Boek 3 - Mens, wie is jy?
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36.

 

Hoofstuk 10

Vrou, wees aan jou eie man onderdanig, soos aan My

30 April 2009

Vrou, wees aan jou eie man onderdanig, soos aan My. Amein.

Die huwelik tussen man en vrou is `n heilige verordening deur My ingestel. Dit is `n verbond tussen man en vrou waartoe beide hulle verbind tot die ‘gee en neem’ met My Woord as grondslag daarvan. Wanneer iets heilig is, word dit apart gestel en as verhewe beskou bo die res. So is dit ook met die huwelik tussen man en vrou wat deur My bevestig is. Daarom moet die huwelik geëer en gerespekteer word.

Soos in Paulus se geskrifte, is die man, as eersgeskapene, die hoof van die huis en Ek die hoof van die man. Dit is My orde en daarom moet elke vrou aan haar man die nodige eerbied betoon. Aan die mens het Ek die opdrag gegee om die aarde te bewoon, dit te bewerk en te bewaar – dit maak jou, geliefde vrou, mede-heerser van My skepping. Heers saam met jou man as sy maat en hulp soos Ek julle gemaak het. Amein.

In My Ryk is die siel van man en vrou egter gelyk, daarom moet elkeen sy eie heil bewerk. Deur die huwelik word man en vrou een, `n eenheid wat net in My bewerk kan word. Daarom, soek eers na My en My Koninkryk en alle ander dinge word jou toegevoeg. Maak My jou eerste Liefde, die Rots waarop jy bou en jy sal vind dat ook jou huwelik aan hierdie Rots geanker is.

Laat die liefde ongeveins wees, want dit bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. Laat jou liefde lankmoedig en vriendelik wees, want dan sal jy nie opgeblase wees of kwaad met kwaad wil vergeld nie. Liefde is die grondslag van My Woord en ook jou huwelik. Bemin die liefde, leef die liefde en word die liefde. Daarin lê die sleutel tot elke man, ook na My.

Opregte liefde handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie en is ontdaan van enige vorm van onkuisheid waarin slegs die eie genot in selfsug en uit eieliefde nagejaag word. Laat die gemeenskap uit liefde en in reinheid geskied, daardeur sal julle `n goddelike vrug voortbring. Amein.

`n Liefdevolle huwelik in My Naam is die fondasie vir gelukkige kinders, want dit is hier waar hulle leer om My te eer. Laat jou liefdesbeker oorloop en jou lig skyn op jou man en kinders, maar ook na almal om jou heen. Daardeur sal jy as vrou en moeder vervuld wees en vir almal wees tot seën.

Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205