Boek 3 - Mens, wie is jy?
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36.

 

Hoofstuk 8

Laat die kindertjies na My toe kom

28 April 2009

Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie. Amein.

Geseënd is elkeen wat `n kindjie in My Naam ontvang, want hy ontvang nie net My nie, maar ook My Vader wat My gestuur het. Amein.

Kinders, `n las of `n vreugde? Vir baie mense is kinders die spil waarom hulle lewe draai en vir ander weer is kinders `n las. Elke kind wat in hierdie wêreld die lig sien, se lewe is deur My beplan, daarom is elke kind wat vir `n ouerpaar gebore word, `n geskenk uit My hand. Baie min ouers besef egter die verantwoordelikheid van kinderopvoeding. Dit behels nie net die liggaamlike versorging nie, maar veral die ontwikkeling van die siel en die gees.

In vandag se gejaagde lewe word baie geld en moeite gespandeer aan die verstandelike ontwikkeling van kinders. Ouers is in kompetisie met mekaar oor hoe vinnig kinders ontwikkel en hoe slim hulle kinders dan nou is, alles net vir eie eer. Reeds as baba is `n kind ingestel op sy eie behoeftes en is die vleeslike al wat vir hom belangrik is. Dit is wel bekend dat die grondslag van `n kind se lewe gelê word binne die eerste sewe jaar van sy lewe en hier speel veral jy, liewe moeder, `n deurslag­gewende rol. Menige ouers skuif die versorging van klein kinders op ander af, terwyl hul verkies om Mammon te dien en vergeet van My beloftes. Het Ek nie gesê julle is meer werd as die lelies van die veld en die voëls van die hemel en dat Ek weet wat julle nodig het, nog voordat julle vra nie?

My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en daarom het My orde ook `n hemelse grondslag. Wysheid van die wêreld is dwaasheid by God! Daarom liefste mamma, leer jou kind eers innerlike lewensbeginsels soos in My Woord vervat, voordat daar klem gelê word op verstandelike ontwikkeling. `n Kind wat in liefde geleer het om gehoorsaam te wees, sy emosies te beheer, vriendelik en onderdanig te wees, is ook nederig, het vrede in homself en leer enige skoolaktiwiteite maklik en vinnig. Wanneer die verstand eerste ontwikkel word, bring dit hoogmoed en `n hoë eiedunk mee, wat teenstrydig is met My leer en wat nie maklik weer af te lê is nie.

Mamma, leer jou kind reeds as hy begin verstaan van My. Laat hy met My grootword en leer hom om My in alles te sien, dat alles met `n doel geskape is, ook hy. Maak My deel van sy daaglikse ervarings en hy sal geen moeite ondervind om My stem in hom te hoor en te erken nie. Hou hom besig met dinge wat goed is vir die ontwikkeling van sy siel. Deur heeldag voor die TV of rekenaar te sit, kry hulle geen liggaamlike oefening nie, maar sien en beleef dinge wat hulle negatief beïnvloed. Selfs kinderprogramme is vol oorlog, moord en doodslag. Dit vernietig die liefde en leer hulle die pad van selfregverdiging, ongesonde eieliefde en hoogmoed. Dit is alles eienskappe van Lucifer, waardeur hy poog om almal wat aan My behoort, tot `n val te bring, want, ‘wie met die swaard lewe, sal deur die swaard omkom’.

Nog iets wat die hoogmoed en eie ek aanblaas, is `n oormaat speelgoed. Dit wek die begeerte om te wil hê, altyd beter en meer. Baie gou raak kinders in kompetisie met mekaar en ontstaan die begeerte na `n ander se goed. Speelgoed word ook deur die bose gebruik om kinders aan te val. Drogbeelde en buiteruimtelike wesens soos `spiderman' en `batman' is genoeg om enige kind slapelose nagte te besorg. Bowendien is sulke dinge nie deel van My skepping nie, want alles wat Ek geskape het, was goed, baie goed. Amein.

Kinders, leer deur die ouers se voorbeeld. Laat die liefde ongeveins wees, want die huwelik tussen man en vrou is die weerspieëling van My huwelik met My volk. `n Kind wat deur die liefde geleer word, sal weet om die liefde te leef en so die sleutel tot My vind.

Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205