde ontwikkelingsvlak as die self nie, is dit nodig vir die siel om die ander as eenhede van My Wese te beskou. Die opname-houers is nie altyd ewe groot nie, maar soos wat reeds vermeld is, is volume ten opsigte van krag iets wat aan hierdie aarde behoort. Amein.

Gebruik die volgende lesse om hierdie begrippe aan My kindertjies tuis te bring:

Neem ‘n staf en deel dit in gelyke eenhede. Noem aan My kindertjies dat die eenhede elkeen ewe belangrik is vir die staf om ‘n sekere lengte te wees. Plaas die staf op ‘n balanspunt sodat die kindertjies kan leer dat die middelpunt van die staf die balans sal vorm. Skuif die staf rond op die punt en toon aan dat indien die staf nie presies in die middel vasgehou word nie, die balans onmoontlik te vind is om dit in ‘n horisontale posisie te hou. Verduidelik vir hulle dat indien een van die eenhede wat daarop gemerk is, weggeneem sou word, die balans ‘n nuwe middelpunt moes neem en die ou middelpunt nie meer bruikbaar sou wees nie.

Net soos wat hierdie staf uit dele bestaan, bestaan hulle menslike liggaam ook uit dele. Dit is die waters in hulle siele, die waters in hulle vlees, die waters in hulle harte en My water as Krag. Indien een van hierdie dele weggeneem word, wat in die meeste van die gevalle die water van My Krag is, sal die middelpunt wat Ek vir die siel bedoel het ‘n nuwe plek moet inneem, die siel kleiner wees as wat dit bestem is en Ek dit vir minder dinge kan gebruik. Gebreke veroorsaak ook hierdie gevolg, maar indien die persoon dan My bid om Krag om deur die gebrek sy volwaardige diens aan My te doen, sal My Krag daardie te kort deel van die staf aanvul om dit ‘n onbenullige probleem te maak. Die wil van die mens sal die waters bepaal en daarom moet My kindertjies van kleins af getoon word hoe die wil die volwaardige mens beïnvloed. Ek wil die Wil wees, maar sal geen siel dwing om dit aan My te gee nie. As My Wil die wil van die siel word, is die middelpunt in hemelse balans vir die siel en soos wat dit bestem is om te wees. Amein.

Die volgende les is met behulp van dieselfde staf in ‘n vertikale posisie. Indien hierdie staf nou in My Hand is, veroorsaak dit geen ekstra uitputting en moeite om dit te gebruik terwyl Ek beweeg nie. Dit is presies die lengte wat Ek benodig om My taak van beweging en ondersteuning uit te voer. Die verkorte staf sou My baie moeite besorg het, totdat dit so ‘n uitputting raak om vas te hou dat Ek dit eerder neergesit het of ‘n ander gesoek het om My taak mee reg uit te voer. Leer daarom My kindertjies dat Ek nodig het dat hulle die staf moet wees wat Ek hulle gemaak het om te wees, sodat Ek My take volmaak deur hulle kan uitvoer. Elke staf het ‘n doel en diens om te verrig in My plan en indien die staf nie diensbaar is soos wat Ek benodig nie, moet Ek dit vervang met een wat My van nut kan wees in My taak. Amein.

Dit bring die kind by die vraag of Ek dan die staf sal vernietig? Nee, My kindertjies, nooit sal Ek die staf vernietig nie. Daar is ‘n groot verskil tussen diensbaar vir ‘n doel en nutteloos. Ek wil hê dat die nut gekoppel moet word aan ‘n taak en omdat ‘n staf nie nuttig is vir een taak nie, beteken nie dat dit geen nut het nie. Dit beteken dat dit sy beurt moet afwag totdat daar ‘n taak is waarvoor dit dan nuttig sal wees. Die nut gaan gepaard met die gewilligheid. Tot die staf dan nie gewillig is om ‘n diens te verrig nie, sal daar ook nie ‘n nut vir die staf wees nie. Elke taak waarna verwys word is iets wat My sal verhoog onder die mense op aarde. Die verantwoordelikhede om hulle siele te wen om in My te wil groei, tesame met die verantwoordelikheid om hulle te versorg met voeding en seën in die vorm van gawes wat uit My vloei, is alles take waarvoor ‘n siel tot nut kan wees. Amein.

Ek wil ook dat My kindertjies na hierdie staf kyk van alle kante en sien dat dit ‘n omhulsel en ‘n kern het. ‘n Hol staf sal nie sterk genoeg wees om as staf te dien nie. Stawwe het soliede materiaal nodig. Hierdie kern is die mate van volmaaktheid wat die siel homself toelaat om te bereik. As die wil om diensbaar te wees en homself tot My te wend aanwesig is, sal die voorgee van ‘n hol staf wyk en die staf stuk vir stuk gevul word met krag om die diens te doen. Ek wil dat My Krag die siel totaal vul om ‘n betroubare werktuig vir My te wees. Amein.

Hierdie laaste les is van belang vir die ontwikkelde kind, wat reeds verstaan hoe en waarom die staf gebruik word. Neem nou die staf in die hand en beskou dit van alle kante. Elke deel van die staf is soortgelyk aan die volgende, tog het elke deel ‘n doel in die diens van die staf. Net so is elke deel van die mens ‘n deel op sy eie, maar een met die hele staf en belangrik in die doel van die staf. Hierdie dele is een en tog nie. Wanneer ons na die merke kyk, word dit afsonderlike dele, maar wanneer ons na die staf kyk, is daar geen laste nie. Soos wat hierdie eenhede inmekaargevloei het, wil Ek hê dat die mens se dele voor My ‘n eenheid moet word. Ek is genoem in daardie dele, sodat dit saam met die res as ‘n Eenheid sal dien. Dan sal die staf ‘n volmaakte staf voor My wees, wat sterk genoeg is om My te help in My take. Sonder laste sal daardie staf ‘n ewigheid se diens kan verrig. Amein.

Hierdie les oor die mens se wese sal vir My kindertjies stof tot nadenke wees in elke jaar se groei. Dink dus daaroor na dat elke vraag van My kindertjies ‘n ewige antwoord van julle kant af sal kry. Moenie vrae wegwys vir later nie en moenie vrae afjak nie. Antwoord die vrae soos wat die siel My Water vra, dat die siel op die kwesbare oomblik sy groei kan beleef waartoe dit aangespoor word. Amein.

Ek wil ‘n verdere aspek van die mens noem en bespreek hiermee. Die samestelling van die liggaam as voorbeeld van die diens wat die liggaam moet doen in die ewige.

Eerste kom die voete aan die beurt, wat daagliks gewas moet word om suiwer treë en sterk beweging te verseker. Hier is al vele oor gesê onder My kinders en Ek wil dit weereens bevestig. Die voete van die siel is die nederige self wat gesuiwer en gewillig voor My moet staan. Die bene van die mens is die wil om die self tot nuwe werke te bring of om diens te doen. Die lendene is die suiwerheid van bedoeling in die handeling, sodat Ek dit kan seën met My Krag of nie. Die ingewande van die mens is die verwerking van die handeling, dat dit ‘n vloeiende proses is of ongesonde ‘vertering’ tot gevolg het. Die skouers en rug vorm die raamwerk van die beweging en moet sterk en fier saamwerk om kragtig te beweeg. Dit verbeeld die sin en begrip van beweging uit My. Die nek is die balanspunt van die hoof en ook belangrik om die stem te dra. Hierdie waarde in My is een van getrouheid. Die diens wat gedoen word, sowel as enige spraak moet My eer en daarom is getrouheid baie belangrik. Die hoof is die volheid van die mens se wil as individu en daarom is dit nodig om suiwer en helder te wees. Enige vertroebeling of onwilligheid, sal die daad of beweging belemmer en skaad. Maak hierdie les verstaanbaar vir My kleintjies deur na die liggaamsdele op ‘n kaart te verwys en dit te bespreek in eie optredes wanneer daar opdragte uitgedeel word.

Dit alles dui op die ewige eenheid van die mens met My en indien elke liggaamsdeel geheilig word aan My Wil, sal Ek dit verenig met die ewige Krag in hulle (Myself) om daaruit te handel en oor te gaan in die suiwere wedergebore toestand. Amein.

Hoe moet die liggaamsdele dan afsonderlik geheilig word? Deur te kyk na waaraan dit koppel in die siel, sal daar ‘n duidelike riglyn vir die self wees om die liggaamsdeel tot eenheid met My te bring. Ek wil dat elkeen wat hier lees hulleself denkbeeldig ondersoek van kop tot tone om die sterkte van die oorgawe aan My Wil te ondervra. Indien daar enige twyfel bestaan of die liggaamsdeel se sielefunksie My Wil uitleef, moet daar dadelik aandag aan geskenk word deur My te vra om daarmee te help en dit te suiwer. So word die hartsdeur vir My uitnodigend en kan Ek die waarde van die liggaamsdeel met die hart verenig. Amein.

Hierdie lesse oor die liggaam, siel en hart van die mens wat in ‘n diensbare eenheid saam met My Krag hierdie aardse weg moet bewandel is die hoeksteen van elke lering wat aan ‘n kind gegee moet word. Daarom het Ek die leerstof van My geslag kinders in My Hand geneem om dit vir julle moontlik en begryplik te maak. Amein.

Ek wil dat julle dadelik daarop begin fokus, want tyd het reeds oorgegaan in ‘n nuwe orde voor My en Ek Wil deel wees daarvan vir julle. Ons het groot werk op hierdie aarde en Ek het al My engele nodig om gereed te wees om My Kinders se harte na My te laat terugkeer en so totale ondergang van Myne te verhoed. Amein.

Julle as mense, die kroon van My Skepping, sal binnekort die tipe seëninge wat Ek vir die mensdom bedoel het begin beleef, wanneer julle toegewyde+ werksaamheid en wil een word met Myne. Amein.

Dit is die Liefde waarmee Ek hierdie Bybel wil vul – die aanbod om julle in My Ligkring van Liefde in die ewige te verwelkom en op te neem as werktuie in die onmeetbare tye wat voorlê, sodat julle weer julle eersgeskape verantwoordelikhede en rolle kan uitleef en Lig so ‘n werklikheid raak vir almal op aarde. Amein.

Groot is die genesingskrag in hierdie werk, indien die siele aan wie Ek dit bied dit opdrink en met hulle wese een maak, sodat Ek suiwer in hulle gestalte kan vorm aanneem. So sal elkeen My ken by die Naam as Man en nie meer kneg nie. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205