BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Deel 2

Hoofstuk 1

Getalle

Waarom sou Ek die hele heelal op getalle fundeer? Het Ek nie genoeg lewe om dit sonder metings te kan laat bestaan nie. Tog het elke skeppingseenheid ‘n proporsie van kleiner dele en ‘n grootte ten opsigte van alles om dit wat so noodsaaklik is vir sy eie bestaan. Sou die dinosourusse byvoorbeeld ‘n plek hê in julle huidige bestaan? Nee, want dan sou die grond tot klei vertrap geword het onder hulle voete en niks verder kon groei nie. Alles is nou proporsioneel kleiner as ten tye van hulle bestaan, omdat fyner sieledele daarvoor plek gemaak het. Weer sal in die herskepping fyner dele tot bestaan geroep word en My Lig sodoende nog meer tussen die lewe op aarde bewys word daardeur. Dit is die rede dat Ek nou aan julle verduidelik hoekom die verandering noodsaaklik is. Alles wat nou hard is, moet nog sagter word en dit begin deur die siele waarin julle bestaan tot My te omvorm.

Gebruik elke oomblik van gebed om in Liefde aan My ere te bring, dan sal die dele van jou liggaam die spoedigste tot sagte opwellings neig en soet Wyn in My Ryk word. Ek staan julle hiermee by deur My Gees dan sterker in julle harte vry te laat om julle sodoende te suiwer voor My. Wat het die woorde beteken dat Ek water in Wyn verander het tydens die eerste huweliksfees op aarde? Presies hierdie. Sodra jou siel met My Gees verenig in die huwelik op jou hart se aardbodem, sal die water (nederige ek) in die beste Wyn (My Liefde) verander vir ander om te geniet tydens die bruilofsfees. Dit was nog nie tyd vir My om Myself op daardie stadium bekend te maak nie, tog het My Moeder dit van My gevra. So doen Ek aan julle, omdat Miriam My vra. Julle houers is nog nie volmaak nie, tog vul Ek dit in die kleine met My Hemelse Wyn om aan almal om julle My Grootsheid te bied, omdat Miriam-Gees dit vra. Amein.

Hierdie is die begin van getalle-leer vir My kinders. Die water in julle maak van ‘n opname-houer (0) ‘n eenheid (1). So sal die Water wat nou (1) is met julle, My in hulle midde vind en die krag verhoog na (2). Elke versterking van die Water in jou wat My aanroep, verhoog die Krag wat Ek deur jou laat vloei na ‘n volgende getal, totdat 10 bereik word, waar My Gees dan in jou begin werk verrig, die 10 voudige vergroting van die Krag in jou, geskied net as jy ‘n waardige kruik is wat elke eienskap na My bring in naastediens. Die naaste moet dan My plek inneem, dat wat jy aan hulle doen, sou wees wat jy aan My sou gedoen het, tot die 100 merk behaal is, waarvandaan Ek saam met jou sal handel. Die 70 keer vergifnis is die hoeksteen vir die wedergeboorte. Sonder soveel oorgawe sal getalle nie kan vorder nie.

Wat beteken 1 dan in My Ryk as dit eenheid van My Gees met julle beteken op aarde. Dit is so eenvoudig soos die eerste jaar van ‘n kind. Die pasgebore baba is op een maand nog verknog aan die Mamma se hande en bors, sig begin dan ontwikkel om meer as net skadubeelde te kan onderskei. Op twee maande, is die kind reeds besig om die eie hande (werke) te ondersoek. Op drie maande sal die kind begin beweeg en deel word van die wêreld (Geestelike), op vier maande is die kind al babbelende saam met die gesin (Gees). Vyf maande dui die kind se begeerte aan om self iets te behaal en op ses maande sal die kind reeds op sy eie kan sit en besig wees. Op sewe maande is een plek nie meer genoeg nie en op agt maande wil die kind hoër begin sien en aanraak. Op nege maande begin die kind stamelend self treë gee (in geloof en blydskap) en op tien maande moet die kind fyn dopgehou word dat die regte dinge binne die kind se bereik is, want dit kan noodlottige gevolge hê as daar nie sorg vir die kind naby is nie. Die elfde maand is ‘n vry maand, waarin die kind met alles begin eksperimenteer en teen die twaalfde maand is die kind gereed vir selfspraak en selfwerksaamheid. Woorde uit die eie mond bly egter nog uit vir nog ‘n kragtige jaar vol lering.

Dieselfde volgorde volg in die jare se opeenvolging van die kind en so ook in My Ryk (dus die geestelike ontwikkeling van ‘n mens). Ek wil My kinders die 12 eenhede van sorg by My soveel as moontlik versterk, maar kan dit net doen as hulle naby My WIL wees en My Sorg wil toelaat. Daarom dat My Water in hulle binneste tot Lig omvorm as hulle dit voortdurend deur My laat suiwer. Amein.

Hoe moet hierdie dan aan ‘n kind oorgedra word?

Elke getal wat ‘n kind leer moet met die baba se gang op aarde vergelyk word, dan sal die kind ‘n verwysingsraamwerk hê van wat hyself gedoen het in vroeër jare. Vergelyk dit dan met wat hy nou kan doen, sodat hy begrip het van vordering. Laat hom toe om te voorspel watter vaardighede volg, dan sal hy verstaan dat dit meer is as aan die begin van die belewenis. Bring dan sy gees daarby in om te verduidelik dat die gees in ‘n kraglose toestand aan die liggaam gegee word en net soos wat die baba moet vra vir melk en sukkel om kos in die mond te kry, moet die hart van die mens na My roep om te vra vir voeding en om te help om dit te verteer, dan sal daar groei en vordering en vermeerdering van werksaamheid en vaardighede in die gees plaasvind.

Bespreek dan as ‘n volgende vlak die vermeerdering van 10 in die mens se wese, soos wat die werke en vergifnis as deel van self-verloëning in die mens ontwikkel tot hoër vlakke nader aan My vermoëns. Die tiene sal dan My Gees se werking in die Mens voorstel, waar die honderde My werking deur die Mens in My Gees sal voorstel. ‘n Duisend is die voltooiing van die ontwikkeling na ‘n staat van vrede waar die mens skep saam met My.

Om te kan tel en vergelykings te kan tref, is ‘n belangrike aspek by ontwikkeling, want anders kan die self nie in die korrekte plek teenoor My dien nie. Fokus vir die eerste 4 jaar net op die eienskappe van ooreenkomste, verskille, grootte en waardes. Dus vergelykend met mekaar. Na die vierde jaar van die kind se lewe, kan daar met vermeerdering en vermindering begin word, waar die wete dat oortreding krag wegneem en self-verloëning krag toevoeg bygevoeg word. Dit sal ‘n gepaste tyd wees om teregwysings met waardering tot gevolg, tot die kind se opvoeding by te voeg. Die volume van lesse in hierdie verband sal hand aan hand gaan met die kind se sielsnood. Indien die kind ‘n moeilike of harde temperament het, sal die les homself meer gereeld herhaal as in ‘n kind wat maklik begryp waaroor dit handel. Hierdie kind kan meer baat by die toon van Barmhartige gawes, omdat waardering reeds deel van die hart se vermoëns is. Hierdie les moet egter voortgaan tot op ‘n laat ouderdom, sodat die kind voortdurend bewus bly van die verantwoordelikheid teenoor sy eie siel. Amein.

Vanaf die vyfde jaar kan die kind met getalle speel in die vorm van prente om self te begin skep daarmee. Dit sal die kind die Wysheid gee van beplanning en gevolge en eie vermoëns. Laat die kind vele vrye tyd met eie skeppings in die vorm van praktiese gereedskap en kunstige skeppings toe, sodat die kind vertroud kan raak met die skeppingsproses. Ek wil hierby betrokke wees, deur die kind se hartsoortuiging. Leer die kindjie bid met ‘n ootmoedige gebed dat My Gees asseblief sal help met die taak of skepping en dit so tot My eer sal wees. Indien dit met elke les aan die kind geleer word, sal dit spoedig die teenpool se mag breek en Ek ook so in drome aan die kind begin toon wat en hoe om dinge te skape. Ek sal ook elke skepping uit My aan die kind verduidelik indien die kind geleer word om My daaroor te vra. Help die kind om aan My vrae te stel in sy hart oor wat Ek gemaak het in die kind se nabye omgewing en hoekom dit daar is. Glo die kind as daar antwoorde deur My in die kind se hart instroom en help die kind om dit in sketse uit te beeld. Eenvoudige lyne en baie kleure is ‘n goeie beginsel. Die kind sal daardeur geroep word tot meer en meer vrae, waarop die opvoeder met geduld en toewyding moet reageer om die kind te help om My in sy hart te vind en te gehoorsaam. Indien die kind ‘n weerspannige kind is, wat glad nie gehoor aan die hulp wil gee nie, moet die skeppende materiale van die kind ontneem word en die kind met boeke wat My vereer of die natuur gelaat word, waar slegs na alles gekyk mag word, maar niks gedoen mag word nie. Laat die tye van afsondering net ‘n paar minute duur en verduidelik dan aan die kind dat My Gees kragteloos in die siel is as die siel My nie vra om haar te help om te skep nie. Kragteloosheid beteken dan in die kind se geval dat die kind tot niks in staat sal wees nie. Hierdie is voldoende lesse vir die vyfde jaar van die kind.

Teen die sesde jaar moet die kind dus gehoorsaamheid, diensbaarheid, samewerking, afhanklikheid, nederigheid en liefde (in die vorm van waardering) verstaan. Die kind kan dan moeiliker take opgelê word om tot My in die hart te nader. Ek sal die kind seën in die moeite met ‘n eie tuintjie, waar daar onderrig moet geskied met die plant van saadjies in hulle eie gebied, die oplei van plantjies wat moet rank, die verwydering van indringers uit die plantjie se gebied, die waardering van bloeisels aan ‘n plant en die doel daarvan en dan die oes van die vrug met toegewyde sorg. Hierdie tydperk van wag om ‘n vrug van die plant te ontvang nadat dit met sorg hanteer is, moet alles as geestelike lesse aan die kind aangebied word om te verseker dat die kind geduld en deursettingsvermoë begin begryp. Die geestelike les hiervan is ‘n baie beter les as die een van sit in ‘n klaskamer vir langer ure om werksblaaie te voltooi soos in die huidige onderrigsisteem. Ek sal steeds as Skeppende Krag geken wil word en by die aanleer van taal en getalle die onderwerp wil wees, maar die oorheersende denkwyse van die kind moet gerig wees om My in Sy hart te vind en tyd met My deur te bring deur die leiding van die opvoeder.

Wees daarom vol inisiatief en lewenslus om die hele dag aan My te wy tydens die opvoedingstaak, sodat elke moontlike les wat na My gekeer word tot verheldering van die kindertjies se siele sal dien. Amein.

Die sewende jaar is ‘n jaar van beplanning vir die kind. Die kind besef waar hy nie meer sy eie wil kan volg nie en waar Ek in sy lewe inpas, maar hy besef ook verantwoordelikheid in hierdie wêreld se verpligtinge. Maak die kind daarom deel van die opruimingsproses in die leervertrekke, sodat die kind genot kan ervaar met dinge wat voltooi is en telkens ‘n nuwe begin. Dit sal die kind die belangrikheid van ‘n einde laat besef en dat die siel dan met vreugde ‘n nuwe begin kan tegemoetgaan. In getalle sal hierdie begrip tuis te bring wees met die gebruik van seisoene en wat dit behels in werk. Ook sal die horlosie se tydsaanduidings nou ‘n beter plek hê in die kind se begrip. Ek wil dat die kind flink leer optree in kort tye. Leer die kind van noodgevalle en dat om My aan te roep die enigste sleutel is tot flinke denke. Ek sal altyd die hart met antwoorde toestroom as die hart My daarom vra. Ek wil ook die kind beskerm in enige situasie en moet so aan die kind verduidelik word, maar die kind moet geleer word om ander te kan help in slegte omstandighede en daarom is hierdie les van belang. Die slegte situasie sal voorkom wanneer iemand in die omtrek nalatig oor My en die Lewe handel en Ek nie altyd kan ingryp en die siele daardeur geskaad word nie. Elke siel moet uit haar eie wil My sorg en voorsorg afbid en doen. In ‘n situasie waar almal dit doen, sal die kwaad vêr wegbly. Amein.

Nou is die kind al vêr gevorder in gedagtes rondom lewe en dood. In die agste jaar wil Ek hê die kind moet leer om alle getalle te kan uitlees. Dit sal die kind My Grootheid laat besef, want die oneindige moet ook hier ‘n plek in die kind se leermateriaal vind. Nou is dit weer nodig vir die kind om nederigheid as belangrikste les op te neem, aangesien die kind met nuwe oë leer dink oor die wêreld om hom. Ek wil dat die kind ander bedien, meer hoflikheidslesse beleef en leer om te help met skoonmaak van lewensruimtes waar water gebruik word. Wanneer die kind leer om deel van die water te wees in die skoonmaakproses, sal hy meer gemoedelik ander rondom hom aanvaar met hulle maniere van doen en gebreke. Dit is ook ‘n goeie tyd om die kind bloot te stel aan mense met gebreke en te verduidelik waarom die gebreke daar is. Soms word mense met gebreke gebore en ander male is die gebreke ‘n oorsaak van ‘n slegte gebeurtenis of siekte. Ek is in beheer van elkeen se lewe en het ‘n doel met die sielsontwikkeling van die betrokke persoon en mense om hom. Die gebrek is dus ‘n ekstra lering in die omstandighede waarin die betrokke mense lewe om hulle nader aan My te kan bring en toon eerder My betrokkenheid by die mense as My afwesigheid. Ek wil almal na My trek en sal op die regte tye dinge oor mense se lewe bring om My te vind, as hulle daarna verlang. Amein.

Die negende jaar mag die kind volstoom aan vermenigvuldiging en deling begin aandag gee, aangesien die nuwe verantwoordelikhede die denke open vir kragtige gedagtes en werke. Ek vermeerder byvoorbeeld ‘n plant se lewensduur met die aantal saadjies wat Ek aan die plant gee en so vermeerder mense se lewensherinnering met die aantal kinders wat aan hulle toevertrou word. Indien Ek die begin van die paartjie se eenheid is, sal daar vele kinders met suiwer siele aan hulle toevertrou word. So ook sal die teenoorgestelde waar wees en die stryd om My te vind saam met die kinders aangepak moet word. Ek wil dat die kind op hierdie stadium die wette van Moses ken, gebede namens almal teenwoordig kan bid en My krag in elke nuwe dag rondom hom kan beskryf. Ek wil hê dat vriendskappe bespreek moet word, sodat die kind die gevolge van goeie en slegte dade tussen vriende kan verstaan en hoeveel krag dit uitoefen op die siel se geestelike vermoëns. Dit sal die vermenigvuldiging en deling begrip lewendig maak vir die kind in sy eie bestaansruimte. Ook moet orde hier ‘n plek in die leermateriaal vind, sodat die kind kan insien dat ordelikheid die siel open om vinnig te beplan, te skep, te voltooi en weer vrede te hê en dat onordelikheid die siel belemmer en dus aansienlik van krag ontneem in elke stap van die skeppingsproses. Toon weer aan My kindjies die hoeveelheid skeppings op ‘n gestruktureerde wyse, wat Ek rondom hulle en op die aarde geplaas het en lig die belangrikheid van ordelike denke en handelinge uit, sodat hulle die opeenvolging van stappe in handelinge kan begin beskryf en waardeer. Ek wil vir hulle ‘n lewende voorbeeld wees in hierdie lering en daarom is dit nodig om vir die kind ‘n troeteldier toe te ken indien die omstandighede dit toelaat, al is dit net in die leersituasie. Die troeteldier se behoeftes moet met die kind se eie liggaam se behoeftes vergelyk word, sodat erkenning gegee kan word aan My sorg vir alle siele, ook in die natuur. As die kind besef hoeveel werke Ek vir sy eie siel en die van ontelbaar ander doen, sal sy behoefte om My te ken, vergroot. Die kind is nog jonk genoeg om vol bewondering die lewe te aanskou, daarom moet die nut van die troeteldier en ander skeppings ook aandag geniet. Vergelyk dit met die nut van die kind se bestaan vir die mense om hom, sodat hy ook ‘n plekkie vind om in vrede te geniet. Ek is teenwoordig in al die lering wat aan die kind gegee word en sal so oomblikke verlig met insig vir die opvoeder.

Die tiende jaar gaan oor keuses in die kind se lewe. Die keuse om My te aanvaar of te vergeet in sy hart sal eerste aandag geniet en blyk uit sy optrede. Hierdie jaar is ’n kernjaar in betrokkenheid van die ouers en opvoeders. Hou voor oë dat die kind op enige stadium van die aarde ontsê kan word as ‘n leerskool en bly die kind bystaan met gedagtes rondom My en My werke en bedoelings. Ek wil ‘n plek in die kind se roetine geniet deur nou as leermateriaal geken te word. Die kind moet daarom elke dag uit die boeke van My geskrifte lees om My in sy hart te vind. Wanneer lees gemaklik geskied, kan die oorskryf en in herinnering nasê van wat Ek die kind wil leer ook ‘n plek vind in die dag. Hierdie taak het met getalle te doen in die daaglikse gebruik daarvan. Indien die kind verstaan dat elke dag ‘n belangrike dag in My bestaan is, en dat take nooit ‘n einde het nie, sal die kind My Grootheid begin besef. Gee aan My die eer deur sang en leer die kind verstaan waaruit musikale elemente wat mekaar deurgaans herhaal, bestaan. Geniet sang voor My deur My lof te besing en die natuur om julle te bewonder. Geniet dit deur beweging en ritmes van My natuur na te boots. Geniet dit deur self natuurlike klanke te probeer skep, sodat die aanhoudende ritme ‘n begrip in getalle vir die kind raak. Tel saam met die ritmes sodat die kind leer dat geduld ‘n positiewe belewenis is en leer dan die kind van sy eie liggaam se ritmes in asemhaling en hartklop en hoe die kind eintlik as ‘n geduldige wese geskape is, waarin ongeduld net ‘n plek vind wanneer die siel op haarself ingekeer raak. In diens van sy eie liggaam en die behoefte van andere is geduld die enigste uitweg tot voortbestaan. Ek wil die kind met hierdie les bystaan deur voedselvoorbereiding as les te gebruik. Indien die kind leer watter voorbereidende stappe daar bestaan om voedsel op die tafel neer te sit, vanaf die skep van die item in die natuur tot die verwerking daarvan om uiteindelik keurig gegeur op die tafel te staan en hoe vinnig dit dan deur die siel verorber word, sal die siel verstaan watter lang pad dit weer neem om afgebreek te word in bruikbare sieledele vir die ewige doel – bykans ewe lank. So moet die kind ook leer nadink oor watter voeding goed is vir die siel en wat die gevolge van die gebruik daarvan is vir die siel, sodat voedselkeuses ook ‘n daaglikse verantwoordelikheid vir die siel word. Amein.

In die elfde jaar is die kind nou gereed om op sy eie take aan te pak. Leer die kind daarom deur werksblaaie en boeke soos versamelings bymekaar te voeg hoe kompleks My take is. Nou moet die kind groepe gedagtes met gemak kan bymekaar voeg en bereken, vergelykend met take en verantwoordelikhede se beplanning en afhandeling. Hier kan masjiene se werking en ontleding ‘n plek vind in die vergemakliking van take vir die mens en hoe kragte dus deur hulp van sterker materiale vergroot word. Bestudeer daarom ook die sterkte van materiale wat deur My natuur en die mens se denke ontstaan het. Leer om dit met water en die invloed van water daarop te vergelyk. Verduidelik aan die kind die bestaansduur van nie-lewende dinge en waarom sieledele dan gebonde bly aan hulle verpligte, willose toestand van diens. Verduidelik aan die kind dat die siele onder in die aarde se ruimtes ook so gebonde sal bly om diensbaar te moet wees, voordat hulle ‘n lewe van vrye wil mag ontvang en daarna in diensbare ruimtes uit eie wil vrygelaat sal word, na gelang hulle sag word soos water. Hierdie les oor bestaansduur moet in getalle vir die kind getoon word, sodat die kind kan bereken wat ‘n enkele verkeerde keuse se gevolge vir ‘n siel kan beteken. Verduidelik hiermee aan die kind dat ‘n neiging na keuses teen My eer ophoop om ‘n verharde hart tot gevolg te hê, wat Ek nie deur dwang, maar deur diens moet versag. Leer daarom om alles wat lewe toon te waardeer, omdat dit reeds sagte sieledele is. Vorm die wil van die troeteldier daarom ook om diensbaar vir ander te wees, indien die omstandighede dit moontlik maak. Hierdie jaar bring ‘n voltooiing mee in die kind se slypingsproses. Vanaf hierdie jaar kan die kind aan die lewe se diens blootgestel word om daaruit te leer en alle kennis oor sake ondersoek. Dit is nie My Wil dat die kind nou reeds oor die mens se voortplanting kennis moet dra nie. Bewaar daarom die siele om nog nader aan My te groei deur vele keuses, voordat die siel My voortplantingskrag in haarself ontdek. Vanaf vyftienjarige leeftyd moet die siel kennis dra oor die beskerming van die saad en daarom mag daar tot dan uitgebreid na plante en diere verwys word om suiwer saad se voordele uit te lig.

Ek seën hierdie leerproses honderdvoudig (met verwysing na My verduideliking van honderd), in elke opvoeder wat die riglyne volg. So sal ‘n nuwe geslag met verantwoordelike, sterk individue My vind in hulle roeping om Kinders van My Liefde te wees voor My aangesig. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205